Dirk de Villiers (1924-2009)
January 25, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 1
January 29, 2021

Sarel Feldtmann

Die moorde

 

Die Zoeloes berei hulself voor vir ’n aanval

Terwyl die ontsielde liggame van Retief en sy metgeselle op Hloma Amabutho (Kwa Matiwane) langsamerhand verstyf, het Dingaan die hele môre van die 6de Februarie in die middel van sy stat gesit met ’n groot impi van etlike afdelings voor hom opgestel. Hulle het sy laaste bevele ontvang. Daardie middag het hulle sonder rumoer die stad uitgehardloop en soos donker spookgestaltes oor die bulte in die rigting van die Boerelaers verdwyn. Die eerste bedryf in die weloorwoë tragedie is met welslae afgespeel; die tweede is met die grootste omsigtigheid voorberei; die Boerelaers moes verras en met een felle slag uitgedelg word.

 

Owen en sy medesendelinge

Vir Owen en die mense van sy geselskap het ’n tyd van angs en kommer aangebreek. Eers gerusgestel wat sy eie veiligheid betref deur die waarskuwing van Dingaan aan hom, dat hy die Boere gaan vermoor, het hy vir sy eie lewe en dié van sy gesin gesidder, toe hy in die namiddag opmerk dat ’n halfdosyn krygers met skilde in die nabyheid van sy hutte kom sit het. Hy het sy gesin byeengeroep en Psalm 91 voorgelees, en die woorde was so wonderlik en letterlik van toepassing dat hy van ontroering skaars kon voortgaan. Kort daarop het Venable, een van die Amerikaanse sendelinge, by hom aangekom, en hulle het besluit om saam met die ander sendelinge wat in die nabyheid van Umgungundlovu gevestig was na Port Natal te vertrek en die land uit te vlug. “Dis seker,” so skrywe hy, “in soverre as wat ’n mens vooruit kon oordeel, dat ons weldra sal hoor van die slagting van die hele gemeenskap van Boere, of wat skaars minder skrikwekkend is, van oorloë en bloedvergieting, waaraan daar geen einde sal wees voordat of die Boere of die Zoeloenasie uitgedelg is nie.”

 

Dingaan gee sy toestemming aan Owen om te vertrek

Dingaan het sy toestemming gegee tot hul vertrek, maar nie sonder dreigende verwyte dat Owen ontsteld was oor die dood van die Boere nie, dat hy die koning ’n slegte hart toedra, dat terwyl hy God loof hy die koning vervloek, en dat Zoeloegetuies dit sou bevestig. Opnuut het vrees die hart van Owen beklem. Dingaan kon elke oomblik besluit om sy hand ook aan hulle lewens te slaan. So gou as wat dit menslik moontlik was, het hy met sy mense op Sondag, die 10de Februarie, vertrek. Al die tyd is hul bewegings met die grootste noukeurigheid bespied. Voor hy weg is, kon hy nog waarneem hoe groot afdelings Zoeloes deur die stat trek om die voorhoede te gaan versterk.

 

Die Zoeloes versteek hulle aan die linkeroewer van die Tugela

Onderwyl die Zoeloeleërafdelings in aantog was en hulle versteek het aan die linkeroewer van die Tugela, van waar hulle die gebied bespied het, het selfs nie die minste gerug van die naderende onheil die trekkers bereik nie.

Na die vertrek van Retief het die mense nog meer verspreid gaan woon. Die ongeriewe van die saamgedronge lewe in die groot laers, die dringende behoefte aan brandhout, en veral aan ruimte vir die groot kuddes klein- en grootvee, het meer en meer mense gelok om oor ’n groot gebied te versprei in familiegroepies met twee, drie of meer waens. Gert Maritz, wat nou tydelik die opperbevel gevoer het, was magteloos teen die drang van omstandighede. Minder begryplik is dat hy geen poging aangewend het om die mense te beweeg om in elk geval klein laers te trek en so teen moontlike gevare voorberei te wees nie, of om te sorg vir ’n gereëlde verkenningsdiens. Die feit is dat nieteenstaande die bedenkings wat uitgespreek is met die vertrek van Retief, almal houtgerus was.

