DIE BRITSE BLOKHUISSTELSEL IN SUID-AFRIKA
February 27, 2017
DIE INVLOED VAN MEVROU RACHEL ISABELLA STEYN OP DIE LEWE VAN PRESIDENT MT STEYN EN HAAR ROL IN DIE AFRIKANERGEMEENSKAP
February 27, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

 

deur Johan Loock

Op 31 Maart het genl. Christiaan de Wet ’n groot taktiese oorwinning behaal toe hy ’n Britse oormag in die Koornspruit naby Sannaspos voorgelê het.

 

Militêre situasie: 13-28 Maart

Teen die middel van Maart 1900 was die Anglo-Boereoorlog vyf maande aan die gang en die gevegte van Magersfontein en Paardeberg alreeds deel van die geskiedenis van die wesfront. Na die inname van Bloemfontein op 13 Maart het ’n groot Britse mag feitlik stil gelê na die lang aanmarse op halfrantsoene. Lord Roberts het sy soldate laat rus en boonop moes hy wag totdat hy genoeg voorrade kon bekom voordat hy met sy beplande opmars na die noorde kon begin.

Omdat hy bewus was van Boere in die Karee-omgewing het Roberts ’n klein mag daarheen gestuur. ’n Groter mag van sowat 1700 man, hoofsaaklik berede infanterie, gerugsteun deur twee batterye van die Royal Horse Artillery, is onder genl. Broadwood ooswaarts na Ladybrand gestuur om ’n proklamasie uit te deel en om Boere te oorreed om hul wapens in te handig. Geen verkenners is na die Vrystaatse platteland uitgestuur nie sodat Lord Roberts onbewus van die plasing en bewegings van Boeremagte was.

Na die ontruiming van Bloemfontein was die Boere-oorlogsmag sonder planne vir die toekoms. Genl. Christiaan de Wet het wyslik besluit om sy manne huis toe te stuur met die opdrag dat hulle op 25 Maart weer moes versamel by die spoorbrug oor die Sandrivier. Op ’n krygsvergadering gehou te Kroonstad op 17 Maart is ’n besluit geneem wat verreikende gevolge vir die verdere verloop van die oorlog sou inhou. Daar is naamlik besluit dat die Boere voortaan met klein mobiele magte, onbelas met lomp bagasiekonvooie, sou aanval. Om aan hierdie besluit uitvoering te gee, het De Wet sy mag na Brandfort gelei vanwaar hy op 28 Maart na Sannaspos sou opruk om die watertoevoer van die Waterwerke na Bloemfontein af te sny.

Hy het sewe kanonne en sowat 1500 man van die Bloemfontein-, Ficksburg-, Wepener-, Winburg-, en Kroonstad-kommando’s onder genls. Piet de Wet, AP Cronjé, CC Froneman en JB Wessels tot sy beskikking gehad.

 

Krygsverrigtinge: 28-31 Maart

Teen 28 Maart was die plasing van die Britse magte oos van Bloemfontein as volg: By die groot kamp te Springfield was lt.kol. CG Martyr met 600 berede infanteriste gereed vir gebeurlikhede. Op Boesmankop het kapt. N Bainbridge die uitkykpunte en heliograafstasie met ’n kleinerige mag soldate beman. By die waterwerke langs die Waterwerkedrif oor die Modderrivier het maj. CG Amphlett met ’n ontoereikende groepie van 30 berede infanteriste die pompstasie bewaak. Verder oos het genl. Broadwood skielik ontdek dat hy bedreig word deur ’n kolonne onder genl. Olivier, wat na die haastige ontruiming van die suidfront, besig was om langs die grens van Basoetoeland noordwaarts te trek. Op 30 Maart het Broadwood aan lord Roberts gesein dat hy Thaba Nchu gaan ontruim en het hy vervolgens na die Modderrivier teruggeval. Sy bagasiekonvooi onder beskerming van berede infanteriste het die Waterwerke laat die middag bereik en die hoofmag onder Broadwood self het teen 16:30 op 31 Maart na ’n vermoeiende tog die kamp net wes van die drif bereik en tent opgeslaan. Intussen het lord Roberts met ontsteltenis kennis geneem van Broadwood se boodskap en dadelik vir genl. HE Colvile gelas om hom gereed te maak om vroeg die oggend van 31 Maart sy 9de Divisie na Boesmanskop te neem en vandaar na die Watervaldrif, ’n strategiese drif oor die Modderrivier, ses kilometer noord van Klipkraal.

Broadwood en Amphlett het nagelaat om verkenners uit te stuur en was gevolglik onbewus van die presiese bewegings van die Boere oos en noord van hulle.

