Die Groot Trek: Hoofstuk 7 Deel 1

Bromley Cawood (1948-2021)
January 12, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 7 Deel 2
January 18, 2021

Sarel Feldtmann

 

Die moorde

Die laers onder die berg groei by die dag

Dit was ’n blye dag vir die Trekkers wat uitmekaar in hul verskillende laers gestaan het onder die Drakensberg toe Retief en sy metgeselle veilig van hul tog na Sikonyella op 11 Januarie 1838 teruggekeer het. Aan die gevaarlike en delikate voorwaarde wat Dingaan gestel het voordat hy daaraan sou dink om grond aan hulle af te staan, was nou voldoen, en dit sonder bloedvergieting. Die beeste van Dingaan was teruggeneem en daarby nog drie en sestig perde en elf gewere, wat aan Sikonyella ontneem is gedeeltelik as straf, maar veral omdat hy daarvan so ’n onbehoorlike gebruik gemaak het.

Die Trekkers betreur die dood van hul lotgenote

Tot sover het hierdie soekers na ’n nuwe land ongehoopte sukses gehad. Weliswaar moes hulle die dood van hul lotgenote, die Van Rensburgs en die Liebenbergs, op die voorposte betreur, maar die groot en gevaarlike Silkaats, wat hulle onuitgetart aangeval het, moes daarvoor onmiddellik en swaar boet. Die gebied wat hy verwoes en met tirannieke geweld beheers het, het hulle erfdeel geword. Dingaan, die geweldenaar van Natal, het hul eerste kommissie goed ontvang, en noudat aan sy eis om hul goeie trou te toon, voldoen was, het ’n stille verwagting in hul harte opgevlam dat die laaste skof weldra afgelê sou wees en het hulle in eerbiedige dankbaarheid opgesien na God, wat ook hulle lotgevalle bestuur.

Allerlei skrikberigte en gerugte

Hul blydskap is egter versomber deur ’n vae voorgevoel van naderende onheil, wat sy bron gehad het in allerlei skrikberigte en gerugte. Reeds toe Retief op sy eerste tog was na Dingaan, was daar allerlei gerugte dat hy vermoor is; en terwyl hy weg was na Sikonyella, het gerugte en waarskuwings hulle bereik dat Dingaan sinds Retief se eerste besoek van sienswyse verander het en voornemens was om vyandig op te tree teen die emigrante.

Vir Retief het ’n paar drukke en kommervolle weke aangebreek voordat hy opnuut afgereis het na Dingaan. Allerlei administratiewe sake het sy aandag vereis; die sterke verspreiding van sy laers, daartoe gedwing deur die onverbiddelike behoefte aan weiding vir die groot kuddes vee, en aan brandhout, het hom kommer gebaar; maar veral het die reëlings vir die tog na Dingaan sy tyd en aandag in beslag geneem.

 

’n Volksvergadering gehou op 16 Januarie 1838

Op die 16de Januarie (1838) is ’n groot volksvergadering gehou om te besluit hoe ver die Trekkers sou mag reis tot die weerkoms van die Goewerneur, en oor die bevel tydens sy afwesigheid; en eindelik oor die reëlings van die tog na Dingaan self.

Retief was van plan om met hom mee te neem ’n tweehonderd gewapende ruiters, in die veronderstelling dat ’n dergelike magsvertoon die Zoeloekoning sou intimideer en meer geneigd maak om sy gegewe woord te hou; maar veral omdat hy gemeen het dat Dingaan dit as ’n eerbewys sou beskou van een groot heerser aan ’n ander, aangesien hy hartstogtelik lief was vir alle militêre vertoon en maneuvers.

Maritz voel onrustig dat Dingaan sy sienswyse verander het

Maritz en ander, wat maar nie die houding van Silkaats kon vergeet nie en wat buitendien ongerus gevoel het oor die gerugte dat Dingaan van sienswyse verander het, was geneig om die goeie bedoelings van die Zoeloegeweldenaar te betwyfel en het aangevoer dat hy die geleentheid mag gebruik om ’n onherstelbare slag teen hulle te slaan. Hy het aangebied om self te gaan met twee of drie man, met die opmerking dat as hulle omkom, dit reeds genoeg sou wees. Retief was egter onbeweeglik. Wel het hy self gevrees dat Dingaan tydens sy afwesigheid teen hom beïnvloed kon word, soos blyk uit sy brief van 18 November 1837 uit Port Natal aan die Zoeloekoning.

