Die Groot Trek – Hoofstuk 4 Deel 1
August 20, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 4 Deel 3
August 20, 2020

Sarel Feldtmann

Oorsake van die Groot Trek (vervolg)

Ontevredenheid met die Britse koloniale owerheid

Soos reeds gesê, het die Kaapse owerhede, as gevolg van finansiële en filantropiese redes, weinig gedoen om hulle te beskerm.

Tussen 1812 en 1835 was daar drie oorloë. Die Sesde Grensoorlog was die laaste druppel in die emmer vir die grensboere.

Terwyl die grensboere die owerheid van waens, trekvee en perde voorsien het, het hulle geen vergoeding daarvoor ontvang nie.

Tydens die oorlog het die boere ongeveer 300 000 pond skade gely maar slegs 15 000 pond vergoeding ontvang.

Boonop is al die blaam vir dié oorlog, deur die Engelse owerheid op die boere geplaas.

In Piet Retief se Manifes, het hy het egter o.a. gekla oor die aanhoudende plundering deur die swartes wat die grensdistrikte verwoes en die meeste blankes geruïneer het.

Hy skryf ook: “Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van vaebonde (Swartes), wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus.”

Deur noordwaarts na die ongetemde en onbekende binneland te trek, was gewis nie ’n maklike besluit nie. Daar wou die blanke grensboere vir hulle ’n land vind, waar hulle sake volgens hulle eie siening kon gaan uitwerk, sonder inmenging van die kant van ’n filantropies georiënteerde Engelse owerheid.

Kommissie van ondersoek en verkenningstogte

Grensboere het kommissies aangestel wat die moontlikhede vir ’n rustiger lewe elders moes ondersoek. ’n Paar verkenningstrekke het daarop gevolg.

So was die idee van die Groot Trek in 1834 gebore. In die geheim is “Kommissie”- of “Verkennings”trekke georganiseer om die gebiede na die weste, noorde en ooste te verken, en terug te rapporteer aan die Boere.

Een het na die weste, Damaraland, gegaan wat tans Namibië is en het met ’n teleurstellende verslag teruggekeer.

Die Oorvaalse verkenningstog onder leiding van Scholtz, het die gebied tot aan die Soutpansberg verken. Hulle het onder andere kontak gemaak met die Buys-familie wat hulle al reeds in die area gevestig het. Die area was ook geskik met genoeg water, weiding en volop wild.

Pieter Lafras Uys en ’n paar ander boere, het in 1834 langs die ooskus met veertien waens na Port Natal gereis en nadat hulle die hooglande sowel as die kusgordel en die hawe deeglik nagegaan het, het hulle teruggekeer na die Kaapkolonie; baie tevrede met die land as ’n wenslike plek om na te migreer.

Die hoë plato van TransOranje (vanaf Bloemfontein deur Pretoria tot in Limpopo en die rollende groen heuwels van Natal) was leeg en verlate weens die mfecane.

Die trekleiers was hoofsaaklik areagebonde en hul mense was gewoonlik familie of boere van dieselfde omgewing. Die aanvanklike versamelarea was in die Thaba Nchu- of Blesberg-area soos die trekkers dit genoem het.

Die meerderheid trekkers van die groter groepe saam met Maritz, Retief en Uys, het besluit om na Natal te trek omdat die area meer belowend gelyk het en daar al reeds ’n hawe was. Potgieter wou Soutpansberg se kant toe en Delagoabaai, Inhambane of Sofala gebruik as ’n hawe.

Die Engelse aan bewind in die Kaap gedurende die Groot Trek

Sir Benjamin D’Urban

Sir Benjamin D’Urban is op 16 Januarie 1834 aangestel as goewerneur van die Kaap, midde-in die Sesde Grensoorlog. Hy was die opvolger van sir Galbraith Lowry Cole (Colesberg). Hy het die Sesde Grensoorlog in Brittanje se guns beëindig en die Provinsie van Koningin Adelaide gestig. Dit was geleë tussen die see, die vorige grens en die Groot-Keirivier en het net bestaan van 10 Mei tot 5 Desember 1835. Die Koloniale Kantoor het ’n einde daaraan gebring omdat D’Urban grond in die kortstondige provinsie aan swart lojaliste uitgegee het.

