Die geskiedenis van Leeuwenhof

Bedevaart na Bermuda
June 25, 2018
Klinkende harde munt was skaars
June 25, 2018

LEEUWENHOF, die naam van die Kaapse herehuis en landgoed wat vandag die amptelike tuiste van die administrateur van Kaapland is, word omgeef deur ’n nostalgiese atmosfeer van volkome ongesteurdheid. Hy is onaangeraak deur die gang van ontwikkeling, asof hy nog sy herinneringe aan die kleurryke verlede sus toe hy ’n sosiale baken van die beskawing aan die Kaap was.

Leeuwenhof lê aan die voet van die majestueuse Tafelberg. ’n Eikelaan lei na die huis vanuit Hofstraat. Voor die statige herehuis met sy dubbelverdieping en plat dak, wat ’n hele entjie van Hofstraat is, is die groot historiese tuine wat Guillaume Heems in 1693 as tuinbougrond van Simon van der Stel in bruikleen ontvang het. Aan die onderent van die tuine, oorkant Hofstraat is Waterhof, ’n ander herehuis uit ’n latere periode, maar wat oorspronklik ook deel van die Leeuwenhoflandgoed was.

Ver onderkant die gebouekompleks lê Welgemeend, die eertydse woning van Jan Hendrik Hofmeyr; Mount Nelson, eens ook ’n herehuis, maar nou ’n hotel; die Kompanjiestuin, die middestad van Kaapstad en daaronder Tafelbaai. Van Leeuwenhof se voorstoep moes dit ’n panoramiese uitsig gewees het, maar nou is dit deur stadsontwikkeling afgekamp. Die Leeuwenhof-kompleks staan afgebaken as monument vir die hoë kulturele ontwikkeling van die 18de eeuse Kaapse inwoner.

Die imposante Leeuwenhof, dubbelverdiepingherehuis uit die 18de eeu aan die onderste hang van Tafelberg, is vandag die ampswoning van die premier van die Wes-Kaap. Dit het vroeë reisigers aan die Kaap, soos Latrobe en Burchell, bekoor. Foto: Harry Tyler

Die geskiedenis van Leeuwenhof strek terug tot die eerste jare na die stigting van die nedersetting, maar dit het steeds ’n prominente rol in die lewe aan die Kaap gespeel. Soos Leeuwenhof van twee eeue gelede simbool van Kaapse gasvryheid was, toe groot getalle oorsese besoekers hier tuisgegaan het, is tradisie steeds in swang wanneer Leeuwenhof as administrateurswoning sy deure elke jaar vir groot getalle gaste oopgooi.

Leeuwenhof het sy ontstaan in 1693 gevind toe ’n Vlaam, Guillaume Heems (ook as Eems bekend) by goewerneur Simon van der Stel as “Burgerraad dezer Steede” aansoek gedoen het om ’n stuk berggrond in bruikleen te neem. Hoewel Heems eers ’n kneg was, het sy aansien aan die Kaap gegroei nadat hy in 1672 vryburger geword het. Hy was ’n florerende boer en handelaar in Kaapse wyn en brandewyn en het op Boschheuwel gewoon—wat voorheen aan Jan van Riebeeck behoort het en nou onder die naam Bishopscourt die ampswoning van die Aartsbiskop van Kaapstad is. Hy wou graag ’n stuk grond nader aan die hawe bekom waar hy met groente en vrugte kon boer. Daarom het hy om die stuk berggrond aansoek gedoen.

Op 22 Oktober 1693 is die stuk berggrond—wat hy Leeuwenhof genoem het omdat dit naby Leeukop was—aan hom in bruikleen toegeken. Die grondbrief is deur die goewerneur self onderteken. Heems het self nooit op Leeuwenhof gewoon nie en die vermoede is dat die enigste geboue dalk ’n eenvoudige huisie vir ’n kneg was of dalk slaapkwartiere vir slawe wat in die tuin gewerk het.

