Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 1
January 29, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 1: Die vertellers
February 3, 2021

Sarel Feldtmann

Die kommando’s

 

(In hierdie artikel is dele gebruik soos geskryf deur dr. PS du Toit)

 

Noodkrete om hulp word uitgestuur

Na die wrede slagting wat deur hordes van Dingaan by Bloukrans en Moordspruit gepleeg is op weerlose manne, vroue en kinders, ’n ramp wat in die hand gewerk is deur die onversigtigheid en ongehoorsaamheid van die slagoffers – hulle het nl. nie ag geslaan op die waarskuwing van Retief en ander om by Doornkop bymekaar te bly nie – het die Trekkers algemeen gevoel dat daar ’n plan gemaak moes word om ’n strafekspedisie teen die barbare op tou te sit wat terselfdertyd soveel moontlik van die gesteelde vee moes probeer terugneem. Sommige van die trekkers was egter op die rand van moed verloor, maar aangespoor deur die dapper vroue is besluit dat hulle nie die land sou verlaat voordat die barbare deeglik gestraf is nie.

Afgevaardigdes en briewe is dadelik oor die berge gestuur na die Emigrante aan die Modder-, die Riet- en die Caledonrivier om die saak van hul volksgenote in Natal onder hul aandag te bring en ’n beroep op hulle te doen om ’n helpende hand te verleen. Die beroep was nie tevergeefs nie, want op 1 Maart het Piet Uys hom by die trekkers in Natal gevoeg, en nie lank daarna nie het ook Hendrik Potgieter met ’n kommando opgedaag.

 

Onderhandelinge is aangeknoop met die Engelse in Port Natal

Onderhandelinge is verder aangeknoop met die Engelse in Natal, wat besef het in watter groot gevaar ook hulle verkeer en dus besluit het om hul lot met dié van die trekkers in te werp. Daar is ooreengekom dat die Boere en die Engelse, laasgenoemde met hul Zoeloevolgelinge, die barbare gelyktydig vanuit twee kante sou aanval, om sodoende die Zoeloemag se aandag en hul mag te verdeel.

 

Leierskap onder die Voortrekkers

Voordat die Boerekommando’s, wat nou altesame uit sowat 350 perderuiters bestaan het, gereed was om op te trek, het die ou strydvraag oor die algemene leierskap weer te voorskyn getree. Maritz, wat nou die aangewese leier van die Retiefgroep was, het aangebied om die bevel op hom te neem, maar hiertoe wou Uys nie toestem nie, aangesien sy mense nie onder Maritz wou dien nie en hy homself buitendien net so bekwaam as enigiemand anders geag het om die opperbevel te voer. Maritz het gevolglik nie daarop aangedring nie. Daar was egter nog ’n moeilikheid.

Hendrik Potgieter, wat deur ’n groot aantal van die Emigrante tot kommandant verkies is kort nadat hy die Kolonie verlaat het, wou nie instem dat Uys die ekspedisie sou aanvoer nie. ’n Volksvergadering is gevolglik op 28 Maart gehou, en hierop is tot ’n vreedsame skikking gekom, wat uit ’n militêre oogpunt beskou egter reeds onheilspellend was. Maritz sou naamlik as hoof van die regering by die laers bly en tegelykertyd as weesheer ageer, terwyl Uys en Potgieter gelyke rang sou geniet en elkeen die bevel oor sy eie kommando sou voer. Volgens die instruksie van die wetgewende liggaam aan hulle oorhandig, moes hulle egter “saam raadpleeg”.

 

Die kommando verlaat die laers op 6 April 1838

Nadat die nodige voorbereidings inderhaas getref was, het die manskappe onder die twee kommandante die laers gedurende die dag van 6 April verlaat. Erasmus Smit getuig hieromtrent dat dit hom opgeval het dat die manne wat die môre vertrek het baie opgeruimd “en met Christelike vrolike moed” besiel was, maar dat diegene wat die namiddag vertrek het, hom “wat aangedaan en bedrukt in hunne gemoederen” voorgekom het. Die twee afdelings het mekaar voor ’n drif in die Tugela ontmoet. Die gesamentlike kommando het nou nagenoeg 350 manskappe getel en ’n geringe getal Kleurlinge. Hulle het hiervandaan die rigting ingeslaan na Umgungundlovu, die hoofkraal van Dingaan. Aanvanklik het hulle ongehinderd vooruitgegaan en maar enkele Zoeloes onderweg teëgekom. Eers op die derde dag het hulle noemenswaardige getalle van die vyand in sig gekry. Die het egter dadelik teruggeval en die volgende dag daarmee volgehou.

