Sir George Grey
April 10, 2017
Tienie Oosthuizen
April 10, 2017

(Geskryf deur dr. J Albert Coetzee, LV, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1969)

Vanuit die kareeboom het die seun – Marthinus Victor – die groot galg baie goed gesien – bo-oor die koppe van die 300 soldate en die baie ander mense war moes aanskou hoe vyf van hul familiebetrekkinge en vriende tegelyk opgehang word.

Die vyf veroordeelde manne wat onder die lang dwarshout – blykbaar ’n jong boomstam – van die galg staan, met toue om hul nekke wat bokant hulle om die dwarshout vas is, is Hendrik Prinslo (32), Stephanus Bothma (43), Cornelis Faber (59), Theunis de Klerk (29) en Abraham Bothma (28). Maar aan een van die twee pale is nog iemand met ‘n tou om sy nek vasgemaak – net om hom te verneder en te laat besef hoe amper ook hy, Frans Marais, gehang word.

En toe die veroordeeldes en hul familie en vriende ’n psalm gesing het wat begin met “Uit diepten van ellenden …”, klink daar ’n bevel en – wat sien Marthinus Victor uit die kareeboom?

Vier van die vyf manne het op die grond geval, maar hulle spring op en roep om genade! Een van die vyf het bly hang: Sy strop het nie ook gebreek nie.

Maar kol. Cuyler, wat in bevel is van die teregstelling, het nie die mag om genade te verleen nie.

Daar is ’n gesmeek en geween van familiebetrekkinge en vriende terwyl sterker toue gebring word.

Weer klink die bevel en nou hang al vyf manne.

Dit het op 9 Maart 1816 gebeur, omtrent ’n duisend tree van die plek waar die fort op die wal van die Visrivier staan – die fort bekend as Van Aardtspos, omtrent vyftien myl suid van Slagtersnek waar die opstandelinge die wapen neergelê het. Die vonnis van die geregshof wat op 16 Desember 1815 (23 jaar voor die slag van Bloedrivier) op Uitenhage met sy sitting begin het, was dat hulle by die plek moes gehang word waar die opstandelinge ‘’n eed teen Engeland geneem het.

Die aanleiding tot hierdie teregstelling was die opstand wat gevolg het nadat Johannes Bezuidenhout se broer, Frederick, hom nie aan Hottentotsoldate van die Britse regering wou oorgee nie en homself vanuit ’n klipskeur in die Baviaansrivier verdedig het en daar gesneuwel het.

Maar die eintlike leier van die opstand was Hendrik Prinslo, seun van Marthinus Prinslo van die Bosberg wat in 1799 leier was van die s.g. “Van Jaarsveld-rebellie” nadat Engeland die Kaap in besit geneem en die republiek van Graaff-Reinet (wat drie jaar tevore gestig is,) onderwerp het. Marthinus Prinslo het ’n bynaam gekry omdat hy verskeie jare in die Kasteel opgesluit is, nl. “Marthinus Kasteel”. Sy seun is genoem “Hendrik Kasteel”.

Hendrik Prinslo het van die Bezuidenhout-insident probeer gebruikmaak om weer vry te word van Engeland, maar voordat hy veel kon doen, het ’n brief van hom in die hande van die Britse owerheid beland en hy is gearresteer en in die fort by die Visrivier gevange gehou. Dit was juis om hom te bevry dat Johannes Bezuidenhout se kommando by die kareeboom stilgehou het waar hulle die eed geneem het en waar Hendrik Prinslo en die ander leiers later, in Maart 1816, opgehang is.

Daar was dus eintlik twee bewegings – die een om wraak te neem oor die dood van Frederick Bezuidenhout en die ander, onder leiding van Hendrik Prinslo, om van dié gebeurtenis gebruik te maak om vry te wees van vreemde heerskappy.

In die opstand het daar soms verkeerde dinge gebeur, maar die geskiedenis is baie soos diamantgruis van die diamantdelwer: Die delwer gooi die gruis weg, maar hy sorg dat hy die diamant behou.

Die diamant in die Slagtersnek-geskiedenis is dat Hendrik Prinslo, sy swaer, Theunis de Klerk, en die ander leiers, aan die galg betaal het vir die beginsel van ’n onafhanklike Blanke nasieskap in Suid-Afrika.

Marthinus Victor het jare daarna in ’n huis naby die fort gebly. Die huis het vroeër aan Carolus van Aardt behoort. En Marthinus Victor het vertel dat die lys bo in die muur tussen die slaapkamer en die sitkamer nie ’n lys is nie, maar die dwarshout waaraan die vyf manne gehang is, nou aan die slaapkamerkant toegemessel in die muur.

Die man wat dit daar so ingemessel het, was die eienaar van die huis, Carolus van Aardt, wat in sy ouderdom by sy seun Piet gaan bly het. Oom Piet van Aardt was al op sy beurt oud toe hy aan my ’n beëdigde verklaring gemaak het voor die landdros van Somerset-Oos dat sy pa aan hom en ander mense vertel het dat hy die balk van die galg in sy huis ingebou het. Ek het van nog meer mense verklarings oor die balk gekry, o.a. van mev. die wed. Gustav Preller – dat haar pa, komdt. Henning Pretorius, in 1896 uit Pretoria na die Visrivier gereis het om die balk daar te gaan haal, maar hy is daar oorlede.

Oom Piet van Aardt het ook verklaar dat sy pa gesê het die balk was te lank om in die muur in te bou en dus het hy ’n stuk afgesaag. Oom Piet het nie geweer hoe lyk die uiteindes van die balk wat in die mure toegemessel was nie. Later, toe ek die balk laat uithaal het, het dit geblyk dat die balk aan die een uiteinde afgesaag was! Aan die ander uiteinde was dit gekap, en daar was ’n voeg – vir die paal aan die kant! Dit het dus ooreengestem met oom Piet se verklaring dat sy pa ’n stuk van die balk afgesaag het.

In Voigt se Fifty Years of the History of the Republic, Deel I, is daar op bl. 151 ’n voetnoot wat sê dat die seuns van die ou Van Aardt die galg afgebreek het. Blykbaar was Carolus van Aardt een van die seuns.

Ek dink die dwarshout van die galg was eintlik ’n jong boomstam wat na die afbreek van die galg deur Carolus van Aardt aan die een kant met ’n dissel gelyk gemaak is om te dien as ’n lys vir die sitkamer. Aan die slaapkamer se kant, waar dit in die muur toegemessel was, het dit nog effens rond gebly – is dit nie heeltemal gelyk gedissel nie.

In 1955 het mnr. FA Steytler in die Londense Argief dokumente gevind wat bevestig dat die balk inderdaad die dwarshout van die Slagtersnekgalg is. (Kyk Transvaler 5 April 1955.)

(Opm.: Die dwarshout van die galg wat in hierdie artikel beskrywe word, word nou bewaar in die Staatsargief, Uniegebou, Pretoria. – Red.)