Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 6
July 7, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 2 Deel 2
July 13, 2020

Sarel Feldtmann

Trekboere

Boere sonder grond

Die Trekboer wat die natuurlike uitbreiding van die Kaapkolonie na die noorde voor die Groot Trek gelei het, het hoofsaaklik bestaan uit die oorskotbevolking van die reeds bewoonde dele: jong beginners en ander onbemiddeldes wat nie meer in die bestaande Kaapse gebied verniet of onder maklike voorwaardes loopplek vir hulle vee kon kry nie: boere sonder grond.

Oorskakeling van Buiteposte na Vryburgerplase

Die Here XVII het in 1707 aanbeveel, “dat al die boerdery en verskaffing van hout, vis, vleis en graan aan die VOC, geleidelik oorgedra moes word na die Vryburgers aan die Kaap, oor ’n tydperk van ’n paar jaar”.

Daar moes genoeg tyd aan die Vryburgers gegee word om hulself reg te kry vir hierdie oorskakeling van regeringsplase (buiteposte) na die boere (Vryburgers) sodat die skeepsvoorsiening aan die VOC nie deur die verandering skade sou ly nie.

Oorskakeling na veeboerdery

Die gevolg van hierdie reëling was dat die Vryburgers baie meer grond benodig het en dit het weer veroorsaak dat meer Vryburgers oorgeskakel het na veeboerdery. Die beskikbare en geskikte grond met water en weiding het al verder weg verskuif van die Kaap. Weens die lang afstande na die Kaap om hul produkte af te lewer was dit moeilik en het die Vryburgers al meer geïsoleerd geraak.

Die Statebybel

In die lewe van die trekboere het huisgodsdiens ’n belangrike plek ingeneem. Feitlik elke gesin het die “Statenbijbel” besit, wat met die grootste sorg opgepas is. Dit is die Bybel wat in opdrag van die State-Generaal tussen 1626 en 1635 vertaal en volgens besluit van die Sinode van Dordrecht in 1637 uitgegee is.

Die Khoi-Khoin word in diens geneem

Die Vryburgerboere was nie meer net die landbouers van die geslag voor hulle nie. Hulle het veeboere begin word. Omdat die Khoi-Khoin self veeboere was, kon hul veekennis goed deur die Vryburgerboere gebruik word. Ander Khoi-Khoin het weer as seisoenwerkers op die plase begin werk.

Die Khoi-Khoin trek saam die binneland in

Al hoe meer Vryburgers en veeboere, met hul Khoi-Khoin-veewagters en dié se gevolg, het teen die begin van die agtiende eeu die moeilike tog oor die Hottentots-Hollandberge na die binnelandse grensgebied onderneem.

Dit was die enigste heenkome wat vir hulle oor was in die soeke na weiveld vir hul groter wordende veetroppe, en ook om van die VOC af weg te kom – eers in kleiner getalle, en later meer en meer, al hoe dieper die binneland in.

Die Khoi-Khoin trek saam die binneland in

In 1685 is ’n landdros in Stellenbosch aangestel. Die landdros en sy heemraad het omgesien na die belange van die Vryburgers in die hele gebied buite die Kaap. Sestig jaar later in 1745 volg Swellendam, vernoem na die goewerneur Hendrik Swellengrebel en sy vrou Helena Wilhelmina ten Damme.

Die blankes steun meer en meer op Khoi-Khoin-arbeid

Dit was veral die pokke epidemie van 1713, wat die grootste moeilikhede met die Hottentotte opgelos het. Baie van hulle het hulle hierna in die binneland gaan vestig. Die wat in die Kaapkolonie bly woon het, het gaandeweg in diens van die Blankes getree.

Teen die einde van die 18de eeu, was hulle tot ’n groot mate afhanklik van die Blankes, wat aan die ander kant, veral toe die beweging teen slawerny toegeneem het, meer en meer op Hottentot-arbeid gesteun het. So het ’n nuwe aspek van die swart arbeidsprobleem ontwikkel.

