Die Boere-aanval op Majuba – Deel 1: Die vertellers
February 3, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 2: Militêre agtergrond
February 6, 2021

Sarel Feldtmann

 

Die kommando’s (vervolg)

(In hierdie artikel is dele gebruik soos geskryf deur dr. L.S. Steenkamp)

 

Die onafhanklikheidsidee van die trekkers

Dit was die onafhanklikheidsidee wat by die Afrikaner teenwoordig was selfs al tydens die bestuur van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie; dog dit is ’n vraag of daardie idee ooit onder die Britse regering, of trouens onder dié van die H.O.I.K. (VOC), of dié van die Bataafse Republiek aan die Kaap, tot uiting sou gekom het, indien sekere oorsake hulle nie tot trek laat besluit het nie.

Nie slegs omdat hulle ontevrede was met ’n regering wat hulle nie verstaan het nie, met ’n swartman-politiek wat op die beginsel van die gelykheid van die mens geskoei was nie – nie slegs om hierdie konkrete redes het die landverhuisers, die vryheidsoekers getrek nie, dog hoofsaaklik sodat daar uiting gegee kon word aan ’n innerlike drang na vryheid wat die omstandighede op die oosgrens en die invloed van die nasionale bewegings elders, laat begin ontvlam het in die siel van die Oosgrensboer.

 

Onbewoonde lappe grond het ten noorde van die Oranje gelê en wag

Die grootste faktor was die onafhanklikheidsdrang, en in die gebied ten noorde van die Oranjerivier het wye, uitgestrekte en onbewoonde lappe grond lê en wag op nedersetters, waar die vryheidsideaal verwesenlik en die onafhanklikheidssin by die indiwidu tot volkseenheid omgeskep kon word.

In die Kaapkolonie van die agtiende en negentiende eeu het die volk feitlik geen seggenskap in die regering van hul land gehad nie, en potensiële leiers, manne wat hul volk kon gelei het op alle gebiede, moes sterf soos hulle gebore was – onbekend en onbesonge. Hoeveel Jan Hendrik Hofmeyers, Hertzogs, Smutse, Malans, Steyns, en Krugers lê daar nie begrawe nie? Manne wat die bekwaamheid gehad het om hul volk te dien en te lei in ruimer sfere as net in kerkrade of selfs in die landdros en heemradehowe.

Dog nou was daar geleentheid om in ’n moontlike onafhanklike Boerestaat, ’n republiek, ambisies te bevredig, om tot op die hoogste sport van ’n vrye gemeenskap te klim. Manne soos Retief, die Uyse, Hendrik Potgieter, Carel Landman en Gerrit Maritz het hierdie moontlikhede ten volle besef en van die geleentheid gebruik gemaak.

Niemand het hierdie moontlikhede beter besef as Gerrit Marthinus Maritz nie. Op die dorp en in die distrik van sy geboorte, Graaff-Reinet, was hy welbekend en gewild. Hy was lid van die Kerkraad en het die gemeenskap op menigerlei wyse gedien. Hy was ’n bekwame man, dog ambisieus en derhalwe nie tevrede met die beperkte geleenthede tot sy beskikking nie.

 

Maritz wou hoër klim in sy strewe na vryheid

Hy wou hoër klim, dog in Graaff-Reinet was dit nie moontlik nie. Hy was dus saam met die stroom noordwaarts, want die Trekkers kon alles daartoe bydra om die strewe van hierdie progressiewe grensboer te verwesenlik.

Op Thaba ’Nchu, waarheen Maritz en sy mense getrek het, het hulle van Herman Potgieter verneem van die haglike toestand waarin sy broer Hendrik en sy volgelinge op Vegkop verkeer het. Met behulp van Archbell en Maroko het Maritz dadelik osse gestuur om hierdie trekkers na Thaba ‘Nchu te bring.

Nadat Potgieter se trek by dié van Maritz aangesluit het, is op 2 Desember 1836 in die laer van eersgenoemde ’n “volsbyeenkoms” gehou om ’n regeringsvorm in die lewe te roep. ’n Burgerraad bestaande uit sewe lede is gekies om die krygs- en siviele aangeleenthede van die groep te behartig. Gerrit Maritz is tot president van die raad gekies, terwyl Hendrik Potgieter tot kommandant benoem is.

