Die Groot Trek – Hoofstuk 3 Deel 3
July 31, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 3 Deel 5
August 12, 2020

Sarel Feldtmann

Oosgrensboere (vervolg)

Die opgang van Napoleon Bonaparte (1795)

Napoleon het die Sewe Provinsies van Nederland in 1795 beset, wat die moederland van die VOC was. In 1795 het Prins Willem V van Oranje in ballingskap na Engeland gegaan. ’n Paar dae later het die Bataafse rewolusie plaasgevind, en die Nederlandse Republiek is vervang met die Bataafse Republiek. Direk na sy aankoms in Engeland het die prins ’n aantal briewe (bekend as die Kew Letters) vanaf sy nuwe woning in Kew aan die goewerneurs van die Nederlandse kolonies geadresseer waarin hulle opdrag gegee is om hul kolonies te oorhandig aan die Britte “om veilig gehou te word.”

Alhoewel slegs ’n aantal voldoen het, het dit bygedra tot hul verwarring en demoralisering. Byna alle Nederlandse kolonies is mettertyd deur die Britte beset, wat uiteindelik die meeste teruggegee het, maar nie almal (Suid-Afrika en Ceylon) nie; eers tydens die Verdrag van Amiens en later met die Verdrag van Londen, 1814.

Dit het Groot-Brittanje aangespoor om die Kaap in 1795 om taktiese redes gedurende die Napoleontiese Oorloë te beset. Die VOC dra sy landgebiede oor na die Bataafse Republiek in 1798, en hou op bestaan in 1799. Die Britse mag gee die Kaapkolonie weer terug aan die Bataafse Republiek in 1803.

In 1806 word die Kaap weer deur die Britse mag beset gedurende die Slag van Blaauwberg in ’n poging om Napoleon uit die Kaap te hou, asook om die handelsroetes na die Verre Ooste te beheer.

’n Britse kolonie word op 8 Januarie 1806 daargestel, en die Kaapkolonie bly onder Britse beheer tot die vorming van die Unie van Suid-Afrika in 1910, waarna dit die Provinsie van die Kaap die Goeie Hoop geword het, beter bekend as die Kaapprovinsie.

In die loop van die 19de eeu het die Kaap ’n grondwetlike ontwikkeling soortgelyk aan dié van Brittanje se ander kolonies ondergaan. Die kroonkoloniebestuur wat aanvanklik toegepas is, het al die mag in die hande van die goewerneur geplaas. Hy moes dikwels in regstreekse opdrag van die Britse regering optree sonder dat hy die geleentheid gegun is om sy eie diskresie te gebruik. Die verontagsaming van die wense van die plaaslike bevolking het daartoe gelei dat baie griewe teen die Britse owerheid ontstaan het, en was die grondliggende oorsaak van die Groot Trek.

Die Slag van Muizenberg (7 Augustus 1795)

Alhoewel daar nie baie slagoffers was met die Slag van Muizenberg nie (twee of drie aan die Britse kant) en die “geveg” nie baie lank geduur het nie, was hierdie optrede een van die belangrikste punte in die geskiedenis van die Kaap de Goede Hoop. Vanaf 1652 tot 1795, het Nederlanders die Kaap regeer en die baie belangrike seeroete na die Ooste beskerm, wat die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (VOC) toegang tot die speserye en rykdom van die Ooste verleen het.

As ’n agtergrond vir hierdie “geveg” moet ’n mens kyk na wat destyds in Europa gebeur het. Frankryk was betrokke in ’n oorlog met Engeland en Holland. Die Franse het Holland in 1794 suksesvol binnegeval en die Prins van Oranje het na sy bondgenote in Engeland gevlug. Die ander belangrike faktor wat as agtergrond van hierdie situasie onthou moet word, was die afstand van die Handelspos aan die Kaap en die gebrek aan kommunikasie met Europa. Die enigste kommunikasie was oor die see en dit was selde en nie gereeld nie.

Aan die Kaap was die kommissaris-generaal Abraham Sluysken die hoof van die VOC se sake. Behalwe dat hy nie oor die situasie in Europa ingelig was nie, is sy taak om sake aan die Kaap te beheer moeiliker gemaak omdat die VOC begin wankel het en daar verdeeldheid in die geledere van die burgers aan die Kaap was. In April 1795 het die Nederlandse fregat, die Medemblik, nuus gebring oor die Franse vordering vir diegene aan die Kaap. Ongelukkig het die skip voor die val van die monargie daar uit Holland vertrek, en Sluysken was nog steeds onder die indruk dat die Britte bondgenote en die Franse vyande van die Nederlanders was.

Gegewe die onrus in Europa en die belangrikheid van die Kaapse seeroete na Indië, het die Britse regering ’n vloot van sewe “Royal Navy”-skepe onder bevel van vise-admiraal Elphinstone gestuur om die Kaap as verversingsstasie te beveilig en as hul poort na die Ooste. Die vloot het vroeg in Junie 1795 in Simonstad aangekom. Die Nederlandse troepe in Simonstad het teruggetrek na hul fort in Muizenberg, terwyl die Britte ’n afvaardiging na die Kasteel in Kaapstad gestuur het, wat aan Sluysken voorgestel het dat die Nederlanders die Kaap oorhandig aan die Britte. Die voorstel is verwerp en die Britse afvaardiging het na Simonstad teruggekeer.