Nadat die perdekommando op die vierde dag die Buffelsrivier deurgetrek het, het hulle op die volgende dag, 11 April, die omgewing bereik waar ’n groot ramp hom sou afspeel. Die juiste lokaliteit is nie presies aan te wys nie. Hulle het nou sonder enige teenstand tot naby die kraal van Dingaan genader. Nadat hulle in hul agtervolging van die voortvlugtende Zoeloes deur ’n nou pas tussen twee berge gery het, het hulle in ’n omgewing gekom waar die berge ’n groot kom gevorm het, met diep slote wat van die kant van die heuwels geloop en net op ’n paar plekke deur voetpaadjies deurgang verleen het.

 

Die kommando kom by die slagveld aan

Aan die teenoorgestelde kant het hulle die Zoeloes gewaar, gereed om die stryd aan te vat. Die Zoeloemag was in twee groot afdelings verdeel en elkeen het sorgvuldig posisie ingeneem op ’n rant wat moeilik was om te beklim. Die Boerekommando het dadelik raad gehou om tot ’n plan van aksie te besluit. Uys het aan Potgieter voorgestel dat hy moes kies watter afdeling hy wou aanval, hy het verkies om die linker groep aan te val, terwyl Uys teen die ander groep sou opruk. Wat presies hierna gebeur het, kan nie met sekerheid vasgestel word nie, daar die getuienisse tot ons beskikking te uiteenlopend is.

Aan die hand veral van die nagelate briewe van JN Boshof en die herinneringe van Willem Gabriel Nel en ander trekkers, wat deur Preller in sy belangrike reeks bronnepublikasies onder die titel Voortrekkermense versamel is, is dit egter moontlik om by benadering ’n voorstelling te doen van wat plaasgevind het.

Boshof, wat beskryf is as ’n baie intelligente persoon, was in diens van die Engelse Regering en het baie invloed gehad op sy Hollandssprekende landgenote. Hy is egter deur luitenant-goewerneur Stockenström uit sy betrekking ontslaan omdat hy die trekkers in Natal besoek het. Boshof het kort na die ramp by Italeni in Natal aangekom en by die Emigrante aldaar inligting ingewin aangaande hul lotgevalle en ’n beskrywing daarvan in koerante in die Kolonie gegee. Nel weer was een van die manne wat lid was van Uys se afdeling van die “Vlugkommando”. Albei vermeld belangrike besonderhede.

 

Piet Uys het dadelik in aanval oorgegaan

Dit was ’n waaghalsige daad van die klompie Boere om teen so ’n groot oormag van barbare op te ruk. Buitendien het die vyand sy stelling noukeurig gekies en nie tevergeefs die kommando gelok om sy aanval op hierdie bepaalde plek te maak nie. Die Trekkers was wel met gewere gewapen, teenoor die Zoeloes se kort steekassegaaie, maar ons moet onthou dat dit ’n langsame proses was om die ou pangewere te laai.

Piet Uys het nie lank op hom laat wag nie, en nadat die handperde met die kosvoorraad en orige ammunisie aan mekaar gekoppel en onder die sorg van twintig man gelaat is, het hy sonder verdere afspraak of voorsorgmaatreëls tot die aanval oorgegaan. Die Zoeloes het in sittende houding agter hul skildvelle geskuil, en eers toe hulle goed onder skoot was, het hy sy burgers bevel gegee om af te klim en op hulle los te brand.

