Geskryf deur dr. Lennie Gouws
Vertaal deur Daantjie Badenhorst
Omtrent al wat oorgebly het van die meulbedryf wat in die laaste deel van die 19de eeu baie suksesvol in Potchefstroom was, is meulstrome wat deesdae as stormwaterslote gebruik word, en straatname soos Molenstraat, Meulstraat en Hoffmanstraat. Die eerste twee het geen verduideliking nodig nie, maar die derde een is vernoem na ’n meuleienaar en Volksraadslid, Kootjie Hoffman.
Tussen 1847 en 1890 was daar omtrent nege meulens naby die Mooirivier in werking, tussen die Noordbrug en die plek waar die Wasgoedspruit in die Mooirivier in loop.
Potchefstroom is in 1838 gestig by Oudedorp omtrent 10 km stroomop van waar die dorp vandag is. Na ’n paar swaar reënseisoene, wat die grond ’n moeras gemaak het, is daar besluit om die dorp te skuif, aangesien dit onmoontlik was om graan te plant. Die nuwe dorp is in 1842 op sy huidige plek gestig. Landdros JHN Grobler het opdrag ontvang om toesig te hou oor die uitleg van die nuwe dorp; hy is vergoed met 29 ha grond in die gebied waar die voorstad Oewersig en die Fanie du Toit-sportgrond van die Noordwes-Universiteit vandag geleë is. Toe Andries Hendrik Potgieter in 1847 na Ohrigstad verhuis het, het Grobler hom vergesel en ’n familielid, Niclaas Grobler, het die nuwe eienaar van hierdie grond geword.
Hierdie stuk grond was langs die hoofpad na Pretoria, destyds bekend as die Wagenweg. Hierdie pad het gelei tot by die veiligste plek waar die Mooirivier oorgesteek kon word in die dae voordat daar brûe was. Langs die rivier naby die dorp was daar moerasse wat nie deur die ossewaens en ander verkeer oorgesteek kon word nie. Die Wagenweg was ’n verlenging van Kerkstraat in ’n noordelike rigting. Later, nadat Die Bult ontwikkel het, het dit as Noordbrugweg bekendgestaan. In 1932 is die dorpsraad versoek om die pad te herdoop ter ere van ds Dirk van der Hoff, die eerste voltydse predikant in Potchefstroom, maar toestemming van die Provinsiale Administrasie is eers in 1954 hiervoor gegee. Sedert 2007 staan hierdie straat as Thabo Mbeki-straat bekend.
Eerste meule
Niclaas Grobler het die eerste meul omtrent in 1847 gebou; dit het gestaan op die plek waar die Piet Malan-klubhuis by die Fanie du Toit-sportgrond vandag geleë is.
In 1855 het ene Henwood meultoerusting van Natal af met ’n ossewa na Potchefstroom gebring. Dit was egter so swaar dat die transportryers hom nog £15 ekstra gevra het en ’n tweede ossewa moes gehuur word om die toerusting te vervoer. In 1938 het Ernest Jenkins geskryf dat ’n reis van Pietermaritzburg na Potchefstroom met ’n ossewa in die 1850’s en 1860’s tussen 12 en 15 dae kon duur as die paaie droog was, maar dit kon tot ’n maand lank duur.
Tussen 1863 en 1866 het verskeie individue vertoë aan die plaaslike owerhede gerig om eiendomme vir hul eie meulens in die hande te kry, dalk omdat hulle besef het hoe suksesvol die eerste meul was. Die rede hoekom Die Bult vir die meulens gekies is, was die feit dat die gebied tussen Van der Hoffweg en die rivier steil genoeg na onder geloop het om ’n voor wat na die meul toe geloop het, te skep.
Op 25 Februarie 1863 het H Hendricks aan die landdros van Potchefstroom geskryf en gesê dat ’n groot watermeul naby die dorp dringend nodig was. As sy aansoek sou slaag, sou hy nie net koring kon maal nie, hy sou dit ook kon verfyn en meel van verskillende gehalte verskaf. Hy was ook van plan om mielies te maal.
Die ontdekking van diamante in die gebied later bekend as Kimberley het ’n groot aanvraag na mieliemeel en broodmeel laat ontstaan. Die regering het besluit om lisensies aan meulenaars toe te staan aangesien die verkoop van eiendom vir meulens ’n bron van inkomste vir die regering sou wees. Die beskikbaarheid van waterkrag het beteken dat die krag gebruik kon word om wol te was, hout te saag, elektrisiteit op te wek en tabak te sny.