Net soos Retief het die meeste tog maar gemeen dat Dingaan, nou dat sy vee van Sikonyella teruggeneem is, die trekkers ’n goeie hart sou toedra. En selfs al sou hy vals en vyandig wees, dan sou hulle wel gewaarsku word deur hul mense. Selfs die swartgalligste kon nie dink dat Retief met sy ganse geselskap in ’n valstrik gelok en uitgedelg sou word nie.

Onderwyl Zoeloespioene dus die ligging van die familiekampe van die voorste mense haarfyn bespied het, het hulle rustig voortgegaan met hul daaglikse takies of onder mekaar gekuier.

 

Die Voortrekkerlaers

Die dag voor die noodlottige 17de Februarie staan die laer van Retief, nou onder bevel van kommandant Greyling, in oop formasie met agt-en-sewentig waens nog aan Doornkop. Tussen Doornkop en Drakensberg was verskeie groot laers wat eers onlangs die berg afgekom het, o.a. die onderkommandant, J du Plessis, ongeveer ’n honderd waens sterk. Hendrik Potgieter moes êrens onder die berg gestaan het met ’n klompie van sy mense, terwyl Uys met sy laer nog bo op die berg was. Hierdie groepe was almal buite die onmiddellike gevaarsone.

Suidoos van Doornkop, ongeveer vier myl onderkant Boesmansrivier in die nabyheid van die teenswoordige Estcourt, het die laer van Maritz gestaan, by wie ook was die Rudolphs en kommandant Jacobus Potgieter. ’n Entjie verder in die rigting van Boesmansrivier het Sarel Cilliers gestaan in ’n klein laer met vyf families. Die voorste mense, wat die eerste in gevaar was en wat die spit van die aanval moes afbyt, het verspreid gestaan in klein familiegroepies langs Bloukransrivier en op ’n soetdoringbult tussen Klein- en Groot-Moordspruit, wat in Bloukransrivier vloei, tot aan Boesmansrivier en bo-aan Rensburgspruit, ’n afstand van seker drie uur te perd. Heel onder, by die samevloeiing van Moordspruit en Bloukransrivier, het die familie De Beer gestaan. Verder langs die spruitjie op Barend Liebenberg, Wynand Bezuidenhout, Botha, Bresler, Smit e.a., meestal ongeveer in die buurt waar die monument nou staan.

Vervolgens langs die spruit op Rossouw, Engelbrecht, Greyling, Robbertse, Hattingh en Joubert. Tussen hulle en die Van Rensburgs, wat heel bo aan Rensburgspruit gestaan het, was uitgespan die Bothmas, die hoof waarvan die enigste broer was van die Bothma van Slagtersnek, ’n buitengewoon heldhaftige man; verder die Kloppers en Prinsloos. Van die samevloeiing van Bloukransrivier en Moordspruit het langs eersgenoemde op bokant die Bezuidenhouts gestaan die trekke van Ryk Joseph van Dyk en sy seun, die Scheeperse, Roetse, Van Vuurens, Geeres en nog ’n paar families, tot ongeveer regoor die teenswoordige Chieveley-stasie.

 

Die Zoeloes val die Voortrekkerlaers aan

In die nag van die 16de Februarie het die Zoeloes vanuit die rigting van die Tugelarivier die voorste trekkers langs die hele linie vanaf Bloukransrivier tot aan Rensburgspruit bekruip. Soos skaduwees van die dood het duisende swart gedaantes byna geruisloos op die argloos-slapende mense aangesluip en omstreeks eenuur die volgende môre byna gelyktydig oral aangeval.

Die De Beers en Liebenbergs bo-aan Bloukransrivier is verras en uitgemoor. By die Bezuidenhouts, ’n entjie daarvandaan, het die waaksaamheid van ’n paar getroue honde ’n volkome verrassing voorkom. Die geselskap het bestaan uit Wynand Bezuidenhout, sy vrou en vyf ongetroude kinders; sy seun Daniel Bezuidenhout, met sy vrou en twee dogtertjies van elf maande en drie dae onderskeidelik, en sy skoonmoeder; sy skoonseun Botha, met sy vrou en een kind van vyf maande.

