Die Groot Trek – Hoofstuk 2 Deel 1
July 10, 2020
André Huguenet (1906-1961)
July 13, 2020

Sarel Feldtmann

Trekboere (vervolg)

Boere sonder grond

Die ooreenkoms tussen die jag en die trek van die veeboere na die binneland, blyk duidelik uit die feit dat die eerste weilisensies in die agtiende eeu uitgereik is in die gebiede wat teen die end van die vorige eeu die meeste deur jagters besoek is.

Verder is dit opmerklik dat die weilisensies en jaglisensies aan die begin van die agtiende eeu deurmekaar in die “Oude Wildskutte Boeken” geregistreer is, en dat hierdie boeke hul oorspronklike naam behou het, selfs nadat daarin alleen weilisensies oorgeskrywe is.

Uitbreiding na die Land van Wavern met eiendomsplase

Willem Adriaan van der Stel met sy stelsel van weilisensies, het voldoende bewyse gelewer dat hy nie die trek met vee as ’n euwel beskou het nie. Die kwalifikasie vir veebesit is dan ook later verander. Instede van eiendomsgrond te moet besit, moes ’n veehouer slegs as burger ingeskrywe wees.

Dis opmerklik dat hierdie uitbreiding na die Land van Waveren nog geskied het op die basis van die eiendomsplaas, bedoel vir die landbou. Hierna sou die veeboer vooruit trek om die land op die basis van weilisensies, wat in die eerste instansie in die behoeftes van die veeboerdery voorsien het, te okkupeer.

Die Koloniste het hulle uitsluitlik toegespits op veeteelt

Sulke veeboere het dikwels op hul veeposte vir eie gebruik gesaai, maar hulle het in die eerste plek veeboere gebly. Die landbouer het later agternagekom. Selfs in die Land van Waveren waar permanente kolonisasie plaasgevind het op die basis van die eiendomsplaas, het die koloniste hulle aanvanklik byna uitsluitlik op die veeteelt toegelê, en weinig koring en glad nie wyn geproduseer nie.

Teen hierdie tyd kon daar al op verskillende plekke in die binneland ekstensiewe jagter-veeboere aangetref word, bv. by Riebeeck-Kasteel, Vier-en-twintig-riviere, die Heuningberge, asook by Groenkloof en Roodesand, waar die boere geen koring of wyn geproduseer het nie, maar daarteenoor was die somer weiding uitstekend want die gras en water was altyd genoeg.

Die Koloniste lewe heeltemal geïsoleerd van die buitewêreld

Hierdie pioniers het heeltemal geïsoleerd van die buitewêreld gelewe. Om Roodesand te bereik, was byvoorbeeld baie moeilik, want dit was haas onmoontlik om met ’n wa oor die steil Obiquaberge te kom. Die eerste pioniers wat daarheen getrek het, moes onder die berg hul waens aflaai en uitmekaar haal, en toe sowel die vrag as die wa stuksgewys na bo dra.

Die jag op wild het die pioniers daagliks beoefen, want dit het avontuurlike ontspanning en kos verskaf. Die meeste boere het hoofsaaklik van die jag gelewe. Hierdeur het hulle hul vee gespaar en die hamels verkoop.

Die Trekboere het nes die Hottentotte rondgeswerf

Dit het hulle in staat gestel om kruit en ander essensiële lewensbenodigdhede aan te skaf. Intussen het die vee mis verskaf, wat hulle in die plek van brandhout gebruik het, waar laasgenoemde artikel moeilik te vinde was.

In die begin het die trekboere nie vaste woonplekke gebou waar hulle getrek het nie. Nes die nomadiese Hottentotte het hulle van die een plek na die ander rondgeswerwe om nuwe weivelde te soek as die oues afgevreet was, of wanneer dit droog geword het.

Die Koloniste se huise was baie eenvoudig

Die trekboere se hartbeeshuise (as tydelike woonplekke) was baie eenvoudiger as dié van die vermoënde mense in Kaapstad en omstreke. Dit was ’n eenvoudige bouvorm, en is sedert die negentiende eeu as gevolg van kontak met die blankes, ook deur baie swart mense nagevolg. Voor dié was die swart mense se huise hoofsaaklik rond.

Hartbeeshuise is maklik deur termiete verniel en het soms weens swaar reën ineengestort. Die benaming hartbeeshuis het niks met die hartbees (dier) te doen nie, maar is ’n vervorming van die samevoeging van harub, die Khoi-Khoin-woord vir biesies, en die Afrikaanse woord biesies self. Uit harub+biesies+huis het die benoeming van hartbeeshuis ontstaan. Dié huise is agtergelaat wanneer verder getrek is.

Die Koloniste lewe heeltemal geïsoleerd

Op hierdie wyse het die half-nomadiese, vleis-etende jagterveeboer ontstaan, die trekboer, wat dwarsdeur die loop van ons pioniersgeskiedenis op die voorposte van die beskawing gestaan het, en gedurende die agtiende eeu ’n groot stuk van Suid-Afrika vir die witman verower het.

Vryburgers begin boer sonder eiendomsgrond

In Februarie 1678 het die regering aan Henning Hüsing en Claas Gerrits, twee van die Kompanjie se veewagters, wat geen eiendomsgrond besit het nie, hul vryheid verleen en hulle toegelaat om in die omtrek van die Steenberg op eie rekening ’n veeboerdery te begin.

In dieselfde jaar het Cornelis Stevensz met ’n versoek vorendag gekom om sy vee aan die “Wynkelder” te laat wei. Hierdie versoek is ook toegestaan. Cornelis Stevensz is egter gewaarsku dat hy op ’n ander plek weiding vir sy vee moes gaan soek ingeval die Kompanjie later die veld vir sy eie beeste nodig sou kry. Die bedoeling was nie om weiregte permanent weg te gee nie, maar alleen om ’n tydelike vergunning te maak wat weer na willekeur herroep kon word.