Die man wat Leeuwenhof vir Heems afgemeet het, Heinrich Bernhard Oldeland, het die volgende eienaar geword toe hy die stuk grond in 1696 teen 5,000 gulden (“lndische valuatie”) gekoop het.

Die lang, breë gang van Leeuwenhof wat ’n deurgang van die agterplaas tot op die voorstoep vorm. Die houtpaneelwerk aan die mure is deur een van die laaste inwoners, mnr. Lewis, aangebring. Die deure is van kiaathout en op die vloer is nog die oorspronklike bruin vierkantige erdeteëls. Die plafon word deur geelhoutbalke gestut. Foto: Harry Tyler

Oldeland, wat van die vrystad Lübeck aan die Oossee afkomstig was, was ’n geleerde man wat aan die Universiteit van Leiden in die medisyne en plantkunde gestudeer het voordat hy hom aan die Kaap kom vestig het. Hy was in diens van die N.O.I.K. en is deur die Here XVII as botanikus en kruiedokter erken. Daarom is daar aanbeveel dat hy kruie en ander medisinale plante aan die Kaap moes aanplant wat later na Batavia en Ceylon uitgevoer kon word. As baastuinier het hy hier pionierswerk gedoen wat hom later groot roem as botanikus besorg het. Die inheemse plante, struike en bome wat hy op Leeuwenhof aangetref het, het hom beïndruk toe hy (wat ook as landmeter diens gedoen het) die stuk grond opgemeet het. Toe hy Leeuwenhof oorgeneem het, het hy ’n herbarium van Suid-Afrikaanse plante opgebou en ook monsters van inheemse plante na Engeland en Nederland gestuur. Hy was besig met die opstelling van ’n katalogus in Latyn toe hy op die terrein gesterf het.

Die grootste deel van die Oldeland-versameling is later na Holland geneem en vandag is eksemplare van die Leeuwenhof-versameling in botaniese museums in Europa en Brittanje te sien. In die agt maande wat hy op Leeuwenhof gewerk het, het hy groot roem verwerf, maar dis twyfelagtig of hy en sy familie ooit self daar gewoon het.

Joan Blesuis, fiskaal aan die Kaap, het in 1697 transport van Leeuwenhof van Oldeland se weduwee oorgeneem—teen dieselfde bedrag as waarvoor hy dit gekoop het. Dit word vermoed dat dit in die tyd van Blesuis was dat die eerste aansienlike woning op Leeuwenhof gebou is, maar daar bestaan geen bewyse dat dit deel van die huidige opstal was nie.

Blesuis was ’n welgestelde man wat reeds ’n woning naby die Parade besit het. Met sy oorname van Leeuwenhof het hy gevra dat die oorspronklike grondbrief, waarvolgens die grond in bruikleen gegee is, vervang moes word deur ’n gewysigde titel waardeur die grond in volle en vrye eiendom aan hom toegeken sou word. In 1694 is hy as Fiskaal Indepente aangestel—’n rang wat hom net onder die goewerneur sou stel, maar nie aan hom verantwoordelik sou maak nie.

Die hoofontvanglokaal – seker die mooiste vertrek in Leeuwenhof. Let op die geelhoutbalke. Die oorspronklike erdeteëlvloer is deur blokkiesvloer vervang. Hier is die vergrote deel van die vertrek te sien waar ’n ou muur uitgeslaan is om meer ruimte te verskaf. Foto: Harry Tyler

Vier jaar nadat Blesuis eienaar van Leeuwenhof geword het, het hy daar gaan woon. In 1710 het hy by die Politieke Raad gekla dat die fiskaal in Indië ’n vry woning ontvang het maar dat daar aan die Kaap geen amptelike woning vir die fiskaal bestaan het nie. Op hierdie vertoë het die Raad aan hom dieselfde huurgeld toegestaan as aan die fiskale in Indië. Op grond hiervan kan daar aanvaar word dat daar op Leeuwenhof ’n aansienlike woning moes bestaan het, wat by die status van die Fiskaal Indepente sou pas.