Die raad sou nie slegs as ’n Volksraad dien nie, maar sou ook as landdroshof fungeer. Die liggaam wat die wette gemaak het, moes ook sorg dra dat hulle uitgevoer word. Volksraad en geregshof was dus een en dieselfde liggaam, wat egter, na gelang van omstandighede, tweërlei bevoegdhede gehad het. Verder was Potgieter, die kommandant, ook lid van die raad, wat weer beteken het dat Maritz, die president van die liggaam, onderhorig aan ’n gewone lid van die raad was sodra dit krygsake gegeld het.

 

 

Maritz en Potgieter se verhouding het versuur

Hoe gebrekkig die eerste ook al was, die trekkers het tog nou ’n regeringsvorm gehad wat hulle self in die lewe geroep het, en by die opstel waarvan Maritz seker nie ’n geringe rol gespeel het nie. Dog toe Potgieter, na Vegkop, by Maritz aangesluit het, was daar onmiddellik ’n faktor wat moontlike twis kon veroorsaak, want ook Potgieter was ambisieus en daarby koppig. Na die eerste ekspedisie teen Silkaats het onderlinge naywer tussen die twee leiers tot twis en tweeslag gelei, en alhoewel Piet Retief, wat in April 1837 by hul trekke aangesluit het, alles in sy vermoë gedoen het om die twee met mekaar te versoen, is die breuk nooit weer heeltemal herstel nie.

Na die koms van Retief is ’n tweede byeenkoms gehou om die eerste grondwet in hersiening te neem en om ’n nuwe regeringsvorm vir die “Verenigde Legers” in die lewe te roep. Retief is verkies tot “Goewerneur en Opperbevelhebber,” Maritz tot “President-Rechter van de Raad van Policie” en ’n Resolusie bestaande uit nege artikels is aanvaar.

Dinsdag 6 Junie 1837, “was ’n zeer plechtige eeddag van de Goewerneur en de andere ambtenaren …” sê Erasmus Smit, wat ook die ede opgestel en afgeneem het. Retief se eed was o.a. dat hy “de Christelike Geloofsbelijdenis . . . . de Catechimus en de Liturgieën der Nederlduitche Gref. Kerk zal protekteren en beschermen” en dat hy geen ampsdraer in die kerklike en burgerlike regering sou toelaat as hy nie lid van die genoemde kerk was nie. Vir Potgieter, die “Dopper,” was daar dus geen plek in die nuwe regeringsvorm nie, dog sy grootste teenstander, Gerrit Maritz, was nou president van die raad, die siviele hoof van die staat, slegs onderhorig aan die “Goeverneur en Opperbevelhebber,” Retief.

 

Maritz se opposisie is uit die weg geruim

Maritz was nou goed op pad om sy ambisie te bevredig, sy ou vyand was uit die weg, dog alhoewel hy die vertroue van die grootste gedeelte van die trekkers werd was en hul belange op sy hart gedra het, is dit ’n vraag of daar nie ’n fout begaan is om Potgieter maar sy eie weg te laat gaan nie. ’n Mens wonder soms of die swaer van Maritz, Erasmus Smit, wat op Winburg tot leraar van die Retief-Maritz-groep benoem is, nie hiervoor verantwoordelik was nie. Hy was nie slegs bang vir Archbell en vir Lindley nie, maar moes ook geweet het dat die “Doppers” hom nie as leraar sou erken nie.

Dog dit daar gelaat. Ten gevolge van hierdie breuk is Retief en Maritz alleen Natalwaarts, en teen die end van die jaar het Retief die blye tyding gebring dat Dingaan, die Zoeloe-opperhoof, hulle ’n stuk grond toegesê het, waar hulle kon vestig en waar hulle hul vryheidsideale kon uitlewe. So bly was hulle dat aan die plek waar hulle die tyding van Retief ontvang het die naam van “Blijde Vooruitzicht” gegee is.

