Die Gantouwpas, Steenbras

Die Duiwehok, De Bosch, Somerset-Wes
January 31, 2018
Die Beinbrecht-brug oor die Riviersonderend, Genadendal
January 31, 2018

Deur die besetting van die vallei van Hottentots-Holland deur Willem Adriaan van der Stel het die ooswaartse uitbreiding van die Kaapkolonie ’n tyd lank tot stilstand gekom. Dit was eers na sy ontslag in 1707 dat die trek oor die Hottentots-Hollandberge ’n aanvang geneem het. Dit sou oor die steil en gevaarlike Gantouwpas, deur die Hottentots-Hollandkloof, net noord van die huidige Sir Lowry’s-pas gaan. Hierdie ou pas is tans vanaf Somerset-Wes onbereikbaar, maar die besoeker moet van Steenbrasstasie, met ’n kronkelpaadjie deur ’n bosboureservaat te voet daarheen loop. Hier is nog die groewe te sien wat deur die remskoene in die sandklip uitgeskuur is asook die twee ou oorspronklike kanonnetjies wat in die geval van gevaar afgeskiet is. Van hier ontvou hom aan die besoeker ’n onvergelyklike gesig op Valsbaai en die Kaapse Skiereiland.

Soos in die geval van byna alle passe oor die “Berge van Afrika” het ook hierdie pas die voetpad van die wild gevolg en daarom het die Hottentots dit Gantouw-(Elands-) poort of -pas genoem. Op die spoor van die wild het die Hottentots gevolg en in die derde kwart van die 17de eeu vind ook die witman sy weg hierlangs na die binneland. In Januarie 1669 lei die ou reisiger Hieronymus Cruse vir die eerste maal ’n verkenningsgeselskap oor hierdie gebergte, en in die tagtiger jare het die bekende Oloff Bergh by herhaling oor hierdie moeilike pas gegaan om met die Hottentots langs die Riviersonderend handel te dryf en om die vragte van skepe wat op die rotsige Agulhaskus gestrand het, te berg. In 1689 trek ook Isaq Schrijver hier oor op sy lang tog na die Inkwas daar op die verre oosgrens. So onbegaanbaar was die pas dat Jan Hartog, die Kompanjie se baastuinier, nog in 1707 sy waens uitmekaar moes laat haal en saam met sy bagasie tot op die berg moes laat dra.

Na 1707, toe die koloniste oor die Hottentots-Hollandkloof begin trek, is ’n rybare pad gevind. Dit het geloop vanaf die huidige dorpie Sir Lowry’s Pass verby die plaas Goedeverwachting, links om die uitloper van die berg om dan regs teen die Roode Hoogte uit te swaai waar dit in die kloof ingegaan het, bokant maar byna ewewydig met die huidige spoorweg en pad. Van hier het dit byna loodreg met die kloof tot op die nek uitgeklim. Heen en weer is daar oor die pas gereis, maar elke tog was ’n gevaarlike avontuur en ’n marteling vir mens en dier. Vir die ondernemende Lady Anne Barnard, wat in 1798 hier oor na Caledon gereis het, was dit ’n verbysterende ondervinding en haar vroulike gevoeligheid is wreed geskok deur die kastyding wat die osse aan die hand van die Hottentotdrywers moes ondergaan. Eerw. Latrobe vertel dat op sy tog na die ooste ’n span van 54 osse nouliks die wa daar kon uittrek.

Die Hottentots-Hollandpas het dus een van die grootste struikelblokke in die weg van die ontwikkeling van die kolonie gebly totdat sir Lowry Cole in 1828 na ’n inspeksie aan die begaafde majoor Charles Michell opdrag gegee het om die pas te herbou. Michell het daarop ’n nuwe pas vir R6 000 gebou. Op 6 Julie 1830 is dit geopen en ter ere van die goewerneur is dit Sir Lowry’s-pas genoem. Daarmee het, volgens Michell, “hierdie gedugte en byna onoorkomelike struikelblok vir ’n pad so goed as enige bergpas in Europa plek gemaak”, en die ou Gantouwpas het vir goed in onbruik geraak.

(Geproklameer 1958)

Johannes Schumacher • Die Gantouwpas • A. Hallema: Die Kaap in 1776-1777

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 104-105.