Na sy dood het sy twee dogters, Christiana en Deliana, die grond geërf. Hulle het dit op 20 Julie 1714 op die name van hul mans, Jacob Cruse en Corneluis van Beaumont, oorgedra.

Dit is interessant dat Leeuwenhof, anders as die meeste ander herehuise aan die Kaap, nooit in familiebesit was nie, behalwe in die geval waar Blesuis die eiendom aan sy dogters nagelaat het.

Jacob Cruse was die eerste gebore Afrikaner wat in besit van Leeuwenhof gekom het. Hy was getroud met Christiana Blesuis en in diens van die Kompanjie. Sy swaer, Corneluis van Beaumont, wat mede-eienaar was, is na sy skoonvader se dood aangestel as Fiskaal Indepente en het op Leeuwenhof gewoon, wat toe as ampswoning van die fiskaal erken is. Sy vrou, Deliana, het na sy dood die enigste eienares geword toe sy haar suster se erfdeel van 2,500 gulden gekoop het. Drie jaar lank het sy en haar kinders op Leeuwenhof gewoon totdat sy weer getroud is en die eiendom aan Aletta Beck, weduwee van kapt. Jesse Slotsboo, teen 7,000 Kaapse gulden verkoop het.

Die weduwee Beck, ’n suster van die bekende ds. Henricus Beck, was ’n vermoënde vrou wat verskillende eiendomme besit het. Sy het twaalf jaar op Leeuwenhof gewoon voordat sy dit in 1740 aan Daniël Godfried Carnskep vir 13,400 Indiese gulden verkoop het.

Die private sitkamer afgeneem vanaf die ingang wat tot die lang gang lei. Die vertrek is nog in sy oorspronklike vorm, hoewel klein veranderings aan die vuurherd aangebring is. Die Hollandse vuurherdteëls is onlangs ingebou. Agter loop die deur na die stoepkamer wat as studeerkamer gebruik word. Foto: Harry Tyler

Hierdie hoë koopsom—byna dubbel die prys wat sy daarvoor betaal het—dui op moontlike verbeterings wat sy in haar lang verblyf aan die woning op Leeuwenhof en aan die terrein kon aangebring het. Nogtans is daar geen grondige bewyse dat sy verantwoordelik was vir die aanbou van die herehuis soos ons dit vandag ken nie.

Carnskep, ’n Duitser van afkoms wat as soldaat in diens van die Kompanjie na die Kaap gekom het, het later as sekretaris van die Raad van Justisie ’n invloedryke man aan die Kaap geword. Die feit dat hy met Johanna Bergh, dogter van die bekende Olaf Bergh getroud was, het baie tot sy status bygedra. Tydens die Carnskeps se verblyf het Leeuwenhof die middelpunt van die Kaapse sosiale lewe geword. Die meubels in die huis het ’n besondere stempel van gehalte gedra wat daarop gedui het dat dit óf regstreeks van Nederland ingevoer is óf afkomstig was van Olaf Bergh, wat toe in Groot Constantia gewoon het.

Die terrein is ook intensief bewerk en met die hulp van slawe het Carnskep op groot skaal geboer. Sy produkte is op straat en op die kaai verkoop. Na sy dood het sy weduwee nog tien jaar lank daar gewoon en die boerdery voortgesit. Die eiendom is in 1764 aan Johan Christiaan Brasler vir 14,000 gulden verkoop.

Brasler, ’n Deen van geboorte wat in 1760 aansoek om burgerregte gedoen het nadat die Deense skip, Olifant, aan die mond van die Gouritzrivier gestrand het, was moontlik die belangrikste eienaar van Leeuwenhof. Die vermoede is dat die herehuis wat vandag op Leeuwenhof staan, deur hom opgerig is en dat hy ook hoofsaaklik verantwoordelik was vir die uitlê van die tuinery soos ons dit vandag ken. Hy het intensief met groente en vrugte geboer. In 1787 is ’n stuk grond hoër op langs die berg, wat aan Leeuwenhof gegrens het, aan hom toegeken, wat die grootte van sy eiendom meer as verdubbel het.