Omstreeks eenuur van hierdie maanlose nag het Daniel die honde hoor blaf en tekere gaan. In die vermoede dat hulle met ’n tier besig was, het hy opgestaan, en bekleed in hemp en onderbroek het hy gaan ondersoek instel. Ongeveer driehonderd tree van die waens het hy op die honde afgekom, en dadelik het die geritsel van asgaaie deur die gras die ontstellende waarheid aan hom geopenbaar. Met ’n waarskuwende skreeu het hy teruggesnel om sy geweer te kry, slegs om te ondervind dat die waens reeds omsingel was deur Zoeloes wat uit ’n ander rigting gekom het.

 

Daniel Bezuidenhout ontsnap in die nag

Met wanhoop in sy hart het hy deur die Zoeloerye gebeur, om die laaste doodsnikke van sy vader en swaer te hoor en die angskrete van die vroue en kinders in die waens, waar die moordparty in volle gang was. Hier kon geen mens meer help nie. Opnuut het hy sy weg deur die Zoeloes heen gebaan, maar voordat hy uit was, was hy swaar gewond met een assegaaisteek deur skouer en bors en drie steke in sy linkerbeen. Eindelik het hy tussen die beeste geland en kon hy ’n tydjie stilstaan en luister; maar geen menslike geluid het meer tot hom deurgedring nie. Alles was dood. Net die Zoeloes was nog besig om die tente en waens te skeur en te breek en die honde en hoenders dood te steek.

Sonder dat hy dit wis, het sy broertjie Petrus, ’n seun van veertien jaar, egter ook aan die dood ontkom. Gewek deur die kreet van sy broer, het hy uitgespring in die waan dat die skape op loop was. Afgekeer van die waens het hy die perde aangetref, en met sy kruisbande as toom en teuels het hy ’n perd bestyg en met nog sewe ander perde die volgende middag laat Doornkop bereik.

Gemartel deur die pyn van sy wonde, uitgeput deur bloedverlies, het Daniel voortgestrompel al langs die Bloukrans op en die families van Sybrand van Dyk, Scheepers, Roets, van Vuuren en Carel Geere gewek. Toe die dag breek, sukkel hy met 196 mans, vroue en kinders oor die grasbult na Doornkop, terwyl ver agter na die suidekant geweerskote die boodskap bring dat daar nog mense wanhopig vir hul lewe worstel.

 

Die mense langs Moordspruit

Die mense langs Moordspruit op is oorval en met weinige uitsonderings vermoor. Van die uitsonderings was die gesin van Isak Robbertse, wat self saam met Retief vermoor is. Gewek deur geweerskote het mevrou Heila Robbertse nog net tyd gehad om haar groot swart-bles ryperd “Bron” te vang en met haar seun en twee dogters, ook te perd, uit te jaag. Toe hulle wegvlug, hardloop die Engelbrechts en Greylings, altesame ses-en-dertig mans, vrouens en kinders by haar waens in, waar hulle almal vermoor is.

Langs Kleinmoordspruit het ook ’n paar Italiaanse negosiante gestaan met drie waens, waarvan ’n vrou Therese Viglione, en enige mans hulle te perd gered het. Therese het met groot moedigheid ’n poging aangewend om mense te waarsku, en toe niks meer kon baat nie, na Doornkop gevlug, waar sy die volgende dag die dankbaarheid van die Trekkergemeenskap verwerf het deur gewonde kinders in haar tent op te neem en met haar medisyne, salwe en balsems te verpleeg.

Hoër op langs Moordspruit het die Bothmas hulle met weergalose dapperheid verdedig, eers by hul waens, waar ’n aantal gedood is; daarna het hulle al vegtende teruggewyk na ’n plat koppie, waar hulle hul lewens duur verkoop het totdat die Zoeloes hulle oorrompel het deur beeste tussen hulle in te jaag, nadat hulle skietvoorraad so te sê op was. Vyf-en-sestig lyke van mans, vroue en kinders en ’n groot aantal Zoeloes het getuig van die verbitterde worsteling wat hier plaasgevind het.

 

Die Van Rensburg-laer

Op die uiterste linkervleuel van die aanvallers het die Van Rensburg-familie beter gevaar. Die aanval het hulle bo-aan Rensburgspruit, ’n bietjie later as die ander, getref. Dit het hulle die geleentheid gegee om in aller haas op ’n naburige koppie te vlug, wat deur sy formasie hulle aan die rugkant beskerm het. Hier kon hulle hul teen herhaalde stormlope van die Zoeloes weer totdat hulle eindelik ontset is.

