Dan Pienaar (1893-1942)
August 17, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 4 Deel 2
August 20, 2020

Sarel Feldtmann

Oorsake van die Groot Trek

Ontevredenheid met die Britse Koloniale owerheid

Ons moet onthou dat geen gebeure in die verlede vanuit latere tydperke en latere norme beoordeel behoort te word nie. Jy kan nuwe vrae vra, maar jy kan nie aan die denkrigting of mentaliteit van vroeër tydperke verander nie.

Die Groot Trek was ’n georganiseerde verhuising van sowat 17 000 wit mense (vroeë Afrikaners) met 6 000 gekleurde arbeiders aan die Oosgrens van die Kaapkolonie uit ’n toestand wat vir hulle ondraaglik geword het.

Die Boere is merendeels die nasate van Nederlanders, Vlaminge, Franse Hugenote en Duitsers. In kleiner getalle vorm ook Skandinawiërs, Portugese, Italianers, Pole, Skotte, Engelse, Iere en Walliesers deel van die Boerevolk se voorouers. Verder het ondertrouery met inheemse Khoi-Khoin en ingevoerde slawe uit ander dele van Afrika, Maleisië en Indië ook bygedra tot die Boere-genepoel. Sulke gemengde afstammelinge is later as Kleurlinge gekwalifiseer onder apartheidswetgewing, en daarna as Afrikaanses of bruin mense in die postapartheid era.

Twee groepe emigrante het die Kaapkolonie in die tweede kwart van die 19de eeu verlaat. Die eerste hiervan was die trekboere wat opsoek na beter weivelde oor die grense van die kolonie getrek het. Die tweede groep was die grensboere in die Oos-Kaap, wat ’n sterker politieke dryf gehad het om die kolonie te verlaat, wat die Groot Trek onderneem het en wat later as die Voorste mense of Voortrekkers sou bekend staan. Die Voortrekkers se migrasie het in 1835 begin as gevolg van ontevredenheid met die Britse koloniale owerheid, aanhoudende grensoorloë, gebrek aan grond, arbeidsprobleme en ’n gevoel dat hulle polities gemarginaliseer is.

Die Britse owerheid het geen verdere grensuitbreiding anderkant die Visrivier toegelaat nie. Die Afrikanergrensboere was veeboere, en voor 1830 was daar reeds ’n skaarste aan goedkoop bruikbare grond.

Met die verloop van tyd is dokumente uitgereik vir drie tipes van grondbenutting en grondbesit, naamlik vir weiregte, leningsplase en eiendomsplase. Dit is in 1813 vervang met die stelsel van ewigdurende erfpag wat tans nog in werking is. Erfpaggrond, het wel erfreg beteken, maar sonder besitreg. Jaargelde was duur en die administrasie gebrekkig.

Vertraging in die uitreik van titelaktes het groot onsekerheid gebring. ’n Belangrike faktor was die groot verliese wat die grensboere aan die hand van die Xhosa gely het, veral in die Sesde Grensoorlog van 1835. Kompensasie was onvoldoende.

Die boere moes bowendien voorrade, beeste en perde vir die oorlogspoging afstaan en in burgerkommando’s die grensverdediging waarneem. In die buitenste distrikte het rondswerwende bendes rooftogte en veediefstalle onderneem en ’n veiligheidsprobleem geskep.

Slawehandel word verbied (1808)

Kort na die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 is slawehandel kragtens ’n 1807-wet vanaf 1808 aan die Kaap verbied. Die daaropvolgende jaar in 1809 is die eerste plaaslike “paswet” in werking gestel.

Volwasse Khoi-Khoin moes voortaan ’n vaste werk en woonadres hê. Die paswette en inboeking was die gevolg van die verbod op slawehandel, want die arbeidstekort na die afskaffing van slawerny moes verlig word. Die Britse Regering van die Kaap het proklamasies in 1812, 1819 en 1828 uitgevaardig wat bepaal het dat Koina-kinders van 8- tot 18-jarige ouderdom by ’n werkgewer ingeboek moes wees. Dit was nie slawerny nie, maar het op gedwonge knegskap neergekom.

