Die Voortrekkers vestig Pietermaritzburg
July 5, 2018
Die Nederlandse Statebybel
July 5, 2018

1848: Die Duitse nedersetters te New Germany

Dit kom vreemd voor dat, terwyl daar laat in die jare veertig van die 19e eeu heelwat propagandawerk in Engeland gedoen is om Britse emigrasie aan te moedig, die eerste immigrante wat in Natal sou aankom, 188 Duitsers was wat deur Jonas Bergtheil, ’n Jood uit Beiere, na die land gebring is.

Jonas Bergtheil, die eerste promotor van landnedersetting in Natal

Bergtheil het ’n tyd lank in Kaapstad gewoon voordat hy in 1843 in Natal aangekom het. Die seereis het 19 dae geduur, wat in daardie dae as ’n kort passasie beskou is. “Durban het destyds uit vyf of ses paal-en-kleihuise bestaan”, skryf hy. “Dit het my agt dae van Durban na Pietermaritzburg geneem, waar daar ’n paar huise van ’n beter tipe as dié in Durban was”. Die hoofstad van Natal, Pietermaritzburg, wat tans ’n bevolking van nagenoeg 145 000 het, is slegs ’n uur per motor vanaf Durban geleë! Bergtheil se beskrywing gaan voort: “Baie van die nodigste en alledaagse voorrade kon slegs periodiek verkry word, en dan met die grootste moeite. Meelblom, byvoorbeeld, was baie skaars en skaapvleis onverkrygbaar. ’n Paar varke is Iosgelaat met die idee dat hulle sou voortteel, maar die inboorlinge het hulle spoedig uitgeroei. Ek het sommige van hierdie varke in Durban sien rondhardloop met assegaaie wat in hul liggame steek. Beesvleis was spotgoedkoop en hoenders volop—’n mens kon hulle sommer doodslaan waar jy hulle ook al teëgekom het. Mielies kon van die inboorlinge verkry word in ruil vir klein stukkies linnegoed of krale, maar die inboorlinge wou nie geld ontvang nie, want dit was vir hulle onbeker.”

Tussen 1842 en 1845 was die lot van Natal in die weegskaal. Britse magte het van die Voortrekker-leiers oorgeneem, maar niemand wis wat die toekoms sou oplewer nie. Daar was hoegenaamd geen beheer oor die inboorlinge nie en dit was ook onseker of die Britse regering hierdie ongewenste aanwins nie miskien heeltemal sou Iaat vaar nie. Maar met die formele aanvaarding van verantwoordelikheid in 1845 het sake verbeter. Luitenant-goewerneur Martin West het met ’n span beamptes, onder wie die jong Theophilus Shepstone, in Natal aangekom en ’n uitmuntende loopbaan begin. Natal is as ’n afhanklike staat van die Kaap regeer. In 1846 het Natal se oudste koerant, die “Natal Witness”, die lig gesien.

Pioniers soos Jonas Bergtheil kon voortaan hul toekoms met ’n mate van gelatenheid betrag en positief reageer op die uitdaging van die nuwe land. Bergtheil het van die begin af intens belang gestel in die welvaart van die nuwe kolonie wat hy op verskeie maniere help bevorder het: deur die belegging van geld, proefnemings met gesaaides en die aanvaarding van burgerlike verantwoordelikheid. Hy het onmiddellik die dringende behoefte aan ’n groter bevolking besef.

Toe hy in 1846 verneem dat die Kaapse regering ’n aantal immigrante verwag, het hy die regering oorreed om sommige van hulle toe te Iaat om Natal toe te kom om katoen te kweek vir die “Natal Cotton Company” waarvan hy ’n direkteur was. Omtrent dertig het toe onder ’n opsigter daar aangekom. Dit wil voorkom asof dié gebeurtenis die gedagte by Bergtheil Iaat ontstaan het om sy eie immigrasieskema te organiseer met die doel om katoen te kweek. Hy was daarvan oortuig dat die Kolonie slegs deur immigrasie sou floreer en dat die toekoms daarvan met die kweek van katoen sou saamhang. En so is hy na Engeland met twintig of dertig bale katoen met die doel om Skotse of Engelse immigrante te lok. Die katoen, op sy Wansbeck-landgoed naby Durban gekweek, is in Manchester verwelkom en ’n hoë prys daarvoor betaal. Al sy pogings om emigrante te beweeg om hom na Natal te vergesel, het misluk en so was hy op Duitsland aangewese as ’n Iaaste toevlug.