Die heldhaftige verweer van die Bothmas en Van Rensburgs het ongetwyfeld die trekkers van nog ’n groter ramp gered. Dit het die Zoeloe-aanval vertraag en in die war gestuur en die mense meer na agter die kans gegee om verdediging en teenaanval in oorhaas te organiseer.

By die meeste agterste laers – dié van Maritz, Cilliers en die Malans – was dit nog donker en die mense het net begin roer, want die Voortrekkers was gewoond om vroeg uit die vere te kruip, toe die harde knalskote van die ou groot pangewere uit die ooste en noordooste hul ore tref. “Vreugdeskote! Die Kommissie is terug!” was die eerste gedagte, en opgeruimd en vrolik het die mense saamgedrom om die gebeurtenis te bespreek. Die geskiet hou egter aan en aan, en weldrae begin die vrolike stemme verstom en gesigte versomber. Daar is onraad, en almal het ’n bloedverwant by die voorste mense. In alleryl is verkenners te perd uitgestuur, wat met die ontsettende berigte terugkom dat die Zoeloes in aantog is, dat die wêreld by die voorste mense ’n toneel skyn te wees van dood en verwoesting, maar dat hier en daar sommige hulle nog verdedig.

 

Die Voortrekker-verdediging word aangepak

Met merkwaardige doeltreffendheid is die verdediging aangepak. Berigte is gestuur na Doornkop en na die mense verder agtertoe; die laers is haastig in ’n staat van verdediging gebring, onderwyl klein groepies mans onder Cilliers, Rudolph en Maritz te perd uitgetrek het om die Zoeloes te ontmoet, vlugtelinge te red en om indien moontlik die mense wat nog stand gehou het, by te staan.

Hierdie klein voorhoede het daarin geslaag om die aanrukkende Zoeloes, wat nou al ’n nag en ’n halwe dag op die been was te stuit. Al vegtende het ’n klompie van hulle die koppie genader waarop die Van Rensburgs en Pretoriusse vasgekeer was.

Die weerstand van die veertien mans wat hier om hul vroue en kinders geveg het teen ’n groot mag van Zoeloes wat in die loop van die môre aangegroei het tot ’n vyftienhonderd, en op onrusbarende wyse begin verslap weens die uitputting van hul voorraad kruit en lood, is op die laaste oomblik gered deur die heldhaftige hulp van jong Marthinus Oosthuizen, Jacob Naude en Abram de Beer.

 

Marthinus Oosthuizen help die Van Rensburgs

Marthinus Oosthuizen, wie se vader saam met Retief was, het met sy moeder en ander mense nie alte ver van die Van Rensburg-laer gestaan nie. Deur die geweervuur en ’n vlugtende man te perd gewaarsku, het hy sy moeder in veiligheid gebring en hom daarna gehaas om die voorste mense te gaan help. Eers sou hy egter gaan sien of hy hul perde kan vind, wat in die buurt geloop het. Op weg daarheen het hy die voorpunt van die Zoeloes ontmoet en op hulle begin skiet, en al skietende het hy sy weg gevind tot naby die Van Rensburgs.

Die Zoeloemag was nou tussen die laer en die koppie, wat aan die een kant beskerm was deur ’n krans, sodat die Zoeloes in ’n halwe maan om die vasgekeerdes aangeval het. Oosthuizen het geleidelik so naby gekom dat die mense hom kon sien en hom kon toeskreeu om kruit en lood van die waens af te bring. Hy het dadelik sy perd omgeruk en by die laer in die wakis die nodige skietgoed gevind. Belaai met soveel as wat hy kon saamneem, met sy roer oor sy skouer, omdat hy nou tog nie kon skiet nie, het hy deur die Zoeloes gejaag, gehelp deur die vasgekeerdes, wat hul bes gedoen het om ’n pad oop te skiet, en bygestaan deur Abram de Beer en Jacob Naude, wat intussen ook opgedaag het.

Die geweervuur het nou weer met krag opgelaai, die Zoeloes het begin terugval, en toe Cilliers kort daarna met nog enige Boere opdaag, was hulle weldra in volle vlug. Meer as tagtig Zoeloelyke teen die hange van die koppie het getuig van die hewigheid van die worsteling.

