Die Groot Trek: Hoofstuk 7 Deel 3
January 21, 2021
Dirk de Villiers (1924-2009)
January 25, 2021

Sarel Feldtmann

Die moorde (vervolg)

 

Waarom Retief vermoor is – ’n Interessante oorlewering onder die Zoeloes

(Uittreksel oor die siening van die Zoeloes oor Retief se moord – artikel in die Gedenkuitgawe van die Huisgenoot – Groot Trek Desember 1938)

Daar is heelwat verskil van mening oor die rede waarom Dingaan Retief en sy manskappe vermoor het. Die volgende, soos vertel is aan die skrywer (G. Maarten Spoelstra) deur sy skoonvader, skyn om die waarskynlikste te wees, as mens die Zoeloe, sy geaardheid en bygelowe so goed geken het, as iemand wat hier in Zoeloeland grootgeword het.

My skoonvader het die verhaal in 1888 gehoor, soos deur ’n ou Zoeloe van die Mnyovu-regiment (die “Perdebye”) en van die Mpungoze-stam aan sy grootvader, Andries Lodevicus Pretorius, vertel is. Hierdie Andries Pretorius was ’n susterskind van die kommandant-generaal en was die eerste naturellekommissaris op Nkandhla onder Sir Melmoth Osborne. Ons kan dus aanneem dat daar heelwat waarheid in die verhaal steek. Die ou naturellekommissaris het trouens later self aan sy kinders en kleinkinders gesê dat hy dit as die enigste rede beskou wat Dingaan kon gehad het om die moord te laat pleeg.

 

Die Perdeby Regiment

Die Mnyovu-regiment was Dingaan se pronk-regiment en het ook as sy lyfwag gedien op die dag toe Retief vermoor is. Hulle het Piet Retief en sy manskappe op bevel van Dingaan vermoor. Dit kan dus aangeneem word dat die ou Zoeloe met gesag kon praat oor alles wat op daardie dag in Dingaan se stat gebeur het.

In die jaar 1888, toe die ou swart man die verhaal vertel het, was hy ongeveer negentig jaar oud, nog perdfris en by sy volle verstand. Uit wat hy vertel het, het ook geblyk dat hy een van Dingaan se gunstelinge moes gewees het.

Volgens die ou Mnyovu was die moord op Retief te wyte aan ’n misverstand. Retief het naamlik so ’n vertroue in die Zoeloekoning gehad dat hy dit nie nodig geag het om sy posisie aan Dingaan behoorlik te verduidelik nie.

 

Piet (Uys) was ’n fris man met ’n growwe stem en ’n swart baard

’n Jaar of twee voordat Piet Retief sy verskyning by Dingaan gemaak het, so het die ou swart man verder vertel, het daar ’n klompie Boere te perd uit die Noordweste by Dingaan se stat aangekom. Hul leier was ’n groot, frisgeboude man met ’n growwe stem en ’n digte bos swart baard. Hy het ook sy vrou by hom gehad. Sy het haar hare in ’n lang vlegsel op haar rug gedra. Hy het aan Dingaan vertel dat sy naam Piet (Uys) was, dat hy die leier was van die Boere wat uit die Kaapkolonie wou trek en dat hy woonplek vir hom en sy mense by Dingaan kom soek het.

Dingaan het geen beswaar daarteen gehad om die mense woonplek te gee nie, want in daardie tyd was die hele strook land ten noorde van die Tugela tot aan die Drakensberg onbewoon as gevolg van Tsjaka se verowering van die Mtetwa en die Madebelo-stamme, wat vroeër daar gewoon het. Buitendien, as die Boere daar sou kom woon, sou hulle gedien het as ’n stootkussing tussen die Zoeloes en die Matebeles, vir wie Dingaan maar taamlik lugtig was.

 

Die Piet het deur die Vrystaat gekom. Terug was hulle deur Pondoland

Volgens die ou Zoeloe se verhaal blyk dit dat Uys en sy mense deur die Vrystaat gekom het, al langs die Basoetolandse grens en oor die Drakensberge, en daar het hulle sommer in ’n reguit lyn na Dingaanstat getrek. Op hul terugreis het hulle reg suid deur Pondoland na die Kaapkolonie toe getrek. Hulle het by hulle ’n baster of Hotnot gehad wat as tolk gedien het.

