Magnus Malan (1930-2011)
July 6, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 2 Deel 1
July 10, 2020

Sarel Feldtmann

Voorgeskiedenis van die mense aan die Kaap (vervolg)

(Ander brokkies en interessante inligting)

Antonio de Saldanha

In 1503 het Admiraal Antonio de Saldanha, wat ’n Portugese vloot gelei het, Tafelbaai aangedoen as gevolg van ’n navigasiefout. (Tafelbaai was Aguada da Saldanha genoem tot 1601 – Waterplek van Saldanha.) Hulle was die eerste Europeërs om Tafelberg uit te klim, wat hulle die naam van Taboa do Cabo gegee het weens die voorkoms (die Tafel Kaap).

Die ingang na Tafelbaai was heel waarskynlik nie deur die eerste seevaarders op hul uitvaarte om Kaappunt aangedoen nie, so ook die Portugese handelsvloote van 1501 en 1502; almal het verby die Kaap gevaar ver van die land af.

Admiraal Antonio de Saldanha, geteister deur ’n storm, seil in 1503 die eerste keer Tafelbaai binne, en sy ervaring het nie goed afgeloop nie. De Saldanha het Tafelberg uitgeklim om sy posisie te bepaal, maar het spoedig kennis gemaak met die Khoi-Khoi. Hy het hulle geskenke aangebied in die vorm van spieëls, glaskrale en ’n “rattle” in ruil vir twee skape en ’n bees.

De Saldanha het die diere met hom saamgeneem, maar miskien was die winskoop ’n misverstand. ’n Groep van tweehonderd Khoi-Khoi het die Portugese in ’n lokval gelei en hul diere teruggevat. De Saldanha is gewond.

Fransisco de Almeida

Na die insident met Admiraal Antonio de Saldanha was daar weer Portugese vlote wat die Kaap aangedoen het in 1505 en 1506 sonder enige voorvalle.

In Desember 1509 vertrek Fransisco de Almeida met ’n terugkerende vloot, die Onderkoning van Portugees-Indië, vanaf die ooste terug na Portugal, en bereik Tafelbaai by die Kaap de Goede Hoop teen die einde van Februarie 1510, waar hy anker gooi om sy watervoorraad aan te vul.

’n Groep van sy manskappe besoek ’n naby geleë Khoi-Khoi-stat waar hulle in ’n onenigheid betrokke raak, en ’n goeie loesing op die lyf loop deur die Khoi-Khoi. Die matrose was baie ongelukkig oor die loesing en de Almeida gee die volgende dag toestemming aan sy kapteins Pedro en Jorge Barreto om na die stat terug te keer op die oggend van 1 Maart 1510 om weerwraak te neem. Die Barreto’s slaag daarin om die beestrop van die Khoi-Khoi-stam te roof, met die verlies van een van hul eie manskappe wat per ongeluk gedood word.

Fransisco de Almeida het sy 150 manskappe wat wraak gaan neem het by die Khoi-Khoi-stad, ingewag met ’n Portugese vaandel so ’n paar honderd meter van die strand af. Die vlagskipmeester Diogo d’Unhos, het egter die landingbote wat die Portugese na die land gebring het, gebruik om die vaatjies vir hul watervoorraad aan te vul by die waterpunt, verder teen die strand af, oorkant die monding van die Soutrivier in Tafelbaai (daar waar die Kasteel later gebou was). Dit het de Almeida gestrand gelaat sonder ’n ontsnaproete terug na die veiligheid van hul skepe.

Die Khoi-Khoi het ’n onverwagse aanval geloods op die strand teen die Portugese, wat eintlik nie voorbereid en bewapen was op ’n aanval nie, en die Khoi-Khoi het daarin geslaag om die meeste van die Portugese te oorrompel. In die aanval sterf de Almeida en 64 van sy manskappe, insluitend 11 van sy kapteins. De Almeida se geskende liggaam word dieselfde middag teruggevind en naby die strand van die huidige Kaapstad by die mond van die Soutrivier in ’n massagraf begrawe.

Vir die Portugese was hierdie ’n groot vernedering om soveel van sy top militêre manne, wat soveel welslae bereik het in die ooste, te verloor teen ’n groep barbare met primitiewe wapens op ’n strand by “Aguada da Saldanha”.

Koning Manuel I van Portugal, heerser van die eerste Wêreldryk en een van die magtigste mense van sy tyd in die wêreld, het besluit om geen verdere Portugese landings langs die Kaapse kus te doen nie. Hierdie besluit was geneem as gevolg van die moorde op Fransisco de Almeida en sy manskappe. Dit het ook direkte Europese betrokkenheid aan die Kaap vertraag vir die volgende 142 jaar.

Ander skermutselings met die Khoi-Khoi deur die jare

Gereelde insidente het voorgekom tussen Europese matrose en die Khoi-Khoi. Matrose van die VOC het probeer om handelsbetrekkinge met die Khoi tot stand te bring, maar het spoedig ook die Kaap vermy nadat 13 Hollandse matrose omgekom het in gevegte met die Khoi-Khoi in 1598 na ’n verskil. Hulle het weer probeer om handel te dryf in die 1620’s, maar weereens was daar ’n slagting van 32 Hollandse matrose in 1632 wat hulle betrekkinge met die Khoi-Khoi versuur het.

