Die Groot Trek: Hoofstuk 7 Deel 5
January 25, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 2
February 2, 2021

Sarel Feldtmann

Die kommando’s

 

Trekkers was gevul met gevaar, onsekerheid, leierloos en mismoedig

Die trekkers was versprei oor ’n groot gebied van Natal onder die berg. Hulle was in ’n situasie gevul met gevaar en onsekerheid, leierloos en mismoedig. Die trekkers was hartseer en gevul met vrees, vol wanhopige mans, weeskinders en weduwees.

Die trekkers se slaankrag het veral erg gely. Van die 720 man wat ’n geweer kon dra wat die berg oorgesteek het, was 116 dood. Ammunisie was uitgeput. Kosvoorrade was laag en baie van die voorraad was geplunder. Niemand het geweet wanneer ’n volgende Zoeloe-aanval verwag kon word en die oorlewendes weer in hul kampe aangeval sou word nie.

 

Van die trekkers wil terugtrek na die Hoëveld

Maritz het die trekkers probeer troos, maar ’n paar van die trekkers het geweier om getroos te word; hulle het beweer dat sedert hulle Natal betree het, het dinge verkeerd begin loop. Hulle het besluit om terug te trek na die Hoëveld.

Die oorgrote meerderheid van die trekkers het eenvoudig geweier om Natal te verlaat; die vrouens was besonder verdraagsaam; Cilliers wys daarop dat dit diegene was wat die meeste nood gehad het, die weduwees en weeskinders wat die minste verlang het om terug te keer na die Kolonie.

Die mense het geglo, om nou terug te trek oor die berg, hulle hul geliefdes wat op die hange van Kwa Matiwane en verstrooid in grafte langs die Bloukrans en Boesmansriviere lê, teleur sal stel.

Die blote gevaar van die Voortrekkers se situasie moet gedurig in gedagte gehou word, want die Zoeloemag was steeds ongeskonde en Dingaan moet nou die trekkers geheel en al uitwis of anders sal hyself vernietig word. Dit was duidelik dat die trekkers onmiddellike al hul waens in enkele sterk verdedigingsposisies moes konsentreer.

 

Die trekkers in Natal konsolideer in drie groot kampe

Drie groot kampe is gevolglik opgerig en het ware vestings geword met kleimure en houtpalissades. Maritz self het die grootste van hierdie laers beset op kaal, stowwerige veld, met ’n uitsig oor die Klein Tugela-rivier naby die prominente heuwel met die naam Loskop.

 

Doornkoplaer

Doornkoplaer het die families van Piet Retief en Erasmus Smit gehuisves en was een van die grootstes. Omdat dit nader aan die Drakensberg, was, is dit nie deur die Zoeloes aangeval nie en het dit as ’n toevlug vir die ander gedien. Maritz het sy laer langs dié van Retief opgerig en later het Andries Pretorius sy trek tussen die twee laers verdeel. Later het Uys se trek ’n aparte laer gevorm, sodat al die Voortrekkers teen April 1838 op dieselfde plek was.

 

Saailaer was begin deur Gerrit Maritz aan die Boesmansrivier

Saailaer was die kamp van Gerrit Maritz aan die Boesmansrivier. Dit was ook die eerste saaiplaas van die trekkers in Natal. Terwyl Maritz hier was, het hy besproeiingsvore gegrawe wat tot vandag toe nog gesien kan word. Daar is ook tekens van ou mure, die ou drif en ’n pad. Na die Zoeloe-aanvalle op die trekkers het Maritz die laer na Strydpoort verskuif.

 

Maritz het ’n paar keer getrek en laaste het hy by Sooilaer opgeëindig

Maritz het sy laer na Doornkop verskuif, daarna na Modderlaer en toe na die Boesmanrivier en later weer na die Klein Tugela naby Loskop. Omdat die aanvalle van die Zoeloes op enige oomblik verwag is, is die laer onmiddellik versterk met ’n sooiwal, vandaar die naam Sooilaer.

 

Modderlaer

Modderlaer het tussen 12 en 14 April ontstaan toe Jan du Plessis, Jakobus Potgieter (Koos Grootvoet), Jacobus Uys en enkele van Retief se mense vanuit Doornkop saamgetrek het. Die naam was vanweë die baie modder in die reëntyd. Hier het dit met die Voortrekkers, veral die weduwees en wese, baie swaar gegaan. Die aanhoudende reëns en modder het baie mense, veral kinders, siek gemaak.

