Die “Dutch Mark” om die nek

Afrikaans vir godsdiens en onderwys
April 14, 2015
Afrikaners veg teen Afrikaners
April 16, 2015

Van die 1860jare af het die verengelsing in die Kolonie toegeneem, veral deur middel van die skole. Selfs op die speelterrein moes die kinders Engels met mekaar praat om straf vry te spring. In party skole is gebruik gemaak van ’n sleutel, blokkie of hartvormige plank waarop iets geskryf is soos: “I am a donkey”. Hierdie “Dutch Mark” is om die nek gehang van iemand wat Afrikaans praat, en die een wat dit gedra het as die skool die middag sluit, moes as straf honderde reëls uitskryf soos: “I must not speak Dutch and ought to know it by now”. Langham Dale, wat in 1859 superintendent-generaal van onderwys geword het, het met ’n besoek aan ’n skool die kennisgewing It is forbidden to speak Dutch aangetref en het sulke verbiedinge belet. Die “Dutch Mark” het nogtans bly voortbestaan. Dale was nie teen Hollands as vak nie – maar wou Afrikaans of Hollands nie as die medium van onderrig toelaat nie.

Die Kaapse onderwyswet van 1865 het bepaal dat die onderwysmedium in alle eerste- en tweedeklasskole Engels moes wees en dat in derdeklasskole (plattelandse skole) die medium sover moontlik Engels sal wees binne ’n jaar ná die oprigting. In die sendingskole, ook van die NG Kerk, moes die onderwys sover moontlik in Engels geskied.

Daar was min verset teen die verengelsingsproses. Die skryfster MER, wat gebore is in 1875, beskryf hoe dit verloop het. Afrikaanse meisies het veral weens die onderwys en die aansien van Engels graag dié taal onder mekaar gepraat. “Vanaf gedwonge Engels en strafbare moedertaal het ons meisies gekom tot gewillige en gladde hantering van Engels in die skool, op straat en onder mekaar. Nie die seuns nie. Engels praat was vir hulle ’n meisie-agtige aanstellery. Die volgende stap was dat die dogters, as hulle trou, die ou huistaal wat hulle nog met hulle eie ouers moes praat, nie met hulle kinders gepraat het nie; ook nie meer na ou gewoonte die kinders na vaders- of moederskant laat heet het nie, maar ‘fancy names’ gegee en oneindige plesier daaraan gehad het. Hulle het ‘calling cards’ en ‘at home’ days’ ingestel.” Sy skryf ook dat goeie ouers na goeie onderwys vir hul kinders gesoek het wat loopbane toeganklik sou maak. En daarvoor was Engels onmisbaar.

Name is verengels, veral van die dogters – maar ook die name van plase, huise en huisdiere; dis omtrent net osse wat verengelsing vrygespring het! Af en toe het ’n konserwatiewe oupa teëgestribbel. ’n Vrou wou haar seuntjie Sydney doop. “Sit nie? Mag hy dan nie sit nie?” Die ma het die naam maar gelos. Ouers en kinders, of kinders onderling, het van 1875 af in die Kaapkolonie toenemend in Engels met mekaar gekorrespondeer. Afrikaners het in gesprekke al meer Engelse uitdrukkings oorgeneem.

Kinders is in “Cape History” geleer hoe ondankbaar hulle voorouers was (daarom, glo, dat daar iets was soos die Slagtersnek-opstand en die Groot Trek) of hoe wreedaardig (deur slawe aan te hou – iets wat die Engelse egter nog meer gedoen het). Onderwysers het Afrikaanse kinders probeer skaam maak vir hul voorouers, en bewerings van mense soos John Philip teen die Afrikaners opgedis. GR von Wielligh skryf: “So moes die kind dag na dag in die skool hoor: Ons Afrikaners is geen volk nie, onvertroubaar, besit nie eers ’n beskaafde taal nie, is gedurig teen mekaar verdeel, daarom kan ons onsself nie regeer nie.”