D’Urban het geen ondersteuning van die rykshoofstad, Londen, gekry nie en moes die probleme wat die Groot Trek meegebring het in die Kaap die hoof probeer bied. Hoewel hy persoonlik gewild onder die nedersetters aan die Kaap was, het sy amp algaande onhoudbaar geraak. Ondanks sy bevordering tot luitenant-generaal in 1837 is hy die volgende jaar uit die amp as goewerneur ontslaan.

Sir Benjamin D’Urban was in sy amp toe Brittanje slawerny afgeskaf het, munisipale en wetgewende rade gestig het, Natal (nou KwaZulu-Natal) beset en dit as ’n nuwe kolonie vir die Britse Ryk benoem het. Om dit te herdenk, is die naam van die belangrikste hawe in 1835 verander van Port Natal na Durban.

Sir Harry Smith

Harry Smith neem van 1808 af aan verskeie veldslae deel en word in 1829 aangestel as waarnemende kwartiermeester aan die Kaap. In 1835 speel hy ’n leiersrol in die Sesde Grensoorlog en is in bevel van die patrollie wat Hintsa laat sneuwel.

Aan die einde van 1826 word Harry Smith tot majoor in die leër bevorder, maar was nie aan enige spesifieke regiment verbonde nie en was nog steeds nie verbonde toe hy in Julie 1830 na luitenant-kolonel bevorder is nie. In 1828 is Smith na die Kaap die Goeie Hoop gestuur, waar hy in bevel van die Britse mag in die Sesde Xhosa-oorlog van 1834-36 was.

In 1835 bereik hy die prestasie om in minder as ses dae van Kaapstad na Grahamstad te ry; nadat hy deur sy energieke ekskursie die vertroue onder die blankes herstel het, is hy aangestel as goewerneur van die nuwe Koningin Adelaide provinsie, waar hy onbeperkte invloed verkry op die inheemse Xhosa stamme, wat hy homself die taak gestel het om die mense daar beskaaf en aanvaarbaar te maak.

Maar hoewel Sir Benjamin D’Urban, die hoëkommissaris, Smith ondersteun het, het die ministerie in Londen sy beleid omgekeer en, om Smith se eie woorde te noem, opdrag gegee dat die provinsie Koningin Adelaide herstel moet word tot barbaarsheid. Smith self is van sy bevel verwyder, terselfdertyd het die Xhosa en die Boere hierdie stap betreur. Baie Boere, grotendeels as gevolg van hierdie beleid van Lord Glenelg, het begin met die migrasie na die binneland bekend as die Groot Trek.

Wat was die “Mfecane” en wat het dit veroorsaak

Voordat al die swart mense se geskiedenis opgeneem kon word in geskrifte, het die Mfecane plaasgevind. (Die Noord-Sotho noem dit Difaqane, en die Suid-Sotho, wat “L” uitspreek as “D”, skryf dit as Lifaqane.)

Dit was ’n periode van wydverspreide bloedvergieting en hongersnood. Die bejaardes, die bewaarplekke uit die mondelinge geskiedenis, is uitgewis en met hul sterftes, het tradisies en kultuur van die tydperk voor die 1820’s verlore geraak. Die opkoms van die Zoeloe-mag in die 1820’s het die Zoeloesprekende Mfengu in die Kaap geskep, die Ngoni in Mosambiek, die Transvaalse Ndebele en die Ndebele-nasie van Zimbabwe.