Die posisie van die Muizenbergfort was ’n baie slim keuse vir die vestiging van die fort, aangesien dit in ’n posisie is waar enige persone wat van noord na suid beweeg net onder die fort sou moes deurgaan. Die berg in hierdie omgewing is redelik steil af na die see se kant toe, en dit sou baie moeilik gewees het om die fort aan die bergkant verby te steek. Die een nadeel van die fort was dat dit binne bereik van kanonvuur vanaf die see was.

Op 7 Augustus 1795 het die Britte hulle aanval geloods. Die Engelse het met hul infanterie en matrose van Simonstad na Vishoek en Kalkbaai begin marsjeer met die doel om die fort in Muizenberg aan te val. Terselfdertyd het vier van die “Royal Navy” se skepe van Simonstad af parallel aan die kus gevaar en geanker, min of meer oorkant die fort. Omstreeks 14:00 het hulle ’n bombardement van kanonkoeëls op die Nederlandse fort laat reën.

Daar word geglo dat die bombardement ongeveer 30 min geduur het en in daardie tyd het die Britte baie kanonkoeëls vanaf die skepe afgevuur. Dit het nie lank vir die Nederlanders geneem om te besef hulle is nie in dieselfde klas as die Engelse nie, en dat alles verby is. Die Nederlanders het die fort vinnig verlaat en teruggetrek na Zandvlei en die Retreat-area. (Vandaar die naam ‘Retreat’ in die Kaap). ’n Aantal kanonkoeëls is oor die jare teruggevind. Een is te sien by die ingang van die Shoprite-winkel in Muizenberg.

Versterkings is van die kasteel gestuur, maar die geveg vir die Nederlanders was reeds verby by die Muizenbergfort. Die Nederlanders het teruggeval en in die omgewing van Wynbergheuwel kamp opgeslaan. Verskeie skermutselings het voortgeduur oor die volgende ongeveer ses weke, totdat daar uiteindelik ’n dooiepunt bereik is. In September het die Nederlanders probeer om die fort by Muizenberg weer in te neem, maar is hulle aanval afgeweer. Intussen het die hoofmag van die Britse vloot met al hul versterkings in Simonstad aangekom en ’n nuwe aanslag op Kaapstad het op 14 September 1795 begin, met die Hollanders wat oorgegee het op 16 September 1795.

Dit het daartoe gelei dat die Britte sewe jaar lank die Kaap oorgeneem het. Die Nederlanders het in 1804 en 1805 weer in die Kaap regeer (die Kaap is weer Hollands) onder die Bataafse Regering. Die Kaap is toe weer deur die Britte verslaan in die Slag van Blaauwberg op 8 Januarie 1806. Hierna het die Britte die Kaapkolonie en Suid-Afrika regeer tot 1961 toe die Republiek van Suid-Afrika gebore is.

Die Slag van Blaauwberg (8 Januarie 1806)

Die Slag van Blaauwberg, wat naby Kaapstad op 8 Januarie 1806 geveg is, was ’n klein maar deurslaggewende militêre botsing. Twee Britse infanteriebrigades onder lt.genl. David Baird het ’n Nederlandse garnisoen en burgermageenheid onder lt.genl. Jan Willem Janssens verslaan en die Kaap finaal geannekseer. Dit het Britse heerskappy in Suid-Afrika gevestig wat menige gevolge gedurende die 19de en 20ste eeu sou hê.

Die slag word gesien as deel van die Napoleontiese Oorloë in Europa. Op daardie stadium het die Kaapkolonie aan Nederland, wat toe as die Bataafse Republiek bekend gestaan het, behoort. Nederland was op daardie stadium onder Franse beheer. Weens die belangrikheid van die seeroete om die Kaap het die Britte besluit om die kolonie in besit te neem om te verhoed dat dit – en die seeroete – in Franse hande val. ’n Britse vloot is in Julie 1805 na die Kaap gestuur om te verhoed dat Franse troepeskepe wat deur Napoleon gestuur is die garnisoen in die Kaap kon versterk.

Die kolonie is deur lt.-genl. Jan Willem Janssens bestuur, wat ook die hoof van die militêre magte was. Die magte was klein en van swak gehalte en het buitelandse eenhede ingesluit wat deur die Bataafse regering gehuur is. Hulle is deur plaaslike burgermageenhede gerugsteun.

Die eerste Britse oorlogskip het die Kaap op Oukersaand in 1805 bereik en twee voorraadskepe naby die Kaapse Skiereiland aangeval. Janssens het sy garnisoen op gereedheidsgrondslag geplaas. Toe die hoofvloot Tafelbaai op 4 Januarie 1806 binnevaar, het hy die garnisoen gemobiliseer, krygswet afgekondig en die burgermag opgeroep.