 

Maritz het ’n uur gehad om sy kamp voor te berei

Maritz het ’n uur gehad om die verdediging van sy kamp voor te berei. Sy mense het ’n geskiet in die verte gehoor en aanvanklik geglo dat dit Retief se mense is wat ’n aanduiding gegee het dat hulle terugkeer met ’n “feu de joie” of moontlik ’n verraderlike aanval deur die Britse setlaars van die hawe.

Die tydjie het die Boere in Maritz se kamp toegelaat om ’n kanonnetjie in aksie te bring en die Zoeloe-aanval wat gevolg het te verdedig. Hulle het ’n menslike ketting gevorm in hul pogings om die Boesmansrivier wat in vloed was, oor te steek.

Ten einde laaste het die oggend aangebreek in die kampe, ’n ongelukkige nag van vrees en lyding. Met sonsopkoms die volgende oggend was die oorlewende trekkers geskok oor die omvang van die ramp. Met hartseer het hulle die lyke van 41 mans, 56 vroue en 185 kinders getel, behalwe dié van 250 gekleurde bediendes.

In ’n enkele bloedige nag het byna 500 lede van die Groot Trek gesterf, en die oorlewende kampe was besig om met gewonde slagoffers te vul. ’n Mens kan nie dink watse angs en wroeging Dingaan se optrede daardie nag tot gevolg gehad het nie.

 

Oorlewendes en dooies word gesoek en gewondes word verpleeg

Ook aan die Bloukransrivier is die Zoeloes teruggeslaan. Daarby moes dit voorlopig bly, omdat dit dringend nodig geword het om die gewondes op te soek en te verpleeg sowel as om die honderde lyke voorlopig te beskerm teen skending deur roofvoëls en roofdiere.

Wat hulle moes aanskou, was hartverskeurend. Oral dood en vernietiging – ’n wêreld van verlatenheid waaroorheen nog net aasvoëls, die grusame kamerade van die dood, gesweef het. In en om die geplunderde en vernielde waens hope lyke van mans, vroue en kinders, sommige waarvan nog maar pas die lewenslig aanskou het, gruwelik deurboor en vermink. ’n Angsvolle gesoek na familielede en vriende het begin. Vir sommige was ’n bittere onsekerheid gou verby, vir ander het dit voortgeduur. Wanneer êrens ’n paar aasvoëls begin ronddraai, het mense daarheen gejaag.

Soms was dit ’n sterwende of dooie Zoeloe, soms ook die lyk van ’n vriend wat swaar gewond voortgesukkel het om eindelik op die eensame veld verlos te word deur die dood. Soms ook het vir een of ander ’n ligstraal deur al die droefheid heen gebreek, wanneer berig ontvang is dat ’n familielid ontvlug het of êrens gewond gevind is. ’n Paar mense is nog uit die kloue van die dood geruk. So is onder hope lyke van hul bloedverwante, oordek met wonde maar nog lewende, uitgehaal twee jong dogters Catherina Prinsloo en Johanna van der Merwe en ’n seun van twaalf jaar, Gert Lukas Joubert. Hulle het almal herstel. ’n Jong vrou, Betta de Beer, het met haar kindjie ontvlug. Hy is in haar arms doodgesteek en, hoewel self swaar gewond, kon sy nog in ’n boom klim, waar sy in ’n mik half bewusteloos bly hang het. Verbygaande Zoeloes het haar nog verder verwond. Sy is half dood deur die soekers onder die boom gevind, maar het die ramp nog nege dae oorleef.

Die smart en die angs in die verskillende laers was onbeskryflik. Daar was niemand wat nie ’n dierbare verloor het nie, saam met Retief of by Bloukrans. Met bewende pen teken Erasmus Smit in sy dagboek aan: “Zelfs geen aaneengeschakeld gebed konken we voortbrengen. ‘t Was zucht op zught, klacht op klacht. Ach God! Ach Heer! Hoe geducht, hoe groot zijn Uwe oordelen over ons! ’t Gekerm der gewonden, en de angst en schrik van anderen krijten ten hemel op.”

