Die Bybel in die moedertaal

Formules is die suksesgeheim van sy trefferliedjies
Oktober 22, 2018
Vat my terug – Angel de Lange
Oktober 23, 2018

Die Bantoetale is ’n belangrike skakel in die Bybelvertalingsprogram waaraan dwarsoor die wêreld gewerk word. Dit is ’n program wat geborg word deur die Bybelgenootskappe, waarvan die mees uitstaande genootskappe die Britse en Amerikaanse Bybelgenootskappe is. (Die Britse genootskap is beter bekend as die ‘British Foreign Bible Society’.)

Die datum-tabel waarin die volgorde van die publikasie van die hele Bybel uiteengesit word, is baie insiggewend:

  • *Tswana (in die sg. Tlhaping-dialek) (1857)
  • *Xhosa (1859)
  • Duala (1872)
  • *Sotho (Suid) (1881)
  • *Zoeloe (1883)
  • Swahili (Zanzibar) (1891)
  • Ganda (1896)
  • *Sotho (Noord) 1904
  • Kongo (Fiote) 1905
  • Thonga 1907
  • Giryama 1908
  • Gswa 1910
  • Nyanja (Oostelike) 1912
  • Nyoro 1912
  • Swahili (Mombasa) 1914
  • Kongo (San Salvador) 1916
  • Yao 1920
  • Union Nyanja 1922
  • Ronga 1923
  • Luba – Lulua 1927
  • Union Omyene 1927
  • Luna – Inkongo 1929
  • Suba – Sanga 1930
  • Union Mongo – Nkundu 1936
  • *Venda 1936
  • Ndonga 1940
  • Bulu 1949
  • Shona (Union) 1951
  • Ragoli 1951
  • Kikuyu 1951
  • Luba – Katanga 1951
  • Fang 1951
  • Lozi 1951
  • Bangala 1953
  • Ngala (Wele) (Old Testament 1953) een volume 1955
  • Ruanda (O.T. 1954) een volume 1955
  • Lwena (Luvale) O.T. 1955 1957
  • Bemba 1956
  • Kamba 1956
  • Ndau 1956
  • Tumbaka (O.T. 1957) 1957

 

*Dui aan een van die tale van die Republiek van Suid-Afrika, die republiek van die Transkei of Bophuthatswana.

Hoewel die Thonga-Bybel in 1907 verskyn het, het die Tsonga-Bybel reeds in 1906 die lig gesien.

 

TSWANA

Die vroegste gepubliseerde boek van die Bybel was Robert Moffat se vertaling van die Evangelie van Lukas in die Tlhaping-dialek van Tswana en is in 1830 gepubliseer.

Robert Moffat (1795–1883) was ’n tuiniers-assistent wat oorspronklik van Skotland afkomstig was en wat in 1816 deur die Londonse Sendinggenootskap vir sendingwerk aanvaar is. Hy arriveer in 1817 in Kaapstad. Hy werk vir ’n rukkie in Namakwaland en vestig hom uiteindelik in Kuruman in 1821. Moffat het nooit enige opleiding ontvang as ’n taalkundige nie. Hy het ook in aanraking gekom met die ingewikkeldhede van die Tswana-taal ’n geruime tyd voordat Boyce sy sogenaamde ‘Euphonic Concord’, die gelykluidende skakel of eendersklinkende afgeleide skakelteorie en beginsel, in 1834 die lig laat sien het. ’n Ander baie interessante feit is dat Bleek, die sogenaamde ‘vader van die Bantoe filologie’, eers in 1827 gebore is.

Moffat het die taal baie stadig aangeleer. Hy het ’n aantal jare lank in Hollands gepreek. Hy het hierdie taal (Hooghollands) aangeleer en gebruik gemaak van tolke. In 1826 verskyn daar ’n klein kategisme van 35 bladsye lank wat een van die eerste boeke was wat ooit in Tswana gepubliseer is.

Die sendeling Henry Helm (1780–1884) het reeds in 1819 op ’n klein skaal by Griekwastad drukwerk gedoen en in sy bibliografie ‘The Pre-Victorian Products of the Cape Press’, 1935 deur P.W. Laidler, word daar op bl. 153 ’n ‘Tswana Spelling Book’ gelys wat in 1821 in Griekwastad gedruk is by die sending-drukkery. Daar bestaan egter geen bekende kopieë van hierdie klein boekie nie wat blykbaar die eerste gedrukte boek in Tswana is.

Sover bekend, het Moffat sonder twyfel geen bepaalde metode gehad waarvolgens hy die taal probeer baasraak het nie. Hy het ook geen grammatika of woordeskatboek geskryf nie. Archbell se grammatika (wat ’n navolging was van Boyce) het nie vóór 1837 die lig gesien nie. Moffat het ’n diepgewortelde gevoel ontwikkel om die taal te bemeester en daarom het hy in 1827 Kuruman tydelik vir sowat twee maande verlaat om onder die inboorlinge te gaan woon. Met sy terugkoms, was hy in staat om in uitstekende Tswana, of soos hy dit gestel het, ‘Sechuana’ te preek. Die Evangelie van Lukas is kort hierna vertaal en in Junie 1830 het Moffat en sy eggenote na die Kaapkolonie afgereis om hul kinders in ’n geskikte kosskool te plaas en ook om toe te sien dat die Evangelie van Lukas gedruk word.

