Die eerste Springbokke

Die kerke en ’n “dunbevolkte hiernamaals”
January 23, 2015
Stemreg vir vroue
January 23, 2015

Dis onbekend of die sportmalheid wat Preller betreur het, ook die groeiende liefde vir rugby ingesluit het. Die eerste Springbokspan het in 1906 na Brittanje getoer.

Die eerste rugbywedstryd in die land het op 23 Augustus 1862 in Kaapstad plaasgevind tussen burgerlike en militêre spelers, wat almal die spel geleer het aan Britse skole soos Eton, Rugby, Winchester en Marlborough. Die spel het gou gewild geraak in die Kaap, ook by die South African College en die Victoria-kollege (die latere Universiteit van Kaapstad en van Stellenbosch), waar twee afrigters bekend geraak het, onderskeidelik Boy (“Bekkies”) de Villiers en AF (“Oubaas”) Markötter. Op Stellenbosch het Markötter in later jare ’n legendariese figuur geword. Baie spelers moes onder sy bitsige tong deurloop en het met sy kierie of skoen kennis gemaak.

Studente het rugby in die 19de eeu versprei na die Kaapse platteland, maar ook na die noorde. Rugby-unies is gestig vir die WP (1883), Griekwaland-Wes (1886), OP (1888), Transvaal (1889), Natal (1890), Grens (1891), Vrystaat (1895), Rhodesië (1895) en Noordoostelike Distrike (Noordoos-Kaap) (1903). In 1891 het ’n Britse span Suid-Afrika besoek, en sir Donald Currie, voorsitter van die Castle-redery, het ’n goue beker aan die besoekers geskenk met die versoek om dit te oorhandig aan die span wat die beste vertoning teen die besoekers lewer. Dit was Griekwaland-Wes, wat dit aan die Rugbyraad gegee het as wisselbeker vir provinsiale spanne.

Nog Britse spanne het Suid-Afrika in 1896 en 1903 besoek, en in 1906 is die eerste Suid-Afrikaanse span na Engeland. Die kaptein was Paul Roos, gewese  boerseun en student van Stellenbosch, met ’n aristokratiese voorkoms. Aan joernaliste het hy gesê dat sy span “die Springbokke” genoem moet word. Hy was ’n voorspeler – groot en sterk vir sy tyd, maar klein en lig volgens hedendaagse standaarde. Hy het in 1906 nie deelgeneem aan die Curriebeker-toernooi wat ook as proewe gedien het nie, en het dus nie verwag om die span te haal nie. Die keurders het hom tog opgeneem, en die span het hom as kaptein aangewys. Die eerste Springbokke het goed gevaar in Engeland: 26 wedstryde gewen, twee verloor en een gelykop gespeel. Van die internasionale wedstryde het hulle 2 gewen, 1 verloor en 1 gelykop gespeel. Rugby was toe al ’n aantreklike sport vir Afrikaners. Baie het daarmee kennis gemaak in krygsgevangenekampe.

Paul Roos was ’n godsdienstige man, en het niks daarvan gehou om op Sondag terug te ry van ’n wedstryd nie. Toe hy in 1903 ’n ruk onderwyser op Rustenburg was, het hy Saterdae die sowat 100 kilometer na Pretoria met die fiets gery en dadelik ná die wedstryd op die fiets teruggery net om seker te maak dat hy nie die Sondag ontheilig nie. As skoolhoof op Stellenbosch het hy eenkeer twee seuns pak gegee wat gebaklei het. Ná die pak het een seun gesê die ander het hom ’n bloody Jew genoem. Roos het die Joodse seun voor die senior klasse om verskoning oor die pak gevra en gesê dat dié seun reg opgetree het. By sy skool sal daar nie dirty Dutch, bloody Jews of damned Englishmen wees nie.