Die geskiedenis van die Nasionale Krugerwildtuin

Historiese almanak
April 15, 2017
Ons Republiek – Sy Weermag 1961 tot 1971
April 15, 2017

(Geskryf deur AG Roodt, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1962)

Elke jaar besoek duisende leerlinge die Nasionale Krugerwildtuin en name soos Pretoriuskop, Skukuza, Satara en Shingwidzi het vir hulle bekende name geword. Baie leerlinge stel die vraag: Waar kom die name vandaan? Wat beteken hulle? Hoe het die Wildtuin tot stand gekom?

Daar is verskeie aanduidings dat blankes gedurende die Voortrekkertydperk deur hierdie gebied gereis het. ’n Afgesaagde boomstomp waarop ’n gedenkplaat aangebring is, toon die rigting aan waarlangs Louis Trichardt in Maart, 1838 gereis het op pad na Delagoabaai. Hulle was die eerste blankes wat deur die huidige wildtuin gereis het. Na die stigting van Andries-Ohrigstad in 1845 het die destydse Transvaalse Regering pogings aangewend om verbinding te bewerkstellig met Delagoabaai en in 1848 het Carolus Trichardt, die seun van Louis Trichardt, ’n pad deur die digte bos afgebaken. Hierdie pad moes so ver as moontlik nie deur die tsetsevlieggebied gaan nie. Hierdie pad, genoem die “Delagoabaai-Voortrekkerpad” of “Oude Wagenweg” het by die huidige Pretoriuskop verbygegaan waar daar later ’n monumentjie opgerig is vir die hondjie, “Jock of the Bushveld”. Maar van die handel met Delagoabaai het nie veel gekom nie en die pad het in verwaarlosing verval.

Na die ontdekking van goud in Oos-Transvaal in 1869, was dit noodsaaklik dat ’n verbindingsweg met Delagoabaai weer ingestel moes word. ’n Sekere handelaar met die naam van Nelmapius het toestemming van die Suid-Afrikaanse Republiek ontvang om goedere vanaf die Baai na die goudvelde in Lydenburg se wêreld te vervoer en tussen die jare 1872-1892 was hierdie pad een van die beroemdste paaie. Dit was toe dat Fitzpatrick met sy hondjie Jock met hierdie pad gereis het en sulke avontuurlike ondervindings beleef het.

Gedurende hierdie jare het die blankes die huidige Krugerwildtuin as jagveld gebruik. Hulle het elke jaar gedurende die winter hulle vee vir weiding daarheen gebring en jag gemaak op die wild. Ook het die naturelle vrye teuels gehad wat betref die wild wat natuurlik elke jaar minder en minder geword het.

President Kruger het dus in 1884 gedurende ’n sitting van die Volksraad aan die hand gedoen dat die tyd aangebreek het om stappe te doen om die wild van die Transvaal, wat so vinnig verdwyn het, te beskerm. Vyf jaar later, in 1889, het hy voorgestel dat die gebied in die noordooste van die Transvaal afgesonder moet word as ’n reservaat vir wild en wat bekend sou staan as die Sabie-wildreservaat. In 1891 is die grense van die wildreservaat afgebaken. Daarna is ’n proklamasie in die staatskoerant van 26 Maart 1898 gepubliseer wat persone verbied om wild binne die afgebakende gebied te jag.

Die datum 26 Maart 1898 was dus die geboortedag van die Sabie-wildreservaat of Nasionale Krugerwildtuin. Maar alles was nog op losse voet en eers na die Anglo-Boereoorlog is Iuitenant-kolonel Stevenson-Hamilton in 1902 aangestel as opsiener oor die wildreservaat. Sy grootste struikelblok was die aantal privaat plase tussen die Sabie- en Letabariviere. Op hierdie plase kon die eienaars nog vry wild skiet. Maar mnr. PGW Grobler, minister in die Hertzogkabinet, het op 9 Desember 1925 ’n vergadering in Johannesburg gehou waar hy die grondeienaars en mynmaatskappye oorreed het om afstand te doen van hulle grond. In die volgende jaar is die Wet op Nasionale Parke aangeneem wat al die Wildreservate op vaste voet gestel het. Na ’n tydperk van 25 jaar groei, het die Sabie-wildreservaat as die Nasionale Krugerwildtuin tot stand gekom. Dit beslaan die oostelike Laeveld van die Transvaal en is ongeveer 200 myl lank en ongeveer 40 myl breed.

Nooit het Louis Trichardt wat deur die huidige wildtuin gereis het of Fitzpatrick wat met sy hondjie Jock met die “Oude Wagen-weg” gereis het, kon droom dat daardie gebied een van die mooiste wildtuine in die wêreld sou word nie. Vandag na 64 jaar bring ons hulde aan President Kruger wat met versiendheid in die Volksraad voorgestel het dat die wild van Transvaal beskerm moes word en wie se voorstel uitgeloop het op die totstandkoming van die Krugerwildtuin.

Die “Oude Wagenweg” is weer herstel en vir ons moet daardie pad ook êrens heen lei, na ’n gesogte heiligdom, na ’n kabbelende rivierstroom, na ’n koel skaduboom.

“Stadig maar seker en onverbiddelik soos die koms van ’n nuwe dag, is die Grootpad van die Nasionale Krugerwildtuin besig om as ’n groot nasionale hoofweg gestalte aan te neem. Dit is die pad wat slinger deur die lewens van langgekoesterde drome van ’n immergroeiende menseskaar – die pad van die moeë pelgrim wat dors na die ruimtes van die ongetemde natuur. En om daardie pad word algaande ’n skone tradisie geweef – van die deurvaart van presidente en prinse en die ontmoeting van digter en boer.” (Anon. – vry vertaal).

(Met erkentlikheid is gebruik gemaak van publikasies van die Parkeraad. Die skrywer.)