Die De Wildt-toespraak van genl. JBM Hertzog

Ontevrede trekkers verlaat Natal
April 10, 2017
Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling
April 11, 2017

(Geskryf deur Johan Greybe, Bloemfontein, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1969)

Tien jaar het verbygegaan sedert die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902. Reeds het die Afrikaner sy lot as Britse imperiale besitting aanvaar; gedwee het hy toegekyk terwyl Engels in die skole op sy kinders afgedwing word. Ewe gedwee het hy, wanneer dit van hom verlang is, saam met sy mede-Afrikaners “God save the King” gesing waardeur hy belydenis afgelê het van sy lojaliteit teenoor die oorheerser. Dit het gelei tot oordrewe verering van die oorheerser en sy taal, gewoontes en regte, en minagting van eie stamgenote, eie tradisies en kultuur.

Maar gelukkig was daar nog dié wat geveg het vir die Afrikaner se regte. Ja, gelukkig g het  die Allerhoogste iemand gestuur soos genl. JBM Hertzog om te veg vir die Afrikaner; vir sy regte – vir sy toekoms. En hy sou vég – soos min.

1910 en 1911 was reeds verby – twee moeilike jare vir genl. Hertzog; maar 1912 moes nog kom.

As Minister van Justisie in genl. Botha se kabinet, hou hy op 5 Oktober 1912 ’n toespraak op Nylstroom. Hierin verklaar hy dat Suid-Afrika sy sake nie langer sal laat behartig deur vreemdelinge nie. Hiermee bedoel hy die leier van die Opposisie, Sir Thomas Smartt en ander lede. Verder sê hy dat die belange van Suid-Afrika altyd eerste gestel moet word.

Hierdie toespraak is gevolg deur ’n reeks ander toesprake waarin hy o.a. sê dat die Afrikaner moes baas word in die politiek, skool en administrasie. Hy maak dit duidelik dat hy met Afrikaner, Hollands- en Engelssprekendes bedoel; mense wat Suid-Afrika aanvaar het as hulle enigste vaderland. Hy verklaar dat hy alleen by die stelling “Suid-Afrika vir die Afrikaners alleen” sal staan en val.

Anders as sy voorganger, genl. Botha wat ’n beleid van konsiliasie gevolg het, en sy (genl. Hertzog) opvolger, genl. Smuts wat geglo het aan “Let things develop” en dan sy beleid daarvolgens geformuleer het, was genl. Hertzog die eerste wat die lyn getrek het en ’n ondubbelsinnige beleid van “Suid-Afrika Eerste” gevolg het en sodoende die Afrikaner sy selfrespek teruggegee het om trots te wees op wat sy eie is.

Maar ten spyte hiervan is genl. Hertzog kwaai aangeval deur veral die Engelse pers wat hom van rassehaat beskuldig het. Tog het die mense van ver gekom om na hom te luister en die sale was altyd tot oorlopens toe vol, sodat ’n skrywer in ’n Nederlandse blad verbaas opmerk: “Dit is die eerste maal dat ek genl. Hertzog na my terugkeer in Suid-Afrika in die openbaar hoor spreek het. Hoe kan dit dat hierdie Afrikaner-voorman so ’n diep indruk op sy gehoor maak? ’n Magtige redenaar is hy geensins, selfs nie eens ’n goeie spreker nie. Langsaam kom die nie mooi gevormde sinne daaruit; byna sonder kleur is die stem. En tog luister mens van die begin tot die einde met gespanne aandag.”

CM van den Heever se antwoord daarop is: “Baie sprekers sou gladder en met voller stem praat, baie sou met stemgedreun en retoriek die volk probeer oorreed. Maar die eenvoudigste volksmens het een toetsmiddel, een veilige leidraad: sy intuïsie dui vir hom aan wanneer hy met ’n eerlike man te doen het. Hier was ’n eerlike man; sy woorde het getoon dat wat hy sê, hy ook bereid is om te doen. Hy was een van die uitsonderlike verskynings wat vanuit ’n groot eenvoud van hart en vanuit ’n diep wilskrag lewe. Of hy ’n geweer hanteer of ’n woord, dit was altyd met ’n natuurlikheid wat vreemd gebly het aan melodramaties.”

Op 7 Desember hou hy ’n toespraak op De Wildt, ’n klein spoorwegstasie in die Rustenburg-distrik, Transvaal. Wat hy hier gesê het, kan as die klimaks beskou word van wat al in 1910 begin het. Verder kan dit ook tereg beskou word as sy magtigste toespraak, want hier het hy sy beleid van “Suid-Afrika Eerste” vir eens en vir altyd duidelik omskryf.

Hy het verwys na die taalkwessie as ’n belangrike saak, maar net ’n deel van die eintlike vraagstuk, nl. die Suid-Afrikaanse nasionalisme. Baie seker van sy saak verklaar hy: “Die tyd het gekom om Suid-Afrika nie langer te laat regeer deur die nie-Afrikaners, deur mense wat nie die ware liefde vir Suid-Afrika het nie, die gees wat iedereen moet hê as hulle wil hê dat in die land voorspoed en ’n gesonde wedywering ontstaan.”