Vryburgers begin boer sonder eiendomsgrond

Henning Hüsing en sy maat het die reg gekry om “op die uiterste uithoek van die Steenberg, wat geleë is seewaarts in die rigting van Valsbaai” met hul vee te gaan wei.

Cornelis Stevensz is toegelaat om “agter die Steenberg by of omtrent by die plaas Wynkelder” te gaan staan. Die boere kry dus in dieselfde omgewing weiregte, maar in albei gevalle word net ’n vae aanduiding van die lokaliteit gegee.

Kolonisasie moes op digbevolkte landbounedersettings geskied

Volgens Simon van der Stel se opvattings van kolonisasie moes uitbreiding na die binneland op die basis van digbevolkte landbounedersettings geskied. Waar die grond vir bewerking geskik was, moes die koloniste hulle naby mekaar op klein eiendomsplasies vestig. Hulle kon die veeboerdery as ’n bybedryf beoefen, maar hulle moes in die eerste plek die grond bewerk.

Die goedbewerkte eiendomsplaas moes dus die onverbiddelike uitgangspunt van hul veeboerdery bly. Die onuitgegewe kroongrond in die onmiddellike omgewing van die nedersetting kon deur die koloniste gemeenskaplik gebruik word. Die reg op die gebruik van Kompanjiesweivelde volg dus vanself uit die besit van eiendomsgrond.

Die stelsel van gemenegrond word gehandhaaf

Simon van der Stel was dus nog van plan om die stelsel van gemene weiding te handhaaf. In 1687 het hy ook vir die boere van Stellenbosch op hul versoek ’n stuk grond as gemeenskaplike weiveld aangewys. Hierdie grond kon alleen deur boere van Stellenbosch gebruik word.

Die weidingsgebied van die Kaap en Stellenbosch sou streng geskei van mekaar gehou word en vee van een distrik sou nie in ’n ander toegelaat word nie. Die Stellenbosch-boere is selfs verbied om vee van die Kaapse boere teen betaling onder hul troppe te hou.

’n Paar jaar later het die weiveld in albei distrikte te beperk geword. Om verdere emigrasie na Stellenbosch en Drakenstein moontlik te maak, het die Goewerneur toe in 1691 die grense van die distrik uitbrei, sodat die uiterste einde van die Pêrelberg en die Babiloniese Toring daardeur ingesluit is.

Die oogmerk van die Goewerneur was blykbaar net om die gemeenskaplike weidingsgebied van die Kaapse distrik uit te brei. Die rede waarom hy vereis het dat die boere sy skriftelike toestemming verkry voordat hul vee na die toegevoegde weiveld gestuur het, lê voor die hand.

Die gebied het so ver van die Kaap af gelê dat die boere dit onmoontlik kon laat bewei as hulle hul vee elke aand – soos die wet vereis het – moes laat huis toe kom. Verder was dergelike lisensies nodig om kontrole uit te oefen oor die trekboere wat in die binneland met vee rondgeswerwe het sonder dat hulle grond besit en bewerk het.

Verder is dit opvallend dat die geldigheidsduur van die vroegste weilisensies dikwels verskil het. Tot 1705 is daar altesame vyftien lisensies uitgereik. Hiervan was sewe vir drie maande geldig, een vir vier maande, twee vir ses maande, en een vir nege maande en twee vir ’n jaar. In twee gevalle is die duur van die lisensie nie vermeld nie.

Die weilisensies het slegs ’n vae aanduiding van ’n lokaliteit bevat. In 1704 byvoorbeeld is in al die lisensies verlof verleen om in die duine agter die “Graauwe heuvel” te gaan wei, sonder dat daar in enige van die lisensies vaste punte genoem is. In 1705 is aan vyf uit die agt boere wat lisensies uitgeneem het, weer op dieselfde plek weiregte toegeken. Die volgende jaar kry 32 uit 44 boere aan wie weilisensies uitgereik is, die reg om hul vee “in Groenkloof” te laat wei.

Aangesien daar dus jaar na jaar aan verskillende boere in dieselfde omgewing weiregte verleen is, sonder dat daar vir elkeen ’n afsonderlike weidingsgebied aangewys is, is dit duidelik dat dit nie die bedoeling van die Goewerneur was om aan die afsonderlike lisensiehouers partikulêre weiregte op aparte stukke grond te verleen nie.

Klaarblyklik moes die lisensiehouers volgens aloue gewoonte die weiveld in so ’n omgewing gemeenskaplik gebruik. Aldus was die stelsel van weilisensies aanvanklik net ’n aanvulling van die stelsel van gemeenskaplike weiveld.

Inderdaad het daar ook vir ’n boer wat ’n eiendomsplaas besit het en maar net sy vee tydelik die veld ingestuur het, weinig aanleiding bestaan om die vee op ’n vaste punt te laat posstaan.

Sy weilisensie het hom nie aan ’n bepaalde plek gebind nie en hy het dus blykbaar die reg gehad om met sy vee van een plek na die ander te trek as weiveld of water skaars geword het, of as daar te veel ander boere in sy nabyheid kom posstaan het.

Die boere het meer as een veepos besit

Daar was baie boere aan die Kaap wat 4, 8, 16 en meer veeposte diep in die binneland gehad het, hoewel daar in sy tyd volgens die “Oude Wildschutte Boeken” geen boer was wat meer as een weilisensie op sy naam gehad het nie.

Dan moet ons aanneem dat die boere eenvoudig hul vee van een tydelike veepos na ’n ander laat rondtrek het, en dat die aantal tydelike veeposte wat ’n lisensiehouer gebruik het, van sy persoonlike willekeur afgehang het.