Die Groot Trek – Hoofstuk 3 Deel 4
August 3, 2020
Laurika Postma (1903-1987)
August 14, 2020

Sarel Feldtmann

Oosgrensboere (vervolg)

Die “Corps Pandoeren”, 1793-1795

Die Pandoere was krygers ter verdediging van die Kaapkolonie teen die einde van die Nederlandse bewind. Hulle het later bekendgestaan as die Kaapse Korps.

Hierdie artikel belig die stigting en rol van die “Corps Pandoeren” aan die Kaap in die jare 1793-1795. Dit was ’n voordelige manier om die Kolonie te versterk teen ’n moontlike buitelandse vyand. Die korps is saamgestel uit weerbare manlike Khoekhoen (Khoi-Khoin) en persone van gemengde afkoms wat vertroud was met die gebruik van ’n geweer. Die offisiere was afkomstig uit ervare lede van die burgermag met Jan Cloete in 1795 as kommandant.

Die pandoere is as ligte infanterie operasioneel aangewend nadat ‘n Britse besettingsmag in Junie 1795 in Simonsbaai aangekom het. Na die Britse aanslag op die Kompanjiespos Muysenburg (vandag Muizenberg) het die pandoere in samewerking met die burgerkavallerie by verskillende geleenthede sukses behaal as onkonvensionele of guerillavegters teen die vyand. Die ongevalle aan die kant van die pandoere was beperk, maar op 1 September het ontevredenheid in eie geledere gelei tot ‘n opmars van gewapende pandoere vanaf Steenberg na die Kasteel in Kaapstad. Kommissaris Sluysken het hulle gemoedere kalmeer deur beloftes van beter onderhoud en twee stuiwers aan elkeen geskenk. Daarna was die dissipline en betroubaarheid van die pandoere in die weegskaal. Tog het tydgenootlike waarnemers, met enkele voorbehoude, groot lof vir die korps as ‘n effektiewe gevegseenheid gehad.

Wie of wat was die trek-/grensboere?

Soos hul Khoi-Khoi-eweknieë, was die Boere ook voortdurend op soek na beter weiding en water om uit te brei na die binneland in die noorde en oostelike streke. Baie Boere het ’n semi-nomadiese pastoriale leefstyl gevolg, soms nie ver verwyder van die Khoi- en San-mense wat hulle verplaas het nie.

Benewens sy vee, het ’n gesin ’n wa, ’n tent, ’n Bybel en ’n paar gewere gehad. Namate hulle meer gevestig geraak het, sou hulle ’n modder- of ’n kliphuisie bou, wat gewoonlik op ’n plek van eie keuse, en dae se reis van die naaste dorpie of nedersetting geleë was. Dit was die eerste van die trekboere (later verkort na Boere of is ook Afrikaners genoem).

Hierdie Boere het ’n bestaan gemaak heeltemal onafhanklik van amptelike regerings of plaaslike beheer, hulle was uiters selfonderhoudend en geïsoleerd. Hul harde manier van lewe het individue geskep wat goed vertroud was met die land en omgewing. Soos baie pioniers met ’n Christelike agtergrond, het die burgers probeer om hul lewens te leef op grond van leringe uit die Bybel.

Die trekboere het die vrye en onbeperkte lewe op hul ossewaens en in tente verkies bo die meer beskermde bestaan ​​binne die gebied van die dorpsadministrasie. Die prys wat hulle vir hul lewenstyl moes betaal, was ’n voortdurende gewapende konflik met inheemse volke.

Die Khoi-Khoi- en San-mense het voortdurend teëstand gebied ​​teen die verowering van hul woongebiede en weiveld. Vanaf die eeuwisseling was dit die mense van die Xhosa wat in die ooste gewoon het wat teen die trekboere se uitbreidings in opstand gekom ​​het. Gereelde skermutseling het voorgekom, veral in die Zuurveld in die ooste van die kolonie, tot by die grens van die Groot Visrivier.

