Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 4
March 2, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 6
March 9, 2021

Sarel Feldtmann

 

Die kommando’s – Die Engelse aan die Kaap

 

Na die slag van Veglaer

Maritz het aan “watersug” gely en was glad nie deel van die Slag van Veglaer nie. Hy het wel osse voorsien na die slag om die Trekkers by Veglaer te help om te verskuif na ’n nuwe area met hul laers. Die nuwe laer is verskuif na die Sooilaer-omgewing en is gelei deur Koos Potgieter.

 

Jacobus Nicolaas Boshoff sluit aan by die Trekkers

Jacobus Nicolaas Boshoff, ’n regeringsamptenaar in Graaff-Reinet en die hoofklerk van die siviele kommissaris van Graaff-Reinet, het die Trekkers in Mei 1838 saam met sy familie besoek om te sien of hulle by die Trekkers wil aansluit in Natal. Dit was net na die Slag van Italeni. Gideon Joubert, ’n welgestelde boer en veldkornet van Colesberg het ook saam met Boshoff gereis.

Boshoff het later ’n berig geskryf oor die Voortrekkers se lot in Natal en al hul ontberings, wat in die Grahamstown Journal verskyn het. Daarna het Stockenström Jnr. vir Boshoff ontslaan uit sy pos, waarop Boshoff hom by die Trekkers aangesluit het. Kort daarna is Boshoff verkies tot president van die Raad van Verteenwoordigers van die Trekkers wat uit 24 lede bestaan het.

 

Majoor-generaal George Thomas Napier word as goewerneur aangestel

D’Urban, wat goewerneur aan die Kaap was, het nog probeer om Glenelg in Engeland te oortuig om die kompensasie van die boere aan die Oosgrens uit te betaal, vir die finansiële verliese wat hulle gelei het weens die afskaffing van slawerny, en die verliese weens die Xhosa-oorloë, maar Glenelg het die Boere gesien as oneerlike boelies wat die swak en weerlose Xhosas aangeval en uitgebuit het.

Glenelg het effektief vir D’Urban van sy pos onthef en vir majoor-generaal George Thomas Napier aangestel in sy posisie. Glenelg het ook van Stockenström Jnr. ontslae geraak as luitenant-goewerneur van die Oostelike provinsie. Napier het die saak van die Trekkers ondersoek en basies met dieselfde gevolgtrekking gekom waarvoor D’Urban ontslaan was, en aangevoer dat as Glenelg nie iets aan die saak doen nie, dan gaan daar nog meer Boere die Oos-Kaap verlaat teen ’n geweldige tempo.

 

Brittanje beplan om Engelse troepe na Durban te stuur

Nadat Napier die Trekkers se saak goedgepraat het by Glenelg, het hy voorgestel om okkupasie van Durban te neem, om die Zoeloes te beskerm teen die Boere, wat alreeds in Natal was, en begin het met ’n oorlog teen Dingaan. Glenelg se antwoord aan Napier, aan die begin van Junie, was onsimpatiek. Hy het gesê dat hy ingelig was van die moord op die Engelse in Durban, en dat hy nie verbaas was dat die Zoeloes die Engelse, wat hulle gesien het as “indringers,” plunderaars en wat opgetree het met aggressie, daar aangeval het nie.

Glenelg het voorts gesê dat hy troepe na Durban sal stuur, maar dit is nie die bedoeling van die Britse Regering om die aangrensende gebied te okkupeer nie, en dat die troepe hoofsaaklik die gebied sal beskerm en hulp sal aanbied vir diegene (Engelse) wat sou belangstel om terug te keer na die Durban-kolonie. Glenelg het verder niks gesê van die Trekkers in Natal nie.

 

Die verkoop en uitvoer van kruit word verbied

Lord Napier het verslae ontvang van die konflik tussen die Trekkers en die Zoeloes in Natal, en het op 6 September ’n proklamasie uitgevaardig waarin hy die private kruithuise in die kolonie verbied om kruit aan enige persoon te voorsien, met die hoop dat dit die voorsiening aan die Trekkers sou staak. Tog het hy aanstons verneem dat donasies van geld, goedere en kruit vir die Voortrekkers bymekaar gemaak en op die seilskip die “Mary” gelaai was. Hierna het Napier nog ’n proklamasie uitgevaardig waarin geen kruit, ammunisie en oorlogstuig vanaf enige gedeelte van die kolonie na ’n ander plek in die land uitgevoer mag word nie. Hy het ook die Hawemeester in Port Elizabeth instruksie gegee om enige kruit en wapens te konfiskeer aan boord van die “Mary”.

Die hawemeester het eers nadat die vrag afgelaai was in Durban en die Voortrekkers hul besending gekry het, die oortollige ammunisie gekonfiskeer in Port Elizabeth se hawe. Toe die Voortrekkers verneem het dat die “Mary” in Durban se hawe was, het Maritz en 50 man vertrek om die goedere te gaan haal. Maritz het die helfte van die goedere gekry en die res is verdeel tussen Landman en Greyling.

