Die groot boomplanter

’n Vroeë Kaapse literêre werk
January 13, 2015
Die groot boomplanter
January 14, 2015

Simon van der Stel was ’n groot boomplanter. In die Kompanjiestuin in die Tafelvallei was daar sowat drieduisend vrugte- en ander bome, wat ingevoer is uit Europa, Asië en Amerika. Daaronder was mispels, vyebome en granate, terwyl populiere, wilgers en esbome teen die einde van die eeu mooi gevorder het.

Die Kompanjie se tuin in Rustenburg het byna sesduisend bome gehad. Daar het hy 3 600 jong eikeboompies geplant, en by die Kompanjie se skuur sowat 5 000. Die boere het teen 1695 ’n miljoen wingerdstokke geplant en in daardie jaar 8 294 mud graan geoes. Daar was 355 perde, 47 447 skape, 4 924 groot beeste en 1 097 kalwers. Die wit bevolking het in 1695 bestaan uit 402 mans, 183 vroue, 230 seuns en 220 dogters; terwyl daar 334 slawe en 72 slavinne was met 28 seuns en 17 dogters.

Van der Stel het wrokkig teenoor die “Franse nasie” gebly. Teen die einde van sy bestuur was hy sommer ergerlik vir die ander vryburgers ook. Party van hulle is volgens hom so onuitspreeklik aan die drank verslaaf dat hulle die landbou totaal verwaarloos. Hulle slag hul vee en put die grond uit. Dan kerm hulle dat hulle nie genoeg beeste het om die landerye te behartig nie, verlaat die uitgeputte lande en vra nuwe grond wat geen bemesting nodig het nie.

Geliefd onder die mense was Van der Stel seer seker nie, maar aan die ander kant het sy optrede geen verset uitgelok nie. Sy wette was streng maar regverdig. ’n Hoë besoeker, Hendrik Adriaan van Reede van Drakenstein, die Heer van Mijdrecht, wat die Kaap in 1685 besoek het, skryf in sy joernaal dat Van der Stel eerlik, trou en ywerig is, maar hooghartig en ongenaakbaar teenoor sy amptenare. Hulle het hom gevolglik op ’n afstand gehou en nie vertrou nie. By die Here XVII het hy Van der Stel geprys as ywerig, arbeidsaam, eergierig en met ’n goeie kennis van die landbou en wynbou. Hy let egter op dat hy moedeloos word wanneer die Here XVII so min waardering toon vir alles wat hy tot stand gebring het.

Hoewel die burgers gevra is om enige klag aan te meld wat hulle teen die owerheid mag hê, het niemand ooit ’n klag teen Van der Stel ingedien nie. Uit dit alles blyk dit dat hy ’n beskaafde mens was onder wie se beleid die Kaap stewig gegrondves is. Die welvaart van die burgers het toegeneem.

Teen 1698 was hy ’n betreklik eensame man. Van sy kinders het net Francois ’n selfsugtige bestaan aan die Kaap gevoer. Sy dogter was by haar moeder in Amsterdam. Drie van die seuns was in Nederland, en een het blykbaar in ’n skeepsramp omgekom. Hy was dus bly toe hy die nuus kry dat sy oudste seun Willem Adriaan hom sou opvolg. Willem, gebore op 24 Augustus 1664 in Haarlem, was vyftien jaar uit die Kaap afwesig, toe hy op 11 Februarie 1699 goewerneur word.

Na sy aftrede het Simon hom op sy plaas Constantia met groot ywer op die landbou toegelê tot met sy dood op 24 Junie 1712. Rondom sy sierlike woning was daar omstreeks 1699 reeds meer as agtduisend bome, hoofsaaklik vrugtebome – appelkose, perskes, amandels, pruime, pere, appels, kwepers, granate, okkerneute en sitrusvrugte.