Aangesien daar geen drukfasiliteite in of om Grahamstad was waar die kinders toe sou skoolgaan nie, het Moffat nog ’n verdere vierhonderd myl na Kaapstad gery met die manuskrip in sy sak op soek na ’n drukpers. Groot probleme is in Kaapstad ondervind aangesien die tipografie daar nog in ’n beginstadium was. Uiteindelik is Moffat gedwing om hulp van die regering te vra.

Sir Lowry Cole, die goewerneur, en kolonel Bird, die goewerneur se sekretaris, het aan Robert Moffat se versoek voldoen om die amptelike drukkery se kantoor te gebruik. Daar was egter slegs een drukker, ’n meneer van de Zandt.

Aangesien dit slegs ’n baie klein drukkery was, moes Moffat leer om te druk. Moffat en ene Edwards (’n nuwe rekruut vir die ‘Bechuana Mission’ wat by Moffat in Kaapstad aangesluit het) het toe begin leer hoe ’n mens druk. Die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap het die papier geskenk asook ’n toekenning van ‘vyftig pond ter vereffening van toevallige kostes’. Onder hierdie omstandighede is die eerste evangelie vir die Batswana gedruk!

Moffat het na Kuruman teruggekeer met ’n drukpers wat hoofsaaklik deur Edwards bedien is. Die eerste konsepweergawe van die Nuwe Testament is in 1838 deur Moffat voltooi.

 

Kommentaar oor die Tswanataal

Moffat het geskryf … ‘Die Tswanataal, alhoewel dit baie beskrywend is, is natuurlik gebrekkig wat betref die teologiese terminologie – dit het aanvanklik groot probleme veroorsaak; maar navorsing het my oortuig dat daar ’n voldoende bron is van geskikte woorde om met wonderbaarlike duidelikheid die taal en die betekenis van die geskrifte oor te dra’.

Die skrywer van hierdie artikel het spesifiek die laaste gedeelte van Moffat se stelling onderstreep aangesien dit blykbaar die gevolgtrekking is waartoe alle vertalers van die Bybelse geskrifte in die Bantoetale kom.

Moffat was ’n baie konsensieuse vertaler. Hy het self gesê: ‘I studiously avoided giving the slightest tinge to any rendering in favour of any creed’. Tydens ’n ander geleentheid het hy gesê: ‘Dit het so ’n aaklige gevoel by ’n mens gewek om die woord van God te vertaal’.

Hy het voortgegaan met sy vertaling. ‘The Pilgrim’s Progress’ is in 1848 gedruk en uiteindelik het hy toegesien dat die hele Bybel deur die sendingpers gedruk is in 1857 in Tswana.

In die beroemde biblioteek in die Bybelhuis ‘Bible House’ in London is daar ’n gedenkvenster waarin daar afbeeldings is van beroemde vertalers: William Tyndale, Jeronce, Cyril en Methodius, Martin Luther, John Eliot, William Carey, Robert Morrison, Henry Martyn asook – Robert Moffat. Ook hy neem hier sy waardige plek in tussen dié persone en in hierdie roemryke geselskap.

Moffat was gewoond aan die Tlhaping-dialek en ’n later uitgawe van die Nuwe Testament het die lig gesien in ’n ander Tswana-dialek nl. Rolong in 1894. W. Crisp was verantwoordelik vir hierdie vertaling.

Ander sendelinge het Moffat se weergawe van die Tlhaping dialek hersien. Hy het dit ook hersien, dit is egter ’n erkende feit dat Moffat se weergawe nog verkies word deur baie Tswanasprekendes.

 

XHOSA

Dit was die tweede Bantoetaal wat die volledige Bybel ontvang. Die eerste gepubliseerde Xhosa-vertaling was die Evangelie van Lukas wat in 1833 deur William B. Boyce en Barnabas Shaw voltooi is en dit is in Grahamstad gedruk.

Die vertaling van die Nuwe Testament is in 1838 deur ’n groep sendelinge afgehandel. In hul geledere was manne soos Ayliff, Shrewsbury, Dugmore en Döhne. Dié werk het in 1846 verskyn.

Foto: Eerw. J.W. Appleyard (1814 – 1874), die hoofvertaler van die hersiene Xhosa-Bybel

J.W. Appleyard was ’n hoog-aangeskrewe taalkundige wat prominente bydraes gelewer het tot die studie Van Xhosa-grammatika. Hy het ’n volledige vertaling die Bybel gemaak. (Sommige van die ou Testamentiese boeke is ook deur ander sendelinge vertaal.) Dit was ’n besondere prestasie deur iemand wat goed opgelei gekwalifiseerd was om die taak van Bybelvertaling aan te pak. Hy het Hebreeus, Grieks, Latyn en Hollands bemeester.

