Margot Luyt
January 20, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 7 Deel 4
January 22, 2021

Sarel Feldtmann

Die moorde (vervolg)

 

Retief word uitgenooi na ’n afskeid met Dingaan (6 Februarie 1838)

Die dag wat die trekkers wou vertrek, op die 6de Februarie 1838, nadat die perde opgesaal was, het Retief ’n boodskap gekry waarin die koning hulle versoek het om op die paradegrond bymekaar te kom sodat hy hulle kan afsien.

By die koning word Retief uitgenooi om naby hom te sit, sy mense ’n bietjie verderaf, almal binne die kring van krygsvolk, wat ongewapen was. Die vertolking en die ondertekening van die traktaat is spoedig afgehandel.

Dingaan vra Retief om, as hy by sy mense aangekom het, hulle te laat weet dat die koning se begeerte is, dat hulle sal kom en die land sal bewoon wat hy aan hulle gegee het. Hy wens die besoekers ’n goeie terugreis, en nooi hulle uit om nog eers bier met sy volk te drink. Sy krygers kry die bevel om te dans en te sing.

Owen word verwittig van die moorde wat gepleeg gaan word

Bo by die huis sit Owen in die skaduwee van sy wa en lees, toe die gewone bode met haas en angs op sy beswete gesig aankom. Owen moet nie skrik nie, die koning gaan die Boere laat vermoor. Die sendeling verstyf van skrik. Dis sy plig om die mense te probeer waarsku, maar ’n beweging in die rigting sal sy lewe en dié van sy gesin kos. Uit die bittere dilemma is hy verlos deur die begin van ’n skokkende skouspel.

Slaan dood die towenaars, “bulalani abagati”

In die stat het die krygsvolk steeds woester gedans. Opeens ’n bevel, “bulalani abagati”, slaan dood die towenaars. “Dis gedaan met ons,” skreeu Halstead, en in Zoeloe; “laat my met die koning praat.” Tevergeefs. Met haastige uitgerukte messe en met kieries uit Zoeloehande geruk, verdedig die manne hulle met die krag van wanhoop, en ’n twintigtal Zoeloes betaal met hul lewe vir die verraad.

Weldra is alle teenstand oorweldig en word die klompie martelaars gesleep na kwa Matiwane, waar die genadeslag toegedien word aan gebroke en gemartelde liggame. Vir Retief het ’n wreder lot gewag. Vasgehou, word hy gedwing om die marteling te aanskou van sy kind, sy metgeselle en bediendes. Bitterder die gedagte dat die pad oop lê na die laers, na vrou en kind wat in gerustheid sy koms afwag. Eindelik is hy ook verlos deur ’n genadige knuppelhou. Op kwa Matiwane het dit stil geword. Net die aasvoëls het daar nog rondgedraai.

Die dood van Retief was ’n harde terugslag

Die dood van Piet Retief was vir die Trekbeweging ’n harde terugslag. Gebore in die ou Bolandse wêreld, was hy ’n man van meer as middelmatige ontwikkeling. Sy manlike jare, deurgedring in die woelige grensdistrikte, het hom toegerus met ervaring en kennis van sake. Sy ontwikkeling en persoonlike kontakte het hom ’n ongeëwenaarde insig laat win in die mentaliteit van Engelse regeringspersone, sendelinge en filantrope.

By hierdie eerste groot bewuste mobilisasie van die Afrikaanse volk vir ’n weloorwoë doel was hierdie eienskappe van buitengewone nut. Minsaam, eerlik en getrou, was hy buitendien toegerus met meer as gewone diplomatieke gawes, moed en deursettingsvermoë. Meer as enigeen van die ander leiers was hy geliefd en getrou deur die trekkers, en juis daarom in staat om hul kragte saam te snoer tot spanwerk.