Die Zoeloes het dadelik in ’n hopelose verwarring geraak, en voordat hulle tot verhaal kon kom, is ’n tweede sarsie op hulle afgevuur, met die gevolg dat hulle op die vlug geslaan het. ’n Onverskillige agtervolging is nou op tou gesit, en onderwyl die geledere van die vyand meedoënloos uitgedun is, het die Boerekommando in kleiner groepies verspreid geraak, met die gevolg dat verskeie van hulle gevaar geloop het om deur die Zoeloes omsingel te word. Op hierdie manier het twee van die geselskap die Zoeloes agtervolg tot by ’n plek tussen twee bosagtige klowe.

 

Piet Uys word gewond

Kommandant Uys het dit gewaar en goed besef dat hulle hulself sodoende in gevaar stel. Met sowat vyftien man het hy na hulle afgedaal om hulle terug te bring. Voordat hy egter weer by die res van die kommando kon aansluit, het van die Zoeloes uit die bosklowe, waarin hulle hul verskuil het, te voorskyn gekom en Piet Uys dodelik in sy linkerheup getref onderwyl hy sy perd ingehou het om die vuurklip van sy geweer te verstel. Hy het egter moedig die wapen uitgetrek en hierna selfs nog ’n helpende hand gebied aan ’n sekere Jan Meyer, wat sy perd kwyt geraak het.

Weens swaar bloedverlies kon Uys dit nie lank uithou nie en het flou geword. Nadat hy egter met ’n bietjie brandewyn en water gelaaf is, het hy weer enigsins herstel en is hy oor ’n afstand van sowat vyfhonderd tree deur twee manne wat weerskante van hom gery het, op sy perd gehou. Toe het hy vir die tweede keer flou geword. Hy het egter gou weer bygekom en so het hulle al vlugtende met die vyand agter hulle geretireer. Intussen is twee Malans, wat op een perd probeer ontvlug het, omdat een se perd onder hom gedood is, deur die Zoeloes ingehaal en te midde van ’n groot lawaai gedood.

 

Die Uys-kommando moet hul weg oop baklei

Teen hierdie tyd is die perde soveel moontlik aangespoor en is daar gevolglik nie veel geveg nie. Diegene wat hul gewere gelaai kon kry, het nou sommer vanaf hul perde op die vyand geskiet. Onder die ja, het die perd van ’n sekere Pieter Nel in ’n gat getrap en geval, opgespring en sonder sy ruiter voortgehardloop. Sy broer het die dier egter aan die teuels beetgekry en hom tegemoet gegaan, daar hy al hardlopende naby gebly het. Voordat hy egter by sy perd was, het ’n assegaai hom tussen die skouers getref en het hy met uitgestrekte arms neergeval. Die res van die geselskap kon hom geen hulp bied nie en moes maar uitjaag om hulself te red.

Al die tyd was kommandant Uys nog by hulle, hoewel hy weens bloedverlies al baie swak was. Sommige van die voortvlugtendes het regs om ’n koppie gegaan, maar op ’n nek op ’n klomp Zoeloes afgekom. Daar was vir hulle geen ander uitweg nie as om deur die vyand heen te ja, met die gevolg dat nog drie van die manne gedood is. Hulle was Louis Nel, Gert Nel en Jacobus Malan, die vader van die twee Malans wat op ’n vroeër stadium in die geveg geval het.

 

Piet Uys gee sy laaste bevele

Intussen het Piet Uys se kragte vinnig afgeneem. Hy het toe sy twaalfjarige seun Dirkie, wat al die tyd aan die sy van sy vader gebly het, en die ander manskappe beveel dat hulle hom op die grond moes neerlaat, soos dapper manne moes veg tot op die end en hulself moes probeer red. Hulle het die bevel uitgevoer, maar nie alvorens hulle gesien het dat langer versuim ’n gewisse dood sou beteken nie.

Dit is egter nie so maklik om vas te stel wat Dirkie se verdere bewegings was nie. Die gewone opvatting is dat hy ook eers die vlug voortgesit het, maar besluit het om na sy vader terug te keer toe hy sien dat hy deur die vyand oorval word, en toe ’n heldedood saam met sy vader gesterf het. Diegene wat die saak so voorstel, is egter in die minderheid, en hulle voeg dan gewoonlik by hul relaas ’n sedelessie wat alte veel die indruk verwek asof hulle van die geskiedenis ’n dienaar van ’n vreemde meester wil maak. Die opvatting vertoon gevolglik ’n sterk legendariese karakter. Dit is egter nie nodig om enigiets af te dwing aan die heldedaad van die jong seun nie.