Na ’n vertraging wat deur rowwe see veroorsaak is, het twee Britse infanteriebrigades, onder die bevel van lt.-genl. sir David Baird, by Melkbosstrand, noord van Kaapstad, geland op 6 en 7 Januarie. Janssens het sy troepe verskuif om hulle af te sny. Hy was van mening dat ’n oorwinning as onmoontlik beskou kon word, maar dat die eer van die vaderland ’n geveg vereis het. Sy bedoeling was om die Britte op die strand aan te val en dan na die binneland te onttrek waar hy gehoop het hulle kon wag tot Franse troepeskepe sou opdaag.

Op die oggend van 8 Januarie, terwyl Janssens se stadig bewegende kolonne steeds deur die veld beweeg het, het Baird se brigades egter hulle opmars na Kaapstad begin en die hange van die Blaauwberg, tans ‘Blouberg’ gespel, ’n paar kilometer voor Janssens bereik. Janssens het sy magte tot stilstand gebring en ’n lyn oor die veld gevorm.

Die slag het teen sonsopkoms begin met wedersydse kanonvuur. Dit is gevolg deur ’n aanval deur Janssens se berede burgermageenheid en sarsies musketvuur van beide kante. Een van Janssens se gehuurde buitelandse eenhede het uit die binnekolonne van die veld af gehardloop. ’n Britse bajonetaanval het ontslae geraak van die eenhede aan Janssens se regterflank en hy het die res van die troepe beveel om terug te val.

Toe die slag begin het, het Janssens 2049 troepe gehad. Sy totale verliese en drosters was 353. Baird het die slag met 5399 begin, en het 212 verliese gely.

Van Blaauwberg af het Janssens binnelands beweeg na ’n plaas in die Tygerberg gebied, en vandaar het sy troepe binnelands na die Elandskloof in die Hottentots-Hollandberge, omtrent 50 km van Kaapstad beweeg.

Die Britse magte het die buitewyke van Kaapstad op 9 Januarie bereik. Om te verhoed dat Kaapstad en sy burgerlike bevolking aangeval word, het die kommandant van Kaapstad, lt.-kol. Hieronymus Casimir von Prophalow, ’n wit vlag uitgestuur. Hy het die buitefortifikasies aan Baird oorhandig, en later in die dag is die terme van oorgawe onderhandel.

Die formele “Articulen van Capitulatie” t.o.v. Kaapstad en die Kaapse Skiereiland is die volgende namiddag, 10 Januarie, by ’n huis te Papendorp (vandag die woonbuurt ‘Woodstock’) onderteken. Die huis het later as “Treaty Cottage” bekend gestaan, en alhoewel die huis lankal gesloop is, dra die straat langsaan nog die naam “Treatystraat”. ’n Ou witmelkhoutboom in die tuin staan as die Verdragboom bekend en is as ’n nasionale monument verklaar.

Die Bataafse Goewerneur van die Kaap, lt.-genl. Janssens het egter nog nie homself en sy oorblywende troepe oorgegee nie en het sy plan gevolg om vir so lank moontlik uit te hou in die hoop dat die Franse troepeskepe waarvoor hy soveel maande gewag het, sou opdaag en hom red.

Hy het slegs 1238 troepe saam met hom gehad, en oor die volgende paar dae het 211 van hulle gedros. Janssens het vir ’n week in die berge uitgehou. Baird het brig.-genl. William Beresford gestuur om met hom te gaan onderhandel. Op 16 Januarie het die twee generaals by Gerhard Croeser se plaas naby die Hottentots-Hollandberge konferensie gevoer, maar hulle kon nie ’n ooreenkoms bereik nie. Later, na verdere oorweging, en oorleg met sy senior offisiere en raadgewers, het Janssens toe besluit om die bitter pil te sluk. Hy het ingestem om oor te gee, en die finale Artikels van Kapitulasie is op die 18de Januarie onderteken.

Waar die ondertekening van die finale artikels plaasgevind het, is nie seker nie. Vir baie jare word dit aanvaar dat dit op die plaas Goedeverwachting was, en ’n afskrif van die Artikels van Kapitulasie word wel daar vertoon. Maar meer onlangse navorsing, wat in dr. Krynauw se boek Beslissing by Blaauwberg gepubliseer is, dui aan dat Croeser se plaas (vandag die Somerset-Wes gholfbaan) die eintlike lokaal was. ’n Artikel wat die destydse dominee van Stellenbosch, dr. Borcherds, in die 1820’s gepubliseer het, wys ook na Croeser se plaas.

Die voorwaardes van die oorgawe-ooreenkoms was redelik gunstig ten opsigte van die Bataafse soldate en die Kaapse burgers. Janssens, en die Bataafse amptenare en troepe is in Maart van die jaar na Nederland teruggestuur.

Die Britse magte het die Kaap beset tot 13 Augustus 1814, toe Nederland die kolonie as ’n permanente besitting aan Brittanje oorgegee het. Dit het ’n Britse kolonie gebly totdat dit opgeneem is in die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910.