Die Ou Tronk, Grahamstad
September 10, 2019
Ou Militêre Hospitaal
September 10, 2019

Landmeter Knobel se aanleg van Grahamstad het as uitgangspunt ’n hoofstraat gehad wat weswaarts vanaf die driehoekige militêre kamp teen die heuwel uitgeloop het. Hy het voorsien dat die militêre terrein ’n uiters geskikte ligging vir “’n kerk of ander openbare gebou” gebied het, terwyl die bo-end van die straat deur die drosdy afgesluit en oorheers sou word. Sy vergesig het waar geword. Op die driehoekige plein staan tans die statige ou katedraal, terwyl die bopunt van die straat deur die sierlike drosdyhek gedomineer en verfraai word.

In 1812 is besluit om ’n sub-drosdy te Grahamstad te stig. Die openbare geboue is noukeurig beplan en die kontrakte vir die bou van die tronk en die drosdy is aan lt. WL von Buchenröder toegeken, maar gebrek aan geskoolde arbeiders het daartoe gelei dat sy kontrakte opgesê is. Met die koms van die Britse Setlaars het sir Rufane Donkin die landdroskantoor na Bathurst verplaas, en dit was eers in 1822, toe lord Charles Somerset weer die kantoor na Grahamstad teruggeplaas het, dat met die bou van ’n drosdy voortgegaan is. Die kontrak is op 6 Julie 1822 toegeken aan Piet Retief, wat ook die kontrakte vir die oprigting van die Kaserne gehad het. In albei gevalle het hy te laag getender. Bowendien was hy as veldkommandant herhaaldelik afwesig op militêre diens, met die gevolg dat albei ondernemings misgeloop het en hy finansieel geruïneer is.

Foto: William M. Timlin • Die Drosdyhek • William Fehr-versameling

In 1823, toe Retief se kontrak opgesê is, was nog alleen die buitemure van die drosdy gebou en plat dak daarop geplaas. Dit sou eers ses jaar daarna voltooi word, maar nou het die landdros geweier om in hierdie groot, durabele plek te gaan woon. In 1830 is die regters van die Rondgaande Hof dus daarin gehuisves, maar nou het goewerneur sir Lowry Cole daarop aangedring dat die gebou gebruik moes word vir die doel waarvoor dit opgerig is. Aan ’n kontrakteur is opdrag gegee om die nodige herstelwerk te doen, maar die uitbreek van die Sesde Grensoorlog in 1834 het die uitvoering daarvan verhinder, en in 1835 staan die drosdy nog leeg. Sir Benjamin D’Urban het toe besluit om die drosdy en die terrein daaromheen vir verdedigingsdoeleindes teen die Xhosa te gebruik. Die gebou en grond is aan die Britse regering oorgedra en die Royal Engineers het dit in ’n versterkte kaserne omgeskep. Die drosdy is so verander dat dit 100 man kon huisves, terwyl die hek as ingang tot die militêre inrigting deur kapt. CJ Selwyn van die Royal Engineers ontwerp is. Sir George Napier, opvolger van sir Benjamin, moes egter die militêre uitgawes besnoei en die hek met waghuise en mure aan weerskante is eers omstreeks 1842 voltooi.

Die drosdyterrein is hierna ’n geruime tyd vir militêre doeleindes gebruik. In 1873 is die Grahamstadse openbare skool (tans Graeme-kollege) daarin gehuisves en in 1886 is die geboue aan die trustees van die skool oorgedra. Gedurende die Anglo-Boereoorlog word dit weer eens vir militêre doeleindes gebruik en bykomende geboue word opgerig.

Met die stigting van die Rhodes-Universiteitskollege in 1904 is die gebou ter beskikking van hierdie inrigting gestel. In 1935 word die ou drosdy gesloop om vir ’n nuwe administrasiegebou plek te maak. Die hoofingang van hierdie gebou, reg agter die pragtige ou hek, staan naastenby op die plek waar die drosdy geleë was en die posisie van die hoeke van die ou gebou word deur kliptablette binne-in die Administrasiegebou aangedui. Op ’n bronsplaat word die historiese gegewens verstrek.

(Geproklameer 1938)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 140-141.