Wat waarskynlik gebeur het – en dit is die voorstelling van die meeste van ons segsmanne – is dat hy nie eers aanstaltes gemaak het om sy vader alleen aan die barbare oor te laat nie, maar dat hy uit die staanspoor langs sy vader posisie ingeneem en nog ’n paar Zoeloes in die stof laat byt het alvorens ook hy deur hulle oorweldig is. ’n Persoon wat die veldtog meegemaak het, het selfs meegedeel dat Dirkie Uys eers in die slag gebly het en dat sy vader pas daarna om die lewe gebring is.

 

Waar is Potgieter en sy kommando?

Maar wat het intussen van Potgieter en sy manskappe geword? Hy het vanuit die staanspoor baie versigtiger en gevolglik minder beslis opgetree. Terwyl die waaksaamheid van Uys en sy mense verstomp was en by hulle blykbaar geen vrees vir oorrompeling bestaan het nie, het Potgieter sy volgelinge eers tot stilstand gebring en ’n wagtende houding ingeneem. Eers nadat Uys se mense ’n tweede sarsie op die Zoeloes gelos en hulle gevolglik in verwarring op die vlug geslaan het, het Potgieter aanstaltes gemaak om aktief op te tree. Hy het egter bevel gegee dat niemand van sy perd moes klim nie, maar dat hulle vanaf hul perde moes vuur.

Maar ook hiervan het nie veel tereg gekom nie, en dit wil voorkom asof Potgieter bevel gegee het dat sy manskappe na die vlakte moes terugwyk nadat maar slegs sowat twaalf skote op die vyand gelos was. Toe die Zoeloes sien dat hierdie kommando wyk, het hulle op Uys se manskappe gekonsentreer, met die gevolg dat laasgenoemde met verreweg die grootste gedeelte van die Zoeloemag te kampe gekry het. Wat eintlik die rede was vir die haastige terugtog van die afdeling onder Potgieter weet niemand presies nie, maar dit word toegeskrywe aan ’n misverstand weens die bestaan van twee kommando’s, elk met sy eie bevelvoerder.

Op die vlakte het Potgieter sy manskappe passief gehou, totdat sommige selfs beswaar gemaak en gevra het wat hulle dan te doen staan. Sowat agtien manne het op eie houtjie die hoofmag verlaat, teen die heuwel uitgery en op die vyand begin skiet. Dit het egter geen uitwerking op die Zoeloes gehad nie.

Potgieter se manne het gevolglik veiligheid gesoek sonder om verder aanvallend op te tree. Een van die manskappe, ene Josef Kruger, het toe hy opmerk dat die vyand hulle wou insluit, terwyl hul terugtog bemoeilik is deur diep slote, die Zoeloes tegemoet gery, van sy perd geklim en op hulle gevuur. Toe hy weer opklim, het die dier sy ruiter afgegooi. Hy het haastig opgestaan, voetgeslaan agter die ander aan en ’n ander man se perd aan die stert beetgepak, wat hom egter ’n harde skop in die maag gegee het. Nog voordat hy van die skok kon herstel, is hy deur die Zoeloes ingehaal en gedood. Hy was die enigste slagoffer uit Potgieter se kommando.

 

’n Derde afdeling van die vyand is gewaar

Teen hierdie tyd is ’n derde afdeling van die vyand gewaar, wat beweeg het asof hulle die terugtog van die Uys-manne wou afsny, en aangesien Potgieter se kommando nou reeds in volle aftog was, moes Uys hulle ’n pad deur die vyand skiet. Hierin het hulle geslaag met die verlies van hul handperde, omtrent sestig in getal, hul kosvoorraad en al hul orige ammunisie. Almal het toe die wyk geneem na die Buffelsrivier, met die Zoeloes nog steeds op hul hakke.