Blye vooruitsig, voorwaar, dog die noodlot het ander planne gehad. Op sy tweede besoek aan Dingaan, toe die getekende dokument alreeds in Retief se bladsak was, het die wreedaard meteens uitgeroep: “Bulalani Abagati!” Na Kwa Matiwane, aan die voet van Hloma Amabutho, is hulle gesleep, en daar moes Retief aanskou hoe sy landgenote die kop ingeslaan word. Alvorens hy ook wreed die ewigheid ingestuur is.

 

Die ander “weglopers” moes ook uit die weg geruim word

Meteens, asof met ’n towerslag, is die trekkerideaal tot in die grond geskok, maar Dingaan was nog nie tevrede nie: die ander “weglopers” moes ook uitgeroei word. Te Bloukrans, Weenen en Moordspruit is die laers oorval en weerlose mans, vrouens en kinders is deur die barbare se assegaai deurboor. Op 17 Februarie, sê Anna Steenkamp in haar dagboek: “Viel de Zoeloes ons aan. O! droevige nacht waarin soveel martelbloet vergoten werd. Twee honderd onnosele kinderen, vyf-en-negentig vrouwe en drie en dertig mans zijn gevallenen in die onsaglijke euwighijt gestort door de bloeddorstige heijdens. Uitgesondert ons diensbodens bedroeg het getal over vierhonderd sielen. Ag, het was bijna ondraaglijk voor vlees en bloet de volgende morgen de schikkelijke toneel te aanschouden en in een wagen vont men 50 dooden, het bloet vloeijde van het naat van den sijl tot op den onderste velling. Ag, hoe naar en treurig was het om al de doden en gekwesten te zien … men sag niets als tranen en geween bij geplunderde wagens met bloet-geverf verscheurde tenten en beddens . … In ons laager was niets als geklaag en geween, elke dag moes wij lijken begraven …”

 

Uys sterf by Italeni en Potgieter trek Transvaal toe

Hoe haglik die toestand ook al was, verdere vernedering het hulle gewag. Sodra Uys en Potgieter verneem het van hierdie rampe wat hul landgenote getref het, het hulle dadelik na Natal gesnel om hulp aan te bied. Toe nóg Uys nóg Potgieter onder Maritz wou dien, het laasgenoemde met edelmoedige onselfsugtigheid grootmoedig teruggestaan, die verdediging van die laers op hom geneem en die nuwe betrekking van weesheer en boedelberedder aanvaar. Maritz was by uitstek ’n sakeman en derhalwe besonder geskik vir die nuwe amp.

Op Woensdag, 28 Maart, is Piet Uys op ’n volksvergadering tot Generale Veldkommandant voor deze oorlog tegen de verraderlike vijand Dingan” gekies, dog daar Hendrik Potgieter nie onder Uys wou dien nie, het die Volksraad besluit dat hy sy eie kommando sou lei. Op 6 April is die kommando in twee afdelings oor die Tugelarivier in die rigting van Dingaanstat. Oorkant die Buffelsrivier, by Italeni, is hulle in ’n val gelok en Piet Uys, sy dapper seun Dirkie en enige ander skiet die lewe in.

Moedeloos keer die kommando terug en daar sommige Potgieter van lafhartigheid en verraad beskuldig, het hy “met meer als de helft van de menschen” weer oor die berg teruggetrek, hierdie keer Transvaal toe.

 

As Maritz nie bystand verleen het nie, sou baie Trekkers omgekom het

Ook die Engelse handelaars aan die Baai, met enige duisende Zoeloevolgelinge, snel die trekkers te hulp, dog ook vir hulle het daar geen gunstiger lot gewag nie. Aan die Tugelarivier het die meeste van hulle met hul lewens geboet in ’n poging om die oorweldigende mag van die barbaar in sy opmars teen die beskawing te stuit.

’n Verwoestende brand en ’n maselepidemie tydens die guur wintermaande na hierdie verdere terugslae het die nood nog verder laat styg. Dit was maande van kommer, lyding en gebrek. Die mense was beroof van byna alles wat hulle besit het, en as die meer gegoedes, soos Maritz en ander, nie bystand verleen het nie, sou hulle omgekom het van honger en naaktheid.