Agente van die VOC koop vee van Trekboere

Die veestapel aan die Kaap het bo verwagting gegroei tot meer as wat nodig was om die VOC en hul skepe te voorsien. In die tweede helfte van die 18de eeu het hulle ook aan vreemde skepe (Engelse en Franse) vleis voorsien.

Agente van die VOC het rondgetrek om vee van die Vryburgers op die afgeleë plase aan te koop. Hulle het dan ’n brief (IOU) as bewys, die sogenaamde “Slachters-brieven”, aan die boer gegee. Hierdie bewyse kon dan later in die Kasteel ingeruil word vir betaling en so kon hulle dan ander nodige gebruiksware aankoop.

Wat die agente bereid was om saam te neem, was gewoonlik net ’n gedeelte van die oorvloed in vee. Die hoeveelheid vee wat die boere besit het, was hul trots en rykdom. Die agente het dikwels ook nie ’n behoefte gehad om die ver afgeleë gebiede te besoek nie.

Dit wat die boer nog te verkoop gehad het, al sy byprodukte soos velle, botter, seep en kerse, kon hy op sy ossewa laai wanneer hy een of twee maal per jaar die lang pad aangepak het na die Kaap om sy slagtersbriewe te gaan wissel.

Terselfdertyd kon hy dan sy sake met die goewerment afhandel en al sy lewensnoodsaaklike benodighede aanskaf. Die wins was net genoeg om die mees eenvoudigste benodigdhede aan te koop.

Die VOC as ’n bedryf moes winsgewend wees

Die direkteure van die VOC wou hê dat die verversingspos betalend moes wees en, indien moontlik, ’n wins moes toon. Daarom het die Kompanjie die invoerhandel beheer. Dus het daar geen private winkels in die Kolonie bestaan nie.

Die burgers moes handelsartikels soos speserye, suiker, tee, porseleinware en kledingstowwe by die Kasteel koop. Daar was werklik geen teken van vryhandel aan die Kaap nie; die Kompanjie het feitlik ’n monopolie van al die handel gehad deur die beperkinge wat hy opgelê het.

Belasting

’n Direkte belasting op die produkte wat verkoop word en die verhuur van grond was ’n verdere bron van inkomste vir die VOC. Die tiende, die belasting op wyn, rekognisiegelde en ander belastings is ook ingestel. ’n Tiende van die jaarlikse wins is gemaak uit verkope van graan of beeste, wat volgens ‘n opgaaf van die boer bereken is (soos inkomstebelasting).

Hierdie syfers was gewoonlik laer as wat dit werklik was. Daar was ook ’n klein belasting vir die uitroei van wilde diere – jagters of boere wat gejag het om ’n bestaan daaruit te maak.

Al hierdie belastings is aan die sekretaris van die Heemraad by die drosdy betaal. Die swaarste belasting was die fooie wat burgers aan die amptenare moes betaal wanneer hulle hul produkte gaan verkoop het by die Kasteel by die Kompanjie se pakhuise in Kaapstad.

Surplusse

Aangesien die surplusse van koring en wyn na 1706 toegeneem het, is die burgers toegelaat om ’n persentasie van hierdie handelsartikels na Batavia uit te voer, maar dit moes deur middel van die Kompanjie se skepe geskied.

Weilisensies

Die vermeerdering van veeboere en ’n behoefte aan meer weiding was die oorsaak dat die veeboere dieper die binneland ingetrek het. Gedurende 1703 is weilisensies deur die Van der Stel-administrasie uitgereik aan veeboere wat daarvoor aansoek gedoen het.

Met die verloop van tyd is dokumente uitgereik vir drie tipes van grondbenutting en grondbesit, naamlik vir weiregte, leningsplase en eiendomsplase. Dit is in 1813 vervang met die stelsel van ewigdurende erfpag wat tans nog in werking is.