Appleyard het ook sy hersiening van die Nuwe Testament in 1854 die lig Iaat sien wat feitlik op ’n nuwe vertaling neergekom het.

Die Ou Testament is gedruk by die Mt. Coke Sendingstasie in Kaffraria en ’n hersiening van die hele Bybel is daarna in 1864 deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gepubliseer.

Na 1864 het daar kritiek ontstaan oor vertalings. Lede van die Skotse en Duitse sendinggenootskappe het in King William’s Town vergader en Appleyard se vertalings verdoem. ’n Pamflet is gepubliseer by Lovedale met die opskrif ‘Ds. J.W. Appleyard se weergawe beoordeel deur sendelinge van verskeie kerkgenootskappe en ander’. Bekende name onder hierdie aanvallers was Ds. Tiyo Soga, J.A. Chalmers, J.L. Döhne, A. Kropf en J. Bennie. In 1867 het Appleyard ’n antwoord van 200 bladsye gepubliseer met die opskrif: ’n Apologie vir die Kafir Bible (An apology for the Kafir Bible). Hierdie apologie is by Mt. Coke gedruk. Appleyard se apologie het sy saak op bekwame en oortuigende wyse verdedig.

Die een beswaar was dat Appleyard die Xhosa idioom gestrem het omdat hy te nougeset die Grieks en Hebreeus gevolg het. Volgens vandag se beginsels vir Bybelvertaling is dit duidelik dat Appleyard sy tyd ver vooruit was. Daarteenoor was sy kritici bereid om sekere vryhede te neem met vertaling uit vrees dat hulle dalk vreemde frases sou inbring. Baie van die kritiek is ook gemik op gedeeltes wat onveranderd oorgeneem is van reeds-gepubliseerde skrifgedeeltes. Appleyard het sterk houding ingeneem teenoor ‘teologiese interpretasie’ – ‘ ’n vertaler moes vashou aan die taal van die oorspronklike geskrif en hy moet nie die betekenis daarvan uitbrei nie’. Dit is waar dat Appleyard wel in Xhosa woorde gemaak het en ongewone werkwoorde en naamwoorde gebruik het.

’n Hersieningskomitee, wat Appleyard ingesluit het, besluit vervolgens dat hierdie Bybel hersien moes word en dat sy werk as basis hiervoor sou dien. Voordat hierdie komitee egter behoorlik met hul werksaamhede begin, is hy oorlede. Ds. Soga is ook voor die tyd dood. Die komitee het toe voortgegaan met ’n geheel nuwe vertaling wat bekend gestaan het as die ‘Hersiene Uitgawe’ waarvan die Nuwe Testament in 1875 verskyn het. Dit is in 1903 gepubliseer en die hele Bybel in 1906. Daar bestaan nog groot voorkeur vir Appleyard se weergawe.

Die hele Bybel is later uitgegee in die 1935-ortografie. Die voorbereiding van hierdie weergawe sal altyd gekoppel word aan die naam van dr. W.G. Bennie, die kleinseun van een van die eerste Xhosa-vertalers.

 

SUID-SOTHO

Baie mense het ’n bydrae gelewer tot hierdie Bybel. Twee van die drie pioniers van die ‘Société des Missions Evangeliques de Paris’ was E. Casalis en T. Arbousset wat saam met Gosselin by Thaba-Bosiu, Mosjesj se hoofkwartier, in 1833 aangekom het.

Foto: E. Casalis en S. Rolland, twee Franse sendelinge wat die Bybelvertaling in Suid-Sotho aangevoor het

Casalis het Markus se Evangelie vertaal en S. Rolland (wat die Beerséba Sendingstasie gestig het) dié van Johannes. Beide hierdie Evangelies is in 1839 gedruk asook ‘Seyo sa lipelu’ (Voedsel vir die hart), ’n keur van vyftig hoofstukke uit die Ou en Nuwe Testamente waarvoor Arbousset verantwoordelik was.

’n Klein kategismus is reeds in 1837 in die Kaap gedruk en dit was die werk van Casalis.

Casalis het die Nuwe Testament saam met Rolland voltooi en dit is in 1855 deur M. Ludorf by Beerséba gedruk.

Verskeie gedeeltes van die Ou Testament is vertaal deur T. Arbousset, E. Rolland, D.F. Ellenberger, J. Maitin, H.M. Dyke, A. Mabille, S. Rolland, L.J. Cochet en L. Duvoisin.

Die volledige Bybel is in 1878 beskikbaar gestel en slegs vir die eerste keer as ’n enkele volume in 1881 gepubliseer.

Sedertdien is verskeie hersiene en gekorrigeerde weergawes gepubliseer. Sommige van hierdie vertalers het ook beroemd geword in die opvoedkundige-, die sending- en die politieke geskiedenis van Basoetoland, die teenswoordige Lesotho. Eugéne Casalis was die skrywer van ‘Etudes sur la langue Séchuana, Les Bassoutos’ (1859).

Arbousset het o.m. geskryf: ‘Relation d’un voyage d’Exploration an Nord – Est de la Colonie du Cap de Bonne – Esperance’ (1842).

