Herdenking van 1820 Britse Setlaars deur Afrikaanse nasate: 2020
September 3, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 4
September 7, 2020

Sarel Feldtmann

Die Groot Trek begin (vervolg)

Die Koepelarea in die loop van die Vaalrivier

Die San, Khoi-Khoin en Bantoesprekende groepe het lank voor 1836, in die Vrystaat en destydse Transvaalse gebied, ook in die omgewing van die Vaalrivier in die Koepelarea gewoon. Hierdie gebied in die dertigerjare van die 19de eeu was grotendeels ontvolk as gevolg van die stroop- en uitdelgingsoorloë van Mzilikazi en sy volgelinge.

Die area van Mzilikazi se domein het gestrek vanaf sy hoofstad van Kapain in die Marico-vallei en die militêre kraal van Mosega 100 km weg na die suide naby die moderne Zeerust. Mzilikazi, het beheer oor 80,000 vk km tussen die Marico-, Limpopo-, Krokodil-, Vaal- en Moloporiviere uitgeoefen. Hy het hierdie enorme gebied geregeer deur vrees.

Mzilkazi, die koning van die Matabeles, was baie sensitief oor die veiligheid van sy suidelike grens oor die Vaal, want van hierdie kant af het die Zoeloe-impi’s en Griekwa-stropers hulle aangeval en sy vrouens en beeste gesteel. Gevolglik is Matabele-patrollies periodiek uitgestuur na die rivier met instruksies om enige oortreders in die koning se domein te vernietig.

Potgieter se trek versprei tot by die Vaalrivier

(artikel saamgestel deur Hennie Steyn en Celia Fourie)

Agtergrond van die aanval op die Liebenbergtrek by Parys op 23 Augustus 1836

Hendrik Potgieter se trek bereik die Vetrivier ten suidweste van die huidige Theunissen en die geselskap vertoef hier ’n geruime tyd. Met die oog op weiding vir die groot troppe klein- en grootvee verdeel die trek nou in kleiner trekke. Op 24 Mei 1836 vertrek Potgieter met ’n ekspedisie om die binneland vir nedersettingsdoeleindes te verken. In sy afwesigheid versprei die Trekkers oor die grasvlaktes tot aan die Vaalrivier. Twee groepe het selfs deur die rivier getrek.

Barend Liebenberg en sy groep Trekkers vestig hulle reg teenoor die huidige Parys, terwyl Johannes Botha, Hermanus Steyn, Lucas Bronkhorst, en andere ietwat suid van Bronkhorst op die walle van die Vaalrivier laer trek.

Stephanus Erasmus en sy jaggeselskap

Veldkornet Stephanus Pieter Erasmus van Aliwal-Noord het in Junie 1836 ’n olifantjagtog saam met familie en vriende in die gebied oorkant die Vaalrivier onderneem. Die geselskap het met hul vyf waens naby die Vaalrivier gekamp. Benewens Stephanus was daar ook sy drie seuns (Stephanus Petrus, Daniel Elardus en Pieter Ernst), Pieter Bekker en sy seun, Johannes Claasen en Carel Kruger en ’n aantal gekleurdes. Erasmus-hulle laat die kamp en diere in die sorg van die bediendes om in drie groepe jag te maak vir die pot.

Teen die aand keer Erasmus en sy een seun terug en hoor ’n vreesaanjaende lawaai by die kamp. Daar aangekom sien hulle hoe nagenoeg 600 Matebele-krygers die kamp omsingel en besig is om die gekleurdes uit te moor en die kamp te plunder. Erasmus het twee maal gepoog om by die waens uit te kom, maar was deur die Matebeles verhinder. Later het dit geblyk dat Claasen vermis was, die twee ander Erasmus-seuns saam met Kruger ontvoer en vermoor was en dat Bekker en sy seun die slagting ontkom het.

Geroofde ossewaens na Mzilikazi se stad geneem

Die aanvoerder van die Matebeles het die geroofde waens na sy stat teruggestuur en daarna in die rigting van die Trekkers gehardloop om hulle aan te val. Erasmus en sy seun Pieter het met groot spoed te perd die sowat 50 kilometer na die naaste Trekkers in vyf ure afgelê. Die jagters het die Maandagoggend by Potgieter se Trekke aangekom wat al langs die noordoewer van die Vaalrivier in verspreide kampies gestaan het. Erasmus het die mense van die naderende gevaar ingelig en gewaarsku om dadelik laer te trek. Heelwaarskynlik het die Bekkers ook die nag na die Trekkers gejaag.