Die kommunikasieprobleem met die Khoi-Khoi

Engelse skepe het gereeld by die Kaap aangedoen op hul heen- en retoerreise na die Ooste. Hulle het hulself ververs deur handel te dryf met die Khoi-Khoi aan die Kaap. Kommunikasie was ’n probleem, hulle het ook min geweet van die Khoi-Khoi se area en hul kultuur. Daar is toe in 1613 besluit om ’n Khoi-Khoi-hoofman Xhore na Engeland te ontvoer.

Een van die direkteure van die Engelse VOC, die EEIC (English East India Corporation), Sir Thomas Smythe het ’n bisarre plan beraam om ’n Khoi-Khoi-man Engels te leer praat. Hy het ’n geheime instruksie gestuur dat ’n hoofman van die Khoi ontvoer en na Engeland gebring moes word.

Hoofman Xhore is deur Kaptein Towerson na sy skip, die Hector, genooi vir ’n paar aande se uiteet en ’n gekuier. Een aand in Mei 1613, toe Xhore en sy metgesel in ’n domheid van dronkenskap verval het, het die Kaptein die seile gespan en vertrek na Engeland met die dronk spul aan boord.

Xhore se vriend het daarna geweier om te eet en het op pad Engeland toe gesterf. Xhore het die vaart oorleef en is na Smythe se huis geneem en geklee en geakkommodeer as ’n waardige Heer.

Xhore het ’n beroemde in die hoë samelewing geword. Elke dag is Xhore onderrig in die Engelse taal, maar die miserabele Xhore het dom gespeel en gemaak asof hy glad nie Engels kon leer nie, tot eendag wat Smythe hom gedruk het om oor sy huis te praat. Xhore het gebreek en in welsprekende Engels gesmeek om terug te gaan na sy huis toe.

Uiteindelik is sy wens toegestaan en het hy aan boord van die Hector in Junie 1614 teruggekeer na die Kaap. Xhore het alleen aan wal gestap met ’n glinsterende brons pak (knights suit) en ’n brons spies. Sy stam het hom gesien as iemand wat uit die dood uit opgestaan het, en hulle het hom vereer. Die nagevolge van Xhore se terugkeer na die Kaap was dat hy dadelik beheer oorgeneem het van die ruilhandel met vleis en die prys aansienlik verhoog het.

Posklippe aan die Kaap

Vanaf omtrent 1615 het daar ’n gewoonte ontwikkel deur die Engelse en Hollanders om verslae van hul skepe se aankoms aan die Kaap op stene te graveer en te plaas by ’n sekere stroompie op die strand. Daarna het matrose begin om briewe onder die stene te plaas vir ander skepe om terug te neem Engeland toe. Voorbeelde van hierdie “posstene” kan by die Slawelosie Museum in Kaapstad gesien word.

Nog ’n ontvoering in 1615 (Harry die Strandloper)

Die gebruik van die “Handelswinde” oor die Suidelike Indiese Oseaan het dit noodsaaklik vir skepe gemaak om voorrade in te neem in Suid-Afrika voordat hulle die lang seeroete aangepak het na die Ooste.

Daar was toenemende handel met die Khoi-Khoi vanaf die eerste Engelse Oos Indiese Maatskappy-vloot se besoek aan die Kaap in 1591. Die Kommandeur, George Raymond, was vasbeslote om goeie verhoudings met die Khoi-Khoi op te bou en die vyandigheid wat die Portugese ondervind het aan die Kaap te vermy.

Hy het sy vloot vir ’n paar weke aan die Kaap gehou, geskenke uitgedeel aan die Khoi-Khoi en met hulle geruilhandel onder die wakende oog van gewapende soldate. Agtereenvolgende Engelse vlote het by die Kaap aangedoen en die Khoi-Khoi het naderhand sekere skepe en matrose begin herken en sodoende ’n vertroue opgebou.

In 1615 was daar nog ’n ontvoering, hierdie keer van ’n hoof genoem Hadah (Autshumao). Kaptein John Pynne het hom aan boord van sy skip die London geneem en daarna na Bantam vertrek. Onderweg het hy hom Engels en daar Hollands geleer. By sy terugkeer het Hadah en sy volgelinge hul gevestig op Robbeneiland en hier ’n poskantoor opgestel vir verbygaande skepe.

Eers het Hadah net vir die Engelse gewerk om boodskappe oor te dra na ander verbygaande Engelse skepe, maar met die tyd het hy vir al die nasionaliteite gewerk, insluitende die Hollanders. Met die koms van Jan van Riebeeck was Hadah aan hulle bekend as “Harry die strandloper”. Harry het later die amptelike vertaler vir Van Riebeeck aan die Kaap geword nadat die VOC hulle hier in 1652 gevestig het.