Laat die middag van 28 Maart het De Wet sy mag vanaf Brandfort in die rigting van Winburg gelei, maar na donker het hy skielik regs geswaai en met sy lang tog suidwaarts begin. Bedags het De Wet stil gelê en snags het hy en sy burgers te perd in die rigting van die waterwerke gery. Teen middernag van 30 Maart was hy naby die waterwerke waar hy deur sy verkenners meegedeel is dat Broadwood se bagasiekonvooi Thaba Nchu verlaat het.

Spoedig was sy plan gereed. Hyself met 400 man van die Bloemfontein- en Kroonstad-kommando’s het die rivier oorkruis en stelling ingeneem in die natuurlike moot van die Koornspruit naby Klipkraal, ’n plaas vier kilometer wes van die waterwerke en sowat een en ’n half kilometer wes van die half voltooide Sannaspos-stasie. Teen 04:00 was De Wet se burgers uitgesprei weerskante van die Klipkraaldrif. Kleiner groepies is in die vierkantige klipkraal en ook op die plaaswerf geplaas.

Die res van De Wet se mag waaronder sewe kanonne is onder genl. Piet de Wet na die grond op Likatlong gestuur met die opdrag om teen sonop die Britte weswaarts in die rigting van die Koornspruit te jaag.

 

Die slagveld

Sannaspos-stasie is geleë op ’n groot vlakte begrens deur die Modderrivier in die ooste, noordooste en die noorde. Oos van die Modderrivier lê hoër grond vanaf Mamena in die suidooste tot by die heuwels van Likatlong twee kilometer noordoos van die waterwerke. Reg wes teenaan die Koornspruit vorm die lae rante ’n agtergrond vir ’n waarnemer wat vanuit die ooste die drif nader. Tussen die Koornspruit en Boesmanskop lê ’n golwende grasvlakte. Vanaf die kop is dit onmoontlik om te sien wat by die Klipkraaldrif in die Koornspruit aangaan soos Martyr en Colvile die oggend van 31 Maart sou uitvind.

 

Die geveg

By die waterwerke het Broadwood se moeë berede infanteriste gereed gemaak vir die lang mars na Bloemfontein en veiligheid. Hoe ongelooflik dit mag klink, was Broadwood en Amphlett nog steeds onbewus van Boere in die nabyheid, vanweë hul versuim om deeglike verkenning te doen. ’n Patrollie wat ooswaarts gestuur is, het in geweervuur vasgeloop. Dit tesame met die nuus dat die daaglikse patrollie wat weswaarts na Boesmanskop gestuur is, nog nie teruggekeer het nie, het nie te vreemd opgeval nie. Eers toe Piet de Wet se kanonne vanaf die Likatlong-heuwels op die kamp begin vuur het, het die bagasiekonvooi in beweging gekom en onder begeleiding van berede infanteriste en gevolg deur U- en Q-batterye van die artillerie, stadig die Koornspruit genader. Weereens is geen verkenners uitgestuur nie. Ook die hoofmag berede infanteriste wat die agterhoede gevorm het, was salig onbewus van wat by die Klipkraaldrif wag.

In die spruit was genl. De Wet gereed en wanneer ’n wa of kar deur die drif gery het, het ’n gewapende burger opgespring en die verskrikte drywer beveel om aan te ry, verby die klipkraal en tot agter die hoë grond op pad na Bloemfontein. Die opeenhoping van voertuie het gou die Britte se aandag getrek en die offisier en soldate wat vooruit gestuur is om die probleem te ondersoek, is gou ontwapen. In die geharwar het ’n offisier, waarskynlik maj. Taylor van U-Battery, teruggeglip en alarm gemaak. Toe die ses kanonne van elke battery probeer terugvlug na die stasie, het De Wet die teken gegee en sy burgers het die meeste van U-Battery se trekperde platgeskiet. Een kanon van U-Battery en al ses van Q-Battery het weggekom en naby die stasie stelling ingeneem en begin om na die onduidelike en feitlik onsigbare teiken in die Koornspruit te vuur. Vanuit hierdie posisie en later vanuit ’n tweede stelling by die sinkgeboue van die stasie het maj. EJ Phipps-Hornby van Q-Battery met byna roekelose dapperheid homself onderskei.

Broadwood het vinnig op die lokval gereageer: ’n mag berede infanteriste is suid-weswaarts gestuur met die opdrag om De Wet vanuit die suide aan te val. Hierdie aanvalle was onsuksesvol en Broadwood moes beveel dat die kanonne en berede infanteriste na Bloemfontein terugval.

