Die eerste botsing tussen wit en swart

Herlewing van die boukuns
February 11, 2015
Opstand in Graaff-Reinet
February 13, 2015

Terwyl die inwoners van Kaapstad in weelde geleef het, het die grensboere bitter swaar gekry as gevolg van ’n nuwe bedreiging vir hul voortbestaan. Dit was die tweede groot bedreiging wat die naderende einde van die eeu gebring het. Die eerste was die moontlike verowering van die Kaap deur Engeland.

Hierdie tweede bedreiging was ’n botsing met ’n nuwe groep mense. Die swart mense van Suid-Afrika het eeue gelede na die suide begin trek. Daar was drie hoofgroepe: die Ovambo en Herero van Namibië, die Sothosprekendes van die huidige Botswana, Lesotho en aangrensende gebiede en die Ngunisprekers van die ooste. Teen die tyd dat Van Riebeeck en sy mense in 1652 aan die Kaap gekom het, het swart mense reeds die hele kusstrook van die huidige Natal in besit geneem gehad en begin beweeg in die rigting van Algoabaai, die huidige Port Elizabeth.

Twee trekke het in die 18de eeu langs die ooskus van Afrika beweeg: ’n trek deur Afrikaanssprekende veeboere vanuit die suidweste, en een deur Ngunisprekendes uit die noorde. Omstreeks 1780 het die trekke mekaar by die Visrivier ontmoet.

Waar die San en Khoin klein in getal was, het die swartes die wittes getalsgewys oortref. Terwyl die San jagters was en die Khoin jagters en veeboere, was die swart mense jagters, veeboere en landbouers. Die rykdom van die wit trekboere en die swartes was geleë in hul veebesit. En aangesien vee weiding moet hê, het die eerste botsings tussen wit en swart oor weiveld vir vee gegaan. Die twee groepe het ook verskillend oor grond gedink. Die wit mense se opvatting was dat die grond, net soos die vee, die eiendom van ’n individu kon word. Die swartes het die grond beskou as die gemeenskaplike besit van ’n bepaalde groep mense, die stam. Volgens hul begrip het elke individu wat tot die stam behoort, die reg gehad om die gemeenskaplike grond te benut deur sy vee daarop te laat loop.

Vanweë die botsende begrippe het daar gou moeilikheid ontstaan. Wit veeboere het gekla omdat swartes hul vee laat wei op grond wat hulle in besit geneem het. Goewerneur Joachim van Plettenberg, wat in 1778 op sy reis deur die kolonie by die oosgrens aangekom het, het gemeen om die moeilikheid uit die weg te ruim deur ’n duidelike grens tussen die twee groepe vas te stel. Hy was die eerste bewindhebber wat gebiedskeiding gesien het as oplossing vir wrywing tussen wit en swart.

Die swartes wou egter nie die gebied wes van die Visrivier verlaat nie. In 1779 het Xhosas veewagters van die boere vermoor en troppe beeste geroof. In dieselfde jaar het die eerste gewapende botsing tussen wit en swart plaasgevind in die distrik Swellendam, waarvan die grense egter veel verder oos gestrek het as vandag. Xhosas het troppe vee van wit mense geroof en veewagters vermoor. In die gebied agter Bruintjieshoogte het Xhosas wat wou vee steel, teenoor gewapende burgers te staan gekom. ’n Paar boere is gewond, en agt of nege van hul teenstanders is gedood. Daarmee het die eerste grensoorlog begin.