Die Britse Setlaars, 1820
December 2, 2015
Gerhardus Marthinus Maritz
December 2, 2015

(geskryf deur JV Coetzee, Museumkurator van die Potchefstroom Museum, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1965)

Een van die interessantste stukke uit die kultuurskatte van die Voortrekkers het ons pas ontvang na ’n soektog van meer as ’n jaar. Die ’n heel primitiewe ou stuk gereedskap wat waarskynlik amper net so oud is as die blanke beskawing in Suid-Afrika. Dit herinner aan die lewe en vindingrykheid van die ou Israeliete duisende jare gelede, opnuut toegepas deur die wordende Afrikaner onder amper soortgelyke primitiewe toestande.

Die ou meultjie bestaan uit twee plat, rondgekapte klippers. Dis van ’n harde en sagter tipe sandsteen ongeveer 2 duim dik en 14-15 duim in deursnee. In die middel van die onderste is ’n 1 ¾ duim gat waarin ’n 8 duim pen van harde hout stewig vassit. Die dien as as vir die boonste steen om om te draai. Die boonste steen het ook ’n gat in die middel, maar effe wyer as die onderste gat, sodat die boonste steen makliker kan draai en die koring daardeur ingegooi kan word met die hand. Verder het die boonste steen aan die onderkant ingekapte groewe wat waaiervormig uitloop na die rand. Aan die bokant van die boonste steen is daar nog ’n 6 duim ronde pen wat ongeveer 1 ½ duim van die rand af stewig daarin vasgesit is. Dit dien as handvatsel om die boonste steen te draai. Dis al! So eenvoudig soos die Bybelse “meulsteen”.

Die maler – slaaf, naturel of huisvrou – het gewoonlik plat of wydsbeen langs die meultjie gesit en dan beurt-beurt met die linker- en regterhand gedraai – ’n lieflik gesonde oefening. Om die meel skoon te hou – die voorouers was pynlik netjies – het hulle ’n skoon matjie in ’n holte op die grond gesit vir die meul en maler om op te sit. Direk onder die meulstene, wat gereeld deeglik skoongemaak is, het hul dan nog ’n spesiale wit seiltjie of goed bewerkte bok- of kalfsvel gesit vir die meel om op te val.

Hierdie manier van malery soos aan my meegedeel is veral verkry by die boere van die droër Noordweste, die trekboer, die Voortrekkers en die plattelandse kleurlingvolk.

Die benaming “gatskuurmeul” en “gatbrood” is dan waarskynlik afkomstig van laasgenoemde groep.

’n Verbeterde metode was waar hul die meulstene op ’n stellasie van ongeveer drie voet hoog gesit het, met die stene in ’n halftoe kas met ’n gleuf of geut aan die eenkant waardeur die meel vanself in die leer- of seilsak geloop het. Dis dan gewoonlik deur twee malers getrekstoot.

’n Verbetering op hierdie meul was die water- en die perdemeul, die eerste meer vir die dele met gereelde strome en die laaste vir die droër dele van ons land.

Hierdie meultjie is vir ons goedgunstiglik opgespoor, verpak en aangestuur deur mnr. BJ van der Merwe van Vredendal, Kaapprovinsie, en geskenk deur mev. Jan van Zyl van Vredendal.