In die dorpsgemeenskappe het die gevaar van ’n konfrontasie ook begin toeneem. Hier was die opponerende partye, aan die een kant die burgers, wat gestreef het na politieke outonomie, en aan die ander kant ’n swak, korrupte en byna bankrot koloniale administrasie. Die inwoners het hul onafhanklikheid van die koloniale administrasie geëis. In Swellendam en Graaff-Reinet is die eerste republieke uitgeroep, hoewel hulle slegs ’n kort tydjie bestaan ​​het.

Die magstryd tussen burgers en administrasie het geëindig met die landing van Britse skepe aan die Kaap en die anneksasie van die kolonie deur die Verenigde Koninkryk in 1795.

Britte bring rasgevoel na die Kaap

(Uittreksel van dr. Piet Muller – Britte het rasgevoel na die Kaap gebring)

Die neiging van een groep om meerderwaardig te voel teenoor ’n ander groep is blykbaar universeel. Die woord Khoi-Khoi, waarmee die inheemse inwoners van die Kaap hulself genoem het, beteken “ware mense” of “mense van mense” en die woord San was hul skeldnaam vir die Boesmans, wat hulle nie as volwaardige mense beskou het nie.

Ná die Britse oorname van die Kaap in 1814 het kleurvooroordeel sterk begin toeneem. Lady Anne Barnard skryf dat mense van kleur, hoe ryk of goed opgevoed ook al, geen hoop het om deel van die toonaangewende klas aan die Kaap te word nie.

Mense in gemengde huwelike het as gevolg van sosiale druk toenemend uit die Boland na die Oosgrens verhuis, en vandaar dikwels ook in een van die Groot Trek se laers beland. Ons weet ook uit Louis Trichardt se dagboek dat sy trek – die heel eerste – ’n besonder rasgemengde trek was.

Hierdie groter kleurverdraagsaamheid het blykbaar tot vroeg in die twintigste eeu voortbestaan, aangesien verskeie Vrystaatse burgers ná die Anglo-Boereoorlog met gekleurde vroue uit St. Helena teruggekeer het.

Bloedvermenging onder die Afrikaners

Hierdie is een voorbeeld van bloedvermenging onder Afrikaners in Suid-Afrika.

Lijsbet (Sanders) van die Kaap, (’n slavin) haar dogter, Maria Evert, ook bekend as Swarte Maria, het ’n verhouding met Bastiaan Colijn en word die voormoeder van die Colijn-familie. By die bekende vrygestelde – en welgestelde – slaaf Louis van Bengale het Lijsbet later drie kinders, Elizabeth, Anna en Maria Louisz, wat almal rolle in verskeie Afrikanerfamilies speel. Lijsbet het verskeie verhoudings gehad, onder meer met Johan Herbst, waaruit Clara Herbst gebore is. Clara was 13 toe die volgende Herbst-kind gebore is.

Clara se suster, Gerbrecht Herbst, trou met Johannes Vosloo, wat waarskynlik self die kind van die slavin Constantia was. Uit hierdie huwelik is ’n dogter, Helena Vosloo, gebore wat met Johannes Pretorius trou. Onder hul nageslag tel die Voortrekkerleier Andries Pretorius en sy seun pres. Marthinus Wessel Pretorius, die stigters van Pretoria. Van die Pretoriusse af loop Lijsbet se bloedlyn oor die Oosthuizens, Cronjes en De Jagers tot by die Mullers.

Clara trou in 1712 met Johannes Potgieter. Deur Clara en haar drie dogters by Louis van Bengale, lewer Lijsbet se nageslag persoonlikhede op soos die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter, generaals Louis Botha en Koos de la Rey, die trekvoël Coenraad Buys, die Voortrekkerverkenner Hans Dons de Lange, wat later deur die Britse bewind in Natal tereg gestel is en selfs die skrywer CM van den Heever.