Die Natalse regering het met twyfel van hierdie verwikkelinge kennis geneem. Die regering het van die here Bergtheil en Suffert ’n memorandum ontvang waarin getuigskrifte aangevra is wat hul goeie trou, middele en betroubare karakter as die bewerkers van die skema waarborg. Hierbenewens wou hulle ook ’n plegtige belofte van die regering hê dat “persone wat beweeg mag word om na hierdie distrik te emigreer, al die voorregte sal geniet waarop die persone van Britse geboorte geregtig is, of geregtig sal word.” Die Natalse Departement van Binnelandse Sake het egter geweier om die getuigskrifte te verskaf, en was van mening dat dit ongewoon en onbehoorlik sou wees om die besluit van voornemende emigrante te probeer beïnvloed deur ’n amptelike meningsuiting betreffende die persone wat van voorneme was om die skema ten uitvoer te bring. Afgesien hiervan sou die invoer van ’n Duitse element in die bevolking, na hul mening, gevare inhou. Die emigrasie van die Boere uit Natal uit het maandeliks toegeneem en daar was die vrees dat die Duitsers, weens ’n ras- en taalverwantskap, té geredelik deur die “Dutch” opgeneem sou word om sodoende die getalle en mag van die nedersettings buite die grense te vergroot en anti-Britse gevoel te versterk. Duitse immigrasie sou dus aanmoediging ontvang nie tensy daar deur Britse immigrasie ’n sterk teenwig daarteen geskep kon word.

Ook in Duitsland het Bergtheil die grootste teenkanting ondervind. Hy Skryf: “Ek was terdeë daarvan bewus dat die Duitse regering waarskynlik moeilikhede in my weg sou Iê en dit was vir my geen aanmoediging nie toe ek vind dat al die Duitse geografiese publikasies die Kolonie Natal beskryf as ’n wat hoofsaaklik deur Kaffers, Boesmans, leeus, tiers en ander wilde diere bewoon word. Die teenkanting wat ek in Duitsland ondervind het en die eienaardige besonderhede verbonde aan die onderneming, sou ’n boekdeel kon vul. Ek het, byvoorbeeld, eers na my eie tuiste, Beiere, gegaan en daar ’n pamflet uitgegee wat die wilde stellings wat in koerante verskyn het, weerlê het en daar is toe van die preekstoele verkondig dat ek besig is om mense te oorreed om hul land te verlaat en na ’n onbekende wildernis te gaan. Eindelik het die Beierse regering die saak in hande geneem en my daarvan aangekla dat ek mense opstook om hul land te verlaat”. Bergtheil het selfs ’n Zoeloe saam met hom na Duitsland geneem—moontlik die eerste wat Europa besoek het—om mense te oortuig dat die gevare van emigrasie nie so erg was as wat voorgegee is nie.

Uiteindelik het hy daarin geslaag om ’n geesdriftige groepie van sewe-en-veertig gesinne byeen te bring en het hy in November 1847 uit eie sak die Beta gehuur om hulle te vervoer. Die Beta het op 19 November uit Bremen vertrek en op 23 Maart 1848 in Port Natal aangekom. Bergtheil was nie persoonlik by die landing teenwoordig nie en gevolglik is sy reëlings aanvanklik ietwat swak uitgevoer totdat hy self daar aangekom het om die verantwoordelikheid op hom te neem. Die nedersetters is huisvesting verskaf op die Westville-plaas waar ’n dorpie met dieselfde naam aangelê is. Om hierdie sentrale punt het die nedersetting wat later as “New Germany” bekend geword het, hom versprei. Dit het bestaan uit Bergtheil se Wansbeck-landgoed van 6 000 acre, voorheen teen £600 gekoop, die Westville-plaas en ’n aangrensende stuk grond van 8 000 acre. Teen 1848 het die landgoed tot 15 500 acre aangegroei. Die Umgeni-rivier het by een deel van die landgoed verbygevloei en aanvanklik is die hoop gekoester dat dit vir besproeiingsdoeleindes gekanaliseer sou kon word.