Maar sinds sy eerste besoek het hy vir geen oomblik getwyfel aan die vriendskap en goeie gesindheid van Dingaan nie. Op Maritz se voorstel kon hy nie ingaan nie. As verkose hoof moes hy die verantwoordelikheid dra en die gevare trotseer. Buitendien sou dit slegte taktiek wees. Die barbaar Dingaan sou Maritz as ’n ondergeskikte, ’n induna van Retief, beskou en sy koms waarskynlik as ’n geringskatting opvat. Die doel wat reeds met soveel opoffering nagestreef was, kon verydel word. Tog het die besware wat uitgespreek en die vrees wat openbaar is, hom laat afsien van mense te kommandeer. Hy sou dit oorlaat aan vrywilligers om hom te vergesel.

Potgieter kom in Natal aan

Vier dae later het die Goewerneur besoek ontvang van Andries Hendrik Potgieter, wat toe terug was van die tweede veldtog teen Silkaats en met ’n gedeelte van sy mense wat gelaer was onder die Drakensberg, naby die teenswoordige Van Rensburgpas, aan die Tugelarivier. Van wat hier tussen die twee manne gebeur het, is bitter min bekend. Potgieter was afkeurig van Natal weens die aanwesigheid van Engelse aan die baai. Hy het Dingaan nie vertrou nie en het gevrees dat ’n ramp die kommissie sou tref. Hy sou Retief weer gewys het op die binnelande, nou bevry van die tirannie van Silkaats, ver weg van Engelse invloed, die geskikte bodem vir die so begeerde nuwe vrye Boerestaat.

Vermoedelik het die gesprek op ’n woordewisseling uitgeloop, heftig deur die spanning van hierdie krisistyd. Potgieter het ten slotte sy mense verbied om saam te gaan, en toe een van hulle, Jan Robbertse, sy boesemvriend, wat later saam met Retief vermoor was, geen gehoor wou gee nie, het hy op hom toegetree en gesê: “Jan, ek groet jou om jou nie weer te sien nie.” Die ondraaglike tweedrag het vir Retief mistroostig gemaak, en alhoewel hy hom nie daaroor uitgelaat het nie, het sy vriende opgemerk dat hy neerslagtig was.

 

Die dag van vertrek na Umgungundlovu het aangebreek – 25 Januarie 1838

Eindelik het die dag van vertrek, die 25ste Januarie, aangebreek. Dit was ’n helder en mooi môre toe die groepie mense wat uit die Goewerneur se laer sou vertrek, vergader het in Retief se veldtent vir die môregebed. Erasmus Smit het die verrigtinge gelei, en in sy gebed het hy almal wat na die Zoeloekoning sou afreis, beveel in God se genade en aan Sy veilige leiding en beskerming. Na die sing van die vierde en vyfde verse van die Môregesang is die groepie na buite, waar gegroet is eers met ’n stewige handdruk en daarna met ’n paar saluutskote heen en weer.

Retief was klaarblyklik erg aangedaan, maar tog vol geloof en selfs opgeruimd. Tog sou die stemming nog een maal versomber. Toe die vrywilligers onder die oue heer Hercules Malan hulle by die res gevoeg het, het hy teen Retief die opmerking gemaak dat hy ’n voorgevoel het dat verraad gepleeg sou word en dat die Engelse in Port Natal daarin ’n rol sou speel. “Foei, foei, Malan!” was Retief se antwoord, “jy laat die Franse gevoelens teen die Engelse heeltemal die oorhand neem, en dis tog onmoontlik vir ’n Christen-moondheid om so te handel.” Waarop Malan gesê het: “Mag dit die voorsienigheid behaag dat ek verkeerd is, Meneer, dit is my hartewens.”

Die kommando het bestaan uit 67 man en 30 agterryers

Die kommandotjie wat nou uitgetrek het, het bestaan uit sewe en sestig man, waaronder die seuntjie van die goewerneur, Piet Retief junior, en nog drie ander kinders. Hulle was van die keur van die Voortrekkers, ervare en onverskrokke, berede, goed gewapen en toegerus. Met hulle was daar owerigens ongeveer dertig gekleurde agterryers met handperde, waarop die komberse en padkos gelaai was.

Die weg wat hulle gekies het – van die laers af regdeur na Umgungundlovu – was vir hulle nog onbekende wêreld, en met blydskap het hulle opgemerk dat dit waterryk en goed vir vee was. By die eerste krale waar hulle verby gereis het, is hulle goed ontvang en oorvloedig onthaal op bier en melk. Op sy beurt het Retief vir hulle seekoeie laat skiet. Op die 27ste Januarie het Retief per renbode ’n brief, die laaste van hom wat bekend is, teruggestuur aan sy vrou. Behalwe besonderhede oor hul ervarings tot dusver het hy haar ook gerusgestel. Hy was wel hard aangedaan by sy vertrek, wat haar moontlik ongerus kon maak, maar dit was nie uit vrees vir die welslae van sy onderneming nie, maar uit droefheid dat hy weer die ondraaglike tweedrag moes belewe, wat hom laat vrees het dat God se goedheid in toorn sou verander. Maar hy is nou weer getroos, sodat hy fris en met ’n opgeruimde hart voortreis.

