Die eerste slawe kom aan

Voedsel gerantsoeneer
January 5, 2015
Die eerste Vryburgers
January 7, 2015

Herry, wat soek was sedert die moord en diefstal van Oktober 1653, het in Junie 1655 weer by die Fort opgedaag. Hy het veertig mooi melkkoeie gehad, en het ’n ander Khoikhoistam van die moord en diefstal beskuldig. Niemand het hom geglo nie, maar omdat die Here XVII gelas het dat die vrede met die Khoikhoi tot elke prys bewaar moes word, is hy weer as “trouwe vrunt” verwelkom.

Van Riebeeck het ook besluit om sy dienste as tolk en raadgewer te gebruik vir ’n ekspedisie wat hy die binneland ingestuur het. Toe die kos op was, het Herry aangebied om alleen verder te gaan en vir die Kompanjie handel te dryf. Twee maande later was hy terug met die storie dat die ander Khoikhoi sy handelsware gesteel en hy net dertien beeste van hulle in ruil gekry het. Die aansienlike trop wat hy vir homself ingeruil het, het hy ’n veilige afstand van die Fort gelaat.

Maar die Khoikhoi was net een van die vraagstukke van die kommandeur. Arbeid was net so ’n kwessie. Sommige van die mense in sy diens was afkomstig van die laagste klas in die Nederlandse samelewing. Hulle was opstandig van aard en het hulle nie gemaklik aan gesag onderwerp nie. Dikwels het hulle nie veel gehou van gereelde hande-arbeid nie.

Omdat Van Riebeeck ’n hele paar jaar lank in die Ooste was, het hy gewoond daaraan geraak dat wit mense swaar vorme van handewerk deur gekleurde mense laat doen het. Van vroeg af was hy derhalwe ten gunste van die invoer van slawe.

Slawerny, die toestand waarin een mens die eiendom is van ’n ander, is ’n mensonterende praktyk wat al baie eeue oor die hele wêreld bestaan het. In die sestiende en sewentiende eeu het eers die Portugese, daarna die Britte, Franse en Hollanders hulle daarop begin toelê. Die slawehandel was tot aan die begin van die negentiende eeu ’n algemeen aanvaarde onderdeel van die destydse ekonomiese stelsel. Skepe is met gewere, ammunisie, voedsel, alkohol, tekstiel en erdewerk na Afrika. Daar is dié ware verruil aan swart handelaars wat hul eie mense gevang en as slawe aangebring het.

Nadat die slawe verkoop is, veral in Amerika, het die skepe met suiker, katoen en tabak na Europa en veral Engeland teruggevaar. Deur hierdie voordelige handel het die Britse hawens gegroei en is die opkoms van nuwe nywerhede moontlik gemaak. Letterlik miljoene mense, volgens sommige tot 20 miljoen, is uit Afrika verskeep. Miljoene het omgekom tydens die jagtogte op hulle, die mars na die kus, die wagtyd en die verskriklike seereis. Die groot swart bevolkings van die VSA, Brasilië en die Wes-Indiese eilande is afstammelinge van die slawe. Sowel in Latyns-Amerika as die latere VSA was daar slawe-opstande, onder meer in Haïti, San Domingo, Suid-Carolina en Virginia.

So algemeen was slawerny dat dit dus niks vreemds was dat Van Riebeeck daaraan gedink het as oplossing vir sy arbeidsprobleme nie. Die Kompanjie was die gedagte goedgesind en so het die Kaap van 1658 af slawe gekry. Die Kaapse slawe was van Indië en Oos-Asië afkomstig, asook van Madagaskar en die vasteland van Afrika, veral die deel tussen Delagoabaai en Zanzibar.