Geheime Britse slawebedryf in SA eerste keer te boek
March 31, 2015
Bloedrivier
April 2, 2015

Soos enkele ander leiers was Andries Pretorius ’n indrukwekkende figuur: meer as twee meter lank en goed gebou, so simmetries dat gesê is dat ’n beeldhouer in hom ’n uitstekende model vir ’n Hercules-beeld sou kon vind. Hy was hardwerkend, vriendelik en vol ondernemingsgees, en het ’n hele paar plase in die Kolonie besit. Aan die einde van 1837 het hy ’n besoek aan die trekkers gebring en ’n deel van die veldtog teen die Matebele meegemaak.

Pretorius het sy trek vir eers aan die Modderrivier agtergelaat en is inderhaas Natal toe. Op 22 November het hy by die laer aangekom en is as hoofkommandant van die strafkommando teen Dingane aangewys. Op 24 November is hulle in die rigting van Zoeloeland. Onderweg het Karel Landman en sy volgelinge hulle by die hoofmag aangesluit. Pretorius was aan die hoof van 470 man met 64 waens. Sy sekretaris, Jan Bantjes, se beskrywing van die tog is in Junie 1839 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer. Pretorius het die veldtog goed beplan en sy ongedissiplineerde manskappe met bewonderenswaardige takt gehanteer.

Drie van die trekkers het om die beurt die aandgodsdiens waargeneem, onder andere Sarel Cilliers. Daar word gesê dat sy preke uit die Ou Testament Pretorius op die gedagte van ’n gelofte gebring het. Pretorius het die idee met sy kommandante en manskappe bespreek en nadat hy hul goedkeuring verkry het, is dit op Sondag 9 Desember by die huidige Wasbankspruit in ’n gebed afgelê. Daar is onsekerheid oor wie beskou kan word as die opsteller van die  gelofte in dié vorm, maar Sarel Cilliers word gewoonlik genoem. Dit is daarna elke aand herhaal. Dit lui (in vertaalde vorm): “Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat sal deurbring, en dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons dit ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook van opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en eer van oorwinning aan Hom te gee.”

Hoe dieper die kommando Zoeloeland binnegetrek het, hoe meer Zoeloes het hulle teëgekom. Selfs toe nog het Pretorius probeer vrede maak mits Dingane skadevergoeding vir verliese betaal, maar vergeefs. Op Saterdag 15 Desember was die Zoeloehoofmag naby. Die waens was reeds deur die Ncomerivier, maar Pretorius was nie tevrede met die terrein nie, en het beveel dat hulle terugdraai na die wesoewer, sodat die laer daar getrek kon word tussen die rivier en ’n diep sloot. Beeste en perde is in die laer vasgemaak. Teen skemer het daar mistige weer toegesak – ’n gevaarlike toestand, want klam kruit kan nie ontplof mie. Om nie onverhoeds oorval te word nie, is lanterns met brandende waskerse aan sweepstokke gebind wat so 50 meter van die laer in die grond geplant is.

Die aand het die trekkers godsdiens gehou, en gesing uit Psalm 138: “Blijf niet, wegens mijn gebreken, / Ver geweken; / Toon, dat God mijn rampen ziet.” ’n Zoeloe het later vertel: “Hulle het gesing toe dit donker word, net of hulle almal saam huil, en ons jonges het daarna geluister en gesê: “Ja, sing maar, julle, want môre se son sal julle nie weer sien ondergaan nie.”