Umgungundlovu

Umgungundlovu was die koninklike hoofstad van Zoeloeland en die grootste en belangrikste militêre kaserne. Dit was die woonplek van Dingaan, wat deur sy volk as die groot olifant geloof is, van sy talryke vroue en bediendes, sy raadsmanne en krygsvolk wanneer hulle by die hoofstad aanwesig was.

Die stad was geleë teen die helling van ’n kaal bult wat aan ’n spruitjie grens, ’n bosagtige omgewing. Om ’n groot kaal ruimte, wat gebruik is vir militêre danse en vertoon, was daar twee ewewydig lopende, sirkelvormige latheinings waarvan die buitenste bestaan het uit oorkruis ingeplante, skerppuntige pale. Tussen die heinings en aan drie kante daarvan was die militêre hutte, wat onderdak verskaf het aan ongeveer vyfduisend soldate. Aan die bo ent van die oop ruimte, reg teenoor die hoofingang, was daar vier veekrale, en daaragter, afgeskort tussen die heinings, die isigodlo. Hier was die koninklike strooihuis en ook die hutte van sy honderde vroue en bediendes. Net agter die isigodlo, buite die stad, was ’n ronde afskorting vir die hutte van die koning se hoofvroue, waar niemand mog kom op straffe van die dood, behalwe die hoë persoon van die koning self.

Aan weerskante daarvan was die graanhutte en die slagkraal, van waaruit die koning se tafel voorsien en sy volgelinge gevoed is. Van die koninklike hut het ’n smal rietgang, met plat klippe uitgelê, gelei na ’n groot wildevyeboom net buite die stat. In die koelte van hierdie boom was Dingaan se gewone sitplek, en van hier kon hy sy stad oorsien. Van hier af kon hy ook ’n klipkoppie aan die westekant van die stat, oorkant die spruit, skraalbegroei met ’n paar verwronge struike sien. Hier is veroordeeldes afgemaak en hul liggame gelaat vir die aasvoëls, wat gedurig in getalle daaromheen gesweef of daarop neergestryk het.

“Daar,” het Dingaan spottend aan Owen gesê, die enigste keer wat hy hom toegelaat het om sy krygsvolk toe te spreek oor die evangelie, “is die hel waarheen my boosdoeners gaan. Die kaptein wat daar regeer, is Umatiwane, hoof van die Amangwane. Ek het hom doodgemaak. Ek is die groot hoofman van die lewendes, Umatiwane is die duiwelshoofman van die boosdoeners.” Die naam van die koppie was Hloma Amabutho.

Ongeveer tussen die stat en die koppie, maar nie in die direkte lyn nie, was die hutte van die sendeling Owen en sy gesin, wat hier sinds die vorige Augustusmaand gevestig was. Met hom was sy bediende Jane Wiliams, sy tolk Hulley – nou afwesig in die baai – met sy gesin en William Wood, ’n seun van twaalf jaar, wat sinds 1830 in Natal was en Zoeloe soos sy eie taal gepraat het. Hulle was die enigste blanke ooggetuies van die skokkende tragedie van die 6de Februarie.

Opsomming

Retief het vroeg alreeds besluit om ’n magsvertoon te doen met sy tweede besoek aan Umgungundlovu om sy besigheid met Dingaan af te handel. Daar was ’n ongemaklike gevoel deur sommige trekkers en dat alles nie pluis is nie, dat die Zoeloekoning baie onvoorspelbaar was en dat die vriendelike atmosfeer in sy hoofstad dalk verdwyn het.

Retief het al die praatjies op ’n kant geskuif en vir vrywilligers gevra wat die tog wil meemaak na die Zoeloehoofstad. Omtrent elke man in die kamp wou saamgaan wat soos ’n plesieruitstappie gelyk het.

Eindelik het Retief sewe en sestig man gekies en drie seuns (insluitende sy veertienjarige seun) om saam met hom te ry, en addisioneel het hy Thomas Holstead saamgevat van Port Natal wat as tolk gebruik was, asook dertig bruin bediendes.

Op die 25ste Januarie 1838 het Retief en sy manne vertrek op die tog na die Tugela wat lei na Zoeloeland. Tog het nie een van die ruiters ’n idee gehad wat vir hulle voorlê nie, en nie een van die manne het onthou wat Maritz se afskeidswoorde was nie, naamlik “dat nie een van hulle sal terugkeer nie”.