Die getalle van die loslopende mense het toegeneem met Ordonnansie 50 van 1828 en die afskaffing van die passtelsel. Ordonnansie 50 het vry gekleurdes en Khoekhoen- of Hottentot-diensknegte van gedwonge arbeid onthef. Die bedoeling was om kneg en veewagter op gelyke voet met sy werkgewer te plaas, maar sodoende is baie mag van werkgewers weggeneem.

Arbeidswetgewing oor slawe het spanning tussen eienaar en slaaf gebring. Met die vrystelling van slawe op 1 Desember 1834 wat vier jaar later van krag sou word, het eienaars as gevolg van allerlei administratiewe reëlings slegs een vyfde van die waarde van hul slawe ontvang (en die geld moes in Engeland afgehaal word).

Wat sosiale faktore betref, het die Afrikanergrensboere hulself op ’n hoër vlak as die inheemse bevolking beskou. Hulle het hulself as Christene en swart mense as heidene gesien, heersers teenoor onderhoriges, met laasgenoemde wat nou aan hulle gelykgestel word. Die grensboere was ernstig gegrief oor hul verlies aan seggenskap met die afskaffing van die raad van landdros en heemrade, wat toe vervang is deur Magistrate hoofsaaklik van Engeland ingevoer om soortgelyke poste te vul. Oor die algemeen was daar ’n gevoel van wantroue en vervreemding teenoor ’n regering wat nie aan hul behoeftes aandag gegee het nie.

Was nasionalisme ’n oorsaak? Daar was ’n duidelike oogmerk om ’n onafhanklike staat te stig, maar ’n nasionale gevoel was nog onderontwikkeld. Nasionalisme was eerder ’n gevolg as ’n oorsaak van die Groot Trek. Nie alle faktore het ewe swaar by almal geweeg nie, maar uiteindelik het een vyfde van die wit bevolking van die Kaapkolonie getrek.

Oorsake van die Groot Trek

Daar was hoofsaaklik twee oorsake, naamlik finansieel en filantropies of anders gestel; materieel en ideologies.

Die materiële of finansiële oorsake kan onderverdeel word in: i) ’n tekort aan grond/weiveld; ii) gebrek aan kapitaal; iii) te min arbeiders en iv) die onveiligheid op die oosgrens.

Die ideologiese en filantropiese oorsake was: i) gelykstelling met die gekleurdes; ii) geen sê in die regering nie en iii) die hunkering na onafhanklikheid.

Tog was die Groot Trek nie ’n geval van weghardloop nie, sê Giliomee. Dit was ’n goed beplande massa-opstand teen ’n ondraaglike gebrek aan sekuriteit. Die trek het verskeie oorsake gehad, maar hulle kan opgesom word as ’n gebrek aan grond, arbeid en veiligheid.

Veral ná die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 sou die Voorpospioniers al meer oor ’n utopie begin droom het. ’n Droomruimte waarin hulle nie oorheers en gemarginaliseer sou word deur vreemde amptenare of onderdrukkende wette en regulasies nie. Sodanige utopie is egter plekloos, totdat die droomplek ’n werklike plek word.

Voor 1828 is aandag veral op die gelykberegtiging van die Hottentotte en Gekleurdes toegespits; tot 1833 is oorweldigende aandag aan die bevryding van die slawe gewy; en daarna is op die beleid ten opsigte van inboorlingstamme buitekant die Kolonie gekonsentreer. Sendingbedrywighede sowel buite as binne die Kolonie het sterk toegeneem. Ou genootskappe soos die “London Missionary Society” en die Wesleyane, en nuwes, soos die Paryse Evangeliese, die Berlynse, die Amerikaanse sendelinge en die “Church Missionary Society”, het met mekaar gewedywer om steeds meer afgeleë stasies aan te lê.

Onder verdere kragtige filantropiese druk van TF Buxton en sy organisasie het die Imperiale Parlement in 1833 besluit om slawerny finaal dwarsdeur die Britse Ryk af te skaf.

Daarkragtens sou die sowat 35 745 Kaapse slawe op 1 Desember 1834 ook vrygestel, maar nog vier jaar lank by hul here ingeboek word, beskerm deur spesiale magistrate, hoofsaaklik uit Engeland ingevoer. Nieteenstaande ’n sterk besparingsmotief, word nietemin deur die Imperiale owerhede £20 miljoen as vergoeding aan die slawe-eienaars in die Britse Ryk geskenk.