 

Maritz se dood is die laagtepunt van die trek

By dit alles was Maritz by hierdie tyd ’n siek man. Kommervolle dae, ontberings en die verlies van so baie van sy medetrekkers en leiers het sy lewe verkort.

Op Saterdag, 22 September 1838, sê Erasmus Smit: “vernomen we, dat de ziekte van onze broeder G. Maritz opnieuw sterk hervat en toegenomen is.” Die volgende dag “vond de leraar de lijder zeer verswakt: en sprak tot hem over ’t lot des doods. … hij stemde met mij in alles gepast toe … Ik bad voor hem. Hij kreeg aanleiding tot ’t zingen van Gez 123; waarmede hij zeer werkzaam was tot ’t einde toe.” Om elfuur daardie nag is Maritz, die geliefde leier, op wie almal se oë in die uiterste nood gevestig was, oorlede in die ouderdom van slegs 41 jaar en ses maande, “en wij waren als schapen zonder herder,” sê Anna Steenkamp. Gert Maritz het sy foute gehad, dog sy naam sal deur ’n dankbare nageslag in ere gehou word solank die Afrikaner voortbestaan. Hy was ’n man van edele inbors, ’n waardige leier wat onder alle omstandighede sy pligte getrou nagekom het en iemand wat vryelik bygedra het om die smarte en lyding van sy volgelinge te lenig.

 

Die bewaarster en die handhaafster van die Voortrekkerbeskawing

Sy dood was voorwaar die laagtepunt van die trek; Retief is op Hloma Amabutho vermoor, Uys was gesneuwel, Potgieter het hulle in die steek gelaat en eindelik is ook Maritz hulle ontneem.

Halfhartigheid, onsekerheid en verdeeldheid het daarna vir ’n tyd die botoon gevoer. Die trekkers was liggaamlik en geestelik gebreek, en vir baie het dit geskyn asof die verdelgingsuur van die Afrikaner aangebreek het, asof barbarisme sou seëvier oor die beskawing. Dit het geskyn asof ondergang hulle in die oë gestaar het en daar is openlik van terugtrek begin praat.

As ’n mens oor die deur Voortrekkerbloed bevlekte Hloma Amabutho, Bloukrans , Weenen, Moordspruit en Italeni stap, die gebiede van Voortrekkerwee en Voortrekkerredding, waar die Voortrekkergees nog oor die vlaktes swewe, waar Voortrekkergebed en Voortrekkergesang ten hemel gestyg het, waar die geween van Voortrekkermoeders en die gesnik van die wreed deurboorde suigelinge, wat skaars tyd gehad het “om te val uit die wieg in die graf,” as ’t ware die blanke beskawing en die vryheidsideaal uitgetart het, dan staan ons voorwaar verstom, maar ons dank God vir die standvastigheid en die besieling van die vrou, die bewaarster en die handhaafster van ons en die Voortrekkerbeskawing.

 

Die vrou se beslistheid na die nederlae het die man nuwe moed gegee

Toe die man moedeloos die kop laat sak, het sy beslis geweier om die land te verlaat alvorens die dood van die vermoorde dierbares gewreek was. Dit was haar beslistheid na die nederlae wat die man nuwe moed gegee en hom laat besluit het om sy roeping, die verspreiding en bestendiging van die blanke beskawing, getrou te wees. Dit was die vrou, naas God, wat die man nuwe moed ingeboesem en lig laat sien het. “Ons bemin haar, want haar naam is vrou en moeder.”

In November van daardie swart jaar kom Andries Pretorius daar aan, en hy sou voltooi wat Retief, Maritz en ander aangevoer het. Na die Gelofte te Danskraal, op 7 Desember 1838, trek hy en sy vierhonderd-vier-en-sestig manskappe vol moed, opnuut onwrikbaar vertrouend op die onfeilbaarheid van God, die wreedaard Dingaan tegemoet en dien hom op 16 Desember 1838 te Bloedrivier die nekslag toe.

Die tyd het toe eers aangebreek om verder te bou op die fondament wat so heg gelê is deur Retief en Maritz. So jammer tog dat hulle nie die vreugde van hul strewe en arbeid kon pluk nie.