Eugéne Casalis was ook die skrywer van: ‘Mes Souvenirs’ wat in 1882 gepubliseer is. Ellenberger het geskryf ‘History of the Basuto, Ancient and Modern’ wat in 1912 gepubliseer is. A. Mabille is veral bekend vir sy groot literêre bydrae, die ‘Sesuto-English Dictionary’ van 1876.

Dit is ’n aanvaarde feit dat dié publikasie van die Suid-Sotho Bybel ’n kragdadige invloed gehad het om die taal te verstewig. V. Ellenberger het die volgende stelling gemaak: ‘Met die vroeë vertalings het Sesotho ’n literêre taal geword’.

 

ZOELOE

Newton Adams, ’n pionier van die ‘American Board Mission’ in Natal was verantwoordelik vir die eerste Skriftuurlike publikasies in Zoeloe so vroeg as 1846 en 1847. Sy Zoeloe uittreksels van Genesis (‘Extracts from Genesis’) was in 1846 gepubliseer en seleksies van die Evangelies in 1847 (‘Selections from the Gospel’). George Champion se vertaling van Mattheus was in 1848 in Pietermaritzburg gepubliseer en dit is ook deur Newton Adams hersien.

Vertalers wat bygedra het tot die Psalms sluit die name in van J.C. Bryant, J.L. Döhne en C.W. Posselt. Hulle was almal ook vir ander literêre werk in Zoeloe verantwoordelik.

In 1865 is die volledige Nuwe Testament by Esidumbini gedruk. Verskeie sendelinge van die ‘American Zulu Mission’ het ’n bydrae tot hierdie vertaling gelewer.

Die volledige Bybel in Zoeloe is die eerste keer in 1883 deur die ‘American Bible Society’ gepubliseer.

Vroeë hersienings van die Nuwe Testament is in 1872 en 1878 deur Andrew Abraham en in 1890 deur David Rood gepubliseer. As gevolg van hierdie toedrag van sake is verskillende weergawes van dele van die Bybel van tyd tot tyd gepubliseer wat heelwat duplikasie tot gevolg gehad het. Döhne het sy eie weergawe van die Evangelies in 1866 in Pietermaritzburg laat verskyn en die boeke Handelinge en Romeine is in 1867 gepubliseer.

Foto: Biskop Colenso, een van die pioniers wat die Bybelvertaling in Zoeloe betref

Die invloedryke Biskop Colenso was daarvoor verantwoordelik dat nog twee ander weergawes die lig gesien het. Hy het ’n aantal Skrifvertalings Iaat maak wat heeltemal verskillend was van die vertaalwerk van die ‘American Board Missionaries’. In die sendingwerk van die ‘Church of England’ is hierdie vertalings saam met gesangeboeke en diensboeke gebruik. Kritiek het ontstaan oor sommige van die vertalings en die Biskop is daarvan beskuldig dat hy besig was om volgens eie oortuigings te interpreteer.

Aanvanklik het dr. Callaway onder Colenso gewerk, maar hy het later sy bande met hom verbreek toe hy Biskop geword het van St John. Hy het ook moeilikheid ondervind met Colenso se vertalings. Dr. Callaway was bekend vir sy ‘Nursery Tales of the AmaZulu’ en sy ‘Religious System of the AmaZuIu’. Die vertalings deur Callaway sluit in sy ‘Prayer Book’ wat in 1866 verskyn het, ‘Psalms’ wat in 1871 by die Springvale-drukkery gedruk is, ‘The Prophets’ (1872), ‘Genesis to Joshua’ (wat van 1871–1875 by die ‘St Johns Mission Press’ in Pondoland gedruk is) en ‘Gospels’ wat by Highflats gedruk is in 1877.

Later het Callaway £800 ontvang vir die druk van die Bybel en Gebedeboek in Zoeloe. ’n Zoeloesprekende komitee het hom bygestaan en hoewel sy vertalings baie goed was, is hulle vandag feitlik onbekend.

Colenso het ’n vertaling van die Nuwe Testament voltooi met die opskrif ‘Izindab’ ezinhle’ gepubliseer deur Dent & Co. vir mej. Colenso, sy dogter.

’n Nuwe hersieningskomitee wat vir die Amerikaanse Bybelgenootskap gewerk het, bestaan uit J.D. Taylor, W.C. Wilcox en Ds. Goba. Hierdie komitee het in 1917 ’n hersiene Nuwe Testament die lig laat sien en sewe jaar later, in 1924, die volledige hersiene Bybel laat verskyn.

Taylor se volle salaris is toentertyd deur die ‘Bible Society’ betaal. Hierdie weergawe het algemeen bekend gestaan as ‘Taylor’s Version’. Dit was ’n baie deeglike stukkie werk maar dit het nooit gewild geword nie, hoofsaaklik omdat die inboorling vanweë sy konserwatiewe houding betreffende die Skrif, altyd vasklou aan die ouer vertaling. Geldige kritiek teen hierdie vertaling was dat dit baie ongewone woorde bevat wat onnodiglik goeie, regverdigbare terme vervang het.