Brasler het dikwels die grense van sy eiendom uitgebrei, totdat dit ongeveer 28 morge groot was en hy was ook die eerste eienaar wat ’n deel van die grond afgesny en dit aan ’n ander eienaar verkoop het. In 1782 het hy drie morge aan die onderkant van Leeuwenhof afgesny en dit aan J.F.W. Bottinger verkoop , wat die nuwe eiendom Waterhof genoem het. Waterhof, geleë te Hofstraat 57, bestaan vandag nog en is op 7 Maart 1969 tot historiese monument verklaar.

Brasler het die reg verkry om sy eiendom uit te brei op voorwaarde dat hy dit met kreupelhout en ander inheemse bome beplant. Hy het ook die kerkhof op Leeuwenhof uitgelê, wat tot die Iaat 19de eeu bestaan het.

Omdat Leeuwenhof heel dikwels van eienaar verwissel het, bestaan daar geen rekords van transaksies of gebeure nie, maar as in gedagte gehou word dat Brasler 24 jaar eienaar van Leeuwenhof was en dat sy weduwee dit teen 51,000 gulden verkoop het, kan daar aanvaar word dat daar ’n redelike aantal geboue op die grond moes gewees het. Of die huidige gebouekompleks in sy geheel in sy tyd opgerig is, is onseker, maar volgens dr. Mary Alexander Cook, wat ’n grondige studie van Leeuwenhof gemaak het, kan daar aanvaar word dat dele van die huidige gebou reeds uit die tyd van Brasler dateer, bv. die dik mure van die onderste verdieping en die vloere van groot breë Hollandse erdeteëls in die gang en ingangsportaal.

Die volgende eienaar was Hendrik Johannes Fehrsen, wat uit die Kompanjie se diens getree het om onafhanklik tuinbou op Leeuwenhof te beoefen. Interessant van hom was dat namate hy saam met sy boerdery op Leeuwenhof gefloreer het, hy ’n al belangriker openbare figuur aan die Kaap geword het. Sy sakebelange het ook uitgebrei en in 1791 het hy o.m. aansoek gedoen om toestemming om walvisse in Valsbaai en Saldanhabaai te jag en om die traan na die Nederlande uit te voer. Hy was die eerste Kapenaar aan wie so ’n vergunning gemaak is en het ook die eerste walvisbedryf met ’n kantoor in Roggebaai gestig. Hy het egter bankrot gespeel en op ’n openbare veiling is Leeuwenhof aan Jan Michiel Elser vir 80,000 gulden verkoop, maar hy het drie maande later gesterf.

Leeuwenhof se breë stoep met sy historiese wingerdpriële wat oor die stoep rank en uit die dae dateer toe die perseel belangrik was vir die vervaardiging van Kaapse wyn en brandewyn. Regs is die buitedeur wat uit die een stoepkamer lei. Weerskante is twee stoepkamers, wat in oorblywende 18de-eeuse wonings aan die Kaap ’n seldsaamheid geword het. Foto: Harry Tyler

Dit was tydens die verblyf van kaptein Johannes Zorn dat Leeuwenhof sy grootste omvang bereik het. Deur aankope en skenkings het hy die eiendom tot 93 morg uitgebrei, wat gestrek het van die huidige Kotzestraat tot teen die berghang hoog bo die huidige sweefspoorstasie langs Tafelbergweg.

Zorn, wat te Kempen in Swabe gebore is, het ongeveer 1790 as bevelvoerder van ’n Switserse regiment in diens van die N.O.I.K. na die Kaap gekom om hier teen ’n moontlike Engelse inval te waak. As aide-de-camp van kommissaris Abraham Sluysken het hy tydens die eerste Britse besetting ’n betekenisvolle rol aan die Kaap gespeel. Sy bekwaamhede is ook deur die Engelse na waarde geskat en tydens hul regime was Zorn ’n majoor en lid van die landbouraad. Van sy dienste is ook tydens die Bataafse tydperk en die tweede Britse besetting gebruik gemaak toe hy in 1809 landdros geword het.