Dit is nou nodig om na die militêre bedrywighede wes van De Wet te kyk. Vroeg die oggend het Martyr na Bosmanskop vertrek waar hy op Colvile gewag het. Toe laasgenoemde om 11:00 die kop bereik en probeer uitvind wat aangaan, was die geveg so te sê verby. Colvile is later in die rigting van Watervaldrif waar hy een stukkie goeie nuus gehoor het, naamlik dat kol. St. Henry dit reggekry het om ’n kompanie onder kaptein Radcliffe wat vroeg die oggend vanaf die waterwerke daarheen gestuur is, na veiligheid te lei.

Teen hierdie tyd was De Wet se burgers alreeds oos van die waterwerke op pad na Winburg om sewe kanonne, byna 100 waens en sowat 478 gevangenes weg te voer. Sowat 30 Britte en vyf Boere is gedood. Die dapper kanonniers van Q-Battery is met vier Victoria-kruise beloon: Maj. EJ Phipps-Hornby, sers. Charles Parker, kanonnier Isaac Lodge en drywer Horace Glassock.

In Bloemfontein het lord Roberts met toenemende frustrasie geluister na die gedonder van die kanonne in die verte, magteloos om op te tree weens ’n gebrek aan ’n reaksie-mag. Hy het nagelaat om ’n hof van ondersoek te hou. Sewe weke later moes hy verneem dat ’n groep soldate van die Imperial Yeomanry naby Lindley moes oorgee, byna binne skietafstand van Colvile. Colvile is teruggestuur na sy vorige pos in Gibraltar en na verdere intriges, gedwing om uit die leer te bedank. In 1907 sterf hy in ’n motorongeluk. Broadwood het dié oorlog oorleef, maar het in 1917 gedurende die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel.

Genl. De Wet het met ’n groot reputasie as ’n guerrilla-leier uit die oorlog getree. Hy het sy rustelose lewe as ’n boer en politikus voortgesit en na ’n onsuksesvolle en kortstondige loopbaan as ’n rebelleleier in 1914, weer na sy plaas teruggekeer waar hy rustig gewoon het tot sy dood in 1922.

 

Finale perspektief

Die geveg by Sannaspos was ’n groot taktiese oorwinning vir genl. De Wet. Binne ure na die geveg het hy met ’n klein uitgesoekte mag suidwaarts gery om ’n rondswerwende Britse mag in Dewetsdorp te oorrompel. Die Britse mag is by Mostertshoek vasgekeer en na ’n kort geveg tot oorgawe gedwing. Hierna het De Wet na Wepener en die Jammerbergdrif afgesit om ’n mag bestaande uit hoofsaaklik koloniale troepe ’n les te leer. De Wet se mag het uiteindelik na ’n onsuksesvolle beleg noordwaarts gevlug.

Met die tog na Wepener het De Wet sy opdrag om die enkele spoorlyn waarlangs al lord Roberts se voorrade vanuit die suide na Bloemfontein vervoer is, op te breek, ontwyk. Hierdie versuim sou verreikende gevolge vir die verdere verloop van die oorlog hê. Die taktiese oorwinning is dus deur ’n strategiese fout oorskadu.

 

Bronne

Amery, L.S. (ed). The Times History of the War in South Africa. Volume IV. London, 1906, p. 597.

Asselbergs, C.J. Die geveg by Sannaspost. Militaria 5(2). 1975, pp. 54-65.

Breytenbach, J.H. Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902. Volume IV. Pretoria, 1969-1996, p. 587.

Cassell’s History of the Boer War 1899-1902. Revised and enlarged edition, Volume 1. London, 1903, p. 928.

Colvile, H.E. The work of the Ninth Division. London, 1901, p. 247.

Davitt, M. The Boer fight for freedom. New York, 1902, p. 606.

De Wet, C.R. De strÿd tusschen Boer en Brit. Amsterdam, 1902, p. 508.

Field Intelligence Department. Farm list ORC, by districts. Bloemfontein, 1902, p. 316.

Imperial Blue Book, Cd. 1791. Minutes of evidence taken before the Royal Commission on the War in South Africa. Volume II. London, s.d., p. 720.

Imperial Blue Book, Cd 1792. Appendices to the minutes of evidence taken before the Royal Commission on the War in South Africa. London, 1903, p. 455.

Maurice, F. History of the war in South Africa 1899-1902 Volume II. London, 1907, p. 701.

Pakenham, T. The Boer War. London, 1982, p. 659.

Rabie, J.E. Generaal CR. de Wet se krygsleiding by Sannaspos en Groenkop. SAW Uitgawe No. 6. Pretoria, 1980, p. 67.

St. Leger, S.E. War sketches in colour. London, 1903, p. 274.

ZAR. Staatscourant, Deel XX, No. 1106, Lÿst No. 75. s.p.,1900, p. 296.