Hier, soos trouens in al die laers, het die mense gebuk gegaan onder ’n tekort aan voedsel. Dit is opgeteken dat indien dit nie vir wild uit die omgewing was nie, daar baie sou gewees het wat gebrek gehad het. Mense het in dié tyd ook ’n groot gebrek aan medikasie en klerasie gehad. Brandhout was hier ook problematies en is dit bekend dat vroue (weduwees) met jukke ensovoorts vuur gemaak het.

 

Toestande verbeter in die laers met tyd

Later het toestande egter verbeter. Maritz en Landman het gedurende Mei 1838 na Port Natal gereis om daar te probeer koop wat die nodigste was. Op die 21ste Mei was hul terug met voldoende voorrade om in almal se behoeftes te voorsien. Smit, leraar van die Trek, skryf in sy dagboek met hul terugkeer dat “zij verdeelden hunne medegbrachte levensmiddelen onder elkander … tegen en zonder betaling”.

Ook in Junie 1838 het vanuit die Colesberg-distrik lewensmiddele vir die trekkers aangekom. Dit was ook in Modderlaer (6 Junie 1838) dat die eerste strafekspedisie onder Uys en Potgieter teen Dingaan bespreek is.

 

Veglaer

Veglaer, ook bekend as Gatslaer, se terrein is tans bedek met water van die Wagendriftdam. Die laer is in ’n vallei op die Boesmansrivier getrek en is opgerig omdat die weiding vir twee laers by Doornkop nie voldoende was nie.

Die oorblywende lede van Retief se trek het hul posisies by Doornkop gekonsolideer en 290 waens was by Veglaer (Gatsrand).

Die Voortrekkers van Modderlaer het in Julie 1838 na hierdie punt verhuis. Op 13 Augustus het tienduisend Zoeloekrygers die laer omring en dit vir twee dae en nagte aangeval. Hulle is uiteindelik op 15 Augustus verdryf. Die foto is van die Wagendriftdam, naby Estcourt, Veglaer het in die vallei wat nou bedek is met water gestaan.

 

Boodskappe word uitgestuur om hulp vir die Trekkers in Natal

Boodskappers is uitgestuur vir hulp aan die Hoëveld-trekkers. Uys by Winburg het dadelik gereageer en het met die welkome versterkings van mans en ammunisie die Drakensbergpas bereik.

Sy belangstelling was nie so erg oor die noodkreet van Natal nie, maar deur die ware besorgdheid vir die veiligheid van sy landgenote. Uys is gevolg deur die minder entoesiastiese Hendrik Potgieter en sy vegters. (Potgieter wou in die Transvaal bly en hy het teen sy sin Natal toe vertrek.)

 

Die reaksie van die Hoëvelders was uitstekend

Boodskappers het die nuus van die ramp en die pleidooi vir mans, ammunisie en voorrade na Port Natal en die uithoeke van die Kolonie oorgedra. Die reaksie was so dat Dawid Lindley teen April 1838 kon rapporteer dat die trekkers “een duisend en vyftig man het wat op kommando kan gaan, behalwe die ou mans en seuns wat diens kon lewer om hul kampe te verdedig.”

Die Hoëveld-trekkers het goedhartiglik voorrade voorsien aan hul beleërde bloedverwante in Natal, en toe Jacobus Boshof se gelaaide wa in een van die kampe aankom, het “trane van dankbaarheid” oor elke wang gerol, ander het gesug: “Laat ons geloof in die Here wees, want Hy sal ons verlos.”

 

Wraak was nou in almal se gedagtes

Wraak was nou in almal se gedagtes, maar daar was spanning oor die leierskap van die strafekspedisie. Maritz was siek. Piet Uys se mense wou net onder hom veg en Potgieter se mense het geweier om onder iemand anders as hul eie leier te veg.

Op die ou end het Maritz ’n kompromie uitgewerk wat nie een van die groepe tevrede gestel het nie. Die kommando het toe gefunksioneer as twee afsonderlike kommando’s, een onder Uys en die ander onder Potgieter.