Die Biblioteek, Tulbagh
January 19, 2018
Plaaswoning, Doornrivier, dist. Worcester
January 19, 2018

’n Eeu lank het die Land van Waveren deel van die distrik van Stellenbosch uitgemaak, totdat kommissaris De Mist in 1804 die ganse gebied noord van die Breërivier van Stellenbosch afgesny en tot ’n selfstandige distrik verklaar het. Roodezand is tot Tulbagh verdoop, dit is die setel van die landdros gemaak en ’n sierlike drosdy is gebou. Hierdie drosdy met sy indrukwekkende hekpilare sou nie lank die tuiste van die landdros bly nie. In 1819 het Worcester ’n subdrosdy van Tulbagh geword. In 1822 is dit deur bemiddeling van die landdros Charles Trappes self tot ’n volwaardige drosdy verhef en die landdros is daarheen verplaas. Die Tulbagh-drosdy is aan ’n jong boer, Heatlie, verkoop en is vandag nog te sien op die pad wat in die vallei bokant Tulbagh op loop.

In 1823 is met die bou van die Drosdy te Worcester ’n aanvang gemaak. Dit sou uit ’n hele kompleks van geboue bestaan – ’n landdroshof, -woning, -kantoor, huis vir die landdrossekretaris en -klerk en ’n tronk. Daarvoor is 100 000 rds. beskikbaar gestel. Die planne is opgestel deur W.C. Jones, inspekteur van regeringsgeboue. Landdros Trappes, hoewel totaal onbevoeg daartoe, het die toesig oor die bouwerk op homself geneem. Hy het geen behoorlike spesifikasies verkry nie en ook geen tenders gevra nie, met die gevolg dat hy uiters verkwistend te werk gegaan het. Geelhoutbalke vir die plafonne is per ossewa vanaf Knysna aangevoer en hy het gans te veel bestel sodat ’n groot deel daarvan teen ’n verlies op Worcester van die hand gesit moes word. Baie van hierdie balke, kenbaar aan hulle massiwiteit, is vandag nog in ou huise in Worcester te sien. Die regering was dus verplig om ’n opsigter, ene Samuel Hemming, aan te stel. Weldra was hy in ’n verwoede twis met Trappes gewikkel wat hy daarvan beskuldig het dat hy die planne voortdurend verander. Nietemin was die Drosdy in Augustus 1825 gereed vir bewoning, maar die bestemde som geld was nou reeds verbruik sodat die vloer van die suidelike vleuel nie ingesit kon word nie en dat van die ander beplande geboue alleen die tronk op die goedkoopste wyse voltooi kon word.

Die Drosdy was nogtans die grootste en die waardigste van sy soort. Dit is gebou in U-vorm met twee vleuels wat na agter loop en ’n binneplaas insluit. Die styl word deur dr. Mary Cook as Kaaps-Georgiaans beskryf. “Dit vertoon”, so skryf sy, “die meeste van die karakteristieke en pragtige kenmerke van die Engelse Georgiaanse styl – simmetrie, noukeurige balans van ontwerp en die verkryging van effek deur goeie lyne eerder as deur versiering. Die neo-klassieke suilegang oor die voordeur, die boë weerskante en die borswering bo-op is eweneens tipies van die Engelse Georgiaanse styl. Aan die ander kant verskil dit van hierdie styl in soverre die gebou ’n kelderverdieping het, ’n eenverdieping is, gepleister, afgewit en van ’n grasdak voorsien is. Die gebou was deur ’n pragtige tuin omring.”

Na afloop van die Anglo-Boereoorlog het die N.G. Kerk die gebou van die regering vir R20 000 gekoop, die vloer van die suidelike vleuel uiteindelik ingesit en dit gebruik as ’n opleidingskool vir jongmanne, veral die jongmanne wat aan die oorlog deelgeneem het. In 1911 het die Sinode die Sendingskool omgeskep tot ’n nywerheidskool. In 1926 het die Staat hierdie skool oorgeneem en dit het ontwikkel tot die Hoër Tegniese Skool Drostdy.

(Geproklameer 1953)

Foto: S. Hemming • Die Drosdy, Worcester • R.B. Lewcock: Early 19th Century Architecture in S.A.

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 97-98.