Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 1
August 31, 2020
Herdenking van 1820 Britse Setlaars deur Afrikaanse nasate: 2020
September 3, 2020

Sarel Feldtmann

Die Groot Trek begin (vervolg)

Andries Hendrik Potgieter

Die volgende trekkers wat die Kolonie verlaat het vroeg in 1836, was dié van Andries Hendrik Potgieter uit Tarka en Sarel Cilliers en van sy mense uit die Colesberg-omgewing. Die trekkers wat die grootste invloed en ontwikkeling in die beginfase van die Transvaal en Oranje Vrystaat gehad het, was die groep trekkers van Hendrik Potgieter.

Van die ander trekleiers wou Natal toe trek en Potgieter se belangstelling was meer in die Soutpansberg-area omdat Potgieter alreeds Tregardt en Van Rensburg daarheen gestuur het en hulle daar op hom gewag het om by hulle aan te sluit.

’n Verdrag word met Moroka opgestel

Potgieter het ’n verdrag met die leier van die Barolong, Moroka onderteken. Die verdrag het bepaal dat Potgieter die Barolong teen die Matabele-aanvalle sal beskerm, in ruil vir ’n stuk grond waar die trekkers hulle kon vestig. Die stuk grond was tussen die Vetrivier en die Vaalrivier.

Die Potgieter-trek is iewers tussen die huidige Bloemfontein en Thaba Nchu deur, tot aan die Vetrivier. Daar vertoef die Potgieter-trek ’n geruime tyd, en met die oog op weiding vir die groot troppe klein- en grootvee verdeel dit nou reeds in kleiner trekke, waarvan een reeds in Mei 1836 by Bloudrif aan die Sandrivier laer opslaan.

Potgieter vertrek op ’n verkenningstog na die Soutpansberg

Op 24 Mei 1836 vertrek Potgieter met elf man te perd en vergesel van een of meer ligte ossewaens hiervandaan om die binneland vir nedersettingsdoeleindes te verken, en om met “Lang Hans” van Rensburg en Louis Tregardt se geselskappe in aanraking te kom.

Potgieter verlaat die laers aan die Sandrivier en reis effens noordoos en daarna op die waspore van Tregardt en Van Rensburg oor die Vaalrivier, verby Suikerbosrand (die huidige Heidelberg), tot aan die boloop van die Olifantsrivier. Van daar gaan hulle deur Strydpoort tot by die soutpan aan die westelike punt van die Soutpansberg, waar hulle teen die einde van Junie 1836 Tregardt met sy trek aantref.

Potgieter gaan soek vir ’n roete na een van die Portugese hawens

Tregardt se kamp is aan die einde van Junie bereik, maar hy het net ’n rukkie vertoef en verder noord gereis om te sien of hy ’n roete na die naaste Portugese hawe kan kry, asook om te sien of hy die lot van die Van Rensburg-trek kan bepaal.

Vanweë die tsetsevlieg was die roete wat Potgieter gevolg het nie geskik nie. Potgieter was einde Julie weer terug onder die Zoutpansberg.

Op 17 Augustus 1836 het Potgieter van Tregardt afskeid geneem en suidwaarts vertrek om sy mense wat in die Vrystaat op hom gewag het, na die Zoutpansberg te bring. Maar rampspoedige nuus in die suide het hom ingewag.

Tsetsevlieg

Die woord “tsetse” beteken “vlieg” in Tswana, en verwys na al 23 spesies van die vlieggenus Glossina. Tsetsevlieë voer op die bloed van gewerwelde diere, insluitend mense, en dra sodoende die slaapsiekte-parasiet oor, van besmette diere na onbesmette mense. Die vlieë lyk soos gewone huisvlieë, maar kan geïdentifiseer word deur twee onderskeidende eienskappe. Alle tsetsevlieëspesies het ’n lang sonde, (bek) of proboscis, wat horisontaal uit die basis van hul kop strek. Wanneer hulle rus, vou hulle vlerke oor die rug, een presies bo-op die ander.

Tsetsevlieë het ’n verwoestende effek op vee, en veral op beeste. Besmette diere word toenemend swak, tot die punt dat hulle nie kan ploeg of melk produseer nie. By swanger vroue veroorsaak dit gewoonlik ’n miskraam, en uiteindelik sal die slagoffer sterf.

Potgieter keer terug na sy mense by die Vetrivier

Terwyl Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers weg was om die binneland te verken en met die Tregardt-mense kontak te maak, het sommige van die trekfamilies in hulle onderskeie trekke alreeds die grasvlaktes suid van die Vaalrivier betree waar hulle hulle wou vestig. Potgieter het almal egter gewaarsku om nie die Vaalrivier oor te steek nie, want dit was gesien as die grens van die Matabeles.

As gevolg van hul groot troppe vee, was Potgieter se trek versprei oor die grasvlaktes van die Vrystaat, vanaf die Vetrivier tot by die Vaalrivier.

Mzilikazi se Matabeles het ’n groep jagters in die Mooirivier-omgewing, asook die trekkers waarvan party oor die Vaalrivier getrek het in die omgewing van Parys, onverwags aangeval in Augustus 1836. Potgieter het met sy terugkeer vanaf Tregardt in September, en na die aanval van die Matabeles, die opvolgtrek na die Soutpansberg vir eers uitgestel.

Na ’n jaar se wag vertrek Tregardt na Delagoabaai

By hierdie mees noordelike punt van Tregardt se trek by die Soutpansberg het malaria en veesiektes die geselskap begin teister. Skynbaar verlate deur ’n opvolgtrek van Potgieter, en ver van voorrade en kopers vir hul ivoor, het Tregardt, nadat hy vir ’n jaar gewag het op Potgieter, die roete aangepak na Delagoabaai (Maputo).

Uiteindelik oorleef net 52 siele saam met hom die epiese tog en kom in April 1838 aan by die Portugese fort in Delagoabaai (later Lourenço Marques en nou Maputo).

Sommer vinnig na hulle aankoms by die fort in Maputo, begin een na die ander van die geselskap beswyk aan malaria, en Trichardt se vrou is een van die eerstes. Uiteindelik sterf hyself ook, en in Julie 1839 vertrek die laaste 25 oorlewendes na Port Natal per skip.