Die Drosdy, Swellendam

Die Akkerbome, Swellengrebelstraat, Swellendam
Januarie 31, 2018
Die Ou Tronk, Swellendam (Geen toegang)
Januarie 31, 2018

Die Heemrade het die plek vir hulle drosdy uitmuntend gekies. Geleë ten ooste van die Korenlandsrivier aan “die weg na die Kaap”, bied dit ’n pragtige uitsig oor die vallei en op die Langeberge met sy hoë Twaalfuurpiek. In 1746, ’n jaar nadat die “Colonie in de Vergeleegene Distrieten” geproklameer is, is met die bou van die Drosdy begin.

Die oorspronklike balke, kappe, timmerasie en plafon- en vloerplanke van geelhout is gehaal uit die inheemse houtbosse aan die suidelike hange van die Langeberge: Hermitage, Koloniesbos, Duiwelsbos, Wamakersbos, Appelsbos, Spaarbos en Grootvadersbos. Volgens oorIewering het die skarniere, slotte en spykers gekom uit die smidswinkel van Hermanus Steyn (d’Oude) op die leningsplaas Bruintjiesrivier. Die uitstekende brandsolder en die timmerasie wat met houtpenne vasgesit is, is nog in die oorspronklike toestand; enkele van die vloere is later deur grondvloere vervang.

Oorspronklik is die Drosdy in ’n T-vorm gebou met sy voorkant na die Korenlandsrivier, maar in 1812-13 is dit deur landdros P.S. Buissine vergroot en tot ’n groot H omgeskep. Hy het die voordeur na sy huidige posisie verskuif en daarbo ’n skerppuntige pilastergewel gebou. Hy het verder twee kort vleuels aan die gebou toegevoeg sodat dit uiteindelik uit 15 vertrekke bestaan het. Die landdros se woonhuis was die gedeelte wat verste van die rivier lê. Aan die rivier se kant was drie groot kantore: die hofsaal, die landdroskantoor en die kantoor van die sekretaris.

Die gebou het ’n pragtige tuinery gehad. So merk D.G. van Reenen in 1803 in sy joernaal op dat daar “voor de deur van den drost een mooye thuin voor groente (is), wel beplant met alle soorten van vrugtboomen, wyngaard en moestuin…” Tereg skryf Barrow dat die Drosdy van die begin af ’n baken was in die geskiedenis van Suid-Afrika. Nouliks enige gebeurtenis van belang het hom verbygegaan. Bowendien was dit vir die ou reisigers en goewerneurs op weg na die verre ooste ’n rendezvous, en voor die geestesoog gaan hulle in ’n luisterryke prosessie verby: Thunberg, Van Plettenberg, Le Vaillant, Barrow, De Mist, Janssens, Lichtenstein, e.s.m.

Die drosdygebou het uiteindelik in private besit gekom. Teen 1856 behoort dit aan P.G. Steyn en dit het in besit van die Steyn-familie gebly tot 1939.

Die gemeenskap van Swellendam het sedert 1926 herhaalde pogings tot behoud van die Drosdy aangewend. Deur sy bemiddeling is dit in 1939 deur die regering aangekoop, en ’n Swellendamse Drosdy-kommissie van plaaslike belangstellendes onder voorsitterskap van die landdros is in die lewe geroep. Onder toesig van hierdie kommissie is die gebou van binne en buite deur die Departement Openbare Werke herstel en is daartoe oorgegaan om dit tot ’n kultuurhistoriese museum in te rig. Die verskillende vertrekke is van etikette voorsien om die oorspronklike aard van elkeen se gebruik aan te dui, en sedert 1941 is met die insameling van gebruiksvoorwerpe en boerderygereedskap deur vrywillige skenkings begin. Op 20 Oktober 1943, by geleentheid van die 200-jarige herdenking van die aanstelling van die eerste Heemrade vir die Onder-Breederivier, is hierdie museum geopen.

Van die begin af het hierdie museum groot belangstelling gewek en die waarde van die versameling wat byna uitsluitend op die verlede van die distrik Swellendam betrekking het, word tans op R368 000 bereken.

Die Swellendamse Drosdy, wat nou reeds die tweede eeu van sy bestaan agter die rug het, is dus vandag een van die waardevolste en aanskoulikste historiese gedenkwaardighede wat onder die sorg van die Kommissie staan.

(Geproklameer 1938)

 

Die Drosdy, Swellendam • Africana-museum, Johannesburg

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 113-114.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui