Die Groot Trek – Hoofstuk 4 Deel 2
August 20, 2020
Slag van Bergendal
August 26, 2020

Sarel Feldtmann

Die Groot Trek se leiers

Wie was die leiers van die “Voorstemense”

Die eerste “voorste mense” wat die Kolonie verlaat het, was:

  1. Johannes (Lang Hans) van Rensburg – September 1835 – 49 mense – Van Rensburg was ’n neef van Hendrik Potgieter.
  2. Louis Tregardt – September 1835 – 7 Boere met hul vrouens en 34 kinders, met ’n paar Boesman-slawe en swart bediendes. Tregardt was ’n welgestelde boer van die Graaff-Reinet-omgewing.
  3. Hendrik Potgieter – Laat 1835/vroeg 1836 – Oor die 200 mense nadat hulle verenig het met Sarel Cilliers en Casper Kruger se trekke (60 huisgesinne).
  4. Gerrit Maritz – September 1836 – Oor die 700 mense insluitend omtrent 100 wit mans.
  5. Piet Retief – Februarie 1837 – Ongeveer 100 mans, vrouens en kinders.
  6. Piet Uys – April 1837 – Oor die 100 mense van die Uys-familie

Verskillende terme was gebruik om te onderskei tussen die verskillende trekgroepe. Swerftrekkers (vóór 1835), Voortrekkers (Potgieter, Tregardt, Van Rensburg en Maritz se trekke), Agterste trekke (teen Okt. 1836) en Natrekkers (ná Des. 1837)

Andries Hendrik Potgieter, was die eerste om alles te waag in wat ’n nasionale poging geword het om ’n verlede te bewaar wat nou deur vernietiging bedreig is. Hy het saam met die Steyn-, Liebenberg-, Kruger-, Botha- en Robberts-families en sy eie talle familielede versamel en was bereid om saam met hierdie mense noordwaarts te trek. As leiers van die “voorste mense” van die Groot Trek, het Potgieter sy neef, Johannes van Rensburg, en ’n voorspoedige boer van die Oos-Kaap, met die naam Louis Tregardt gekies.

Terwyl Potgieter voorbereidings getref het om te trek met sy hooftrek, het hy dié twee gesinsgroepe vooruit gestuur om ’n roete uit te lê na die Zoutpansberg. Daar moes hulle geskikte grond en weiding soek om hulle as ’n gemeenskap te vestig.

Terwyl hulle daar wag vir die “agterste mense”, vir Potgieter met sy hooftrek, moes Tregardt en Van Rensburg probeer om kommunikasie te maak met die Portugese by Lourenço Marques-Delagoabaai, Inhambane of Sofala.

Hans van Rensburg (Lang Hans, 1779-1836)

Johannes Jacobus (Lang Hans) Janse van Rensburg (12 Augustus 1779-Julie 1836) was ’n leier van een van die vroeë Voortrekkergroepe. Van Rensburg, wat ’n neef was van Hendrik Potgieter, was die eerste om oor die Oranjerivier te trek met sy geselskap van tien mans en tien vrouens met dertig kinders. Daar bestaan nie ’n foto of afbeelding van Van Rensburg nie, en daar is ook nie ’n duidelike beskrywing van hoe hy gelyk het nie, behalwe dat hy waarskynlik ’n baie lang man was, vandaar die bynaam “Lang Hans”.

Van Rensburg en Louis Tregardt het aan die oorkant van die Oranjerivier ontmoet en van daar het hulle basies saam getrek, saam in die sin dat hulle mekaar gevolg het. Tregardt se veetroppe was baie groter as dié van Van Rensburg, daarom het Van Rensburg die hele tyd vooruit getrek met sy kleiner troppe vee.

Op ’n tydstip gedurende die trek het Van Rensburg se voorrade min begin raak en hy het besluit om direk na een van die Portugese hawens te trek om sy voorrade aan te vul. Sy hele trekgeselskap is deur ’n impi van Manukosi naby vandag se Inhambane in Mosambiek uitgemoor. Twee van sy kinders was die enigste oorlewendes as gevolg van die ingryping van ’n ander Zoeloekryger, maar is heel waarskynlik ook binne ’n jaar aan malaria oorlede.

Louis Tregardt (1783-1838)

Louis Tregardt (Trichardt) was van Sweedse afkoms, en is op 10 Augustus 1783 in die distrik van Swellendam gebore. Hy tree in 1810 met Martha Elisabeth Susanna Bouwer in die huwelik. Tien kinders is uit die huwelik gebore, waarvan vier volwassenheid bereik het.

Tregardt was ’n lid van ’n gesiene familie in die oostelike grensdistrikte van die Kaapkolonie. Hy het ’n dagboek gehou van al sy omswerwinge op die Groot Trek wat behoue gebly het en wat ons vertel van al hul ontberings op die eerste fase van die Groot Trek.

Tregardt se dagboek getuig van ’n doelgerigte leier en vredemaker wat nie aarsel om sy medetrekkers te betig wanneer hy dit nodig ag nie. Sy gesonde gedagtes aangaande die uitoefening van sy vaderlike gesag wanneer sy seuns Karel en Pieta onenigheid het, en sy afkeer van dieremishandeling, spreek uit wat hy skryf.

Sover bekend, is Tregardt die enigste Voortrekkerleier wat ’n dagboek tydens sy omswerwinge byhou. Sy joernaal is ’n bron van kennis, sowel taalkundig as kultuurhistories, en wat betref kennis van toenmalige inboorlingstamme in Transvaal, die plante- en dierewêreld, die bodemgesteldheid en die klimaatsomstandighede.

Andries Hendrik Potgieter (1792-1852)

Andries Hendrik Potgieter (gebore dist. Graaff-Reinet, 19.12.1792 – oorlede Schoemansdal, Soutpansberg, 16.12.1852).

Potgieter trou in Julie 1812 met ’n nooi Botha, en teen die volgende jaar is sy vader en hy saam op die plaas Kommandodrif (Commandodrift) aan die Tarkarivier sowat vier-en-twintig myl oos van die huidige dorp Cradock gevestig. Hy moes, volgens oorlewering, opvallend van voorkoms gewees het: oor die ses voet lank, fors gebou, gespierd, beweeglik, ’n onvergelyklike perderuiter en daarby skerpsinnig, rusteloos van aard, vervul met ’n aggressiewe selfstandigheidsdrang en onafhanklikheidsgees wat aan die egosentriese grens; stug van aard, ’n man van die daad met min woorde, beslis, en soms hardkoppig in sy optrede.

Potgieter bly ’n omstrede figuur in die geskiedenis van die Groot Trek, deur vele bewierook en deur ewe veel veroordeel. Die waarheid lê waarskynlik tussen hierdie uiterstes. In afsondering word hy groot, gestaal in liggaam en gees deur ’n natuur van uiterstes en in die botsing met die Xhosa. Individualis wat hy was, vind hy samewerking met sy gelykes of meerderes moeilik. Bedeeld met ’n kragtige persoonlikheid en natuurlike leierstalente wat van hom tydens die ontplooiing van die Trek in Transvaal by uitstek die temmer van ’n woeste land maak, val dit hom moeilik om hom aan andere ondergeskik te stel, en wen hy as ’n onverskrokke baanbreker deur sy blote daadkrag die trou en die lojaliteit van baie van sy tydgenote.

Gerhardus Marthinus Maritz (1797-1838)

Gerhardus Marthinus Maritz (Gert, Gerrit) (gebore dist. Graaff-Reinet, Maart 1797 – oorlede Maritzdam (Sooilaer), Klein-Tugela, Natal 23.9.1838), Voortrekkerleier, was die tweede seun uit ’n gesin van sewe kinders en is gebore ten weste van die onderloop van die Groot Visrivier, in die Suurveld, destyds die suidoostelike uithoek van die Graaff-Reinetse distrik wat die swaarste moes ly onder die Xhosa-beroeringe.

Ofskoon Maritz se loopbaan toon dat hy belangrike militêre prestasies behaal het, is sy vernaamste betekenis vir die Groot Trek geleë in die werk wat hy in verband met bestuur, administrasie en regspraak doen. Telkens tree hy op wanneer daar nuwe bestuursreëlings deur die Voortrekkers getref word; in die loop van die Groot Trek ondersoek hy die geldigheid van voorgenome huwelike, beredder boedels (wat veral na die Groot Moord baie nodig geword het), en oefen die regspraak uit.

Hy is ’n godsdienstige mens, demokraat in murg en been, en bowenal ook man van wet en orde. As besliste demokraat bots hy soms met Potgieter, die onverskrokke baanbreker, wat kind van die veld was en aan die eise van ’n gevestigde maatskappy minder gewoond was. Dit is ook verstaanbaar dat daar soms wrywing voorkom tussen Maritz en Uys, want ’n man met die oortuigings van Maritz kry uit die aard van die saak soms meningsverskille met Uys, ’n dinamiese gees, maar iemand wat van die begin af ’n eie koers volg.

Gert Maritz was ’n man met ’n sterk persoonlikheid, maar, soos met sulke mense dikwels die geval is, minder buigsaam van gees. Hy was ook nie ’n man van baie geduld nie. As hy herhaaldelik teengestaan is in wat hy as sy goeie reg beskou het, of wat vir hom reg en behoorlik voorgekom het, kon hy opvlieënd word.

In die geskiedenis van die Groot Trek, daardie magtige gebeure van die Suid-Afrikaanse volksverlede, munt Maritz uit as ontwikkelde man van sy tyd, en simbool van wet en orde. Hy het sy dagtaak goed gedoen, al was dit ook dat hy op die oewers van die Klein Tugela hom ten slotte sterwend die versugting laat ontval het: “Dit is my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie.”

Pieter Retief (1780-1838)

Pieter Retief (gebore te Soetendal, Wamakersvallei (Wellington), 12.11.1780 – oorlede te Dinganestat (Mgungundhlovo), Zoeloeland, 6.2.1838), Voortrekkerleier, handelaar en grensboer. Retief is op 14 Julie 1814 met die weduwee Magdalena Johanna Greyling (gebore De Wet) getroud. Hulle het vier kinders gehad.

Piet Retief tree op as segsman om die owerhede van die grensboere se probleme te vergewis. Hy het lank gehoop dat ’n verbetering in die toestande op die grens ’n uitwaartse beweging onnodig sou maak. Toe die goewerneur, sir Benjamin D’Urban, die situasie vererger, stuur Retief sy Manifes aan die Grahamstown Journal, pak op en trek.

Piet Retief word beskryf as ’n galante heer en ’n uitmuntende veldkornet, ’n stil, sterk mens, ’n gebore leier en ’n besadigde persoon met ’n vasberade en kragdadige persoonlikheid.

Retief is een van die mees tragiese figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Deur sy opvoeding, intelligensie, ondernemingsgees en persoonlikheid is hy toegerus om uit te styg bo die gemiddelde en voorbestem om ’n leier te word. Hy het dan ook daarin geslaag om die respek en vertroue af te dwing van almal wat hom geken het. Die Britse Setlaars het sy goedhartigheid, belangstelling en hulpvaardigheid geloof en die owerheid het in hom ’n man met leiershoedanighede herken en dienooreenkomstig met hom gehandel.

Vir die boere op die oosgrens en later tydens die Groot Trek was hy die onbetwiste leier. Retief se betekenis in die geskiedenis lê grootliks in wat hy verpersoonlik het vir die vryheidsliewende Afrikaner.

Die Piet Retief Manifes

In sy opspraakwekkende manifes wat op 2 Februarie 1837 in The Graham’s Town Journal gepubliseer is, verduidelik die latere prominente Voortrekkerleier Piet Retief, wat die redes vir die trek is. Hier volg ’n kort opsomming daarvan:

  1. Geen vooruitsigte van vrede:

Volgens Retief was daar “geen vooruitsigte van vrede of geluk” vir hul kinders nie aangesien die “oproerige” gedrag van leeglêers dié boere laat moed opgee het.

  1. Vrystelling van slawe:

Die Trekkers het aangevoer dat die vrylating van hul slawe grootskaalse verliese ingehou het.

  1. Voortdurende aanvalle:

Die voortdurende aanvalle deur veral die Xhosa wat boere aan die oosgrens van die kolonie ervaar het, het die boerderygemeenskappe geruïneer.

  1. Strewe na vryheid:

Die Trekkers het na vryheid gestreef, ’n samelewing waar misdaad onderdruk sal word en waar ’n gesonde verhouding tussen werknemer en werkgewer sal heers.

  1. Begeer rustigheid:

In die manifes stel Retief dit duidelik dat die Trekkers graag ’n rustiger lewe wil lei as wat in die Kaapkolonie die geval was. Hy beklemtoon ook dat hoewel hulle nie daarop uit is om ander te “molesteer”, oftewel leed aan te doen nie, hulle hul lewens en besittings teen aanvalle sal beskerm.

  1. Wet en orde:

Retief verklaar dat wette deur die Trekkers opgestel en aan die kolonie gestuur sal word en dat ’n stelsel ingestel sal word om verraaiers in eie geledere te straf.

  1. Vreedsame verhoudings:

Volgens Retief se manifes was dit die Voortrekkers se voorneme om vreedsame verhoudings met die ander inwoners te kweek in die land waarheen hulle trek en waarin hulle hulself sal vestig.

  1. Eie regering:

Die Trekkers het hiermee hulself losgemaak van die Britse regering. Retief voer in die manifes aan dat die Britse regering niks verder van die Trekkers moet verwag nie en dat hulle graag voortaan hulself wil regeer.

Ten slotte skryf Retief die volgende treffende woorde in sy manifes. Dit wys nie net dat die Trekkers bewus was van die gevare wat op hulle wag nie, maar dat hulle ook ’n vaste vertroue in God se beskerming toon. Hy skryf: “Ons verlaat nou die vrugbare land van ons geboorte, waar ons groot verliese en voortdurende ergenis moes ly, en betree ’n wilde en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ’n vaste vertroue op ’n alsiende, regverdige en barmhartige Wese, wie ons sal strewe om te vrees en nederig te gehoorsaam.”

Dié byna profetiese woorde van Retief sou in die komende maande en jare baie belangrik word vir die Trekkers, want nie net het hulle aansienlike teenstand, gevare en die dood in die oë gestaar nie, hulle het wel ook op God bly vertrou.

Petrus Lafras Uys (Piet) 1797-1838

Petrus Lafras Uys (Piet) (gebore te Potberg, dist. Swellendam, gedoop 23.10.1797; oorlede te Italeni, Zoeloeland, 11.4.1838). Uys was ’n ondernemende, dinamiese jong boer wat steeds nuwe probleme en plekke deurtastend ondersoek het vanaf sy plaas aan die Krommeriviermond waar sy familie by hom gewoon het.

Later word hy ook in die oostelike Uitenhaagse wyk, Onder-Boesmansrivier, as beesboer aangetref. Daar verwerf hy ’n wye vriendekring deurdat hy sowel Grahamstad as die dorp Uitenhage besoek en aan perderesies daar deelneem saam met, onder meer, Britse offisiere. Uys was fisies beweeglik, ’n bedrewe ruiter en intellektueel wakker. Hy kon maklik met mense uit baie groepe en klasse in die oosgrensdistrikte kommunikeer. Daar het groot selfvertroue van die stewige, blonde jong leier uitgegaan wat hom in die kritieke jare op die vooraand van die Groot Trek van heelwat steun onder die beesboere op die Kaapse suidkus verseker het. Uys het met die probleme van Suider-Afrika geworstel en het ook kennis geneem van die lotgevalle van die viriele jong VSA.

Uys was die enigste vername Voortrekkerleier wat op die slagveld geval het. Sy dood en dié van sy seun, Dirkie, het hulle name in die geskiedskrywing van die Groot Trek verewig. Eers ná die slag by Bloedrivier (16 Desember 1838) is sy beendere versamel en op die familieplaas Uysdoorns by Pietermaritzburg begrawe. Later is hy op Weltevrede in die distrik Utrecht herbegrawe.

Uys het oor onbetwiste leiershoedanighede beskik en sy innemende persoonlikheid het hom in staat gestel om vir hom baie ondersteuners te wen. Tydens die grensoorloë in die Kaapkolonie en die strafekspedisie teen die Matebele het hy hom as onverskrokke krygsman onderskei en die agting van sy medeburgers verwerf. Sy onafhanklikheidsin wat soms as koppigheid vertolk is, het hom egter van erkende Trekleiers vervreem en daartoe bygedra om onenigheid onder die Trekkers te skep.

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (1798-1853)

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (gebore te Graaff-Reinet, 27.11.1798 – oorlede te Grootplaats, dist. Pretoria, 23.7.1853). Pretorius is een van die grootste figure uit die Suid-Afrikaanse verlede. As Voortrekkerleier toring hy ver bo sy tydgenote uit, en as aanvoerder van die Afrikanerdom se stryd teen Britse imperialisme neem hy onder die 19de-eeuse staatsmanne sy plek naas SJP Kruger in.

Hy kom vir die eerste keer in openbare aansien toe hy in daardie donker dae na die dood van Pieter Retief met die leiding van die veldtog teen die Zoeloes belas word. In oomblikke van krisis is hy die persoon na wie die Boere opsien vir leiding, want al kan sy demokratiesgesinde volksgenote sy invloed in tye van rus en vrede bekamp, maak sy sterk persoonlikheid, sy helder denkvermoë, sy buitengewone redenaarstalent, sy besondere organisasievermoë en sy verbasende dryfkrag van hom ’n natuurlike keuse wanneer die kragtige greep van ’n sterk leier nodig word.