Daarom is aan hom toevertrou deur die groot meerderheid van die trekkers die verantwoordelike pos van goewerneur, met groot magsbevoegdheid. In hierdie opsig veral, was sy dood ’n baie gevoelige verlies. As hy geleef het, sou die konstitusie van die Natalse Republiek daar ongetwyfeld baie anders uitgesien het, sou daar in elk geval ’n sterk sentrale gesag gebly het. Of die Republiek hom onder Retief sou kon gehandhaaf het, is twyfelagtig, en bespiegelinge daaroor is inderdaad nutteloos.

Die moord was op aanstigting van ’n paar Engelse

In die bitterheid van hul gemoed was die geloof onder die Voortrekkers algemeen dat die moord plaasgevind het op aanstigting van ’n paar Engelse van die baai, en by name van kaptein Gardiner, die sendeling Owen en ’n paar van sy aanhang in Port Natal. Tot hierdie geloof was hulle voorberei deur die bekende vyandigheid van die meeste Engelse sendelinge teen hulle, soos reeds blyk uit die reeds aangehaalde woorde van Hercules Malan.

Retief self het kuipery teen hom gevrees na sy eerste besoek aan Dingaan en sy besoeke aan Gardiner, soos duidelik blyk uit sy reeds genoemde brief van 18 November 1837 uit Port Natal, waarin hy die Koning waarsku dat dit waarskynlik is dat van hom en sy volk kwaad gepraat sal word in sy afwesigheid: “My begeerte is dat dit jou mag behaag om geen gehoor te gee aan enigeen wat sou wens om jou te beïnvloed aangaande die land waarin ek begeer om te woon nie.”

Hul vermoede is na die moorde bevestig deur verklarings van Zoeloegevangenes en van sekere Engelse aan die baai. Die getuienis van Boerekant, wat hierop gebaseer is, kom met klein verskille almal daarop neer dat Dingaan in ’n brief aan Gardiner gevra het wat hy moes doen met Retief as die Boere van Sikonyella terugkom; dat Gardiner geantwoord het dat hulle weglopers van hul koning was en dat hy met hulle moes handel soos met sy eie weglopers – hulle laat doodmaak.

Was die Engelsman Cane die opstoker?

Dis inderdaad ’n baie ernstige beskuldiging, wat ’n siniese onmenslikheid veronderstel en verdien om noukeurig ondersoek te word. Van ander kante is daar die getuienis van Edward Parker, wat in Junie van 1838, tydens ’n besoek aan Port Natal aan majoor Charters, sir George Napier se militêre sekretaris, geskryf het: “Die Boere verklaar dat hulle Dingaan nooit die oorlog sou aangedoen het as hy nie Retief en sy mense vermoor het nie, wat nou duidelik geblyk het veroorsaak te wees deur die verraad van ’n Engelsman, genaamd Cane.”

Cane, een van die Britse handelaars in Port Natal, het na Dingaan se gunstige ontvangs van Retief by sy eerste besoek gevrees dat die Boere hulle in Natal sou vestig. Nadat Retief sy kraal verlaat het, het hy ’n boodskap aan Dingaan gestuur het waarin hy die Zoeloekoning meedeel dat die boere uit die Kaapkolonie weggeloop het in stryd met die wense van die Engelse goewerment, en dat hulle (die Boere) van plan was om hom uit sy land te verdryf, en dat hy geen vrees hoef te koester vir die Engelse nie, aangesien hulle die Boere nie sou help nie. Hierdie boodskap was voldoende om die bose vermoedens van ’n wilde te wek, en die gevolg was die koelbloedige moord op Retief en sy geselskap.

 

Die anderkant van die Cane-storie

Hoe dit eerste die Boere ter ore gekom het, kan ek nie uitvind nie, maar ’n klerk van die heer Mynard, met name Tookey, verseker nou dat Cane hom vertel het dat hy sodanige boodskap gestuur het.

Cane het wel ’n brief aan Dingaan geskrywe, wat deur Owen aan hom voorgelees is op die 13de Januarie (1838), maar van ’n heel ander strekking. Owen vertel hiervan: “In allusion to the emigrant Boers, Mr Cane recommended Dingaan to draw a line from the source of the Eloffe (Illovo) or rivers Umkomaz, twenty or thirty miles south of Port Natal, to the Tugela, parallel to the sea, about twenty miles from it, and regularly convey the country on the seaside to the setlars of Port Natal, leaving the country on the other side to the Dutch.”

