Die eerste Vryburgers

Die eerste slawe kom aan
January 6, 2015
Na 10 jaar
January 8, 2015

Die Kompanjie het sy slawe hoofsaaklik as algemene arbeiders gebruik, maar ’n aantal was vakmanne soos timmermans en messelaars. Ander het as huisbediendes, tuiniers en veewagters gewerk. Die meeste Kompanjieslawe is gehuisves in die slawelosie wat egter gou tot ’n soort bordeel ontaard het. Sommige buite-egtelike kinders het blanke vaders gehad.

Saam met die slawe het ook smaaklike nuwe geregte na die Kaap gekom wat, naam en al, eg Suid-Afrikaans geword het: bobotie, sosatie, blatjang, bredies, atjar, samosas.

Sommige slawe was werksaam by ’n nuwe groep wat die Kaap van 21 Februarie 1657 gekry het, naamlik die “vryburgers”. Hulle was selfstandige boere, en die eerstes het hul plasies langs die Liesbeekrivier ontvang. Van Riebeeck het besef dat dit beter met die kosvoorsiening sou gaan as dit nie die Kompanjie was wat voedsel vir die skepe moes lewer nie, maar mense wat self boer.

Eintlik was die eerste vryburger ’n vrou, Annatjie Boom. Sy het in 1656 ’n kontrak met die Kompanjie aangegaan om melk teen ’n vaste prys te lewer. Die kontrak is opgesê omdat die Kompanjie nie genoeg voordeel daaruit getrek het nie. Haar man was die volgende jaar darem een van die nege vryburgers. Die Kaap het toe 144 wit mense gehad.

Nog daardie eerste winter van 1657 het drie van die vryburgers ooswaarts getrek en die hoë berge ten ooste van Valsbaai bereik. Daar het hulle by ’n mooi rivier tussen vyf- en seshonderd Khoikhoi aangetref, wat hul pragtige weiveld hul vaderland, húl “Holland”, genoem het. So het Hottentots-Holland in Junie 1657 sy naam gekry. Die volgende jaar het Van Riebeeck self togte laat onderneem – deur streke waarin die olifant, renoster, leeu en luiperd nog volop was.

Togte soos dié was nodig om beeste vir die retoervloot te kry. Op een van die togte het Eva, ’n jong Khoikhoi-vrou wat by die mense in die Fort gewoon het, as tolk saamgegaan. Op ’n ander tog in 1658 het die ossewa sy eerste verskyning in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak. Die ruilware was op ’n wa, getrek deur ses osse.

Langsamerhand het die verhouding tussen die Khoikhoi en die Hollanders versleg. Moeilikheid met die Kaapmans het toegeneem en al meer vee is gesteel. Toe die tolk Doman en ander Kaapmans op 7 Mei 1659 die beeste van ’n vryburger roof en sy skaapwagter Sijmon in ’t Velt vermoor, het Van Riebeeck besluit om die Khoikhoi te straf. Selfs party slawe is bewapen. Toe die Kaapmans merk dat sake ernstig raak, het hulle gevlug. Dit het die burgers kans gegee om te ploeg en te saai, vir veiligheid ’n heining van wilde amandelbome aan te lê en die waghuise “Kijckuit”, “Keert de koe” en “Houdt den bul” te bou.

Herry wat in 1658 na Robbeneiland verban is, het in Desember 1659 ontsnap en hom by die vyandelike Khoikhoi aangesluit. Tog was daar gou gerugte dat hulle vrede wou hê – en dié is op 6 April 1660 gesluit. Die Khoikhoi is daarop gewys dat hulle weens die “oorlog” hul reg op die weivelde in die Tafelvallei en langs die Liesbeek vir altyd verloor het.