Vore vir die meulens
Nie een van die meulens noord van Potchefstroom was reg langs die rivier nie en meulenaars moes vore grawe om water by hul meulens te kry. Hierdie vore was tussen 720 m en 2 400 m lank. Die meeste is gegrawe tussen die gebied waar die wal van die Potchefstroom-dam (wat lank na die meulens, in 1908, gebou is) vandag is, en die huidige Postmastraat. Daar is ’n klein keerwal gemaak om die water na die voor toe te lei. Die meeste vore was op die dorpsmeent en is deur onder meer erosie, drywende takke, beeste en selfs seekoeie beskadig. Waar die meulvoor die Wagenweg gekruis het, moes die meulenaar ’n brug bou.
“Oude Molen”
Teen 1858 was W Cameron die eienaar van die meul wat deur Grobler gebou is. Hierdie meul is in die 1870’s opgegradeer toe Cameron ’n tweede, groter meul langs die eerste een gebou het. In 1888 het Iver Hjul die meul by Cameron gekoop en dit Utopia genoem, dalk na aanleiding van die goudveld waar hy sy geld verdien het. In ’n artikel wat in Februarie 1975 in die Potchefstroom Herald geplaas is, het Boetie-Jan Coetzee, die eerste kurator van die Potchefstroom-museum, Hjul as ’n “uiters romantiese Deen” beskryf.
Coetzee het in hierdie artikel vertel dat Hjul ryk geword het nadat hy in Australië vir goud geprospekteer het. Hy het in Potchefstroom aangekom met 40 000 goue ponde in ’n leersak en sy tent daar opgeslaan. Hy was bekend vir sy vriendelikheid teenoor armlastiges. Sy filantropiese geaardheid en verkeerde vriende het sy geld gevreet maar hy was altyd bekend as een van die vriendelikste immigrante op die dorp. Een van die meulstrome op die Bult het as die Yule-stroom bekendgestaan. Hjul het later ’n diamant wat hy by Jagersfontein ontdek het, vir £46 000 verkoop. In 1892 het O W A Forssman besit van die meul geneem, en ene mnr Lewis was die bestuurder. Teen 1903 was die meul nie meer in werking nie, want volgens ’n verslag deur die Mooirivier-kommissie was daar ’n gebrek aan water. Hierdie meul het as ’n turbinemeul bekendgestaan. Coetzee het verduidelik dat dit nie ’n wiel gehad het nie, maar dat dit met ’n turbine gewerk het. Hierdie turbine het ook ’n tabaksnyer, dorsmasjien en sirkelsaag aangedryf. Die Hjul-meul is tussen 1910 en 1913 aan Isaac Nathanson en B Shapiro verkoop. Nathanson was van Joodse herkoms en is in 1918 tydens die Spaanse griep oorlede. Volgens die doodsberig wat destyds in die Herald geplaas is, was hy 46 jaar oud.
Mev Dorothy Hurndall het in haar herinneringe geskryf dat die meul nog in werking was toe sy in die 1920’s op hoërskool was. Shapiro het die eiendom in 1947 aan die Potchefstroomse Universiteit verkoop. Dit het 17 morg beslaan en is vir £16 000 verkoop. Die meul is gesloop en ’n die Konservatorium is opgerig. Die gebied het later as Oude Molen bekendgestaan en die tennisklub vir die Universiteit se personeel is die Oude Molen-tennisklub. In 1963 het die Universiteit besluit om die gebied in ’n sportgrond te ontwikkel en aangrensende eiendom is gekoop. Die Fanie du Toit-sportgrond is in 1974 amptelik geopen.
’n Meul in Meulstraat
Daar was ook ’n meul op die plek waar die Groenwilgers-aftreeoord nou is. Die bekende Piet Malan, wat in Tomstraat gewoon het, het teen die einde van die 19de eeu by dié meul gewerk. (Dit nie die Piet Malan waarna die klubhuis vernoem is nie.) Die meul was in besit van die Rocher-familie en ene mnr Kroezer was die bestuurder. Hy was Rocher se swaer. Malan was getroud met Julica of Julieta Kroezer.