Bergtheil se kontrak was dat hy aan elke immigrant 210 acre moes toestaan: tien vir die kweek van groente en die oorblywende deel vir die kweek van katoen. Saad en plante, die nodigste gereedskap en ander landbounoodsaaklikhede is gratis voorsien, terwyl beeste en ander plaasbenodigdhede teen billike pryse beskikbaar gestel is. Van elke immigrant is verwag om soveel grond as moontlik te bewerk, minstens 50 acre, Behuising, óf in tente óf in “kafferhutte”, is tydelik voorsien. Die oprigting van sulke hutte was Bergtheil se eie idee en kon goedkoop uitgevoer word indien die eintlike bouwerk aan die inboorlinge oorgelaat sou word. In sy voorstel aan die regering in dié verband het hy die vroeëre plan dat die regering £3 beskikbaar sou stel om behuising vir een maand in Pietermaritzburg of Durban te vind, afgekeur. Dit sou “die verderflike effek (hê) dat immigrante ledig sou wees en dit sou tot Iosbandige gewoontes lei”. Hy het die onmiddellike oprigting van hutte op die verskillende eiendomme teen ’n koste van minder as £3 voorgestaan indien van inboorlingarbeid gebruik gemaak word. ’n Bykomende voordeel sou wees dat die inboorlinge dan die middele sou verdien om die inboorlingbelasting te kan betaal.

Die huur vir die persele en die voordele wat daarmee gepaard gaan, sou bereken word teen ’n derde van die bruto winste van die katoenopbrengs. Die eienaars sou moes onderneem om enige van die opbrengste teen die hoogste heersende pryse te koop of dit oor te dra op die emigrant se rekening wie se skulde die bedrag van sy se reisgeld bedra het. Al die persele sou deur loting onder ’n huurkontrak van vyf jaar van die hand gesit word. Om die verbouing van katoen op groot skaal aan te moedig, is geldelike beloning belowe. Elk van die drie nedersetters wat die grootste hoeveelheid in die eerste jaar kweek, sou 120 floryne ontvang, in die tweede jaar 180 floryne en in die derde jaar 250 floryne. Aan die kwekers van die beste katoen gedurende die eerste drie jaar sou 90, 120 en 200 floryne, respektiewelik, betaal word. Soortgelyke pryse sou uitgeloof word vir die ordelikste en aantreklikste huis en tuin.

Die eerste jaar was een lang gesukkel en die seisoen se oeste was ’n volslae mislukking. Daarna sou dit vir ’n toevalwaarnemer, moontlik verblind deur die veranderde voorkoms van die omgewing, lyk asof die klein nedersetting ’n geleidelike vooruitgang getoon het. ’n Skrywer aan die “Natal Witness” het gesê: “As ’n mens links van die pad afdraai op pad van Pietermaritzburg na Durban, omtrent 14 myl van Iaasgenoemde dorp af, sien jy klein troppies beeste wat gewoonlik ’n span osse en ’n paar melkkoeie insluit. As jy die eerste bult afgaan, kom een of twee opstalle van immigrante in sig. Op jou pad na die sentrale stasie, die “pakhuis” genoem, is daar klein plasies in alle rigtings. Van sommige hoogtes af kan ongeveer ’n halfdosyn met een oogopslag gesien word, tog so romanties geleë wat betref skoonheid en natuurskoon…”

Die ware prentjie was egter maar somber. In ’n artikel in die “Manchester Guardian” van 11 Maart 1848 het Bergtheil ’n interessante beraming gemaak van die inkomste en uitgawes van ’n gesin bestaande uit vyf lede oor ’n tydperk van vyf jaar. Die beskouing was in die eerste plek miskien te optimisties; dit het seer sekerlik nie die honderd-en-een klimaats- en menslike variasies in ag geneem nie. Dis voldoende om te sê dat Bergtheil se syfers nie eens by benadering deur die feite gestaaf is nie. Die pogings van die eerste paar jaar was feitlik ’n volslae misIukking en die immigrante moes geheel en al gedurende die eerste twee jaar deur Bergtheil se steeds krimpende middele onderhou word. Daar is bevind dat die saad wat uit Amerika ingevoer is, op die seereis beskadig is en wat wel gegroei het, sonder sorg gemeng is by die verpakking daarvan. Gevolglik moes die hele eerste oes verbrand word. As ’n mens hier byvoeg die mengel moes landbouers en vreemde Suid-Afrikaanse toestande, die mense waaruit die gemeenskap bestaan het, die gebrek aan voldoende arbeid, die skaarste aan bekwame werktuigkundiges om die masjiene in stand te hou en die ongelooflik stadige tipe pluismeul wat nie meer as 600 lb katoen per dag kon skoonmaak nie, hoef daar nie ver gesoek te word na die oorsake van Bergtheil se mislukking nie. Die verbouing van katoen moes gestaak word en die klein gemeenskappie het gaandeweg verbrokkel. Werktuigkundiges en ambagsmanne het in Pietermaritzburg of Durban ’n heenkome gesoek en baie van die landbouers is verder die binneland in na ’n gebied wat hulle New Hanover genoem het en waar die huidige welvaart van hul nasate getuig van groter voorspoed. Die oorblywendes by New Germany, wat nogtans aansienlik in getalle was, het hulle toegelê op groente-verbouing waarmee hulle groot welslae behaal het.

