Generaal Christiaan de Wet
November 22, 2015
23 NOVEMBER
November 23, 2015

(geskryf deur dr. J. Albert Coetzee (L.P.R. vir Kemptonpark), soos verskyn in Historia Junior)

Toe ek in 1924 na Angola (Portugees Wes-Afrika) gegaan het om daar vir die nakomelinge van die Dorslandtrekkers te gaan skoolhou, het ek die voorreg gehad om nog etlike van die oorspronklike Dorslandtrekkers persoonlik te ontmoet en die geskiedenis van die Dorslandtrek by hulle af te skryf.

Die nakomelinge was oor verskillende dele van Angola versprei. Sommige was op die hoogvlakte van Humpata, waar die Trekkers na hul aankoms in Angola in 1881 gaan woon het; andere was in die omgewing van Bihé, Caconda en Mombolo was die mees noordelike groep, ietwat noord van die Lobito-Katanga-spoorweg (wat in 1924 nog nie tot in Katanga voltooi was nie) en dit was by hierdie groep waar ek, na ’n sesdaagse seereis van die Kaap tot in Lobito, ’n nagreis op die Lobito-Katanga-spoorweg en daarna ’n tweedaagse reis in ’n hangmat, aangekom het.

Daar was toe nog in die lewe (op die hoogland van Mombolo) ’n aantal interessante oorlewendes van die groot Dorslandtrek wat van 1877 tot 1881 geduur het. Ek dink veral aan oom Giel Prinsloo, oom Nelie Labuschagne, oom Faan en oom Louw Grobler. Dan was daar ook nog van die Trekkers van 1892, 1893 en 1905, want die Dorslandtrek was ’n beweging wat in verskillende groepe plaasgevind het. Die eerste groepie het al in 1874 begin, gelei deur Gert Alberts, maar die eintlike “vader” van hierdie trek was ou oom Hans van der Merwe, wat amper dertig jaar tevore ’n Voortrekker uit die Kaapkolonie was. (Oom Hans het sy lang-tentwa gerieflik ingerig, met ’n stoof daarop, sodat selfs gedurende die ry kos gekook kon word.) Hierdie klein trekkie het deur die Kalahari beweeg tot by die Okavangorivier en toe weswaarts gedraai tot by Rietfontein waar hulle later by die groot Dorslandtrek van 1877 aangesluit het.

Die groot Dorslandtrek, met meer as ’n honderd waens en duisende stuks vee, het in April 1877 (omtrent dieselfde tyd toe Shepstone die Transvaal geannekseer het) die Krokodilrivier verlaat en probeer deurdruk na die meer N’Gami en die Okavangorivier. Daar het groot verwarring ontstaan, omdat die mense nie in klein groepies die woestyn ingegaan het nie, sodat die putte weer kon water kry vir die volgende groepies. Die los beeste het weggehol, en as die trekkers by die putte kom, moes hulle daar eers dooie beeste stuksgewyse uithaal, voordat hulle ’n bietjie water kon kry (en dan was die water natuurlik alles behalwe skoon). Sommige mense het skape keelafgesny en van die bloed vir hul kinders gegee om die vreeslike dors te probeer les.

Waar daar ’n pan was, het die wegholbeeste die bietjie water daarin tot modder vertrap. As die trekkers daar kom, het hulle soveel vog as moontlik uit die modder probeer suig (sommige het die modder geëet).

Die waens se wiele het tot halfspeek in die sand weggesak en daar is in baie gevalle tot drie spanne osse voor een wa gespan (met agterlating van die ander waens om hulle weer later te kom haal).

Nogtans het daar nie mense van die dors beswyk nie. Maar toe hulle langs die Okavango verder trek, is baie mense dood aan malaria en baie beeste deur die tsetsevliegsteek (sodat party mense koeie saam met osse voor die wa moes span). Die meeste het dan ook naderhand weggeswaai van die rivier af met sy malariamuskiete.

Na vier jaar van volharding met die trek het die oorlewendes in 1880 by die Etoshapan verby getrek en in die begin van 1881 in Angola aangekom.

Met die trekke van 1892, 1893 en 1905 het dit redelik voorspoedig gegaan. Die trek van 1893, wat ook taamlik groot was, het ’n ander koers gevolg deur noord van Mafeking die woestyn in te trek en oor Lehututu, Rietfontein en Grootfontein Angola te bereik. Nogtans was ook hierdie trekke geen kleinigheidjie nie.

In 1928 is die meeste Angola-Afrikaners (omtrent 2,000 siele) gehelp om in Suidwes gevestig te raak, waar hulle ’n aansienlike versterking geword het vir die blanke element van die bevolking.

’n Klompie wat in Angola agtergebly het en hul kinders is byna almal (sowat 400 siele) sedert 1958 na die Unie en S.W.A. gerepatrieer deur die Volkskomitee vir Angola-Boere wat hier in Suid-Afrika gestig is om hulle te help.

Die oorsake van die Dorslandtrek is nie maklik vas te stel nie. Die eerste groepie (oom Hans v. d. Merwe) het geen spesiale rede gehad om te trek nie. Vir baie wat aan die groot Dorslandtrek van 1877-1881 deelgeneem het, was pres. Thomas Burgers nie ’n ideale president nie en hulle het verwag dat daar geen heil vir Transvaal onder sy bewind verwag kon word nie. Maar oor die algemeen was die oorsaak van die Dorslandtrek ’n drang by ’n jong groeiende volkie om verder in Afrika uit te brei.

Die Dorslandtrekkers het in Angola baie daartoe bygedra om daardie deel van Afrika veilig te maak vir die Portugese Ryk en vir die blanke.

Die Dorslandtrek as ’n beweging moet beskou word as ’n prestasie van deursetting, volharding en uithou van die Afrikaner. Om vier jaar Iank deur die woestyn te volhard ten spyte van lyding en leed, was ’n buitengewone gebeurtenis, waaruit blyk hoe taai die Afrikaner is en hoe hy nie maklik tou opgooi nie. Om dit te weet, is vir ons besielend, vir groot en klein, in ons lewens – om nie sommer moed op te gee as ons teenspoed kry nie – maar bowenal vir ons as volk om met taaie volharding en uithouvermoë vas te trap en vorentoe te beur in die aangesig van moeilike vraagstukke, al gaan die pad van Suid-Afrika ook deur die woestyn.