Met die slag by Bloedrivier verewig hy sy naam as krygsman, en in sy talryke gevegte daarna teen sowel swart man as Brit bewys hy nog eens sy krygstalent. Maar Pretorius se aanspraak op ’n plek in die voorste ry van Suid-Afrika se historiese figure berus ook op sy prestasies as staatsman. In staatsaangeleenthede toon hy ’n breër visie, ’n skerper insig en ’n groter vernuf as enige van sy tydgenote, en waar sy volksgenote se vryheidsin nog nie uitgegroei het tot ’n ware nasionale bewussyn nie, is by hom reeds die eerste klanke van ’n suiwer Afrikanernasionalisme hoorbaar.

Sy eie staatkundige denkbeelde wentel veral om twee pole: samesmelting van al die Voortrekkers in een staat en algemeen-erkende onafhanklikheid vir daardie staat. Reeds binne twee maande na die verbreking van die Zoeloemag probeer Pretorius om al sy volksgenote wat buite die Kaapkolonie is, tot ’n eenheid saam te snoer, en in die jare daarna beywer hy hom meer as enigiemand anders vir die staatkundige eenheid van die Voortrekkers.

Hy besef dat die krag wat in eensgesindheid lê, noodsaaklik is vir die afdwinging van die Voortrekkers se onafhanklikheid. Anders as AH Potgieter en die Lydenburgers, wat van mening is dat hulle die de facto onafhanklike bestaan wat hulle voer, kan behou deur alle kontak met die Britse owerheid te vermy, of as dit nie help nie verder te trek, besef Pretorius dat hierdie volstruis-politiek geen antwoord bied op die steeds noordwaarts skuiwende Britse gesag nie.

Vir hom is dit duidelik dat ’n dorsland in die weste en tsetsevlieë sowel as koors in die noorde en ooste geen verdere ontvlugting toelaat nie. Daarom is hy bereid om stelling in te neem teen die noordwaartse uitbreiding van Britse gesag en die staatkundige vryheid van sy volk desnoods met geweld af te dwing. Hoewel hy by Boomplaats faal, seëvier sy denkrigting by Sandrivier toe die Britte die onafhanklikheid van die landstreek ten noorde van die Vaalrivier erken. Daarmee span hy die kroon op sy strewe vir die staatkundige vryheid van die Afrikaners buite die Britse kolonies.

Pretorius was ’n man van indrukwekkende voorkoms: goed bo die gemiddelde lengte, sterk en simmetries gebou.

Sarel Arnoldus Cilliers (1801-1871)

Sarel Arnoldus Cilliers (7 September 1801 – 4 Oktober 1871) was ’n Voortrekkerleier. Hy is gebore naby die Klein-Drakenstein en groei op in Graaff-Reinet. Hy sluit tydens die groot trek by Andries Hendrik Potgieter aan in 1837. Hy het deelgeneem aan die slag by Vegkop en het hom ook onderskei by die slag van Bloedrivier. Hy het aan die Voortrekkers se versoek gestalte gegee om ’n Gelofte aan God Drie-enig te maak, dat indien Hy hulle die oorwinning by Bloedrivier sal gee, die dag en datum soos ’n Sabbat herdenk sal word deur al die nageslagte heen. Hy het ’n dankdiens na die oorwinning gehou.

Op 6 Oktober 1823 trou hy met Anna Francina Viljoen, elf kinders word uit die huwelik gebore. Weens ’n langdurige droogte verken hy vroeg in 1835 die gebied tussen die Modderrivier en die Renosterrivier, maar verlof om daarheen te verhuis word deur die Kaapse Goewerneur geweier. In 1836 verlaat hy dan die Kaapkolonie saam met die Voortrekkers onder leiding van Andries Hendrik Potgieter.

Hy is oortuig dat dit die wil van God is dat die Boere die Christenbeskawing noordwaarts moet uitbrei en hy bou sy joernaal wat hy in sy laaste lewensjare oor die Groot Trek en die gebeure daarna skryf, op hierdie oortuiging. Deur die styl hiervan is dit duidelik dat hy geen ander boek as die Bybel geken het nie. Sy ideaal was om predikant te word, maar dit is nooit verwesenlik nie. Sy gees soos dit geopenbaar word in sy joernaal is egter deur en deur dié van ’n ortodokse leraar. Hy speel dan ook ’n leidende rol in die geestelike lewe van die Voortrekkers as nie-amptelike leraar van die Potgieter-trek en lei die daaglikse godsdiensoefeninge en die eredienste op Sondag.