Hieruit wil dit voorkom of Cane ten minste van die verdenking wat op hom gewerp is, vry gepleit moet word. Verder is daar die getuienis van A. Delegorgue, ’n Franse reisiger wat sedert Mei 1839 in Natal was, met die Zoeloes in aanraking gekom het en ook verskeie togte met die Boere meegemaak het. Hy verklaar: “Owen en Gardiner het aan Dingaan geantwoord, op sy vraag wie die Boere was: dis mense wat hulle deur die vlug van die mag van hul koning wou onttrek. Hulle sou nie so gehandel het as hulle goeie onderdane was nie. Hulle is vagebonde van wie die buurskap gevaarlik is.” Hierdie verklaring kan slegs berus op wat Delegorgue van die Boere en van die Zoeloes gehoor het en bring ons dus nog geen stap verder nie.

Die sendeling Owen se dagboek

Dis duidelik dat al die getuienis tot sover behandel in die laaste instansie berus op berigte van ’n paar Engelse aan die baai en van Zoeloegevangenes. Nou is dit bekend dat die verhouding van die Engelse nedersetters in die baai en kaptein Gardiner en sy aanhang nie te goed was nie. Dit maan ’n mens tot versigtigheid wat hierdie bron van inligting betref. Die Zoeloegevangenes aan die ander kant sal geneigd wees om hulle skuld op die skouers van die Engelse te probeer afskuif. Die enigste is dus om die handelinge van Gardiner self in hierdie tyd te probeer nagaan, en hiervoor is onder omstandighede die betroubaarste bron die sendeling Owen, wat alle briewe vir Dingaan geskryf en inkomende briewe vir hom voorgelees het. Ongelukkig gee hy in sy dagboek van die inhoud van die briewe slegs karige, en soms heeltemal geen informasie nie. Dit is die beste om die gang van sake soos weerkaats in Owen se daaglikse aantekeninge op die voet te volg.

Die gebeure vandat Retief in Port Natal aangekom het

Kort voor die eerste besoek van Retief aan Dingaan ontvang Owen ’n brief van Gardiner waarin hom meegedeel word dat die Boere wat in Port Natal aangekom het, van plan was om die omliggende land in besit te neem en ’n eie regering tot stand te bring. Hierteen het die Engelse nedersetters ernstig geprotesteer, en hul plan was om eersdaags die Engelse regering daaroor te petisioneer.

26 Oktober (1837) – Owen lees ’n brief aan Dingaan van Retief waarin om ’n onderhoud om oor grond te onderhandel, gevra word.

3 November – Dingaan laat Owen ’n brief skrywe aan Gardiner, waarin hy hom vra om oor te kom en hom raad te gee aangaande die grondgebied wat aan die Boere gegee moet word. Hulle wil die gebied hê wat hy reeds aan Gardiner afgestaan het, maar hy wil hulle liewe die land gee waaruit Silkaats onlangs verdryf is.

5 November – Retief en ’n paar metgeselle kom by Umgungundlovu aan.

8 November – Retief en Dingaan onderhandel oor die toekomstige verblyfplek van die Boere. Owen wys Retief daarop dat die grond wat hy nou vra, reeds deur Dingaan afgestaan is aan Engeland. In teenwoordigheid van die Boere vra hy Dingaan of hy dan nie reeds die grond wat Retief nou vra, aan die Engelse regering afgestaan het nie. Waarop Dingaan antwoord dat hy nog nie gesê het watter grond hy sal afstaan nie, maar dat hy daaroor sal praat as Retief met die beeste van Sikonyella af terugkom.