In 1924 het die Hermansburgse Sending hul eie van die Nuwe Testament gemaak wat by ‘Empangweni’, tans Empangeni, gedruk is.

Benewens al die genoemde werke het F. Suter ook in ’n reeks in die ‘Native Teachers’ Journal’ (1933-1941) ’n nuwe vertaling van die Psalms gepubliseer.

Die ortografiese veranderinge aan die Zoeloe-Bybel wat vermelding verdien, is dié van 1931 en van 1956. Dit stem tot dankbaarheid dat die volledige Zoeloe-Bybel vandag in die jongste amptelike ortografie beskikbaar is. Hierdie Bybel, ‘Ibhayibheli Elingcwele’, gepubliseer deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en gedruk deur ‘Hazell Watson en Viney Bpk.’ in Engeland, is baie gewild. Dit behels ’n volledige boek wat kaarte bevat met Zoeloename van die Ou Testamentiese tye, ‘Amazwe Asetestamenteni elidala’, die volledige Heilige land van Christus se leeftyd, ‘Izwe elingcwele ngesikhathi sika Kristu’ en die sendingreise Paulus, ‘Izinkambo zomphostoli uPawuIu zakushumayela ivangeli’. Hierdie weergawe sal beslis baie jare lank as gesaghebbende werk gebruik kan word.

 

NDEBELE

Die Nuwe Testament is in Ndebele vertaal. Die vertaler van die Evangelie van Mattheus in 1884 was W. Sykes. T.M. Thomas het die Nuwe Testament voltooi en dit is in 1884 in Pretoria gedruk.

Gedurende die Matabele-oorlog van 1893 – 94 het die groot oplaag van 500 kopieë wat geberg is, in die hande van die Matabele geval wat hulle verander het in hooftooisels!

’n Nuwe weergawe, wat deur W.A. Elliot en C.D. Helm hersien is, het in 1903 verskyn en Helm se weergawe is in 1912 gepubliseer. Die Psalms is deur J.E. Whiteside vertaal en in 1930 gepubliseer.

 

VENDA

P.E. Schwellnus van die Berlynse Sendinggenootskap het die Evangelies en Handelinge wat in 1920 gepubliseer is, vertaal, die Nuwe Testament en Psalms in 1923 en die volledige Bybel in 1936 – ’n groot prestasie deur hoofsaaklik net een persoon!

As erkenning vir sy groot diens met hierdie vertaling, asook vir ander taalkundige werk, is ’n eredoktorsgraad aan Schwellnus deur die Universiteit van Suid-Afrika toegeken.

 

NOORD-SOTHO

Manne soos C. Knothe, G. Trümpelmann en H. Kuschke, deur wie se pogings die volledige Bybel vertaal is, verdien hier vermelding. Hierdie Bybel het in 1904 verskyn. P.E Schwellnus het ook hier ’n reuse bydrae gelewer en die hele Bybel in Noord-Sotho vertaal. Die hersiene uitgawe is in 1925, na sy dood, gepubliseer.

 

TSONGA

Foto: Dr. P.E. Schwellnuss was een van die hoofvertalers van die Bybel in Venda en Noord-Sotho (Pedi)

In 1875 het die Frans-Switserse Sendinggenootskap ’n sendingstasie gestig wat die Valdezia-Sendingstasie genoem is. Dit is in Noord-Transvaal geleë. Die sendelinge, Paul Berthoud, sy broer Henri Berthoud en E. Creux, het dadelik begin om die Tsongataal aan te leer. Hulle het ook so ’n bietjie aandag geskenk aan die vertaling van die Bybel.

In 1883 het Paul Berthoud ’n Tsongaboek gepubliseer wat die eerste hoofstuk van Genesis ingesluit het, asook die Tien Gebooie, uittreksels van die Evangelies en ’n aantal gesange. Hy is bygestaan deur E. Creux. Paul Berthoud het voortgegaan met die vertaling van die Nuwe Testament met die hulp van sy broer Henri en ook N. Jacques. In 1892 is die Evangelie van Lukas asook Handelinge gepubliseer. In 1894 het die hele Nuwe Testament in Tsonga verskyn.

Vertaalwerk aan die Ou Testament het begin ná hierdie publikasie met E. Thomas as hoofvertaler en in 1906 was die hele Bybel in Tsonga beskikbaar.

’n Hersiene uitgawe van die Nuwe Testament, wat voorberei is deur Abel de Meuron, het in 1917 verskyn en ’n hersiene uitgawe van die volledige Bybel is in 1929 beskikbaar gemaak. Hierdie uitgawe is deur R. Cuenod en sy vrou voorberei, met die baie bekwame hulp van ’n Tsonga-sprekende, ene Josefa Mawele. Sedertdien is die Nuwe Testament in Tsonga geheel en al hersien. Daar word tans aan die Ou Testament gewerk.