In Mei 1836 vergesel hy die Potgieter-kommissie op soek na Louis Triegardt by die Soutpansberg. Hy is in Oktober 1836 die hooffiguur in die slag van Vegkop, waar ongeveer veertig weerbare Voortrekkermans en -seuns die nagenoeg 5 000 Matabele- (Ndebele-) krygers onder aanvoering van Mzilikazi se aanval afweer. In 1837 vergesel hy ook beide strafekspedisies teen Mzilikazi.

Op 8 Februarie 1837 word hy as een van twee diakens in die eerste kerkraad verkies. Hy volg die Retief-geselskap na Natal. Kort na sy aankoms by die Retieflaer op Doornkop ontstaan ’n ernstige geskil tussen hom en Erasmus Smit, wat reeds op 21 Mei 1837 as leraar van die Trek bevestig is. Op 14 Januarie 1838 wil Cilliers naamlik ’n godsdiensoefening in die laer lei, sonder dat hy vooraf toestemming van die Kerkraad daartoe gekry het. Die diens word afgestel, maar die gebeure skeur die volgelinge van Piet Retief in twee, met kwaaivriendskap wat hierna tussen Cilliers en Smit heers.

Na die moord op Piet Retief en sy volgelinge op 6 Februarie 1838 val die Zoeloemagte op 17 Februarie 1838 die Voortrekkerlaers aan. Cilliers speel ’n groot rol om laers te ontset en van laer tot laer te gaan om mense te waarsku. In April 1838 is hy lid van die Strafkommando onder Potgieter en Piet Uys wat op 11 April 1838 tydens die Slag van Italeni verslaan word en in Augustus 1838 is hy lid van die geselskap wat onsuksesvol na die Transoranje en Kaapkolonie gaan om hulp te gaan soek.

Intussen is Gert Maritz oorlede en trek Potgieter Transvaal toe, wat die Voortrekkers in Natal leierloos laat. Die aankoms van Andries Pretorius op 22 November 1838 by die hooflaer aan die Klein-Tugela is dus wyd verwelkom. Planne vir die aanslag teen Dingaan word onmiddellik gesmee en Cilliers speel ’n belangrike rol met die geestelike voorbereiding. Hy verwerf veral bekendheid in die geskiedenis as die man wat op 9 Desember 1838 by Wasbank die gelofte aan God aflê wat die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 voorafgaan en wat daarna as Geloftedag ’n openbare vakansiedag word. Die bewoording van die gelofte word gegrond op Cilliers se herinneringe op sy sterfbed, waar hy in ’n joernaal sy lewensgeskiedenis en ervarings opskryf.

Opsomming

Van die vernaamste leiers was Piet Retief, Gerrit Maritz, Andries Pretorius, Louis Tregardt, Hendrik Potgieter, Sarel Cilliers en Piet Uys.

Die Voortrekkerleiers word gelys volgens die grootte van hul trekgroepe {aantal families in hakies}

Hendrik Potgieter (sy party het vir Sarel Cilliers ingesluit) {158}

Piet Retief {139}

Jan du Plessis (sy party het vir Jacobus Christoffel Potgieter ingesluit) {116}

Pieter Daniël Jacobs {85}

Petrus Lafras Uys (Piet) {79}

Johannes Stephanus Maritz {68}

Gerhardus Marthinus Maritz (Gerrit/Gert) {57}

Karel Landman {54}

Jacob De Klerk Jr. {52}

Philippus Albertus Opperman Sr. {41}

Andries Pretorius {38}

Gerrit Reynier van Rooyen {29}

Gerhardus Jacobus Rudolph {26}

Louis Jacobus Nel {26}

Lucas Johannes Meyer {24}

Joachim Christoffel Espag of Esbach {23}

Johan Hendrik de Lange {15}

Hercules Philip Malan {13}

Louis Tregardt {13}

Stephanus Petrus Erasmus {9}

Johannes Jacobus (Lang Hans) Janse van Rensburg {7}

Arie Zacharias Visagie {6}

David Stephanus Fourie {6}

Jan Matthys de Beer {6}

Hermanus Stephanus Lombard {2}

Johannes Jacobus Erasmus {1}