Piet Botha en Hermanus Steyn was in bevel van Hendrik Potgieter se kamp en het toe inderhaas laer getrek en voorbereidings getref om ’n aanval af te weer. In die laer was daar onder andere Jacobus Hamman, Daniel Kruger, Stephanus Fourie, die Taljaardfamilie, Lucas Bronkhorst en die familie van kommissielid JGS Bronkhorst.

Die Liebenberg-geselskap het ’n halfuur te perd (ses kilometer) verder in ’n oostelike rigting langs die Vaalrivier in nege waens gekamp. Die groep het bestaan uit ses mans, vyf vroue, 22 kinders en ’n aantal bediendes. Die Liebenberg-kamp was omtrent 100 tree van die rivier aan die voet van ’n koppie, wat later die naam “Moordkoppie” of “Liebenbergkoppie” sou dra.

Die Voortrekkers word gewaarsku

Erasmus en sy seun bereik die Liebenbergs laat daardie nag en waarsku hulle oor die dreigende gevaar. Die Liebenbergs het nie gehoor gegee aan hierdie waarskuwing nie en het daarom nie betyds laer getrek nie. Hulle word teen die oggend van 23 Augustus 1836 onverhoeds deur ’n groep Matebeles aangeval terwyl hulle besig was om in te span.

In die verwarring wat gevolg het, het die osse met die wa waarin Stephanus Liebenberg se vrou en kinders was, reguit in die hande van die aanvallers op loop gegaan. Die Matebeles het hulle laat afklim en hul wa deursoek, aangesien hulle op soek was na trekkermans en buit.

Die mans van die Liebenberg-geselskap het die Matebeles tegemoet gejaag en afgespring om op hulle te vuur. Van die perde het vanweë die rumoer weggehardloop, waarna van die mans deur die aanvallers omsingel en doodgemaak is. Enkeles wat na hul waens teruggehardloop het, is ingehaal en doodgesteek. Van die bediendes het in die bosse verdwyn en een vroulike bediende het met twee klein kinders in die bosse gevlug waar sy geskuil het totdat hulp later opgedaag het.

Sterftes by Liebenbergkoppie

In die daaropvolgende geveg tussen die Matebeles en die Liebenbergs is ses mans, twee vroue en ses kinders wreedaardig om die lewe gebring. Die 71-jarige Barend Liebenberg en sy drie seuns, Stephanus, Barend en Hendrik word met assegaaie doodgesteek. So sterf ook Hendrik Liebenberg se vrou en sy skoonseun, Jan du Toit, die Skotse skoolmeester, McDonald, vier kinders en twaalf bediendes. Sommige in die groep ontkom wonderbaarlik: Jan du Toit se vier kinders wat doodstil gelê het in ’n wa waar die swartes hulle nie opmerk nie; Jan du Toit se vrou en ’n kind in haar arms word albei met ’n assegaai getref en teen die grond vasgepen. Albei oorlewe, maar mev. Du Toit sterf later.

Christiaan Liebenberg wat tydens die gebeure saam met Potgieter op ekspedisie is, se vrou word swaar gewond. Die impi’s vertrek met al die diere, twee meisies en Barend Liebenberg se seun, Christiaan. Die lot van die kinders het nooit bekend geword nie. Die Boere sou vir jare daarna vrugteloos na die ontvoerde kinders soek.

Oorlewendes by Liebenbergkoppie

Stephanus Liebenberg se vrou en vier kinders was in ’n wa wat reeds ingespan is. In die harwar sit die osse op loop met die wa terwyl Matebeles dit agtervolg. Die vrou en kinders word uit die wa gehaal, maar nie gedood nie. (Daar is heelwat meningsverskil met betrekking tot die lot van haar vyf kinders en die aantal wat gedood is, wissel van geen gedood tot een of twee gedood.) Een van haar kinders, die tienjarige Bennie, is in die veld saam met die skape deur die Matebeles gevang.

Vyf kommissielede is saam met Hermanus Potgieter, Hendrik se broer, na die Vaalrivier-kampe gestuur om vars perde te gaan haal. Hulle het net te laat opgedaag om die Liebenbergs op die dag van die aanval te help. Maar hul aankoms het verhoed dat ’n verdere twee vroue en sestien kinders van die Liebenberg-geselskap vermoor is. Hulle was ook betyds om klein Bennie uit die kloue van die moordenaars te red. Jacobus Hamman van Steyn se groep het die jong Bennie tussen die Matebeles opgemerk, waarna hy op die aanvallers afgejaag het. Hy het die Matebele by Bennie platgeskiet en die kind uit die hande van sy ontvoerder gered.

