TOESPRAAK DEUR DIE STAATSPRESIDENT CR SWART BY GELEENTHEID VAN DIE VIERING VAN GELOFTEDAG BY DIE VOORTREKKERMONUMENT OP SONDAG, 16 DESEMBER 1962.
Ons vier Geloftedag. Ons vier dit hier in die skaduwee van die Voortrekkermonument, waar daar met die Eeufees en hoeksteenlegging na die Ossewatrek in 1938 so ’n klinkende wekroep na ons volk diep ontroerd geraak het toe die klokkespel van gewyde musiek op die middaguur deur gans ons land weergalm het; toe die heldere sonstraal deur die hoë opening neergestraal het op die sarkofaag en die plegtige belofte daarop gegrafeer – “Ons vir jou Suid-Afrika.”
Dit is nodig en dit is paslik dat ons sal beklemtoon dat dit Geloftedag is. U sal onthou dat deur jare en geslagte heen is die dag onder die naam “Dingaansdag” gevier. Oral in ons land is daar Dingaansfeeste gehou, in stede en dorpe, op die platteland en by verafgeleë plekke, selfs in die buiteland het Suid-Afrikaners op die dag bymekaargekom om die fees te vier.
Dit was trouens die enigste geleentheid wat werklik gewy was aan die herdenking van suiwere Suid-Afrikaanse geskiedenis en volkstradisie en ons helde. Wat Afrikaanssprekendes altans betref, was dit die een groot volksfees van die jaar.
In die huidige bedeling is dit anders. Daar het ’n betekenisvolle verandering gekom as gevolg van ’n verordening van ons Parlement tien jaar gelede. Daardeur is nuwe vakansie- of feesdae (afgesien van die reeds bestaande kerklike of Godsdienstige feesdae) ingestel, waarop ons volk besondere gebeurtenisse in ons geskiedenis en die lotgevalle van ons volkshelde nou kan herdenk.
Die ou benaming “Dingaansdag” is verander tot die meer paslike “Geloftedag”. Ook veelbetekenend is dat die dag op dieselfde grondslae ten opsigte van Sabbatswette geplaas is as Kersdag, Goeie Vrydag en Hemelvaart.
Dit sal my gegun word om my persoonlike blydskap oor laasgenoemde bepaling uit te spreek, aangesien ek reeds lank gelede, in die jaar 1927 as jong volksraadslid, ’n desbetreffende maatreël in die parlement ingedien het, maar dit is toentertyd as onaanneemlik verwerp. Ons het blykbaar sedertdien hierin gevorder.
Daar bestaan tans ’n aantal feesdae, waarop alle fases van ons geskiedenis herdenk kan word. Daar is Van Riebeeckdag om die geboorte en die stigting in 1652 van ons Staat te vier; Republiekdag om oor die groot gebeurtenis en geboorte van ons huidige nuwe bedeling van 1961 te juig; Setlaarsdag om eer en hulde te betoon aan die koms van die Britse Setlaars in 1820 en hul groot en waardevolle aandeel in die ontwikkeling van ons vaderland en die bou van ons nasie; Krugerdag wat die geleentheid verskaf om hulde te bring aan die nagedagtenis nie alleen van president Paul Kruger nie, maar ook ander helde en groot figure in ons eie geskiedenis.
Ek beklemtoon dus dat instede van net een nasionale geleentheid wat altyd op aansienlike skaal gevier was, naamlik die ou “Dingaansdag” (wat dikwels as geleentheid vir allerlei ander herdenkings gedien het) ons tans nog vier ander feesdae het om die paslike hoogtepunte van ons geskiedenis dan met feesviering te gedenk en gepaste hulde te betoon.