In 1799 het Zorn Leeuwenhof vir 90,000 gulden uit die Elserboedel gekoop. Hy het op groot skaal geboer en volgens die rekords het hy reeds in 1805 meer as 35,000 wingerdstokke gehad, met 33 slawe en ses slavinne in diens.

Toe Leeuwenhof in 1836 weer in die mark gekom het, is dit vir £3,500 aan Martin Thomas West verkoop. Die afname in die prys kan moontlik toegeskryf word aan die depressie wat op die vrystelling van die slawe gevolg het. Na twee jaar is die eiendom aan Joseph Upjohn, ’n bloemis en saadhandelaar, teen ’n wins van £250 verkoop. Upjohn het finansieel swaar geleef. Hy was later verplig om ’n stukkie grond aan die onderent van die tuin aan Petrus Johannes Kotze te verkoop, wat die naam La Belle Alliance verkry het toe daar ’n huis op gebou is. Upjohn het ook die drie huise wat deur knegte en slawe bewoon was, verhuur om sy inkomste aan te vul en later het hy self in een gaan woon en die herehuis aan Charles Palmer, later hoofintendant van die lêer, verhuur.

In 1840 het Upjohn boedel oorgegee en het Christoffel Joseph Brand die eiendom vir £2,737.10 aangeskaf. Brand het later die eerste Speaker van die Kaapse Parlement geword en Johannes Hendrik Brand, een van sy agt kinders, het president van die Oranje Vrystaat geword. Brand het ook insolvent geraak en in 1847 is Leeuwenhof op ’n openbare veiling aan Petrus Johannes Kotze, eienaar van La Belle Alliance, vir £2,090 verkoop. Dit is interessant om daarop te let dat Leeuwenhof in die vendusiekennisgewing beskryf is as ’n “mansion” bestaande uit veertien ruim kamers, met stalle, waenhuis en ander buitegeboue.

Kotze, wat op Blaauberg gebore is, het die herehuis eers in 1854 betrek. Tot in daardie jaar was dit aan Willem de Smidt verhuur. Kotze was o.m. twee keer burgemeester van Kaapstad en het in 1859 parlementslid geword.

Sy seun, John Gilbert Kotze, wat in La Belle Alliance gebore is en wat o.m. hoofregter van die Z.A.R. was voordat hy in 1922 appèlregter geword het, is die enigste inwoner wat gegewens oor die voorkoms en die lewe aan Leeuwenhof opgeteken het.

In sy jeugherinneringe vertel hy dat die paar fonteine op die terrein van Leeuwenhof was in 1863 deur die munisipaliteit onteien is om water aan die stad te voorsien. ’n Fontein wat in die middel van die wingerde gestaan het, het opgedroog. Oorblyfsels van die pomp, wat die fontein bedien het, is vandag nog te sien, heeltemal vasgegroei in ’n ou eikeboom in die tuin voor die woning.

Hy maak ook melding van bome en struike wat van Ceylon en die Ooste ingevoer is en die blomtuin wat deur sy vader aangelê is. Daar was ook ’n groot vrugteboord.

Die Kotzes se verblyf aan Leeuwenhof was ’n bloeitydperk waartydens die landgoed op sy mooiste vertoon het, maar namate die stad ontwikkel het, het die tuin kleiner geword.

In 1881, toe die miljoenêr-sakevennote, Marks en Lewis, Leeuwenhof gekoop het, was die eiendom slegs twee morge groot. Later het Lewis, ’n mynmagnaat, alleen-eienaar geword en op die landgoed kom woon. Hy het waardevolle kunsskatte versamel en ook die huis verbou. Hy het bv. die komvenster in die een groot ontvangskamer aangebou en die paneelwerk aan die mure van die vertrekke op die onderste verdieping laat aanbring en ook die muur al langs die trap na die boonste verdieping met klein Hollandse vuurherdteëls uitgevoer wat met landskappe beskilder was. Lewis het belangrike herstelwerk aan Leeuwenhof onderneem. Dit was daarna dus nooit nodig om ’n groot restourasieprojek aan te pak, soos in die geval van die meeste ander historiese huise aan die Kaap nodig was nie.