 

Die agtervolging word hervat die volgende dag

Die volgende dag is die agtervolging hervat deur Maritz en ander, nou ook versterk deur mense van Doornkop en van die agterste laers. Die Zoeloes is agtervolg tot aan die Tugela. Hulle het egter tyd gehad om die geroofde vee, ongeveer 25 000 beeste en ’n aantal skape, veilig oor die rivier te bring. Teen skemeraand is die agterhoede gevind besig om skape deur die rivier te probeer drywe. ’n Aantal is doodgeskiet, ander het verdrink; maar die rivier was so vol dat ’n deurtog in die nag onmoontlik was. So moes die agtervolging gestaak word. Na skatting het ongeveer vyfhonderd Zoeloes, behalwe die gewondes en verdrinktes, gedurende die twee dae in die slag gebly.

 

Die plan van Dingaan het misluk

Die fyn deurdagte plan van Dingaan het misluk. Van ’n algehele vernietiging van die trekkers deur verassing sou in die toekoms geen sprake meer wees nie. Maar die prys wat betaal is, was ontsettend. By die gevoelige materiële verliese was die verlies aan menselewens vir die klein gemeenskap byna verpletterend.

By Dingaanstat het die beendere van hul vertroude en geliefde goewerneur met die van meer as sestig weerbare burgers en ’n dertigtal bediendes in son en weer lê en verbleik. By Bloukrans en Boesmansrivier het in die slag gebly een en veertig mans, ses en vyftig vroue, 185 kinders en ongeveer 250 bediendes, insluitende ’n klompie Zoeloe-veewagters.

 

Die Zoeloemag was gestuit maar nie verslaan

Die Zoeloemag, agt- tot tienduisend weerbare manne sterk, was gestuit maar nie verslaan nie. Enige dag kon ’n nuwe aanval verwag word, wat selfs indien dit afgeslaan word, hulle nader aan bedelstaf kon bring, deur die ontvoering van hul oorgeblewe vee. Self nie sterk genoeg om tot die aanval oor te gaan nie, moes hulle die ongeriewe van die lewe in versterkte militêre laers verduur. Oortollige reëns gepaard met siekte het die toestand vererger. Die hulp wat hulle verwag het van die mense aan Modderrivier het maar nie opgedaag nie. “Onze staat is hachelik en allerbetreurenswaardigst. Niets blijft ons over dan de hulp van God, onze enige toevlucht in nood en dood,” skryf Erasmus Smit teen die einde van Maartmaand. Die najaar en winter van 1838 was inderdaad die droewigste en donkerste tyd van die hele Groot Trek-geskiedenis.

 

Opsomming

Die Zoeloe-aanval op die slapende trekkers was as briljant bestempel, maar dit het baie min sukses behaal. Die Zoeloes het geglo hulle het die meeste Trekkermans op Kwa Matiwane doodgemaak en was verbaas oor die weerstand wat hulle gekry het nadat die aanvanklike verrassing afgeneem het.

Hulle het ook nie geweet dat die trekkers se kampe weswaarts tot by die berge versprei is nie. Dingaan het gehoop op totale vernietiging van die wit oortreders in sy gebied en hy kon nie sy teleurstelling met die nag se werk wegsteek nie.

David Lindley, een van die Amerikaanse sendelinge in Zoeloeland, het die Zoeloe-aanval krities opgesom met die volgende opmerking: “In die lig van die geleentheid wat hulle gehad het, het die impi baie min bereik”.

Maar die trekkers het daardie Februarie nie met hierdie gevolgtrekking saamgestem nie. Hulle het gepraat van die nag se dade as “Die Groot Moord”. Buiten die sewentig man wat op Kwa Matiwane vermoor is, het hulle ’n tweede noodlottige terugslag gehad. Hul veeverliese was ook rampspoedig.

Maar die vinnig georganiseerde weerstand van die trekkers het die Zoeloes verdryf wat die aanvalsinisiatief aan die Boere oorgegee het. Die “Groot Moord” kan dus gesien word as een van die gebeure wat die verlede afsluit en die toekoms inlei met ’n nuwe rits van gebeure. Van nou af sal dit oorlog wees tot die dood tussen die Afrikaners en Dingaan se impi’s.

Die bloedbad kan gevolglik beskou word as die eerste salvo in wat ’n twee jaar lange stryd om oppergesag tussen Zoeloe en Voortrekker in die suide van KwaZulu-Natal geword het.