“Ek staan by wat ek op Nylstroom gesê het; die leier van die Opposisie sê dat dit juis is waar hy verskil. Hy sê dat hy eers imperialis is en dan Afrikaner. As ek dit goed gelees het, het ek gelyk gehad toe ek sê dat Sir Thomas nos nie ’n suiwer Afrikaner is nie.”

Van imperialisme sê hy dat dit net vir hom goed is sover dit dienstig is vir Suid-Afrika. Waar dit in botsing kom met die belange van Suid-Afrika, is hy ’n besliste teenstander daarvan en hy verklaar hom bereid om sy toekomstige loopbaan as politikus te laat afhang van dié leer.

Hy word gebrandmerk deur die pers as een van die wat die Britse gesag haat a.g.v. die Anglo-Boereoorlog. Maar deur sy tweestroombeleid weerlê hy al hierdie aantygings wat daarop neerkom dat die Afrikaner voorgestel word deur twee strome; die Hollands- en die Engelssprekendes wat langs mekaar, apart vloei. Op die manier word verhoed dat die een taalgroep die ander domineer en word beide toegelaat om sy kultuur en tradisies te handhaaf.

Wat betref die Naturellevraagstuk, sê hy dat segregasie streng toegepas moer word. Dit is sy ideaal om die naturelle te skei van die blankes en hulle in afgesonderde dele van die land te plaas. Om dit egter in die huidige toestand van sake te doen, sou uiters dwaas wees en dit sou beteken dat negentig persent van die boere binne ’n bestek van ’n paar maande bankrot sal speel.

Hy verwys na die feit dat al hoe meer nie-blankes grond besit in die blankes se gebied. Die sondebokke hier is die boere wat hulle naturelle betaal deur vir hul ’n stuk grond op die plaas te gee. Dit is egter baie gevaarlik en kan veroorsaak dat driekwart van die land binne vyftig jaar aan die nie-blanke sal behoort.

Die gort was nou behoorlik gaar, want soos verwag kan word, het die Engelse pers hiervan (wat hy gesê het oor die Suid-Afrikaanse nasionalisme gebruik gemaak om sy naam as “rassehater” nog swarter te smeer. Daar word geëis dat hy moet bedank en a.g.v. onenigheid wat tussen die kabinetslede ontstaan het, was hy verplig om sy bedanking in te dien.

Die jare wat gevolg het en waarin hy alleen moes staan, het hom geensins ontmoedig nie, sodat hy in 1924 vir genl. Botha opvolg as eerste minister.

Voordat hy op die voorgrond getree het, moes Suid-Afrika nog sy ru-materiaal aan Brittanje lewer en later die vervaardigde produk invoer. Maar a.g.v. sy “Suid-Afrika Eerste”-beleid het hy aangemoedig om dit so ver moontlik plaaslik te vervaardig. Hy stig dan so vir Yskor wat ’n mens seker kan beskou as die ruggraat van die S.A.-nywerhede. Ja, as dit nie vir genl. Hertzog was nie, sou ons seker nie vandag ekonomies so onafhanklik gewees het nie.

Aanvanklik het genl. Hertzog se tweestroombeleid nie die Afrikaner se houding verander nie en in die dertigerjare was daar nog ’n algemene gevoel van oordrewe lojaliteit teenoor Engeland en ook ’n minderwaardigheidsgevoel onder die volk. Dié feit kan ’n mens moontlik toeskryf aan sy opvolger, genl. Smuts, wie se beleid in dié opsig net die teenoorgestelde van die van genl. Hertzog was. Nietemin sou sy toespraak op De Wildt deur die jare deur menige politikus voorgehou word in ’n pleidooi dat die Afrikaner sy taal en tradisies moet handhaaf.

Wat sy Bantoebeleid betref, wonder ’n mens wat die toedrag van sake vandag sou gewees het indien Hertzog en ander na hom nie gewaarsku het teen die gevaar van Bantoe-grondbesit in Suid-Afrika nie. Myns insiens sou dit beteken het dat apartheid feitlik onmoontlik sou wees en dit sou tot gevolg hê dat Suid-Afrika selfs nog ’n meer geliefkoosde skyf in die wêreldpolitiek sou word.

Alhoewel genl. Hertzog gedurende daardie jare seker meer beteken het vir die Afrikaner as enige ander eerste minister van Suid-Afrika, is dit tog opmerklik dat hy van alle eerste ministers van Suid-Afrika seker die minste vereer is en word. En dit was maar eers nou onlangs dat ’n monument ter ere van hom opgerig is.

’n Nederige mens was Suid-Afrika se tweede eerste minister; geen De Gaulle of ’n dr. Verwoerd nie. Ja, ten spyte van die feit dat hy eerste minister was, was hy geen gebore politikus nie. Maar sy onwrikbare geloof in sy beginsels en wat goed is vir sy volk, het van hom ’n genl. Hertzog gemaak.

Hy het gelewe:

’n Man wat na sy volk se reg strewe,

O, so alleen het hy geveg

Teen Heerser aan wie geheg

’n menige was; ’n man van moed;

hy het sy volk met selfrespek gevoed.

Hy het nie gesterwe …