(Geskryf deur M. Venter, soos verskyn in Historia Junior, Januarie 1958)
Dit is ’n koue reënerige dag en Gawie is baie verveeld. Van moedeloosheid snuffel hy maar in Oupa se boekrak. Hy blaai hier in ’n boek en soek daar weer na iets mooier. Hy kry ’n groot boek en blaai daarin.
“Ouma, Ouma kom bietjie hier,” roep hy hard. “Kyk hierdie pragtige boek. Delagoabaai – dis mos by Lourenço Marques waar ons volgende week heen gaan, nie waar nie?” vra Gawie.
“Ja, my kind. Dis die gedenkboek wat met die opening van die Delagoabaai-spoorweg uitgegee is,” antwoord Ouma.
“Vertel my iets daarvan, asseblief Ouma?” soebat Gawie.
“Kom sit hier by my dan blaai ons daarin, en sal ek jou vertel. Kyk, daar is die datum – 1895. Dit is in daardie jaar vir verkeer geopen. Daar sien jy op die buiteblad die wapen van die Suid-Afrikaanse Republiek en die leuse: Eendrag maak Mag.
“Die Suid-Afrikaanse Republiek wou altyd graag ’n spoorwegverbinding na ’n hawe gehad het. Hulle sou dan makliker goedere kon invoer. Die aanlê van die spoorweg na Delagoabaai was ’n moeilike werk. Die spoorweg moes deur die Hoëveld oor berge en deur die digbegroeide Laeveld gelê word. Daar was baie riviere en spruite waaroor brûe gebou moes word. Die ongesonde klimaat in die Laeveld het baie siekte en dood onder die werksmense veroorsaak. Hulle moes in die veld bly en dit was soms baie ruig. Daar was wilde diere. Hulle moes onder baie moeilike omstandighede werk. Jy kan self dink, Gawie, dat daar baie voorbereidings, studie, ondersoek en opmetings gedoen is voordat die werk kon begin. Die gedenkboek gee ’n beskrywing van al hierdie dinge. Die werk is deur die Nederlandse Suid-Afrikaanse Spoorwegmaatskappy aangepak.
“Wag, laat ons na die oorsig van die belangrikste gebeurtenisse in die lewe van die maatskappy blaai. Dit gee jou sommer gou-gou die hele geskiedenis van die spoorweg:
November 1887: Die opmeting aan die Komatiepoort begin.
Januarie en Februarie 1888: Siekte en dood van die eerste ingenieurs.
Maart 1890: Die eerste stoomskip vertrek van Amsterdam na Delagoabaai met bou- en ander materiaal.
Mei 1891: Die eerste lokomotief ry oor die Komatiebrug.
Julie 1891: Die opening van die spoorweg van die Portugese grens tot by Komatiepoort. Die begin dus van die Delagoabaailyn.
Oktober 1891: Opening van die Delagoabaailyn tot by Hectorspruit.
Desember 1891: Opening van die spoorweg tot by Malelane.
Maart 1892: Die spoorweg is tot by Kaapmuiden voltooi.
April 7892: Opening van die Delagoabaailyn tot by Krokodilpoort.
Junie 1892: Die spoorweg gaan na Nelspruit.
Junie 1893: Opening van die Delagoabaailyn tot by Alkmaar.
September 1893: Die tonnel in die Elandsberg word deurgeboor.
November 1893: Die spoorweg is tot by Elandshoek voltooi.
Desember 1893: Opening van die spoorlyn tot by Nooit Gedacht.
Januarie 1894: Spoorweg tot by Waterval-Onder voltooi.
Mei 1894: Die opening van die Delagoabaailyn van Pretoria tot by Eerste Fabrieke.
Junie 1894: Die spoorweg is tot by Waterval-Boven voltooi.
Julie 1894: Die spoor reik nou tot by Machadadorp.
September 1894: Die spoorlyn van Pretoria bereik Elandsrivier.
Oktober 1894: Die spoorweg van Pretoria kom tot by Bronkhorstspruit. Die laaste spoor word by Balmoral ge1ê en aangesluit. Die eerste trein van die ooste kom in Pretoria aan.
2 November 1894: Die laaste bout van die Delagoabaai-spoorweg word deur die staatspresident by Wilgerivier aangedraai. Die spoorweg word as voltooi beskou. Daar is baie mense – aansienlike burgers en uitgenooides – teenwoordig.
18 November 1894: ’n Voorlopige treindiens op die Delagoabaailyn begin. Daar is drie passasierstreine wat weekliks na Lourenço Marques deurgaan.
1 Januarie 1895: Die volledige opening van ’n gereelde diens tussen Pretoria en Lourenço Marques.
“Dit was ’n blye gebeurtenis vir die ou Republiek,” eindig Ouma.
“Wag, wag kyk hier is ’n kaart ook, Ouma. Ek wil dit gou teken en al die name daarop invul, dan kan ek volgende week oplet waar ons is, as ons met die trein na Lourenço Marques ry,” sê Gawie.
“Dis ’n oulike plan om op so ’n onplesierige dag besig te bly en baie leersaam ook,” stem Ouma saam.