(geskryf deur P. van Zyl, Laerskool Japie Greyling, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1968)
Elke jaar word daar op 16 Desember op talle plekke in Suid-Afrika Geloftedag gevier. Op baie plekke is daar pragtige feesterreine en feeshuise vir hierdie doel beplan en gebou. Teen die einde van elke jaar word programme van Geloftedagbyeenkomste oor die radio bekend gemaak en in nuusblaaie bekend gestel. Vroeër was dié dag bekend as “Dingaansdag” en het die mense op 16 Desember “Dingaansfees” gevier.
Op Sondag 16 Desember 1838 het die strafekspedisie van omtrent 400 man, onder leiding van Andries Pretorius die Zoeloemag verpletterend verslaan. Daardie veldslag staan bekend as die slag van Bloedrivier. “Dingaansdag”, “Die slag van Bloedrivier” en “Geloftedag” het almal betrekking op 16 Desember. Maar eintlik is daar nie ’n gelofte op 16 Desember 1838 afgelê nie want die geveg het reeds baie vroeg die oggend begin.
In sy dagboek meld Bantjes, die Voortrekkeronderwyser, dat Andries Pretorius elf dae voor die slag van Bloedrivier sy offisiere byeengeroep het. Hy het toe die erns van die toestand aan hulle weer eens verduidelik en gesê dat ’n saak wat sonder God aangepak word, tot mislukking gedoem is. Hy het die saak verder met die vrome Sarel Cilliers bespreek en daar is besluit om ’n gelofte af te lê.
Op 9 Desember 1838 het Sarel Cilliers uit Rigters 6:1-24 aan die Iede van die strafekspedisie op Danskraal voorgelees.
Daarna is verse 12, 16 en 21 van Psalm 38 gesing. Die Gelofte, wat aan ons almal bekend is, is toe plegtig afgelê. Die verrigtinge is hierna afgesluit met die sing van ’n vers uit Psalm 134. Dee Gelofte is elke dag herhaal en vir die laaste keer op 15 Desember (die dag voor die slag) afgelê. Die slag van Bloedrivier was ’n wonderdag van uitredding en gebedsverhoring. Maar die Gelofte het ’n groot verpligting op die skouers van die nageslag van die Trekkers (dit is ons) geplaas. Hulle moes dié dag voortaan as ’n dankdag, soos ’n Sabbat onderhou, ’n huis (kerk) vir die Here bou en (dit is van baie groot betekenis) … dit moet aan die opkomende geslagte oorgedra word, sodat ook húlle Sy Naam daardeur kan verheerlik. Die roem en eer van daardie dag moet aan God gegee word. Die Gelofte bepaal dat dit so moet wees.
Geloftedag is nie net ’n vakansiedag nie! Dit moet ook vir elke Afrikaanse seun en dogter ’n dag van die wonder van die Skepper se Almag wees en, dat Hy die volk wat Hom opreg in hul nood aanroep, lei en beskerm.