Pres. Paul Kruger van die ZAR het ook haar bloed in sy are, hoewel sy direkte voormoeder Johanna Kemp is. Sy is die dogter van Nicolaas Kemp, wat in ’n amptelike dokument as “halfslag” beskryf word.

Die Slagtersnek-rebellie (1815-1816)

Die Slagtersnek-rebellie verwys na ’n boer in die Oos-Kaap, Johannes Bezuidenhout se kortstondige opstand teen die Britse bewind in die tydperk 1815-1816. Dit word ook as een van die redes vir die ontstaan van die Groot Trek beskou. Die naam Slagtersnek, waar die rebelle gevang is, is ontleen aan die Britse handelaars van Grahamstad wat hier bymekaar gekom het om die boere in die omgewing se slagdiere te koop.

Op ’n plaas naby wat vandag as Somerset-Oos bekend is, het Frederik Bezuidenhout ’n Khoi-Khoi-werker met die naam van Booi van diefstal verdink en sy loon teruggehou. Booi het Bezuidenhout gaan verkla van aanranding by die landdros op Graaff-Reinet. Bezuidenhout het twee keer geweier om voor die hof te verskyn en hy is in absentia tot een maand gevangenisstraf op 5 Oktober 1815 gevonnis. Die Britse regering wou graag hul gesag oor die boere in die verre oosgrens vertoon, en het ’n mag van 12 Khoi-Khoi-soldate, destyds Pandoere genoem, met ’n blanke offisier op 16 Oktober 1815 na Bezuidenhout se plaas gestuur om hom in hegtenis te neem.

Bezuidenhout het hom verset en is deur een van die Khoi-Khoi-soldate in ’n skuiling tussen rotse op sy plaas doodgeskiet.

Op sy begrafnis het sy broer Johannes Bezuidenhout wraak gesweer en saam met ’n groep vriende het hy ’n opstand teen die Britse regering in die Kaap beplan. Hulle wou die Britse regering en die Khoi-Khoi uit die Oos-Kaap verdryf. Hulle het die Xhosa-hoofman Gaika (ook Ngqika genoem) vir hulp genader en aangebied dat hy die hele Zuurveld as betaling sou ontvang. Gaika het nie belang gestel nie.

Hendrik Prinsloo is kort daarna deur ’n mag van 70, wat 40 Engelse soldate en 30 kommandolede ingesluit het, in hegtenis geneem. Die rebelle het onsuksesvol probeer om hom te ontset en ander boere in die omgewing gevra om by die opstand aan te sluit. Die rebelle het op 18 November 1815 aan die Britse mag by Slagtersnek oorgegee. Johannes Bezuidenhout het hom teen inhegtenisname verset en is ook doodgeskiet. ’n Paar het verder oos na die Xhosas se land gevlug. Die ander is in hegtenis geneem en voor die hof gedaag.

32 rebelle is uit die Oos-Kaap verban en ses van die rebelleleiers word op 20 Januarie 1816 ter dood veroordeel op ’n klag van hoogverraad. Een, Willem Krugel, word later deur die Kaapse goewerneur, Lord Charles Somerset, begenadig. Op 9 Maart 1816 word Hendrik Frederik Prinsloo, Stephanus Cornelis Bothma, Cornelis Johannes Faber, Theunis Christiaan de Klerk en Abraham Carel Bothma in die openbaar gehang.

’n Groot skare het gesien hoe die luike onder die mans weggehaal word en vier van die vyf galgtoue breek. Omstanders het gesmeek dat die mans begenadig moet word aangesien God die laksman wou teregwys, maar die Engelse offisier het bloot beveel dat die mans weer gehang moes word.

Die Bezuidenhouts het volkshelde geword en die gebruik van die Hottentot-pandoere om Bezuidenhout te skiet, het haatdraendheid by baie van die boere aan die Oosgrens teenoor die Britse bewind aan die Kaap laat oplaai. Die bitterheid wat hieruit ontstaan het, sou Afrikanernasionalisme aanwakker in die jare voor die Groot Trek.