Veel is vermag maar daar lê nog oneindig baie werk voor. Gelukkig is daar gewillige hande en organisasies wat met besielde ywer en oortuiging die werk voortsit. Die ontsaglike groot bydrae van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika kan nie oorbeklemtoon word nie. Hierdie organisasie se finansiële bystand met druk- en verspreidingskoste is ’n behoudende en edel faktor in die saak. Daar behoort ook spesiale vermelding gemaak te word van die aandeel in, en bydrae deur die sprekers van die moedertaal tot die vertaling van die Bybel. Aanvanklik is die werk alleenlik deur blanke sendelinge verrig. Hierdie toedrag van sake het geleidelik verander en vandag maak elke vertalingskommissie ten volle gebruik van die sprekers van die taal.

Daar bestaan ook noue samewerking tussen die Departement van Onderwys en Opleiding en die vertalingskommissies van die Bybelgenootskap. Deur middel van wedersydse verteenwoordiging in die Bantoetale se taalkomitees van die Departement van die vertalingskomitees van die Bybelgenootskap, word probleme en kennis uitgeruil. Daar word ook terselfdertyd sorg gedra dat die taal van die Bybel nie bots met die algemene ontwikkeling van die taal nie. Wat vandag werklik nodig is, is ’n ware kennis van die onderlinge verband van al die Bantoetale. Sodoende sal daar met sekerheid vasgestel kan word waar dit dalk nodig is om ’n afsonderlike vertaling te gebruik en waar dit beter is om unifikasie en standardisasie toe te pas. Onnodige duplisering behoort vermy te word.

Die meriete en tekortkominge van die vertalings is nie in hierdie artikel bespreek nie. Dis algemeen bekend dat sommige bydraes werklik meesterstukke van vertaalwerk is. Ander is sonder twyfel idiomaties swak, die werk van mense wat nie spesifiek daarvoor toegerus was nie, maar wat deur omstandighede gedwing is om te doen wat hulle kon. Sulke vertalings het dikwels ’n baie goeie doel gedien totdat kundige hersieningskomitees saamgestel is om beter weergawes daar te stel.

Soos met die Engelse Bybel vind ons ook hier dat die verskeie vertalings van die Bybel in die moedertaal as norm gereken word vir literêre vorms van die tale, Dit verklaar ook in ’n groot mate die konserwatiewe houding van baie inboorling-Christene wat nie maklik hersiene uitgawes aanvaar nie.

 

DIE DRUKPERS BY KURUMAN

Die hand-drukpers wat Robert Moffat en sy kollega Rogers Edwards in 1831 van Kaapstad af gebring het, het 63 jaar se drukwerk en publikasiewerk by Kuruman ingelui. Robert Moffat het oor al hierdie aktiwiteite toesig gehou tot sy aftrede toe. Daar was ’n aansienlike volume spellingboeke, godsdienstige geskrifte soos kategismes, traktate, gesangeboeke en tydskrifte in Tswana wat alles in die klein, donker bedompige vertrekkie wat aan Moffat se huis vasgebou is, gedruk is.

Foto: Moffat se primitiewe handdrukpers. Hierop is van die oudste Bybeldrukwerk in Suid-Afrika gedoen

Die bloeitydperk was van 1847 tot 1867 – ’n fantastiese periode van twintig jaar – toe Moffat die eerste vertaling van die Bybel in ’n sogenaamd nie-literêre taal gemaak het. Dit is toe voltooi en die twee volumes van sy Bybel is gretig opgekoop.

Die drukpers was ’n swaar handpers wat op omslagtige wyse gemanipuleer moes word. Dit is in 1825 uit Engeland na Moffat toe gebring deur John Philip en in 1831 is dit met ’n ossewa van Kaapstad af na Kuruman vervoer. Hierdie drukpers is sedert 1916 in Kimberley in die openbare biblioteek uitgestal.

Al die komposisiewerk vir die pers moes met die hand gedoen word. Die rygwerk (met naald en gare) en die bindwerk is alles met die hand gedoen. Dit was baie werk want die Ou Testament in Tswana Deel I van 1853 het reeds 512 bladsye beslaan! Hierdie volume is in lapmateriaal gebind en die rug en omslae is in goud gedruk met versiersels.

 

DIE EERSTE GEDRUKTE BOEK IN TSWANA

Henry Helm, ’n sendeling (1780 – 1884) het hom reeds in 1819 so ’n bietjie met drukwerk in Griekwastad bemoei, en in sy bibliografie ‘The Pre-Victorian Products of the Cape Press’ van P.W. Laidler (1935) kom daar o.a. op sy lys ’n titel voor op bl. 135 met die opskrif ‘A Sechuana Spelling Book’ wat in 1821 by die sendingdrukkery te Griekwastad gedruk is. Daar bestaan egter geen bekende kopie van hierdie klein boekie nie. Dit skyn asof dit die eerste gedrukte boek in Tswana kon gewees het.

Foto: Eerw. Robert Moffat (1795 – 1883) van Kuruman, groot baanbreker t.o.v. die Bybel in Tswana

’n Paar van die beroemdste publikasies van die drukpers te Kuruman was: ‘Scripture extracts for the use of schools’, in 1833 deur Moffat en Edwards gedruk; die gesangeboek ‘Hymn-book’ wat in 1870 gedruk is. Dit het altesaam 216 bladsye beslaan en 266 gesange bevat; ’n maandelikse tydskrif deur William Ashton tussen die jare 1857 en 1859 met die opskrif ‘Mokaeri oa Becuana, le Muleri oa mahuku’ – Die Instrukteur van die Tswana en die Aankondiger van die nuus.