Drie meulens
Nadat Hendriks ’n vertoë gerig het om eiendom vir ’n meul te bekom, het hy die plek wat later as Klipbultjie bekendgestaan het, ontvang. Dit is vandag Thabo Mbekistraat 82. Twee verdere eiendomme vir meulens is noord van hierdie eiendom toegeken. Vandag is dit by Thabo Mbekistraat 78 en 80. Die middel van hierdie drie eiendomme het later as Molenerf bekendgestaan. Hierdie drie erwe was geleë tussen die pad na Johannesburg en ’n uitgestrekte moeras aan die oostekant. Die eiendomme was net 40×45 m groot; eienaars het gekla dat hulle nie eens huise kon bou of ’n groentetuin kon aanlê as daar reeds ’n meul was nie. Gevolglik het hulle groentetuine aan die kant van die pad aangelê sonder dat enigiemand dit agtergekom het. Hierdie onwettige “vergroting van eiendom” het eers in 1875 aan die lig gekom toe JP Loxton ’n opname van die omgewing gemaak het en agtergekom het dat die eiendomme met tot nege meter in die rigting van die pad vergroot is. Die enigste alternatief was om die pad verder wes te skuif. Dit verduidelik hoekom daar ’n skerp draai in Thabo Mbeki-straat tussen hierdie eiendomme en die Teologiese Skool is. Hendriks was die eienaar van die mees suidelike van die drie meulens. Toe hy sy vertoë om ’n eiendom vir ’n meul te bekom, gerig het, het hy gesê dat hy ook van plan was om ’n wolwassery op die been te bring, wou meel sif, mielies stamp en hout saag. Hy het die meul op die middelste van die drie eiendomme bekom.
In 1869 was daar ’n verskriklike ongeluk by Hendriks se meul toe ’n tienjarige seun van Schoonspruit (nou Ventersdorp) met ’n ossewa opgedaag het om koring te laat maal. Hy was die enigste seun van ’n weduwee. Hy is deur die masjinerie vergruis en het aan sy wonde beswyk. Hy is in die ou Voortrekker-begraafplaas wes van die meul ter ruste gelê.
Die eiendom waar wol gewas is, het bekendgestaan as Molenerf. Hendriks is in die laaste deel van die 19de eeu oorlede. Schikkerling het Klipbultjie en Molenerf uit sy boedel gekoop en dit aan Hjul verkoop. Die meulbedrywighede is in die 1890’s gestaak en die meulens is tydens die Anglo-Boereoorlog gesloop.
Meriba-meul
Die eienaar van die mees noordelike meul was JJ (Kootjie) Hoffman, wat lid van die Volksraad was. Sy meul was geleë by Thabo Mbekistraat 78. Dit was een van drie meulens wat tussen 1863 en 1866 opgerig is.
Coetzee het geskryf dat Hoffman ’n man was met wie ’n mens nie gesukkel het nie. Hoffman het gebruik gemaak van die water uit Cameron se meul om syne aan te dryf, maar daar was nooit genoeg water om dit te kon doen nie. Dit het tot eindelose vergaderings in die dorpsraad aanleiding gegee. Een aand, toe almal geslaap het, het Hoffman osse voor ’n ploeg ingespan en vir homself ’n meulvoor uit die dorp se hoofvoor gemaak. Dit het begin waar die treinbrug in Meyerstraat deesdae is en gevloei tot by sy eiendom oorkant die hedendaagse Teologiese Skool. Toe die dorp die volgende oggend wakker geword het, was Hoffman se meul in volle gang. Die inwoners was woedend omdat die dorpsvoor so te sê opgedroog het. Hulle het hul eie osse gebruik om groot rotse in sy voor in te sleep.
Daarna het Hoffman sy meul Meriba, wat bitterwater beteken, gedoop. Dit was na aanleiding van ’n gebeurtenis wat in Numeri 20 in die Bybel beskryf word, toe Moses ’n groot meningsverskil met die Israeliete oor water gehad het. Die dorpsmense het die meul Twiswater genoem. Hierdie meul was die onderwerp van verskeie hofsake oor waterregte wat tussen 1877 en 1893 plaasgevind het.
Skool in ’n meul
Nadat burgererwe in 1891 aan die noordekant van die dorp toegeken is, het die bevolking van daardie deel van die dorp aansienlik gegroei; dit het gemaak dat ’n behoefte aan ’n skool ontstaan het. Op 27 Mei 1891 is ’n vergadering by die Meriba-meul gehou, waartydens daar besluit is om ’n skool te stig. Daar was ’n geskikte lokaal daarvoor aan die agterkant van die huis, wat aan Hoffman se weduwee behoort het. Die skool, wat as die Meriba-skool bekendgestaan het, is op 13 Julie 1891 gestig en het aanvanklik twintig leerders gehad. Die skool het op 28 Junie 1894 na Mareestraat 28 verskuif en het later die Laerskool President Pretorius geword. Rocher het Hoffman se meul in 1893 gekoop en later is dit aan die regering oorgedra.
