Die vroegste jare in die Vrystaat
November 23, 2015
Nog meer besonderhede oor die Slag van Bloedrivier
November 23, 2015

JH Pierneef het die skildery van die Geloftekerkie omstreeks 1938 geskilder toe dit in die Huisgenoot verskyn het. Die skildery toon die kerkie soos hy gelyk het nadat die ornate gewels in die 20ste eeu aangebring is en is dus nie heeltemal akkuraat nie.

(geskryf deur P. van Ziil, Laerskool Japie Greyling, soos verskyn in Historia Junior)

Na die wrede moorde by Bloukrans, Moordspruit en Weenen, het die Voortrekkers in groot nood verkeer. Piet Retief was vermoor en Gerrit Maritz was ’n siek man. Gelukkig het Andries Pretorius uit die Kaapkolonie opgedaag met sy trek. Hy is as nuwe leier gekies.

Dadelik is planne beraam, en voorbereidings gemaak om Dingaan deeglik te straf.

Die Strafekspedisie

Andries Pretorius het met ongeveer 400 manskappe, genoeg perde en genoeg waens en ammunisie vertrek. Almal het goed geweet dat dit ’n uiters gevaarlike en moeilike onderneming sou wees. Op 9 Desember 1838 is daar by Danskraal besluit om ’n gelofte af te lê. In die gelofte, wat onder leiding van Sarel Cilliers afgelê is, is onder andere belowe om vir die Here ’n huis (kerk) te bou as die vyand verslaan word. (Elke leerling behoort die Gelofte netjies in ’n bloemlesing af te skrywe.)

Die kommando het op wonderbaarlike wyse, die Zoeloes op Sondag 16 Desember 1838 verpletterend verslaan. Geeneen van die trekkers het gesneuwel nie, terwyl die gevegsterrein by Bloedrivier met duisende Zoeloelyke besaai gelê het. Elkeen van die dapper, gelowige burgers was diep dankbaar teenoor hulle Skepper en Uitredder. Die Gelofte het ’n groot betekenis gekry!

Na die slag van Bloedrivier, het daar nog verskeie verwoede gevegte plaasgevind. Uiteindelik is Dingaan se mag gebreek en het hy gevlug na ’n landstreek waar die Swasies hom vermoor het.

In 1839 is die dorp Pietermaritzburg aangelê en bydraes gevra vir die “Geloftekerk”. Eindelik is met die bou daarvan begin. Die volgende Trekkers het die bouwerk behartig: Andries Pretorius, Frans Botha, Marthinus Bekker, Piet de Wet, Andries Smit, Willem en Theunis Nel, Stoffel Lötter en Wynand Maree. Dit was ’n stewige geboutjie van 2 voet-dik afgepleisterde leiklipmure. Twee Duitsers, C.H. Nagel en C. Heine het ’n pragtige preekstoel uit veelkleurige Natalse houtsoorte vervaardig. In 1841 is die kerkie in gebruik geneem.

Predikers

Die volgende persone het mekaar van 1841–1861 as predikers in die Geloftekerk opgevolg: Eerw. Erasmus Smit, eerw. Daniël Lindley, eerw. Döhne, dr. H.E. Faure en ds. D.P.M. Huet. Op 6 April 1861 is afskeid geneem van die kerkie, wat te klein geword het vir die gemeente, en is na ’n nuwe kerkgebou gegaan.

Lot van die Geboutjie

Na 1861 is die kerk deur die Natalse regering gehuur en as skool gebruik. In 1874 is dit vir R1400 (£700) aan D. Whitelaw verkoop. Hierna is dit as wamakerswinkel, mineraalwaterfabriek, aptekerswinkel en teekamer gebruik.

In ’n koerant De Afrikaner van 24 Desember 1906, word spyt uitgespreek dat die eertydse Geloftekerk in die hande van vreemdelinge is. ’n Beroep word gedoen om dit weer terug te koop. Op 17 Desember 1908 is die kerkie te huur aangebied deur mnr. W.H. Buchanan, die destydse eienaar, teen R3 per maand. Dr. E.G. Jansen (latere jare Goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika) het die brief ontvang waarin die eiendom ook teen R3,500 te koop aangebied word.

Volkseiendom

Na beraadslagings is daar later besluit om die geboutjie te koop. Uit die vier provinsies van Suid-Afrika het onder andere ook die volgende groot persoonlikhede as beskermhere vir die fondsinsamelings opgetree: Pres. M.T. Steyn, genls. J.B.M. Hertzog, C.R. de Wet, J.H. de la Rey, Louis Botha en J.C. Smuts.

In 1912 is die gebou aangekoop en herstelwerk gedoen. Dit is voorsien van nuwe vensters en deure en Kaaps-Hollandse gewels.

Op 16 Desember 1912, is die gebou feestelik in gebruik geneem as museum, waarin oudhede uit die Voortrekkertydperk vir die nageslag bewaar word. Die gebou het nou volkseiendom geword!

Die geskiedskrywer, dr. Theal, het lank gelede die volgende van die Geloftekerkie gesê: “Dit sal tevergeefs wees om in enige land in die wêreld na ’n gebou te soek waaraan die geskiedenis van lyding, moed en uiteindelike oorwinning, gebore uit die gehegtheid aan God en Sy Woord so gebonde is as die Geloftekerk.”

Die Voortrekkermuseum (die ou Geloftekerk) in Pietermaritzburg word jaarliks deur baie mense besoek. Dit gee ’n goeie beeld van die leefwyse van ons stoere voorvaders.