Van 1830 het Philip hom begin beywer vir die afskaffing van die kommandostelsel en spoedig sukses behaal. ’n Goed georganiseerde filantropiese perspropaganda het in Engeland verskyn. In November 1833 het Stanley vir D’Urban aangesê om die kommandostelsel finaal te staak en ’n nuwe stelsel te ontwerp. Onder filantropiese invloede is die nuwe sisteem van verdrae met buitekoloniale inboorlinghoofde aanvaar.

Soos in die meeste pionierslande was daar ook in die Kaapkolonie ’n chroniese arbeidsgebrek. Aanvanklik is die inboorlinge onproduktief bevind, en die aankoop van slawe het veel kapitaal geverg. ’n Beter opleiding en beheer oor kinders met die gemengde bloed van Hottentotte en slawe is deur die inboekstelsel verskaf. Mettertyd is ontstamde inboorlinge, groot en klein, deur die landswet en landsgebruike al meer as arbeiders in die blanke gemeenskap ingeskakel.

Onder invloed van dr. Philip en Andries Stockenström se propagandaveldtog in Engeland en hulle getuienis voor die Aborigines Committee, stel Lord Glenelg, die nuwe minister van kolonies, Andries Stockenström aan as luitenant-goewerneur met die opdrag om die verhoudinge tussen blank en swart op ’n verdragstelsel, en nie vergelding nie, te grond. Glenelg regverdig die plunderaars se gewelddadige optrede en gee die koloniste en die Kaapse gesagsvoerders die skuld vir die onrus. D’Urban se grensreëlings word omvergewerp en die geannekseerde Province of Queen Adelaide word aan die swartes teruggegee.

In 1820 tot 1821 is sowat 5 000 Britse Setlaars in die land gebring … wat, tesame met die 4 000 Britte wat tussen 1806 en 1820 die land binnegekom het, die totaal op 9 000 gebring het, teenoor sowat 43 000 Afrikaners, 30 000 Hottentotte en 35 000 slawe – ’n totale koloniale bevolking van sowat 112 000 siele.

Daar is drie keuses vir die grensboer: “Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het.” Dit was in 1825 die woorde van Andries Stockenström in die drosdy van Graaff-Reinet teenoor twee sendelinge van die Londense Sendinggenootskap (John Philip en William Wright) en ’n liberale Britse setlaar Thomas Pringle).

Stockenström (1792-1864) was landdros en sou in 1828 in Grahamstad as kommissaris-generaal van die oostelike provinsie word. Hermann Giliomee beskou hom as die grootste Afrikaner van die 19de eeu. Anders as die ander goed opgevoede amptenare het hy homself “Afrikaner” en “Boer” genoem. Hy was volgens Giliomee in Die Afrikaners ’n eerlike man met ’n vurige, onafhanklike gees en kon geen skynheiligheid verdra nie.

Sy gespreksgenote het Stockenström probeer stilmaak deur te sê dat die koloniste geen reg het om in die grensgebied te wees nie. Stockenström het geantwoord dat die Britte hierdie beginsel meer as elke ander nasie verontagsaam het.

Grensboere het kommissies aangestel wat die moontlikhede vir ’n rustiger lewe elders moes ondersoek. ’n Verkenningstrek onder Hendrik Scholtz het die Soutpansbergstreek verken, ’n tweede onder Jan Andries Pretorius het ongunstig gerapporteer oor Damaraland, en die derde onder Pieter Lafras Uys het einde 1834 teruggekom met ’n besonder gunstige verslag uit Natal.

Binne twee jaar daarna het die uittog van die Voortrekkers begin. Destyds is hulle Emigrante-Boere genoem. Die naam Voortrekkers is van later en is in 1840 die eerste keer gebruik. Die naam Afrikaner was darem ingeburger; Louis Tregardt skryf in sy dagboek Africaander en Affrikaanders. Andries Pretorius noem ds. GWA van der Lingen van die Paarl in 1838 in ’n brief “een waare Afrikaan”, terwyl ’n leidende Afrikaner, CJ Brand, aan Pretorius skryf dat hy “Afrikaander is”.