Die geskiedenis van die Voortrekkertapisserie in die Voortrekkermonument: Inleiding

Oktober 1918: nié ons “mooiste, mooiste maand”
April 22, 2020
Geskiedenis van die Voortrekkertapisserie in die Voortrekkermonument: Deel 2
April 30, 2020

saamgestel deur John Roderick

Op 1 September 1952 is ’n besluit deur die Vrou en Moederbeweging van Suid-Afrika geneem om ’n tapisserie te maak wat die Groot Trek sou herdenk. Die tapisserie sou uiteraard in die Voortrekkermonument gehuisves word. Vroueverenigings dwarsoor die land, ingeslote dié van Suidwes-Afrika, is genader om fondse vir die projek in te samel. Met die hulp van die ATKV, etlike skole, kerke, stadsrade, landbouverenigings asook sakeondenemings is binne ’n jaar voldoende fondse ingesamel. Die pers, veral die “SAUK” van destyds het natuurlik baie gehelp om die projek bekend te maak en ook fondse te in. Laaste was daar ook die skenkings van die Suid-Afrikaanse Weermag, en Kommando’s.

Erich Mayer, een van Suid-Afrika se mees bekroonde skilders, is genader om die panele te ontwerp. Mayer het egter bedank aangesien hy, volgens homself, nie ’n kenner van die Groot Trek was nie. Ook sou dit volgens hom baie lank neem om ’n indieptestudie van die Trek te maak. Mayer het ook gereken dat hy te oud was gegewe die omvang van so ’n werk.

Die bekende kunstenaar WH Coetzer is toe gevra. Die Vrou en Moederbeweging kon na my mening nie ’n beter kunstenaar as Coetzer gekies het nie. Hy was immers behulpsaam met die friespanele in die Voortrekkermonument, het reeds etlike Voortrekkerkunswerke gelewer en het ’n indieptekennis van die Groot Trek gehad. Coetzer was aanvanklik skepties, maar tog oop vir oortuiging. Om hierdie rede het hy aanvanklik slegs een paneel op tapisseriegaas geskilder.

Die toneel (die 9de in die reeks) was dié van Blijde Vooruitzicht in Natal. Die agtergrond het bergreekse gehad en op die voorgrond was daar gras en blomme. Ook was daar ’n kakebeenwa tesame met ’n vrou en haar dogtertjie.

Nadat die tapisserie voltooi is, het mev. Nellie Kruger en haar span Coetzer gevra om te kom kyk. Coetzer het daarna ingestem om die werk te doen. Die vroue het op daardie stadium net een versoek gehad, naamlik hy is gevra om die verfkleure by die wol te probeer aanpas aangesien wol nie noodwendig altyd in die verf se kleure te vinde was nie.

Mevrou Nellie Kruger en WH Coetzer het na die eerste proefpaneel bymekaargekom om oor die verf se kleure te konfidereer. Nadat beide partye die wolkleure deeglik ondersoek het, het Coetzer aan die werk gespring. Coetzer het baie deeglik te werk gegaan en indieptenavorsing gedoen.

Olieverf sou nie werk nie, tensy allerhande middels bygevoeg word wat weer op die lange duur nadelig op die tapisseriegaas sou inwerk. Waterverf sou maklik wees om te meng en ook te kleur na gelang die wol se kleur. Waterverf is egter geneig om inmekaar te vloei, en dit kan ook lank nat bly.
Op die end het Coetzer se keuse op Pelikan Plaka geval. Laasgenoemde was ’n Duitse produk en byna net so dik as heuning. Pelikan Plaka het ook die voordeel gehad dat dit gou droog word.

Die keuse van wol was ook moeilik, dog op die end is besluit op “Patons Beehive Tapestry Wool”. Daarna het Coetzer die verf begin meng om by die wol aan te pas. Elke mengsel was afsonderlik in potjies gemeng. Die kleur van die potjie, asook ’n stukkie wol is op die deksel aangebring. Tesame is 102 verskillende kleure verf deur Coetzer gebruik. Soms het van die potjies uitgedroog en moes daar weer gemeng word. Die verf van die tapisserie het vyf jaar van Coetzer se lewe in beslag geneem. Dit was die gevolg van Coetzer se presiese en toegewyde werkmetode. Eerstens is ’n skets gemaak van dit wat hy min of meer in gedagte gehad het. Tot soveel as 20 na 30 sketse is met pen en ink gemaak. Die bestes is dan gekies en vanaf gewerk. Daarna het hy op masonite-borde die prentjie in kleur begin skilder. Vanaf die kleursketse was dan op die gaas gewerk. Meer as een skets, as ‘t ware vanuit verskillende hoeke, is gebruik om aan hom diepte en skaal te gee. Tekeninge op die gaas is eers met houtskool gedoen, waarna met verf begin is. Coetzer het konstant met ’n klein kwassie skaars groter as ’n vuurhoutjie se kop, 3 mm, gewerk. Die panele is dus met ander woorde uitgestippel. Dit is gedoen om te verhoed dat die verf die gaatjies toemaak waardeur die vroue met die wol moes werk. Hierdie was geen geringe en maklike taak gewees nie, en tog het die man met ’n wil en toewyding gewerk. Elke paneel is deur die vroue ondersoek alvorens dit oorhandig is.

Volgende aan die beurt was die tapisseriegaas. ’n Bekende firma, Stuttaford, is genader en het ingewillig. Laasgenoemde het die materiaal gratis verskaf, wat ’n groot geskenk was.

Die panele deur Coetzer geskilder bevat net meer as 200 figure waaronder mans, vrouens, kinders, bejaardes asook enkele anderskleuriges. Opmerklik is dat kleredrag van die mense nie altyd as nuut vertoon nie. Laasgenoemde is eintlik logies aangesien smouse ver moes trek en met veel moeite die Voortrekkers bereik het. Mej. Trudie Kestell, ’n kenner van formaat met betrekking tot Voortrekkerdrag, het Coetzer getrou bygestaan en gehelp. Etlike sketse met betrekking tot kappies, baadjies, onderbaadjies, hoede, skouermantels, rokke, nagklere ens. is deur haar gemaak.

Nege werksters het die panele borduur. Hulle was: MS Pienaar (no. 4), JW Prinsloo (no. 1, 2 & 3), H Rossouw (no. 5 & 15), N Kruger (no. 6 & 14), JF Coetzer (no. 7 & 9), HJ Combrinck (no. 8), MB de Wet (no. 10), AW Stey (no. 11 & 12) en MR Oosthuizen (no. 13). Die gemiddelde aantal steke was op 100 steke per vierkante duim. Die totale aantal steke gesamentlik deur die vroue gemaak, is bereken op 3 353 600. Bo in die linkerhoek van elke paneel, dog baie klein, is elke werkster se voorletters uitgewerk, en na regs, die persoon se naam.

Bron: Kruger, Nellie. 1988. Die geskiedenis van die Voortrekker-Muurtapisserie. Pretoria: Gutenberg Boekdrukkers.