Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling

Die De Wildt-toespraak van genl. JBM Hertzog
April 11, 2017
Die uitbreiding van die Kaapkolonie, 1717-1779
April 11, 2017

(Geskryf deur Gawie Nienaber, Hoër Seunskool Helpmekaar, St. 10, soos verskyn in Historia Junior, November 1969)

Wanneer ons die Bybel oopslaan en lees, besef ons nie altyd watter voorreg dit is om die Bybel in ons eie taal te mag lees nie. Omdat die oorgrote meerderheid van ons nie weet hoe die Bybel in Afrikaans vertaal is nie, wil ek graag ’n kort oorsig daarvan gee.

Ons kan die geskiedenis van hierdie groot en belangrike werk in drie tydperke indeel. Die eerste tydperk begin in 1872 met die brief van dr. Pannevis en eindig in 1911 met die dood van ds. SJ du Toit. Die tweede tydperk neem ’n aanvang, hoofsaaklik met die lesing van dr. BB Keet in 1914 voor die Afrikaanse Taalvereniging, en strek tot 1923. Die laaste tydperk loop dan van 1923 af verder. Die bal is aan die rol gesit deur ’n Hollander, dr. Arnoldus Pannevis, met ’n brief in De Zuid-Afrikaan van 7 September 1872. Hierdie brief het die noodsaaklikheid van die vertaling van die Bybel onder die aandag van die publiek gebring.

CP Hoogenhout was vol van die noodsaaklikheid om ’n Afrikaanse Bybel te hê en in swakheid, maar gedwonge deur die Gees, dra hy sy deeltjie by. In 1873 verskyn sy belangrike: Geskiedenis van Josef. In Januarie 1878 het hy reeds die hele Bybelboek, Mattheus, klaar vertaal gehad. Dié vertaling is nooit gedruk nie, maar bestaan slegs in manuskripvorm.

In 1885 besluit die G.R.A. om nou met die werk te begin en stel ds. SJ du Toit aan as vertaler. Hy het ook die volgende boeke vertaal: o.a. Genesis (1893) en Die Psalme (1907). Ds. Du Toit was egter nie gewild nie, altans sy vertalings! Wat die vertaling betref, was daar ’n neiging by ds. Du Toit om te na aan die gewone volkstaal te kom. Ps. 23 vers 4 vertaal hy so: “Al gaan ek deur di kloof fan doodskadewe, ek vrees gen kwaad ni, want u is met my, uwe knopkiri en wandelstok fertroos my.”

Die tweede tydperk begin in 1914. Afrikaans was in 1916 nog in maak, die verskillende vertalers het uit verskillende dele van die land gekom, waardeur samewerking en standaardisering grootliks bemoeilik is. Ook moes die vertalers ook nog gewoond raak aan enige algemene metodiese probleme. Die eerste boek wat vertaal is, was Jona, Hosea en die Johannes-evangelie. In 1919 besluit die vertalers om die Vier Evangelies en die Psalms so spoedig moontlik in druk te laat verskyn om as proefuitgawe te dien. Dit verskyn in 1922, maar word skerp gekritiseer.

Die volk was ontevrede met die verafrikaansing van die Statebybel. Die ontvangs van die proefuitgawe was ’n ontnugtering sowel vir die Bybelvertalingskommissie as vir die vertalers self. Die metode om dienende predikante as vertalers te laat optree, het nie gedeug nie, want hulle was té besig met hulle herderlike pligte, om ’n studie van die vertalings te maak.

Dit het vir die kommissie duidelik geword om persone spesiaal vir hierdie werk af te sonder, sodat hulle dit uit die grondtale, Hebreeus en Grieks, kan vertaal. In 1924 het prof. JD du Toit (Totius) en prof. JD Kestell met die werk begin. Prof. Du Toit sou dadelik met Genesis begin. Hulle sou van tyd tot tyd hul vertalings aan mekaar stuur om nagesien te word. Prof. Du Toit bly op Potchefstroom en prof . Kestell in Bloemfontein. Prof. Kestell het besonder vinnig vertaal. Die Ou Testament is in 1928 voltooi. In 1924 het prof. Du Toit reeds die Breë Kommissie laat besef dat daar spesiaal vir die Ou Testament meer kragte moes bykom. Prof. Du Toit het baie konsensieus te werk gegaan. Sy werk was moeilik en daarom het hy ook met sy fyn humor opgemerk: “Job weier om Afrikaans te praat.” Vir die Ou Testament is bygevoeg dr. HCM Fourie en prof. EE van Rooyen. Prof. C van Gelderen van Amsterdam het ses maande kom help. Prof. BB. Keet het dr. Kestell met die Nuwe Testament bygestaan. Die taaladviseurs was DF Malherbe, TH le Roux en SPE Boshoff, terwyl prof. JJ Smit vir ’n tyd lank kom help het.

Na 1928 het die vertalers hulle aandag aan hersiening gewy. In Junie 1929 het die vier Evangelies en die Psalms weer eens verskyn, en die Afrikanervolk wes tevrede. Die Afrikaanse Bybel is deur die B.B.B.G. gedruk en uitgegee, en in Mei 1933 het die eerste eksemplaar in Suid-Afrika aangekom.

Die Bybel is op Sondag 27 Augustus 1933 deur die hele Suid-Afrika feestelik in ontvangs geneem. ’n Sentrale fees is in die Marksaal van Bloemfontein gevier. In 1952 het ’n hersiene uitgawe van die Bybel verskyn.

Nadat ons nou bykans ses-en-dertig jaar die Bybel in ons taal kan lees, glo ek dat ons nog steeds met dankbaarheid aan God moet dink vir die inspirasie wat hy aan die vertalers deur sy Gees gebied het.