’n Meul oos van die Noordbrug
Willem Lombaard het glo van 1863 tot 1866 ’n meul direk suid van die Noordbrug bedryf aan die oostekant van die pad waar die gastehuis On Golden Pond vandag is. Ene Lombaard het ook in 1880 ’n kantien in daardie omgewing bedryf, maar dit is nie bekend of dit dieselfde persoon of ’n familielid was nie.
Ricketts se meul
In 1863 het P Ricketts by die regering aansoek gedoen om ’n meul te bedryf, en ’n eiendom vir ’n meul is aan hom toegeken. Dit was aan die oostekant van Mareestraat reg langs die Mooirivier. Sy reg om ’n meul te bedryf, is toegestaan op voorwaarde dat hy self verantwoordelik sou wees vir die instandhouding van die verlenging van Mareestraat na die meul toe. Ricketts het ook ’n brug oor die rivier gebou om toegang tot die meul te vergemaklik, asook ’n dubbelverdieping-meulgebou en ’n huis op sy perseel. Dit was die enigste meul wat in privaatbesit gebly het. Na sy dood is sy vrou met P Peters, na wie die meul later genoem is, getroud. In 1906 het die Mooirivier-kommissie berig dat werksaamhede weens ’n gebrek aan water in 1890 tot stilstand gekom het. Daar word vertel dat die meulgeboue tydens ’n vloed meegesleur is.
Stamp se meul
Aan die direkte noordwestekant van die Noordbrug, buite die dorpsgrense maar steeds op die hoofweg, het W Stamp in 1866 ’n meul gebou. Hoewel dit nie as ’n goeie terrein beskou is nie, het hy nóg twee meulens daar opgerig.
In 1885 en 1886 het hy twee ander meul-eiendomme aan die noordekant van Oewersig besit. Hy kon elektrisiteit vir huishoudelike gebruik opwek en hy het ook ’n brug oor die Mooirivier gebou om toegang tot sy meul te vergemaklik. In 1975 het Coetzee geskryf dat mnr Stoffel Klopper hom vertel het dat die eerste meul van sy ma se broer Boet Croeser, die eerste meul gebou het waar Frikkie Deale later gewoon het. Dit was langs Van der Hoffstraat (nou Thabo Mbekistraat) waar reuse-akkerbome steeds oorkant Potchefstroom Gimnasium se Brandwag-seunskoshuis staan. Dit het ook as die Croeser-meul bekendgestaan. Die Deale-familie het ’n groot deel van die eiendomme in Oewersig wat aan Thabo Mbekistraat grens, besit en het by Thabo Mbekistraat 36 gewoon.
Willow Banks-meul
Die laaste meuleiendom wat deur die plaaslike owerheid toegeken is, was direk suidwes van die Noordbrug. J Hamilton en vennote het die Willow Banks-meul in 1872 geopen. Dit was ’n dubbelverdiepinggebou wat, volgens ’n boek wat in 1880 gepubliseer is, aan Hamilton behoort het maar deur J Sewell bedryf is. Volgens Coetzee was dit ’n oorloopmeul wat beteken dat ’n trog water aan die bokant van die meulwiel gelewer het. Bestaande foto’s wys dat die meulren die wiel in die middel ontmoet het. Dit is verduidelik deur die Mooirivier-kommissie wat die wiel as ’n “borswiel” beskryf het.
Volgens Coetzee het die meul nog omtrent 1912 tot 1915 bestaan. Die staal-as van die meul, wat in besit van die museum is, het aangedui dat dit groot masjinerie gedraai het. Die meulstene van dié meul is ook in die museum en is tussen 30 en 37,5 meter dik en een meter in deursnee. C Rocher het die meul in 1886 bekom.
Die Mooirivier-kommissie het berig dat ’n dorsmasjien deel van die toerusting was. Dit kon vier sakke koringmeel per uur voortbring en was in produksie tot 1906. Die ruïnes van die meul is eers in die 1950’s gesloop. Die ou Willow Banks-meul is een van die geboue in Potchefstroom waarvan daar in die vroeë twintigste eeu die meeste foto’s geneem is en verskeie poskaarte van die meul van destyds bestaan nog. Volgens mev Hurndall was dit destyds ’n gewilde piekniekplek.