Die Slag van die Vaalrivier

Johannes Botha en Hermanus Steyn het hulle laer by Kopjeskraal in ’n halfsirkel getrek, met die oop gedeelte aan die vinnig vloeiende Vaalrivier se kant. Dolf, die 17-jarige seun van JGS Bronkhorst, bied aan om die Liebenbergs weereens te gaan waarsku; hy vertrek te perd en raak vermis.

Intussen besluit Stephanus Erasmus om met elf man van die Botha-laer sy kamp te besoek. Hulle bemerk egter die aanstormende horde Matebeles en jaag terug laer toe om Botha-hulle te waarsku. Die trekkers maak gereed. Teen nege-uur verskyn die Matebele-impi wat nou aangegroei het na 1000 krygers. Hulle hou terug tot ongeveer tienuur toe hulle met die geskal van hulle oorlogskrete ’n stormloop loods. Die stormlope duur tot nagenoeg drie-uur die middag en die krygers word telkens deur soveel geweervuur begroet dat hulle uiteindelik terugtrek.

Vyf-en-dertig trekkers is ontplooi teenoor 500 gedissiplineerde krygers van die Matebeles. Na vyf of ses uur se geveg het Mkalipi met die Matabeles teruggetrek na die militêre kraal van Mzilikaze by Kapain om terug te rapporteer aan koning Mzilikazi.

Mkalipi het by hom ’n aantal waens, ongeveer 80 beeste en omtrent 50 perde gehad wat hulle gebuit het van die Liebenbergs en Erasmusse, twee wit dogters en ’n seun wat nooit weer gesien is nie. Erasmus se ander seuns en sy jaggeselskap is ook nooit weer gesien nie en hulle het in hul kampe verskeie bediendes gehad wat ook vermoor is.

Die Liebenberg-trek was minder gelukkig, sowat 26 trekkers is vermoor waar hulle uitgespan was. In totaal het 53 trekkers van die Potgieter-trek hul lewens verloor en die oorlewendes van die Potgieter-trek moes die toekoms van die trek ernstig heroorweeg.

Twee kommando’s sit die Matabeles agterna – een in die rigting van die verwoeste Liebenbergkamp waar die oorlewendes gered word. Die gesneuwelde trekkers word begrawe en hulle waens saamgeneem.

Potgieter keer terug van sy verkenningstog

Twee dae na die slagting word geweervuur gehoor wat die terugkoms aankondig van Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers met die lede van hulle ekspedisie. As dit nie vir Stephanus Erasmus was wat gaan jag het sonder toestemming nie, sou die Matebeles nie vandag in Zimbabwe gesit het nie.

Grafte op Kopjeskraal

Die grafte van die trekkers en die arbeiders wat by die slag van Kopjeskraal (slag van die Vaalrivier) gesterf het, lê vandag nog op gedeelte 70 van die oorspronklike plaas Kopjeskraal en word bewaar as monument vir die trekkers se durf en die pad wat hulle na die noorde oopgekap het.

Omdat dit veiliger was om die lyke saam te bring na hulle laer toe het die trekkers ook naby ’n geskikte plek gesoek om die mense te begrawe. Volgens Meintjies was daar sestien bediendes en die nege name met geboortedatums in die Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, maak dit ’n totaal van 25. Voeg miskien hierby die Skotse onderwyser, McDonald en sy vrou wat Meintjies van praat, dan is die totaal 27. Die toneel waar die grafte lê, is skoongemaak. Daar is ongelukkig geen grafstene iewers opgerig nie, die trekkers moes die liggame so gou moontlik begrawe en daar wegkom voor die Matebeles weer toeslaan. Al die hopies klippe word sorgvuldig getel en vergelyk met die feite, tesame met die oorleweringe van die grootouers op die plaas.

Gedenksteen vir die trekkers op Kopjeskraal

Behalwe vir die bronsplaat op Liebenbergkoppie is daar nooit ’n gedenksteen vir die trekkers opgerig nie. Niemand het in 175 jaar die moeite gedoen om hierdie grafte op te teken en die gebeure aan te teken nie. Daarom het drie lede, Dawid en Valerie van der Merwe en Hennie Steyn, van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Vaaldriehoektak, saamgespan met die eienaars om iets hieromtrent te doen.

Cor en Jeanne-Marie van den Berg het die toneel uitgewys op Kopjeskraal wat geleë is langs die Vaalrivier, waar die waens oor die rivier gebring is. Cor het verder die moontlike plek vandaar uitgewys waar die laer van Johannes Botha en Herman Steyn staangemaak was. Met die rivier aan die een kant, ’n hoë koppie aan die ander kant en ’n vlakte aan die derde kant, maak dit vanselfsprekend die geskikte plek.