Eerw. CW Posseit (1815-1885), eerste leraar van New Germany

Gaandeweg, na gelang hulle in hul werk vooruitgang gemaak het en hulle al hoe meer bewus geword het van hul gehegtheid aan die nuwe grond en omgewing, het hulle die eerste nodige instellings in die lewe geroep wat vir ’n wetsgetroue en denkende samelewing ’n afgeronde gemeenskapslewe besorg. Om te verseker dat hulle beskerm sou wees teen “die bedreiging van Zoeloe-strooptogte”, het hulle toestemming verkry om hul eie vrywilligerskorps te stig. Bergtheil het verklaar dat daar omtrent honderd weerbare manne op die katoenplantasie was en dat hy in bevel sou wees. Op sy versoek om “die nodige krygstuig” is ’n voorraad gewere aan hulle geskenk, tesame met die nodige monderings en tien patrone vir elke man. Toe Bergtheil eindelik weer terug is Duitsland toe, is die bevel van hierdie klein korpsie deur sy vennoot, mnr. Jung, oorgeneem. Op eie inisiatief is ’n predikant en ’n onderwyser uit Duitsland ingevoer en die setlaars het onderneem om jaarliks die som van £45 vir die predikant en £25 vir die onderwyser in te samel. Hulle het ’n skenking van £20 vir twee jaar van die regering ontvang. Na die dood van die predikant het mnr. Posselt en die Berlynse sending die klein gemeenskappie onder hul geestelike sorg geneem. Hierbenewens is op ’n vergadering van die burgers ene Friedrich Wilhelm Friese gekies as burgemeester “om klein moeilikheidjies op te los en die orde te handhaaf”. Op versoek van Bergtheil is hy met die bevoegdhede van ’n vrederegter beklee. Wat ook al die gebreke—en daar was heelwat—van sy skema en reëlings was, was Bergtheil bemind onder hierdie klein seksie van die Koloniste in Natal en is hy beskou as ’n eerlike, betroubare en simpatieke vader.

In 1850 het Bergtheil bekend gemaak dat hy van voorneme was om na Engeland te vertrek om immigrante uit die Verenigde Koninkryk te oorreed om hulle in Natal te vestig. Hy was van plan om hulle op sy verskillende eiendomme te plaas op dieselfde wyse as die plasing van die Duitse immigrante, met dié verskil dat grond voorsien sou word in 150 acre-persele wat hul eiendom sou wees, terwyl die Duitse setlaars slegs huurders van die landgoed was. Hierdie nuwe nedersettings sou bekend staan as New England en New Scotland, tussen tien en twintig myl buite Pietermaritzburg. Sy voorneme was om sestig gesinne op elke landgoed te vestig. Elkeen sou ’n selfonderhoudende klein gemeenskappie met sy eie messelaars, skrynwerkers, predikant en onderwyser wees. Die toekennings van 150 acre sou gekoop word teen 2/6 per acre per jaar, vir tien jaar, waarna die kaart en transport oorhandig sou word. Elk van die twee eiendomme het 12 000 acre beslaan, waarvan 3 000 acre afgestaan is aan weiveld en die kweek van hout.