’n Ou swart vrou wat op die plaas Mooihoek in die distrik Vryheid woon en wie se ouderdom op 120 jaar geskat word, het met die jongste sensusopname (1936) aan die sensusopnemer vertel dat daar ’n vrou met ’n lang vlegsel hare by Dingaan gekom het saam met die eerste klompie Boere wat by hom woonplek kom soek het. Tog word daar in ons geskrewe geskiedenis beweer dat Piet Uys nooit by Dingaan was nie. Hoe is dit dan moontlik dat die twee skepsels, wat mekaar nooit geken het nie en wat net daardie tyd in Dingaan se stat was, jare na mekaar dieselfde verhaal sal kan vertel? Myns insiens is hierdie verhaal so belangrik dat daar gerus verdere navorsing in verband daarmee gedoen behoort te word.

 

Nog ’n Piet (Retief) het by Dingaan aangekom

Later toe kom daar weer ’n klompie Boere by Dingaan aan. Hul leier was ’n klein mannetjie met ’n fyn stem en ’n bruinerige bos baard, en hy sê ook dat hy Piet (Retief) is, die leier van die Boere wat uit die Kaapkolonie getrek het, en hy kom ook woonplek soek by Dingaan vir hom en sy mense. Dingaan vra toe vir Piet Retief of hy die enigste “Piet” is wat leier van die Boere is. Retief antwoord bevestigend, maar Dingaan maak toe geen melding van die ander Piet (d.w.s. Piet Uys) wat hom alreeds ’n besoek gebring het nie.

Aangesien Dingaan maar baie agterdogtig was, maak hy toe die ekskuus in verband met die beeste wat, volgens wat hy voorgee, deur die Boere sou gebuit gewees het. Dingaan het goed geweet dat die beeste gebuit is deur basters of Griekwas wat perde besit het en met gewere gewapen was, en ook dat die beeste weer deur Sikonyella van die Griekwas afgeneem en toe nog by Sikonyella was. Want net ’n paar dae tevore het hy deur sy spioene berig ontvang van alles wat daar gebeur het met die beeste.

 

Dingaan se eerste plan met Retief

Dingaan se plan was eintlik om die Basoeto’s vyandiggesind te kry teenoor die Boere. Hy was oortuig daarvan dat die Boere nooit die beeste sou kry nie en dat die Basoeto’s hulle sou vermoor. Op hierdie wyse sou hy onder geen verpligting teenoor die Boere staan nie. Buitendien het Dingaan se spioene hom kom meedeel dat daar baie meer Boere langs die Drakensberg en Boesmansrivier was as wat hulle voorheen gedink het, maar dat die indringende Trekkers nie die swart mense op enige wyse molesteer nie. Gevolglik wou Dingaan nie die Boere eerste aanval nie. Hy sou dit aan die Basoeto’s oorlaat. Daar het egter geen twyfel bestaan nie dat Dingaan bang was dat die Boere sy gebied in Natal van hom sou afneem, want volgens ’n swart man se oorlewering het Tsjaka, wat deur Dingaan vermoor is, net voor sy dood gesê, dat hy wit mense sien kom wat die land van Dingaan sou wegneem en sy dood veroorsaak. Dingaan was egter ’n diplomaat en het hierdie oorlewering opsigself nie as genoegsame rede beskou om die Boere aan te val en uit te delg nie.

 

Dingaan raadpleeg eers sy kapteins

Maar nou kom Retief ongedeerd van Sikonyella af terug en lewer die gebuite beeste aan Dingaan af. Dingaan het nou geen ander uitweg gehad as om aan Retief die beloofde grondgebied toe te ken nie; maar hy maak die verontskuldiging dat hy eers sy kapteins moet raadpleeg voordat hy finaal kon besluit oor die grond. En Retief en sy manskappe gaan toe kampeer op dieselfde plek waar hulle die vorige keer gestaan het – suidoos van die plek waar Retief se monument vandag staan, net bokant die fontein.

Die dag nadat Retief die beeste aan Dingaan afgelewer het, hou Dingaan toe raad met sy kapteins en stel hulle hierdie vraag: “Is die Piet wat nou hier is dieselfde Piet wat ’n jaar gelede met sy vrou hier by ons was?”

 

Retief kom voor as ’n towenaar en is ’n gevaar vir die Zoeloenasie

Die raadslede antwoord ontkennend. En toe maak hulle die verskil duidelik van die baard, die stem en die liggaamsbou. Dingaan se antwoord hierop was: “Die hele raad was teenwoordig toe ek Retief gevra het of hy die enigste Piet is wat leier van die Boere is, en julle het almal sy bevestigende antwoord gehoor.” Hy verduidelik toe dat as Retief homself so kon verander van ’n groot man met ’n growwe stem en ’n swart baard na ’n klein mannetjie met ’n fyn stem en ’n bruinerige baard, hy ’n baie sterk towenaar moes wees. Hy kon dus heel moontlik ’n baie groot gevaar vir die Zoeloenasie word!