Aangesien die Boere te perd was en die Zoeloes te voet, het eersgenoemdes nou maklik voor gebly en telkens omgedraai om nog die voorste agtervolgers af te maai. Die Zoeloes het later die agtervolging gestaak, maar sowat ses van hulle het as spioene die vlugtende kommando op ’n afstand gevolg. Toe die Boere dit gewaar, het die ses manne hulle in ’n mielieland versteek, die spioene ingewag en van kant gemaak. Dit was die laaste skote wat geval het. Byna die hele nag het hulle voortgery en eers teen dagbreek by Biggarsberg afgesaal.

 

Die “Vlugkommando” is terug by die laers

Op 12 April was die kommando, wat sedert die tyd bekend staan as die “Vlugkommando” in teenstelling met die “Wenkommando” van Desember van dieselfde jaar, by die laers terug. Hoewel daar sowat sewehonderd Zoeloes op die slagveld agtergebly het, is die slag as verlore beskou. Die volgende persone het gesneuwel: Piet en Dirkie Uys; Pieter, Louis en Theunis Nel; Jacobus, Johannes en Dawid Malan; Frans Labuschagne en Josef Kruger.

Die grootste kommando van die Boere wat tot dusver bymekaar gekom het, het die slag verloor. Maar as Italeni so beskou was, was die aanval deur die Engelse van Port Natal op die Zoeloes ses dae later ’n ramp.

 

Die Engelse van Port Natal (Inleiding)

Toe die aanval teen Dingaan beplan was, is gesante na Port Natal gestuur om te reël dat ’n heeltemal afsonderlike mag wat uit Britse setlaars van Durban bestaan en ondersteun deur ’n verskeidenheid gewapende Zoeloemans, die aandag trek deur Zoeloeland langs die kus aan te val. Dit was een van die planne wat so losweg beplan was dat die kans dat dit goed sou werk, amper nul was.

John Cane en Robert Biggar het vyftien Engelse en 1500 Zoeloes in ’n saamgeflansde mag versamel wat onder ’n vaandel opgeruk het met “For justice we fight”. Die Britse vegters het na hulself as “The Grand Army of Natal” verwys.

Baie Zoeloes in hierdie “Army” was oud en party moes kieries gebruik om mee te loop. Hulle het gehoop om ’n deel van Dingaan se beeste te kry as beloning vir hul deelname aan die geveg teen Dingaan en sy impies.

 

Die Engelse van Port Natal trek op teen Dingaan

In naam het die afdeling onder aanvoering van Robert Biggar gestaan, maar in werklikheid was daar maar min samehorigheid en samewerking tussen die verskillende groepe.

Volgens afspraak het hulle die veldtog aanvaar. Op 2 April 1838, toe Dingaan se impie naby Italeni gekonsentreer was, het die “Grand Army” ’n geïsoleerde Zoeloe-kraal naby Krantzkop aangeval.

Nadat hulle ’n aansienlike hoeveelheid beeste buit gemaak het, het daar onenigheid onder hulle ontstaan oor die verdeling daarvan. Die gevolg was dat hulle genoodsaak was om eers hul buit terug te neem na Port Natal, en sodoende het van die plan om die mag van Dingaan te verdeel, niks van gekom nie.

 

Die Slag van die Tugela

Hulle het later in dieselfde maand ’n tweede veldtog onder bevel van Robert Biggar onderneem, maar dit was na die nederlaag van die Boere by Italeni. Naby die Tugela het hulle met ’n Zoeloeregiment in aanraking gekom wat egter haastig op die vlug geslaan het. Terwyl die kommando uit Port Natal hulle agtervolg het, het hulle eensklaps op 17 April in ’n botsing gekom met ’n Zoeloemag van omtrent 7000 man. In ’n bloedige stryd het die blankes en hul volgelinge hardnekkig weerstand gebied.

