Die eerste apartheidsmaatreëls

Op weg na apartheid
January 25, 2015
Stryd oor kieserslyste
January 25, 2015

Die opposisie en die buitewêreld was geskok oor Smuts se neerlaag en hiperkrities teenoor die NP. “Don’t give the Nats a sporting chance!”, het oudminister JH Hofmeyr gesê. Die VP het soveel steun gehad dat dit kon hoop om gou weer aan bewind te kom. Generaal Smuts het die 1948-uitslag bestempel as ’n tydelike terugslag, ’n “reverse”, en het sy volgelinge opgeroep “to reverse the reverse”.

In 1949 het die VP inderdaad beter gevaar in die provinsiale verkiesing. Smuts het die kans geleë geag om met ’n groot aanslag te kom. In die Senaat het die regering en opposisie elk 22 lede gehad. Omdat die “president” van die senaat uit die regering gekom het, kon die opposisie telkens wetgewing verongeluk. In die brandpunt was onder meer ’n wet wat aan die Suidwes-blankes verteenwoordiging in die Volksraad sou gee. Maar op 22 Maart 1949 kondig die VP aan dat hy die betreklik obskure senator JM van H Brink uit sy koukus skors weens sy standpunte oor Suidwes en die kleurkwessie. Hy het daarop bedank, en die NP kon ’n eie senator aanstel. Die wet is deurgevoer en ’n Suidwes-verkiesing is in 1950 gehou. Die NP het al ses setels gewen. Die skorsing van Brink het die NP-regering dus gered.

Die buiteland het apartheid skerp gekritiseer, maar wat die blanke opposisie meer in beroering gebring het as apartheid, was die beëindiging van Britse massa-immigrasie en die verdere ontmoediging daarvan deur die Burgerskapswet van 1949. ’n Suid-Afrikaanse burger sou nie meer outomaties ook ’n Britse onderdaan wees nie. Die reg op appél na die Britse Geheime Raad is afgeskaf. Buitendien was die NP steeds republikeinsgesind.

Apartheid het enersyds ingehou skeiding volgens kleur tussen die rasse en andersyds aparte ontwikkeling binne elke rassegroep. Kort nadat die nuwe regering die bewind aanvaar het, het dit apartheid op die treine van die Kaapse Skiereiland ingestel, die enigste deel van die land waarin daar geen rasse-skeiding op die spoorweë was nie. In poskantore is ’n beleid van aparte maar gelykwaardige geriewe vir wit en swart geleidelik toegepas. Voorstanders van apartheid het betoog dat swart en bruin mense deur dié maatreëls ook nuwe kanse gekry het om hul rasgenote te dien. In 1949 is huwelike tussen blank en nie-blank wetlik verbied en in 1950 ook ontug tussen blank en nie-blank. Die wette is sterk teengestaan, maar in verskeie state van Amerika was daar vergelykbare wetgewing teen huwelike tussen wit en nie-wit. Hierdie wette sou mettertyd van die berugste apartheidsmaatreëls word, omdat dit ’n ingryping van die staat was in die persoonlike lewens van mense. Die oortreding van die Ontugwet het ernstige gevolge gehad vir die wit mense wat daaraan skuldig bevind is. Die gemeenskap het beskuldigdes en hul gesinne dikwels verwerp. Verskeie mense het hieroor selfmoord gepleeg. Die polisie en regsgeleerdes het in 1960 selfs gewaarsku dat die Ontugwet ’n wapen word waarmee swart vroue wit mans kan benadeel deur na willekeur ontugsituasies te fabriseer.

Die Wet op Groepsgebiede is in 1950 aangeneem om geleidelik woonbuurtskeiding tussen wit mense, bruin mense en Indiërs moontlik te maak. Dieselfde jaar het die Wet op Bevolkingsregistrasie gevolg. Dit het voorsiening gemaak vir ’n stelsel van persoonskaarte waarop die rassegroep van elke lid van die bevolking aangedui word. Dit het diep ingegryp in die lewe van veral mense in die Kaap.