Traktaat-publikasies het in ’n dik stroom gevloei tussen die jare 1835 en 1841 en aantreklike houtsneewerk op houtblokke is vir die druk van die illustrasies gebruik. Een van die bekendste algemeen-godsdienstige publikasies was o.m. ‘Pilgrims Progress’ wat drie jaar geneem het om te vertaal en te produseer.

Die rykste versameling, waarin daar bekende voorbeelde van die Kuruman-Tswana publikasies is, is in die Grey-versameling van die Suid-Afrikaanse Openbare biblioteek, Kaapstad. Die katalogus is opgestel deur W.H.I. Bleek (1858) en aangevul deur D.E. Rossouw se ‘Catalogue of African Languages 1858–1900’ (1947).

Irene Fletcher het ook ’n sogenaamde ‘digest’ saamgestel onder die opskrif: ‘A Digest of L.M.S. Printing in Southern Africa’ in 1953.

 

DIE ALLEDAAGSE LEWE IN KURUMAN GEDURENDE DAARDIE VROEË DAE

Wanneer die pos van Hope Town verwag is, het mev. Moffat daarvoor gewag in haar leunstoel, of op die sofa wat haar man vir haar gemaak het. Terwyl sy haar briewe gelees het, het sy gevra hoe die voorbereiding van die maaltyd gevorder het. Sy het gewoonlik so ’n bietjie gedut vóór en ná die maaltyd. Die Moffats se woning was ’n klein kompakte kliphuis wat aan die agterkant toegang verleen het tot ’n groot werf. Hier het vyf bediendes, wat deur mev. Moffat geleer is, die huishoudelike take verrig. Dit het onder meer die bak van 28 groot boerbrode per week ingesluit. ’n Groot steen-bakoond is hiervoor gebruik. Die meel vir hierdie baksel is gewoonlik alles op een slag gemaal en gesif en ’n patente meul was die toerusting. Driebeenpotte en driepootstaanders is gebruik vir die kookwerk. Die koffiepitte is gebrand of gerooster in potte op die oop kole nadat die brood gebak is. Wit en bruin brood is altyd voorgesit op tafel.

Foto: Mary Moffat

Gedurende die somer is perskes, appelkose, pere en appels gedroog in die son en daarna weggepak in linnesakke. Die druiwe het aan hulle rosyne en asyn verskaf. Die ‘brethern in the interior’-broers in die binneland is altyd goed voorsien.

Mev. Moffat het toegesien dat dose gepak is met neute, hawermeel, gepekelde kosse, beskuit, rosyne, manna, pampoene, waatlemoene, leer vir skoeisel, ens. Sy het altyd so ’n tikkie weelde gevoeg by die beperkte dieet met haar Shrewsbury koekies, lemoensap en varsgemaalde koffie.

Kuruman was daardie dae die plek waarvandaan ’n mens vertrek het met ’n granaatvrug, ’n pampoen, ’n paar kwepers of ’n koolkop. Dit was ook destyds, veral as ’n mens besig was om noordwaarts te trek, die laaste plek waar jy ’n span osse kon bymekaarmaak of jong bulle, koeie of skape kon bekom.

 

POSVERSENDING

Daar was ’n posbode (drawwer) wat weekliks vanaf Kuruman na Hope Town gehardloop het. Dit was ’n afstand van 30 myl na Hope Town toe langs die Oranjerivier. Die noordwaartse versending van pos van Kuruman af was Moffat se verantwoordelikheid. Suidwaarts van Matabeleland af het die pos op enigeen se wa gegaan en die possak kon maklik vroeg in die oggend voor Moffat se deur afgegooi word. In sulke gevalle sou mev. Moffat uit die bed spring, ‘so styf as wat ek was, nie nou weer verder slaap nie; dan het ek iets om my gewikkel en daar gesit totdat ek alles deeglik deurgegaan het’. So skryf sy in een van haar briewe gedateer 23.4.1862.

 

DIE GROOT KLIPKERK BY KURUMAN

Teen Oktober 1830 het Moffat 1 904 ryksdalers, ongeveer £142 en 7 sjielings (R284.70 sent) gekollekteer om die nuwe kerk te bou. Hy het die geld bymekaargemaak deur ’n lys in Kaapstad rond te stuur. Heel bo aan die lys was die bydrae van 200 ryksdalers van Philip en ’n bydrae van 100 ryksdalers van die goewerneur. Moffat het ’n gedrukte verklaring voorberei waarin hy sy saak gestel het en waarin hy ook duidelik uiteengesit het waarom daar ’n waardige gebou vir Christelike aanbidding opgerig moes word in die buitewyke waar elke plank en elke spyker van die kolonie af ingevoer moes word.