Hofsake (1877-1893)
In sy ongepubliseerde manuskrip oor die geskiedenis van Potchefstroom het prof Gert van den Bergh geskryf dat daar verskeie geskille rondom die waterregte van die meulens ontstaan het. Die rede was hoofsaaklik dat die hoeveelheid water wat ’n meuleienaar uit die rivier kon kry, nooit in wetgewing of lisensievoorwaardes genoem is nie. Nog ’n rede vir die geskille was dat meulvore wat deur die dorp geloop het, nie behoorlik in stand gehou is nie; dit het tot watervermorsing gelei. Die hoofregter van Transvaal van 1877 tot 1898, Sir John Kotze, het die meulens as ’n vrugbare bron van hofsake beskryf. Kootjie Hoffman is gereeld by hierdie hofsake betrek. Hy het klagtes by die dorpsraad aanhangig gemaak nadat hulle nagelaat het om te wys waar hy sy meulvoor moes uitgrawe.
Iver Hjul, wat die Cameron-meul in 1888 gekoop het, het ’n klag aanhangig gemaak teen die weduwee van JDE Grimbeek, wat ’n voormalige eienaar van die meuleiendom was, nadat sy soveel water vir haar tuin afgelei het dat sy meul nie kon funksioneer nie. Nog ’n hofsaak is aanhangig gemaak deur drie boere, D Greyling van Witrand, J Grimbeek van Elandsheuwel en Hugh Baillie, na wie Bailliepark vernoem is, en wat die grootste gedeelte van die plaas Vyfhoek besit het. Hulle het gekla dat die meulens soveel water gebruik het dat daar niks vir hulle oorgebly het om te gebruik nie.
Die einde van die meulens
Gedurende die 1880’s het die meulens een vir een begin agteruitgaan en produksie is gestaak. Die belangrikste rede was dat die dorp al hoe meer gegroei het en water nodig gehad het. Die toenemende teenwoordigheid van die Britse troepe en polisie in die tyd na die Anglo-Boereoorlog en daarna, het die saak vererger. Aan die ander kant was stoomaangedrewe meulens op die hoofdeurgang van die pad tussen Johannesburg en Kimberley meer toeganklik vir boere. Hierdie meule het nie die uitgawe gegad om meulvore in ’n werkende toestand te hou nie en dit was ook nie nodig om op die wisselvallige beskikbaarheid van water uit die rivier staat te maak nie. Die eienaar van een van die stoomaangedrewe meulens was CLT Olën, en was geleë waar Olënlaan vandag is. Nog ’n meul was in besit van ’n bekende sakeman John Perrin. Dit was geleë in Kerkstraat (nou Walter Sisulustraat) waar Daly Ford vandag is.
In 1923 het William Hinchcliff Horsfall by die dorpsraad aansoek gedoen om ’n meul langs die kragstasie in Kockstraat op te rig. Ondanks baie besware is die aansoek goedgekeur en die meul is gebou. In 1939, nadat Horsfall oorlede is, het die South African Milling Company die meul oorgeneem en dit hoofsaaklik as depot vir sy werksaamhede in Klerksdorp gebruik. Een van hul produkte was Snowflake-meel, wat op die gebou geadverteer is en dit die naam waarvoor die gebou vandag bekend is, gegee. Die meulens het die ontwikkeling van die dorp ’n groot hupstoot gegee. Croeser, asook mev Hoffman, het algemene handelaars geopen. Benewens Lombaard se kantien was ’n grofsmid, W Cowell, en ’n skrynwerker, J Hunter, ook in die omgewing bedrywig.
Die watermeulens was die eerste nywerhede anderkant die Vaalrivier en het gehelp om Potchefstroom as hoofsentrum te vestig.
Bronne
B-J Coetzee, Watermeulens het ekonomie se wiele help draai, Potchefstroom Herald, 28 Februarie 1975.
G van den Bergh, Die geskiedenis van Potchefstroom (Potchefstroom, 1988), 4.9 Watermeulens.
Potchefstroom Museum and Archives, I664.7 Meule.
P van der Schyff, En wat van Oude Molen?, Potchefstroom Herald, 17 September 1985.