Hierdie reëling was nie spesifiek bedoel as ’n immigrasieskema nie, maar enigeen wat oor redelike middele beskik het (tussen £200 en £300) en hom onafhanklik in Natal wou vestig, kon hiervan gebruik maak. Vir sy Duitse immigrante het Bergtheil geen ontvang nie omdat hulle nie Britse onderdane was nie. Aangesien hierdie skema slegs bedoel was vir emigrante uit die Verenigde Koninkryk, het Bergtheil die hoop gekoester dat hy ’n toelaag sou ontvang ten spyte daarvan dat die grond nie van die Kroon gekoop is nie. Hierin is hy deur beide die Natalse regering en sir Harry Smith in Kaapstad ondersteun. Maar die nuwe luitenant-goewerneur van Natal, sir Benjamin Pine, het die besonderhede van die skema sterk gekritiseer en die regering in Brittanje afgeraai om dit sonder wysiging te aanvaar. Hy het volgehou dat die prys van die grond te hoog was en dat betaling oor ’n te lang periode uitgestrek is. Aan die einde van tien jaar sou die terugtrekking van 3 000 acre weiveld die persele waardeloos maak. Hy het daarop gewys dat Bergtheil in dieselfde waan as so baie promotors van immigrasieskemas verkeer het dat enige plaas in 150 acre-persele verdeel kon word om voldoende grond vir landboudoeleindes beskikbaar te stel. In die reël is nie meer as 200 uit elke 6 000 acre geskik vir landboudoeleindes nie. Hierbenewens, om ’n onafhanklike setlaar te wees, sou heelwat meer as ’n kapitaal van £200 of £300 nodig wees om die aanvangsuitgawes op ’n wa, lewende hawe en plaasgereedskap te dek.

Die kommissarisse van emigrasie. Het Pine ondersteun en die feit beklemtoon dat, volgens regulasies, geen toelaag toegestaan kan word sonder ’n deposito in Engeland en die goedkeuring van die minister nie. Hoewel die Britse regering die belangrikste aspekte van die skema goedgekeur het, wou hy toelaag verleen nie en het hy Bergtheil gewaarsku dat emigrante wat die land sonder ’n Toelaag verlaat, onder geen omstandighede by ’n latere geleentheid in aanmerking vir toegewings sal kom nie, selfs al word sulke konsessies aan ander individue toegestaan om emigrasie aan te moedig.

Bergtheil se skema, met sy wortels in ’n ietwat vlak finansiële substratum, en sonder voldoende ondersteuning van die regering, is dus nooit verwesenlik nie.

Na 1850 het Bergtheil heelwat terugslae ondervind. Die belangrikste hiervan was die bankrotskap van die firma Bergtheil en Jung in Londen weens die wyse waarop sy kapitaal van £50 000 tot £60 000 in grond in Natal vasbelê is. Gelukkig het die firma slegs een aandeel in die New Germany-landgoed besit. Bergtheil se praktiese belangstelling in emigrasie na Natal het in 1866 geëindig toe hy na Londen teruggekeer het en die florerende klein nedersettinkie van New Germany en sy mense agtergelaat het. Hierdie mense sou nooit die naam van Bergtheil vergeet nie en sou sorg dat ook hul kinders dit onthou.

Op 11 April 1874 skryf hulle aan hom: “Van die dag waarop ons u uit die vaderland gevolg het, tot die dag waarop u ons verlaat het om terug te keer na ons geboorteland, d.w.s. van 1847 tot 1866, was u vir ons ’n vader en ’n vriend wat ons met advies en alle middele tot u beskikking bygestaan het. Arm en sonder heenkome het ons in Natal aangekom en dit was u wat vir ons en ons gesinne gesorg het. Die eerste paar jaar het u ons voorsien van voedsel en kleding en die salarisse van ons pastoor en onderwyser betaal. Toe u, na ondervinding, vind dat die oorspronklike plan waarvoor u ons hierheen Iaat kom het, nie prakties uitvoerbaar was nie, het u ons groot skulde afgeskryf en ons onder uiters gunstige voorwaardes in volle besit geplaas van die grond waarop ons gewoon het. Ons moet dus erken dat u die instrument in Gods hand was wat ons in die onafhanklike posisie geplaas het waarin ons ons nou bevind, en ons het nooit rede gehad om dit te berou dat ons u gevolg het na wat toe vir ons ’n onbekende land was nie”.

Nou, bykans ’n honderd jaar later, is die herinnering aan hom nog vars; deur sommige families van New Germany word daar nog liefdevol na hom verwys as Pappa Bergtheil.

Die ou kerkhof te New Germany

Bron: Gordon, Ruth. 1974. Lantern, Maart: 19-22.