Foto: Die groot historiese klipkerk

Die mure is van klip gebou en só het die gebou vir ’n rukkie gestaan. Om Kuruman kon daar egter nie ’n boom gevind word wat balke of sparre sou verskaf wat lank of stewig genoeg sou wees nie. Gedurende sy besoek aan die Matabelies het Moffat geskikte hout aangetref in die land van die Bahurutse. Na sy terugkoms het mnre. Hamilton en Edwards met al die waens vertrek en afgesaag wat nodig sou wees. Die stompe is gelaai en oor die afstand van 200 myl terug vervoer na Kuruman. Dit was ’n reuse onderneming om hierdie dak op te rig. Daar was slegs ’n klein aantal blankes en die mans het nie takelwerk gehad nie, maar die probleme is te bowe gekom.

Die kerk is gebou deur Moffat, Edwards en die handelaar-messelaar, Millen. Dit is in November 1838 geopen. Tussen 800 en 900 mense was by die eerste diens teenwoordig. Die volgende Sondag het 150 lidmate verenig vir die nagmaal.

Die kerk was die plek waar ’n mens die volle glorie van die Kuruman-gemeenskap op ’n Sondag kon aanskou. Dit was op sulke dae wanneer die uitgesoekte mense van die tuinerye en die ietwat losser lede van die omliggende gebiede saamgedrom het rondom en in die pragtige kerk. Die massiewe mure en selfs groter grasdak het mens die indruk gegee van ’n stewige en veilige bymekaarkomplek (grasdak is in 1957 gerestoureer). Daar was die eenvoudige witgekalkte mure binne soos wat die Kwakers dit sou doen. Daar was ’n lessenaar-tipe preekstoel (kateder) en ’n kandelaar vir vetkerse. Binne was dit eenvoudig. Daar was ook ’n uurglas langs die kersuitdowers (snuifers) in die preekstoel.

Volwassenes het na die kerkgebou toe aangestap gekom terwyl hulle met trots hulle Bybelsakke rondgeswaai het. Dit het die drie volumes van die Bybel bevat en die Kuruman-gesangeboek. Die meeste vroue het sakdoeke gedra, swart en gekleurde sakdoeke wat hulle aan hulle koppe as hooftooisels vasgebind het. Die rokke het bestaan uit lang vloeiende rompe wat ryklik versier was met lappieswerk. Selfs die mans se baadjies en broeke was met lapwerk versier met die uitsondering van diegene wat gelooide velklere na die kerk aangetrek het. Plaaslike leer is gebruik om skoene te maak volgens die Skotse ‘brogues’ styl. Handskoene en kouse is as oorbodig beskou. Die predikant was in ’n swart materiaaljas geklee. Daar was egter geen ander tekens van die kerksamp aan sy kleredrag te bespeur nie (dinge soos wit dasse of preekbande ens. nie). Moffat was daarvoor bekend dat hy na die kerk toe gekom het in sy pantoffels en ’n mus op die kop, ’n mus wat bekend was as ’n ‘smoking cap’.

 

DIE EREDIENS

Die patroon van die erediens was een waarin daar gesing, uit die Bybel gelees, gebid en ook gepreek is. Die sang was wysievas en gedissiplineerd en die begeleiding is gedoen op ’n ingevoerde orrel (harmonium).

Die preek het hoofsaaklik bestaan uit die oorvertelling van insidente uit die Bybel. Die Ou Testamentiese karakters was baie bekend en die Gelykenisse het goed te pas gekom. Die predikant het geweet dat daar ’n week lank ná die preek oor daardie preek gestry en geredekawel sou word. Dit sou ook vir ’n week lank bespreek word. Die sedeles van elke verhaal is deeglik beklemtoon en tuisgebring. Hierdie soort Bybelpreke het die maatstaf geword van die sedes en die algemene gedrag van die Kuruman vallei.

 

DIE GROEI VAN DIE KERK

Dissipline en gehoorsaamheid was baie meer gesog as groot getalle. In Kuruman was daar gevolglik ’n soort ‘heerskappy van die heiliges’. Robert en Mary Moffat was die oplettende toesighouers wat op ’n jaloerse wyse wag gehou het oor die ordinansies van die kerk sodat dit nie besoedel sou word met die onsuiwer wêreld nie. ’n Oortreder is gestraf deur sy/haar kerklidmaatskap op te hef. Moffat het nooit buitengewoon en opsetlik gespog met sy sogenaamde Bybelse gemenebes in die Kuruman vallei nie. Volgens sy vrou se eie woorde: ‘He did not like to make a parade of one’s feelings’. Dit was egter nie heeltemal van toepassing op Moffat nie. Hy was dankbaar teenoor die Allerhoogste vir Sy hulp en veral ook vir die wonderlike geleentheid en kans wat hy gehad het om te leef. Hy het ook die gawe gehad om ’n besondere insig te hê in sake en om bowe-al ’n gebalanseerde Christelike uitkyk op die lewe te handhaaf.

 

Bron: Swanepoel, J.J. 1979. Die Bybel in die moedertaal. Lantern, Augustus, pp. 54-63.