Nadat die Zoeloes versterk is deur die aankoms van die krygsliede wat intussen met Potgieter en Uys afgereken het, is die Natal-kommando in twee verdeel. Terwyl een afdeling getrag het om te ontvlug, is hul terugtog afgesny en het slegs vier Engelse, ’n paar Hottentotte en enige honderde van hul Zoeloevolgelinge daarin geslaag om te ontsnap. Die ander afdeling is omsingel en almal gedood. Van die sewentien Engelse en 1500 Zoeloevolgelinge wat die veldtog aanvaar het, het slegs vier Engelse en sowat 500 volgelinge die terugtog voltooi. Aan die kant van die Zoeloes het ’n paar duisend die lewe ingeskiet.

 

Die Engelse in Port Natal word gewaarsku teen ’n Zoeloe-aanval

Een vlugteling het die 120 km na Port Natal gehardloop met die nuus van die ramp. Warm op sy hakke het die Zoeloe-impies gevolg en dit was net geluk dat daar ’n skip in die baai geanker was, die “Comet”, sodat die Britte wat nog in die hawe was, kon ontsnap deur aan boord te gaan en sodoende oorleef het.

Nadat die Zoeloes Port Natal vir nege dae lank geplunder en alles vernietig het, het die Zoeloes teruggekeer na Umgungundlovu. Hulle kon nou vier oorwinnings oor ’n driemaandetydperk vier. Kwa Matiwane, Bloukrans, Italeni en Ndondakusuka, en Dingaan moes homself geluk gewens het deur die opeenvolgende oorwinnings oor die wit indringers in sy koninkryk.

 

Die trekkers beset Port Natal

Die trekkers het die nederlaag van die Engelse by die Tugela met gemengde gevoelens ervaar. Dit het ten minste ’n leemte in Port Natal gelaat en ten spyte van hul eie ernstige situasie het ’n groep trekkers onder leiding van Carel Landman getrek om die hawe te beset.

Landman het die pos van landdros aan die pro-Boer-Engelsman Alexander Biggar toegeken. Biggar het teruggekeer na die oorblyfsels van sy huis nadat die Zoeloes alles in Port Natal verwoes het na die slag van die Tugela.

 

Potgieter trek terug na die Hoëveld

Droewige dae het nogeens vir die trekkers in Natal gevolg. Nie alleen het die eerste poging om Dingaan te straf op ’n treurige mislukking uitgeloop nie, maar hulle is nou bedreig deur verdere aanvalle van die barbare, wat te enige tyd weer op die toneel kon verskyn. Potgieter het aan die oorblywendes vertel dat hulle nooit die Zoeloes met sukses sou kon weerstaan nie. Hy het dan ook reeds aanstaltes begin maak om sy terugtog oor die berge te aanvaar.

Nie alleen was hy uit die staanspoor maar ongeneë om hom na Natal te begeef nie, maar die gevoelens teen hom het nou hoog begin loop, aangesien baie hom gedeeltelik verantwoordelik gehou het vir die ramp wat Uys en sy manne getref het.

Die waarheid was dat die Vlugkommando ’n skande en ’n pynlike affêre was. Die trekkers kon ook nie bekostig om ’n man van Uys se vegkaliber te verloor nie. Beskuldigings van lafhartigheid en verraad is Potgieter toegesnou, en hy was omgekrap oor al die beskuldigings. “As hy tot aanval oorgegaan het, sou sy manne nooit van Italeni lewendig ontsnap het nie,” was Potgieter se mening.

Potgieter het nou gekom tot sy finale besluit om afskeid te neem van die Natallers. Hy het geargumenteer en gemompel, en toe ondanks al Maritz se pleidooie dat hy nie sy medeburgers in die steek moet laat nie, het Potgieter besluit om met al sy volgelinge oor die berg na die Hoëveld terug te trek.

Skielik het die leeu van die noorde die rol van ’n antiheld aangeneem en vir die meerderheid van die trekkers was sy optrede die klassieke en die legendariese steek in die rug.

Nadat hulle nog twaalf dae in Natal vertoef het, is Potgieter en sy manskappe terug na die gebied wat hulle van Makwana geruil het. Dit was ’n gevoelige slag vir die trekkers in Natal, aangesien hul geledere daardeur aansienlik verswak is. Maar ook in hul geval sou weldra die ou spreekwoord bewaarheid word dat as die nood op die hoogste is, die redding naby is.