In hierdie mening is Dingaan natuurlik baie sterk gesteun deur sy reëndokters, waarsêers en ruikdokters, wat geen mededinger by Dingaan sou duld nie, want hulle het maar alte goed geweet dat hul dae getel sou wees as die wit towenaar ’n groter invloed by die koning verkry het as wat hulle gehad het. Die ruikdokters (Izangoma) het ook munt geslaan uit die Boere se gewoonte om elke môre en aand godsdiens te hou in hul laer. Hulle het die laer natuurlik baie noukeurig dopgehou en Dingaan gaan vertel van alles wat daar plaasgevind het met hul eie uitleg daarvan, wat natuurlik alles behalwe in die guns van die Boere was.

 

Retief word na die koningskraal genooi vir ’n fees

Die dag nadat die ooreenkoms getref is, teken Dingaan die Traktaat. Hy nooi Retief en sy manskappe egter uit om nog ’n paar dae by sy stat te vertoef, aangesien hy ’n groot dans ter ere van sy blanke gaste wou laat uitvoer. Terselfdertyd wou hy dan ook sy krygsmag aan Retief vertoon en vir hom en sy manskappe ’n fees toeberei deur beeste te slag. Op hierdie tydstip het Owen Retief gewaarsku om liewer te sorg dat hy wegkom, daar Dingaan nie vertrou kon word nie; maar Retief was nou heeltemal gerus en het, nou dat die Traktaat onderteken was, groot vertroue in die goeie gesindheid van die Zoeloekoning gehad. Onderwyl Dingaan besig was om voorbereidsels vir die fees te laat maak, bring Retief en sy manne die tyd deur met wildskiet in die nabyheid van die stat.

Enige dae later word die besoekers deur Dingaan aangesê dat alles gereed is en dat hulle maar na die koningskraal moet kom vir die groot fees. Retief en sy manskappe het gekom tot by die groot hek van die kraal en het hul gewere buite teen die ringmuur, aan die regterkant van die groot hek, laat staan. Hul perde laat hulle ook aan dieselfde kant van die hek, ’n entjie verder af, onder die sorg van hul agterryers. Dit was die gewoonte van die Zoeloes dat geen mens gewapen by die koningskraal mag inkom nie. Om nou geen aanstoot te gee nie en seker omdat hy reeds so ’n groot vertroue in Dingaan het, volg Retief hierdie gewoonte. Toe hulle deur die hek was en net voordat hulle deur die beeskraal aanstap, staan die jong seun Woods daar. Hy sê toe haastig aan Retief dat hulle moes omdraai, aangesien die Zoeloes hulle gaan vermoor. Hy het dit aan die lied gehoor wat die regimente van Dingaan daardie oggend gesing het. Retief het net daaroor gelag en aangestap met sy manne.

 

Retief word na die koningskraal genooi vir ’n fees

Toe hulle by die agterste klein hekkie van die kraal aankom, waar die melk altyd uitgegee is en waar die melkers ingekom het – by die Zoeloes bekend as die intuba – sit Dingaan daar in die kraal met ’n klomp van sy kapteins. ’n Paar regimente was besig om in die kraal te dans, te sing en ’n skyngeveg uit te voer. Nouliks word die bier en die vleis voor Retief en sy manne neergesit of die regimente begin al hoe nader en nader na die Boere toe te dans. Meteens staan Dingaan op en stap deur die intuba in sy strooi se skerm in. Toe hy binne die skerm kom, skree hy: “Bulalani aba tagati!” (Maak dood die towenaars!)

 

Teen hierdie tyd was die Zoeloeregimente so te sê al op die Boere. Nou het die noodlottige oomblik aangebreek, en ons weet reeds wat verder gebeur het. In die alledaagse lewe sou so ’n bevel van Dingaan baie vreemd gewees het, want niemand sou in daardie dae iemand anders sommer goedsmoeds van toordery beskuldig het as daar geen gegronde rede bestaan het nie. Hier kan ons dus die invloed sien van die toordokters van die koning. In gewone omstandighede sou die koning gesê het: “Maak dood die vreemdelinge, spioene of honde, want die koning se voëls (die aasvoëls) het honger.”