Die eerste kapitalis van Suid-Afrika

Die groot boomplanter
January 14, 2015
Begin van ’n mitiese stryd teen maghebbers
January 16, 2015

Toe Simon van der Stel in 1699 sy amp neerlê, het hy in sy instruksies aan sy seun hom die gebruiklike seën toegewens, maar God ook gesmeek om aan dié seun, Willem, regverdigheid en versigtigheid te gee, asook ’n opregte, suiwer en standvastige gemoed en godvrugtige ywer vir die vestiging van “Kerk en Politie”. Moontlik was Simon ’n bietjie onrustig toe hy die bewind aan hom oorgegee het.

Maar in sy eerste werksaamhede het Willem Adriaan sy pa se goeie werk voortgesit. Hy het derduisende jong eikebome laat plant en die kolonie uitgebrei na ’n vrugbare onbewoonde vallei met digte bosse teen die berghellings. Die vallei het hy “’t Land van Waveren” genoem na die Waveren-familie met wie sy moeder verwant was. Die gebied is vandag bekend as Tulbagh. Die nuwe nedersetters was veral veeboere.

Vroeg in 1700 het iets anders gebeur wat veeboerdery sou aanmoedig. Tot dan het Van der Stel nog niks gedoen om ’n plakkaat wat die Here XVII in 1699 uitgevaardig het, bekend te maak nie. Daarvolgens mag net die vryburgers, en nie die amptenare nie, veehandel dryf met die Khoi-Khoin. In Januarie 1700 het die retoervloot van Batavia af by die Kaap geland. Die aanvoerder was Wouter Valckenier, gewese president van justisie van die kasteel Batavia.

Hy het bemerk dat Willem Adriaan nog nie die plakkaat bekend gemaak het nie, en het dit op 28 Februarie 1700 teen die sin van Van der Stel onderteken. Die vryburgers sou dus met die Khoi-Khoin veehandel kon dryf. Nog ’n hele paar jaar het Van der Stel en die amptenare die saak ongedaan probeer maak, maar die Here XVII het voet by stuk gehou. Deur die goedkeuring van die ruilhandel het die Here XVII gehelp om van die agtiende eeu die eeu te maak waarin die veeboere oor ’n groot gebied kon uitbrei.

Die rede vir Van der Stel en die ander amptenare se teenkanting was dat hulle self al hoe meer met vee geboer het. Die goewerneur het ná ’n paar jaar tot 18 800 skape en 1 000 beeste gehad – genoeg vee om op sy eie die skepe, hospitaal en slawe van vleis te voorsien.

Party amptenare se plase was groter as dié van die boere wat meestal nie meer as 60 morg gehad het nie. Willem se plaas Vergelegen was feitlik tien keer so groot, en eintlik was hy die eerste kapitalis in Suid-Afrika. Hy het honderdduisende wynstokke gehad en ’n kwart soveel koring geproduseer as die vryburgers saam. Hy het meer as sestig betaalde wit knegte van die Kompanjie vir hom laat werk en, behalwe sy eie 200 slawe, nog 100 van die Kompanjie.

Die vryburgers was bowendien krities teenoor Willem Adriaan oor sy hoogmoedige houding. Dieselfde houding het sy broer jonker Frans die bynaam besorg van “Don Francisco”. Dié se hoogmoed het hom een van die mees gehate manne aan die Kaap gemaak. Die pronksug van die hoë amptenare was ’n doring in die vlees van die vryburgers. Hulle het beweer dat die twee broers knegte uitgestuur het om hulle met hul vee te verwilder.

Die twee Van der Stels en sewe, agt amptenare het ’n ekonomiese bedreiging vir die vryburgers gevorm, en dit het die kiem bevat van die stryd tussen die amptenare en die vryburgers.