Gegrond op hierdie inligting is daar besluit om ’n gedenksteen op te rig. Dawid van der Merwe was bereid om hand diep in die sak te steek en iets daadwerklik te doen, aangesien sy vrou ’n nooi Liebenberg is. Hy het ’n geskikte klip in hierdie omgewing gesoek. Maar die wat gelyk het of dit geskik sou wees, was te sag; dit lyk amper soos sandsteen en sou nie deur die hele proses heel gebly het nie. Hy het toe na Liebenbergkoppie gegaan en ’n klip wat oor die 250 kg weeg daar raakgeloop, wat ’n redelike harde klip is wat die proses sou deurstaan van sny, slyp, poleer en graveer.

Liebenbergkoppie

Die impi wat die Erasmus-kamp aangeval het, het sy waens na Mosega gestuur en hom en sy seun agtervolg. Op ’n sekere punt het die impi verdeel, en die hoofgroep het na die Potgieter-laer gegaan, terwyl ’n kleiner groep op pad was na ’n opvallende kleinerige koppie, 5 km noord van die moderne brug oor die Vaalrivier by Parys. Hierdie koppie staan ​​vandag bekend as Liebenbergkoppie.

In 1836 was dit die fokuspunt waar die trekleier Barend Gotlieb Liebenberg Senior en sy uitgebreide familie met nege waens uitgekamp het. Hy was afkomstig van die streek Onder-Seekoeirivier, in die latere distrik van Colesberg. Barend Liebenberg se familie het bestaan ​​uit sy vrou, vier seuns en ’n dogter, almal met kinders en is getroud. Christiaan Liebenberg was weg met die Potgieter-kommissie, maar die kamp is ook bewoon deur mnr. MacDonald, ’n skoolmeester, wat enkel was.

Inligting rakende die Ndebele-aanval op die Liebenbergs is skaars, onvolledig en soms teenstrydig. Die Liebenbergs is klaarblyklik oorrompel terwyl hulle hul waens ingespan het, en voorberei het om na die Potgieter-laer te vlug; dit was voor dagbreek op Dinsdag, 23 Augustus 1836. Die ingespande osse met die wa-as, wat by Kopjeskraal aangekom het, gee ’n aanduiding hiervan.

Hermanus Jacobus Potgieter, broer van die Voortrekkerleier, en ’n paar ander het voortydig van die kommissie teruggekeer en ’n deel van die gebeure gesien. ’n Paar Liebenberg-mans het die aanval van die Ndebele gesien aankom en op hul perde gespring, nader gejaag en daar het hulle van die perde afgeklim en op die vyand geskiet. Die perde het geskrik vir die aanvalsgeraas, losgeruk en na die kamp teruggekeer. Oordonder deur die aanvalsmag en heeltemal in die oopte moes hierdie Voortrekkers staan en baklei of vlug, maar in albei gevalle is hulle doodgemaak. Die Ndebele-krygers het daarna op die Liebenberg-kamp toegesak en dit geplunder.

Al ses die mans van die Liebenberg-familie het gesterf. Dit was Barend Liebenberg Senior, sy seuns Hendrik, Stephanus en Barend Junior, sy skoonseun Johannes du Toit, asook die skoolmeester MacDonald. Die vrouens van Hendrik Liebenberg en Johannes du Toit is ook dood, laasgenoemde het die volgende dag aan wonde beswyk. Daarbenewens is ses kinders en twaalf bruin bediendes daardie dag vermoor, wat die totale dodetal op 26 te staan ​​gebring het. Wonderbaarlik het sommige van die vroue en kinders ontsnap. Die vrou van Stephanus Liebenberg, Hester Pienaar en haar vier kinders was op hul ingespande wa, gereed om te vertrek, toe die aanval begin het. Haar oudste seun, Barend Johannes, het skape opgepas. Die osse het geskrik vir die oorlogsgeraas, maar is deur die krygers onderskep. Op daardie oomblik het Hermanus Jacobus Potgieter en vyf mans die Ndebele aangeval, wat hulle laat versprei het. Hester en haar jonger kinders het ontsnap, maar die jong Barend Liebenberg is nooit weer gesien nie.

Die oudste dogter van Christiaan Liebenberg het oorleef en van 21 steekwonde herstel. Die vrouens van Barend Liebenberg Senior en Christiaan Liebenberg was erg gewond, maar albei het ook oorleef. Drie kinders van Christiaan Liebenberg en al vier Hendrik Liebenberg se kinders het met hul lewens ontsnap. ’n Reddings- en soekgeselskap het later vier kinders van Johannes du Toit ongedeerd gevind; hulle het hulself in ’n wa versteek.