Akkerbou word aangemoedig

Om akkerbou aan te moedig, is grond in eiendom aan die pagters toegeken. Die koloniste moes dan die grond bewerk, ontbos, ploeg en plant. Dit was gedoen om genoeg koring te produseer vir eie gebruik aan die Kaap en nie meer rys in te voer van Batavia af nie.

Indien die grond nie ontwikkel was nie, sou hul eiendomsreg op die grond verval en sou dit dan aan iemand anders gegee word wat bereid was om die grond beter te gebruik.

Oordragkoste word ingestel

Om Vryburgers aan hul grond te bind, is ’n twee en ’n half persent oordragkoste ingestel op die koop en verkoop van alle eiendom. ’n Addisionele tien persent sou gehef word as die grond binne drie jaar verkoop word en nog ’n vyf persent as die grond binne tien jaar verkoop sou word.

Met die lae prys van koring wat die VOC betaal het, het sommige Vryburgers om ’n bestaan te maak na ’n ander uitkoms gesoek. Die binneland met sy goeie weivelde, fabelagtige wildrykdom en veeryke inboorlinge was die moontlike oplossing daar, en voor die einde van die 18de eeu het die eksodus van die jagter-trekboere na die binneland begin.

Veeboerdery is makliker as graanboerdery

Veeboerdery was van die begin af makliker as graanboerdery. Dit het baie minder gekos om ’n skaap te teel of te ruil as om ’n mud koring te produseer en dit het omtrent dieselfde markwaarde gehad. Om die graanproduk in die Kaap te kry, was groot moeite met hoë koste terwyl vee hulself op hul eie bene na die mark kon vervoer.

Die koloniste wat aan die Kaap gebore was, het vinnig vermeerder en moes iewers ’n heenkome vind. Hierdie mense het die land as hul eie beskou en het nie meer daaraan gedink om na die moederland te ontsnap nie. Hulle moes op een of ander manier lewe en slegs die veeboerdery was vir uitbreiding vatbaar.

Weiregte

Weiregte was die eerste keer in 1679 aan ’n aantal boere in die binneland verleen. Henning Hüsing, Nicolaas Gerrits, Jochem Marquaart en Hendrik Elberts is toegelaat om hul vee langs die Eersterivier te laat wei, terwyl Pieter Visagie en Jan Mostert by Tierberg weiregte toegeken is.

Simon van der Stel se standpunt was as iemand eiendomsgrond besit het, dan het hy outomaties weiregte op grond in die omtrek van sy plaas besit. As hy nie eiendomsgrond besit het nie, dan het hy ook nie die reg gehad om vee te besit nie.

Die boere het met verloop van tyd die gewoonte ontwikkel om hul vee, waarskynlik meestal onder toesig van ouer seuns, knegte, of miskien betroubare slawe, diep die land in te stuur om daar tydelik weivelde te gaan soek.

Plakkaat word uitgereik oor weiding

Daar is deur die Politieke Raad besluit om dringend ’n plakkaat uit te reik wat die boere beveel om saans hul vee, nadat dit bedags gewei het, in die aand terug huis toe te bring. As iemand agt dae aaneen met sy vee van die huis af weg gebly het, sou al sy vee gekonfiskeer word.

Een derde sou die Kompanjie kry, die fiskaal sou ’n derde ontvang, en die orige derde sou na die persoon gaan wat die klag ingebring het. Die plakkaat is dieselfde dag opgestel maar eers drie maande later uitgereik.

Die trek met vee word deur Willem Adriaan gewettig

So het die boere al voor die einde van die 17de eeu begin om periodiek met hul vee te trek. Simon van der Stel se verset hierteen was heeltemal tevergeefs. Net nadat hy sy amp in 1699 afgestaan het aan sy seun, het Willem Adriaan die trekkery met vee offisieel gewettig deur die uitreiking van weilisensies.