 

Die Engelse probeer alles om die Trekkers te ontmoedig

In Oktober 1838 het die Trekkers in Natal begin om plase uit te merk op ’n vlakte langs die Umsindusirivier; die Trekkers het beplan om hulle permanent daar te vestig. Dit sou later Pietermaritzburg word.

Die volgende wat Napier probeer doen het om die trek van die Boere te stop, was om die regeringsamptenare instruksie te gee om alles in hul vermoë te doen om die Boere te ontmoedig om te trek. Hy het ook die predikante van die kerk gevra om dieselfde te doen.

Hierna het hy sy taktiek verander: hy het die Trekkers daarvan beskuldig dat hulle slawe onwettig uit die kolonie neem. Alhoewel die slawe bevry was in 1834, moes hulle ’n vakleerlingskapperiode voltooi, wat geldig was tot 1 Desember 1838. Daarna was hulle vry, en kon hulle aanbly by hul werkgewers, of terugkeer na die Kolonie.

 

Die taak om die slawe terug te bring Kolonie toe is aan veldkornet Joubert gegee

In ’n brief gedateer 16 Oktober 1838 het Napier vir Joubert van Colesberg die taak gegee om die “vakleerlinge” te gaan haal en terug te bring na die Kolonie. Joubert was reeds voorheen saam met Boshoff by die Trekkers, en is redelik aanvaar deur die Trekkers weens sy posisie as veldkornet in die Colesberg-distrik. Op dieselfde datum het Napier ook ’n brief aan Glenelg gestuur om hom te verwittig dat hy ’n klein groepie Britse soldate, onder bevel van Majoor Charters, na Durban gaan stuur. Onder hierdie groep was ’n tolk, met die naam van Theophilus Shepstone.

Joubert het vertrek, in styl, op 22 Oktober, met sy geselskap van 15 man, twee waens en 50 perde. Eerstens het hy Hendrik Potgieter en Jacob de Clercq se laers besoek, tussen die Sand- en die Rietrivier. Joubert was geïnteresseerd om te sien hoeveel Trekkers hulself voorberei het om die Trekkers in Natal te gaan bystaan met die geveg teen die Zoeloes.

 

Joubert ontmoet vir Sarel Cilliers

Joubert het toe vir Sarel Cilliers ontmoet, wat op sy terugtog was van die Kolonie, waar hy gaan ondersteuning werf het vir die Trekkers. Cilliers het twee waens vol kruit, proviand, geskenke en klere by hom gehad, maar was teleurgesteld dat so min Boere bereid was om aan te sluit by die kommando’s wat hulle beplan het om met Dingaan te gaan afreken.

 

Joubert lig die slawe in omtrent hul regte

Cilliers en Joubert se geselskappe het by Sooilaer aangekom op 2 November 1838. Joubert het dadelik van die ander laers in die omgewing besoek om die “vakleerlinge” van hul regte in te lig. Van die vakleerlinge waarmee Joubert onderhandel en ingelig het, het 46 aangetoon dat hulle by hul meesters wil aanbly, terwyl 38 versoek het om terug te keer na die Kolonie.

 

Andries Pretorius is in aantog

In die lig van al die rampe wat die Trekkers sover in 1838 getref het, was daar groot opgewondenheid toe hulle verneem het van die aantog van Andries Pretorius en sy volgelinge vanaf die Kolonie om by hulle aan te sluit. Teen die einde van Oktober 1838, naby die Caledonrivier, het Pretorius met 13 van sy man besluit om vooruit te trek na die Trekkers in Natal.

Pretorius het ’n boodskapper gestuur om die Trekkers by Sooilaer in te lig om hulself solank gereed te kry vir ’n geveg met Dingaan, om nie die perde te veel te vermoei nie en kruit baie spaarsaam te gebruik en nie te vermors nie. Hy het hulle instruksies gegee om kos te versamel en te stoor en om “veghekke” te maak en om sakkies te maak waarin hulle bokhael moes toewerk. Die kommando het die Modderrivier verlaat in die begin van November en op hul weg het hulle ook ander Trekkers oorreed om hulle te vergesel.

 

Andries Pretorius kom by Sooilaer aan

Op 15 November 1838, het die vorige kommandant van Beauford, Pieter Daniel Jacobs met sy volgelinge, by Pretorius aangesluit om die reeds groeiende kommando te vergesel. Soos die nuus versprei het onder die Trekkers in die kampe van die naderende kommando, het al hoe meer mans by die kommando in die laer begin aansluit. Teen die tyd wat Pretorius teen 22 November 1838 die kamp van Jacobus Potgieter by die Klein Tugela bereik het, het die kommando al uit 60 man en agt waens bestaan. Pretorius se aankoms is begroet met entoesiasme en opwinding. Pretorius het respek afgedwing by die meerderheid van die Trekkers, en is deur Erasmus Smit as “’n waardige mede emmigrant” Beskryf.