In 1929 het Reginald Herbert Parry Leeuwenhof vir £12,750 gekoop en sewe jaar later was dit weer in die mark toe dit vir £10,000 deur die Kaaplandse Provinsiale Administrasie as ampswoning vir sy administrateur aangekoop is. Met dié aankope was Leeuwenhof se toekoms as historiese kompleks verseker. Deur die jare is gepoog om grond op te koop wat voorheen deel van die eiendom was. Die oorspronklike twee morge is in 1954 tot vier morge uitgebrei. Baie is ook gedoen om die herehuis en die tuin te verfraai. Die opknapping is gedurende die ampstyd van wyle dr. Otto du Plessis gedoen en die eerste administrateur wat sy intrek in ’n voltooide Leeuwenhof geneem het, was mnr. J.H. Conradie.

Oor die ouderdom van die imposante herehuis op Leeuwenhof bestaan daar geen dokumentêre getuienis nie. Dr. Cook wat die aspek volledig nagegaan het, meen dat daar aanvaar kan word dat die eerste eienaars nie veel gedoen het nie en die landgoed slegs as tuinbougrond gebruik het. Fiskaal Blesuis, wat in 1697 eienaar van Leeuwenhof geword het, het volgens haar, ’n enkelverdiepinghuis met ’n staandak van riet met wolfente en drie dakvenstertjies voor opgerig. Dit was waarskynlik die woning totdat Brasler dit in 1764 oorgeneem het. Hy het die herehuis soos ons dit ken, waarskynlik opgerig. Brasler het óf uitgebreide veranderinge aan die grondplan van Blesuis aangebring óf die hele huis herbou. Dit moes gebeur het tussen omstreeks 1780 en sy dood in 1788.

Dr. Cook meen dat die onderste verdieping lank voor die boonste bestaan het en dat dit uit die laaste kwart van die 18de eeu dateer. Sy noem die styl die “Tafelvallei-styl” wat ongeveer in dié tyd in die Kaapse Skiereiland voorgekom het.

Kaptein Zorn (1799-1836) kon ook dalk die bouer gewees het, want argitektonies gesproke, is dit moontlik dat die huis so laat as 1799 sy nuwe gedaante gekry het.

Die trap en trapportaal is pronkstukke van Leeuwenhof. Die trap, wat moontlik in die tyd van Brasler aangebou is, het ’n kunstig gesnede trapreling. Die vloer is met die oorspronklike bruin erdeteëls uitgelê. Die Hollandse vuurherdteëls wat eers die hoekie versier het, is deur die vlak ingeboude vertoonkas vervang. Foto: Harry Tyler

As die trap in die huis ondersoek word, blyk dit dat dit ongetwyfeld deel van die groot verandering of herbouing van Brasler se tyd moes gewees het. Dr. Cook meen dat die ou huis van Blesuis moontlik as ’n afsonderlike gebou agter die groot huis bestaan het of dat die herehuis moontlik verander en vergroot is. Laasgenoemde lyk vir haar meer waarskynlik as ’n algehele verbouing.

Volgens dr. Cook dui die plattegrond van die voorste gedeelte, d.w.s. die twee voorste vertrekke met deel van die sentrale gang tussenin, daarop dat dit effens breër is as die agterste deel. Die enigste moontlike rede vir hierdie verskil in breedte, verklaar sy, is dat die mure van die ouer gebou (Blesuis s’n) deel daarvan uitmaak. ’n Ander eienskap wat sterk op bouveranderinge dui, is die feit dat die buitemure van die skag van die trap nie op lyn staan met die mure van die voorste deel van die huis, of slegs met die agterste deel nie.