9 November – Brief van kaptein Gardiner aan Dingaan. Gardiner stel die pertinente vraag of dit reg is om grond aan die Boere te beloof wat hy en sy broer Mapeti reeds aan Engeland afgestaan het. Wat sou ander konings van Dingaan dink as hulle uitvind dat sy woord nie vasstaan nie. Hy raai hom aan om geen grond aan die Boere te beloof voordat hy van die Engelse regering gehoor het nie. “Waarom is Gardiner so kwaad?” wou Dingaan weet. “Het ek hom nie reeds geskryf dat ek nie die grond om Port Natal aan die Boere sal gee nie, maar dat ek wil hê dat hulle moet woon in die land van Silkaats?”

Twee indunas besoek Owen om hom gerus te stel

Op die 19de en weer op die 27ste November word briewe ontvang van Gardiner, maar Owen swyg oor die inhoud daarvan.

Van groot betekenis is verder die aantekening van Owen op die 7de Februarie, die dag na die moord. Twee indunas het hom besoek. “Hulle was opvallend hoflik. Hulle was deur die koning gestuur om my mee te deel dat dit nie sy bedoeling was om my of die ander sendelinge te laat doodmaak nie, want ons het sy land paar-paar binnegekom (for we had come into his country by fews and fews); hy kon met ons in vrede lewe, want ons was sy mense. Al George se mense, waarmee hy bedoel het die Britte, was sy mense, dit is, hy het van hulle gehou, maar die Amabora (Boere) was nie sy mense nie; ook was hulle nie George se mense nie. Hy sê dat alle leërs wat sy land binnekom, gedood moet word …”

Uit dit alles staan vas dat Gardiner en Owen hul uiterste bes gedoen het om Dingaan te beïnvloed om nie grond aan die Boere af te staan nie, en dat aan hom meegedeel is dat “hulle nie George se mense is nie,” want hoe sou hy dit anders geweet het. Op grond van al die getuienis is dit ’n veroorloofde veronderstelling dat hom daarby meegedeel is dat hulle weglopers is uit die land van die Engelse koning. Maar vir die gedagte van aanhitsing tot moord is daar geen aanneemlike bewyse nie. Tog was die sielkundige uitwerking van Gardiner en sy aanhang se optrede anders as wat hulle verwag het. Dit het Dingaan die versekering gegee dat die Engelse nie van die Boere hou nie; dat die Engelse koning, wie se grootheid aan hom voorgehou is, geen wraak sou neem oor die vernietiging van die Boere nie. Sielkundig het dit hierdie hindernis uit die weg van sy moordplanne geruim.

 

Venable, Amerikaanse sendeling besoek Dingaan (6 Februarie 1838)

Toe Venable, een van die Amerikaanse sendelinge, wat Dingaan vereenselwig het met die Engelse, die hoofstat besoek het op die 6de Februarie, kort na die moord, het Umhlela, een van Dingaan se twee hoofindunas, hom vertel dat die Boere dood is, en toe Venable diep geskok die stilswye bewaar, het die induna verbaas gevra: “Bedank jy nie die koning dat hy hulle doodgemaak het nie?” Hy het blykbaar ten minste ’n teken van voldoening verwag. Daarom was Dingaan ook so ergerlik omdat Owen bekommerd gelyk het oor die dood van die Boere en flou neergeval het toe hy die moordtoneel aanskou het.

’n Mens kom tot die slotsom dat Dingaan die moordplan selfstandig opgevat het uit vrees. Die sukses van die Voortrekkers teen Silkaats het hy met groot belangstelling gevolg, sodat hy die tweede veldtog en die nederlaag van Silkaats selfs haarfyn kon beskryf. Die blydskap oor die vernedering van sy vyand het gepaard gegaan met vrees dat dieselfde lot hom kon tref. Die Boere het die land binnegekom as ’n georganiseerde leërmag. Met bygelowige vrees was hy bang vir die mag van hul perde en vuurwapens. Hy sou nou met lis in een goedoorwoë slag, die bedreiging vernietig. Koning George, die enigste ander mag sterker as hy self, sou hom dit nie kwalik neem nie.