Die Engelse kom weer

Die vroeg-19de-eeuse plaaslewe
February 25, 2015
’n Nuwe taalsituasie
February 27, 2015

’n Paar maande nadat Janssens en de Mist die bewind aan die Kaap oorgeneem het, het die oorlog weer op 18 Mei 1803 begin tussen Engeland en Frankryk, en daarom ook sy bondgenoot die Bataafse Republiek.

Die Bataafse Regering het die Kaap dadelik daarvan in kennis gestel. Die boodskap het op 6 Julie 1803 aangekom. Kort daarna het egter ook ’n brief gekom waarin beveel is dat die grootste deel van die militêre mag na die Ooste gestuur word. “Java is alles”, het die brief gelui. Die welvaart van Nederland het afgehang van die besit van die Oos-Indiese Eilande. Die Kaap mag miskien die sleutel van die Ooste wees, maar die sleutel kan van geen nut wees as Nederland die slot sou mis nie. Dié “slot” was die Ooste. In 1805 het die Britse regering besluit om ’n sterk mag onder sir David Baird te stuur om die Kaap te gaan verower.

Die lot van die Kaap was by voorbaat beseël. Janssens het nietemin ’n leër van sowat 2000 man op die been gebring. ’n Paar dae voor Nuwejaarsdag 1806 het dit bekend geword dat die Engelse aan die kom is, en op 4 Januarie 1806 het die seine op Leeuberg die koms van die Britse vloot aangekondig. Die nuus is met behulp van kanonskote na die binneland versprei en dit was dieselfde aand tot op Swellendam bekend. Dit was egter ’n slegte tyd vir boere om hul plase te verlaat: hulle was aan die dors, die druiwe het begin ryp word en dit was verskriklik warm.

Toe genl. Baird teen die aand van 7 Januarie sy hoofmag op die huidige Melkbosstrand laat land, was daar nog net ’n paar honderd burgers aan die Kaap. Janssens moes met sowat 2000 man optrek teen die Engelse wat meer as twee maal so sterk was. Net oos van die Blouberg het die twee leërs vroeg die oggend van 8 Januarie slaags geraak.

Die geveg was gou oor. Die vreemde huurlinge in Janssens se leër het dadelik begin retireer toe die eerste kanonkoeëls val, en voor die aanstormende Skotse Hooglanders met gevelde bajonette het hulle op die vlug geslaan. Die 250 burgers en die pandoers (bruin troepe) was onder dié wat hul man gestaan het, maar ná die vlug van die huurtroepe moes die res van die leër terugval.

Een van die laaste opdragte van Janssens aan die Politieke Raad was om burgers wat hulle dapper gedra het, soos kmdt. Jacobus Linde, te beloon deur plase aan hulle te skenk. Dit is gedoen voordat die voorwaardes van oorgawe van Kaapstad op Vrydag 10 Januarie op Papendorp (Woodstock) geteken is.

Janssens self wou die verset in die binneland voortsit, maar het op 18 Januarie in Hottentots-Holland die kolonie aan die Britte oorgegee en die burgers wat hom getrou gebly het, beveel om huis toe te gaan. In ’n merkwaardige brief aan Baird het hy geskryf dat die gedrag van die Afrikaners hoogs bevredigend was. “Skenk, wat dit betref, geen geloof aan mnr. Barrow en hul vyande nie. Die koloniste is nie sonder gebreke nie, maar hul goeie hoedanighede weeg meer as daarteen op.” Hierdie brief was kenmerkend van die Bataafse amptenare se gesindheid teenoor die Kapenaars.