’n Ander teorie oor Leeuwenhof is volgens dr. Cook dat die mure van Blesuis se huis die agterkant van die onderste verdieping uitmaak en dat Brasler moontlik die voorkant, die breë stoep en die hele boonste verdieping aangebou het. Sy meen dat die huis soos ons dit vandag ken uit die jare 1780—1788 dateer, met ’n geringe moontlikheid dat 1782—3 die presiese datum is.

Anders as in die geval van die meeste ander historiese wonings was dit nie nodig om ’n groot restourasieprojek vir Leeuwenhof uit te werk nie. Die gebou en terrein is deur sy eienaars, en veral deur mnr. Lewis, puik versorg. Belangrike herstelwerk is voortdurend onderneem. Dit was slegs nodig om na die dak om te sien.

Uiterlik is die voorkoms dieselfde; maar binnenshuis is groot veranderinge aangebring om die woning meer doeltreffend te maak as ampshuis van die administrateur. Die hoofontvanglokaal is vergroot en die groot eetkamer is verbou en gemoderniseer. Aan die mure is houtpanele aangebring, wat die Hollandse erdeteëls langs die trap vervang het. Die kaggel in die private sitkamer is verbou en die kombuis is modern gemaak. Ook is ’n muur in die eetkamer uitgeslaan om die stoepkamer met die eetkamer te verbind. ’n Buitemuur is uitgeslaan om ’n deur na buite te laat uitloop op ’n klein binnehof met ’n braaivleishoekie. Dit het min, indien enige, verandering in die uiterlike van die gebou meegebring.

’n Interessante aspek van Leeuwenhof is die twee systoepkamers met buitedeure wat op die lang stoep uitloop. Hulle moet aan die oudste deel van die huis behoort en dien vandag as studeerkamer en die vergrote deel van die eetkamer. Twee stelle trappe voor die huis verleen toegang tot die stoep. Van die kiaatvoordeur kyk jy af in die lang, breë gang, wat tot agter op die geplaveide agterplaas loop. Die mure van die gang het houtpaneelbeslag en die vloer bestaan nog uit die oorspronklike groot plat bruin erdeteëls. Die binnedeure is van geelhout en breë geelhoutbalke dra die plafon.

Uit die onderste gang loop die groot ontvanglokaal en private sitkamer, met ’n deurloop na die studeerkamer na links. Na regs is die eetkamer, wat L-vormig is, die ontbytkamer, waar die hyser na die boonste verdieping lei, met die deurgang na die kombuis en die trapportaal. Die trap met sy kunstig gesnede houtwerk op die reling is die sieraad van die ou gebou.

Op die boonste verdieping is ’n groot breë gang waaruit vyf ruim slaapkamers lei. ’n Steil, smal wenteltrap lei na die dak wat ’n ongeëwenaarde uitsig oor die stad bied. Die meeste groot skuifraamvensters is replikas van die oues.

Met die antieke Kaapse meubels waarmee die hoofvertrekke gemeubileer is, is iets van die atmosfeer van Leeuwenhof van gister bewaar.

Leeuwenhof is op 15 Desember 1966 tot historiese monument verklaar en tog is dit interessant dat ’n klein groepie van vroeë 19de eeuse huise, bekend as die Botuin, onmiddellik agter die herehuis, reeds in 1964 as historiese monument erken is.

Leeuwenhof is ’n hoofstuk in ons geskiedenis, ’n romantiese beeld van die lewe aan die Kaap soos dit slegs by enkele plekke bewaar kan word. Dis ’n prentjie van idilliese skoonheid wat skrywers, reisigers en kunstenaars van die vroeë Kaap bekoor het. Vandag is dit bo alles simbool van ’n kosbare kultuurerfenis wat vir die nageslagte bewaar sal bly.

 

Bron: Botha, Amanda. 1969. Lantern, Desember, pp. 10-17.