Hieruit het later ’n vaste stelsel van grondbesit ontwikkel wat besonder goed aangepas het by die vereistes van die ekstensiewe veeboerdery. Maar ten spyte hiervan het willekeurige rondtrekkery op onuitgegewe kroongrond nog altyd voortgeduur, en is deur die regering oogluikend toegelaat, hoewel daar dikwels plakkate uitgevaardig is om dit te belet.

Die soldate by die buiteposte moes toesien dat die boere nie onwettig vee by die Hottentotte koop of ruil nie. Die boere het dan bedags al verder van die buiteposte hul vee die veld ingestuur, die Hottentotte op ’n voorafbestemde plek ontmoet, die geruilde vee by hul eie gejaag, en saans teruggekom asof daar niks gebeur het nie.

Nog ’n Brokkie oor Jan van Riebeeck

In 1639 het Johan Anthoniszoon “Jan” van Riebeeck by die VOC (Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie) aangesluit en in April 1639 na Batavia as assistent-chirurg gevaar. Daarvandaan het hy na Japan gegaan en in 1645 het Van Riebeeck beheer oor die maatskappy se handelsstasie by Tongking (Tonkin, nou in Viëtnam) oorgeneem.

Van Riebeeck is teruggeroep van die pos in Tongking omdat daar ontdek is dat hy vir sy eie gewin handel gedryf het en sy inkomste met private handel probeer aanvul het, dit het egter gelei tot sy ondergang. Op pad terug na Nederland het sy skip by die Kaap aangedoen. Terug by die VOC het hy verneem van hul voorneme om ’n handelstasie aan die Kaap te stig en hy het aansoek gedoen vir die pos.

Jan van Riebeeck vertrek op 24 Desember 1651 vanaf Texel na die Kaap. Op 5 April 1652 het hy in die Kaap aangekom met 3 skepe (Reiger, Drommedaris en Goede Hoop), teen omtrent 17:00, vergesel van 82 mans en 8 vrouens. Weens gurige weer het hy eers die volgende dag, 6 April 1652, aan wal gegaan. Die voorraadskepe die Walvisch en die Oliphant was ook deel van die vloot, en het later aangekom nadat hulle van die res van die vloot afgedwaal het gedurende ’n storm op die vaart na die Kaap. Daar was 130 sterftes op hierdie skepe op pad na die Kaap.

Die eerste nat winter was moeilik met 19 van Van Riebeeck se mense wat gesterf het. Die mense het in houthutte gewoon, hul tuine het weggespoel en voedselvoorrade het vinnig gedaal. In die eerste vestigingsjare was hulle afhanklik van voorrade vanaf Nederland, Batavia en verbygaande skepe.

Die San-mense (Boesmans)

Toe die Nederlanders in die Kaap aangekom het, was die area alreeds bewoon deur San en Khoi-Khoin-mense. Die San of Boesmans was “Jagter-gaarders” en het hoofsaaklik van die veld en die natuur gelewe – wild gejag, plante en vrugte geëet wat hulle in die veld gekry het. Hulle het geen vee besit nie en hoofsaaklik getrek na waar die natuur vir hulle voorsien het. Hulle was gewoonlik in groepe van 50 mense en minder.

Die Khoi-Khoin-mense (Hottentotte)

Die Khoi-Khoin-mense of Hottentotte soos hulle bekend gestaan het was veeherders met skape, beeste en bokke. Hulle het ’n baie rustige lewe gely en het in gemeenskappe van omtrent 100 mense of meer voorgekom wat saam met hul vee getrek en gebly het. Hulle het hulself op sosiale vlak gesien as ’n beter klas mens as die Boesmans.

Beide die Khoi-Khoin en San-mense het van die veld en omgewing gelewe. As die natuur dit genoodsaak het, in geval van droogte of seisoensveranderinge en in ’n behoefte aan beter weiding, het hulle na ’n ander gebied getrek. Die land was vir die gebruik van almal en daar was nie afgebakende grense soos wat deur die Europeërs aan gewoond was nie.