Histories is Zoeloe die naam (isibongo) van slegs een stam. Maar sedert die geweldige omwentelinge wat in ongeveer 1815 met die opkoms van Shaka begin het, het baie groepe in alle rigtings gevlug. Die heerskappy van Zoeloe-konings het eenvormigheid van gewoonte geskep en isiZulu het ’n algemeen gebruikte taal geword. Met die verswakking van die Zoeloe-mag en die begin van die Europese kolonisasie in Suider-Afrika, het sommige oorlewende vlugtelinge dit reggekry om weer hul stamme bymekaar te maak, terwyl ander opgeneem of verdwyn het. Daar is vandag meer as 300 verskillende Zoeloesprekende groepe, waarvan die bevolking van so min as honderd tot soveel as 50 000 is. Hulle vorm 29.0% van die Nguni-groep.

Shaka Zoeloe

Shaka was ’n groot Zoeloekoning en veroweraar. Hy het gelewe in ’n area van Suidoos-Afrika tussen die Drakensberg en die Indiese Oseaan, ’n streek wat bewoon is deur menige onafhanklike Nguni-koninkryke.

Shaka was deel van ’n baie klein groepie Nguni-mense van die Zoeloestam. Hy is wyd bekend vir sy militêre mag en vernietiging, en ook vir sy militêre hervorming en nuwe idees. Die res van die krygsmag het hy in regimente, wat impi’s genoem is, ingedeel. Elke impi het sy besondere naam gedra.

Toe sy klein leër gereed was, het hulle tot aksie oorgegaan. Een na die ander naburige Nguni-stammetjie is deur die goed gedissiplineerde Zoeloes oorwin. Die mans van die verslane stam is gewoonlik almal summier doodgemaak, terwyl die vroue en kinders by die steeds groeiende Zoeloestam ingelyf is.

Deur Zwide te verslaan en die Ndwandwe se mag heeltemal te breek (die twee sterkste Nguni-stamme), het hy sowel die Ndwandwes as die Mtetwas en al hulle volgelinge – sowat 200 stamme – aan hom onderhorig gemaak. Shaka se leër van ’n skrale 500 man het tot sowat 50 000 krygers gegroei. Skaars 10 jaar later sou hy met hierdie mag ’n gebied van meer as 500 000 km2 beheer.

Daar is geskat dat gedurende Shaka se heerskappy hy verantwoordelik was vir die dood van meer as ’n miljoen mense. Shaka se oorloë tussen 1818 en 1828 het bygedra tot ’n reeks geforseerde migrasies wat bekend staan in verskeie dele van suidelike Afrika as die Mfecane, Difaqane, Lifaqane, of Fetcani.

Groepe vlugtelinge van die aanvalle van Shaka, eers Hlubi en Ngwane-stamme, later gevolg deur die Mantatees en die Matabele van Mzilikazi, het die Drakensberge in die weste oorgesteek en ander kapteinskappe op hul pad verslaan. Hongersnood en chaos het gevolg op die grootskaalse uitwissing van bevolkings en die vernietiging van beeste en gewasse tussen die Limpopo- en die Garieprivier. Ou volke het verdwyn en nuwes is geskep.

Mzilikaats (Silkaats)

Die Matabeles van Silkaats (Mzilikaats) was een van die stamme (Kumalo’s) wat probleme met Shaka opgetel het en die Drakensberg oorgesteek het na die weste om die aanvalle van Shaka te vermy.

Die Matabeles wat hulle uiteindelik in die Magaliesberg-omgewing kom vestig het, het toe weer op hul beurt begin om ander stamme in hulle pad te vernietig. Hulle het eers ’n draai gaan maak in die Steelpoort-area en van daar na die Magaliesburg omgewing en toe finaal hul gevestig in die Zeerust/Marico-omgewing nadat hulle die Twanas daar verjaag het. Hongersnood en chaos het hierop gevolg wat die uitwissing van gemeenskappe en die verwoesting van vee en oeste tussen die Limpopo- en die Garieprivier veroorsaak het. Ou hoofdomme het verdwyn en nuwes was gevorm.

Voortrekkers

Met die oorloë tussen die swart stamme was daar groot gebiede wat niemandsland was en die Voortrekkers het in hierdie gebiede ingetrek en gedink hulle kan dit vir hulself toe-eien.