Groentemarkplein
December 12, 2017
Tafelberg
December 12, 2017

Hierdie gebou is nie alleen ’n trotse verteenwoordiger van 18de-eeuse boustyl nie, maar staan ook as die simbool van die ontwikkeling van plaaslike bestuur in Kaapstad.

Sedert die instelling van die vrye koloniste het die Kompanjie aan hulle verteenwoordiging – aanvanklik een, later drie en uiteindelik ses – in die Raad van Justisie gegee. Met verloop van tyd en die groei van Kaapstad het die Kompanjie egter van hierdie Burgerrade verlang om by die plaaslike bestuur behulpsaam te wees en te sorg dat ’n burgerwag onder bevel van ’n sersant en korporaal snags die strate moet patrolleer. Jare lank het die Burgerrade in die huise van die oudste Burgerraad vergader, terwyl die Burgerwag elke aand by die “Weeshuis” of by die slagpale op die voorstrand bymekaar gekom het om vandaar die strate te patrolleer. Die gevaar van brand het die verdere funksie van die bekamping daarvan meegebring en ’n brandweer is ingestel waarvan die belangrikste stasie langs die Groentemarkplein geleë was.

Die toename in die werksaamhede van die plaaslike bestuur het ’n behoorlike tuiste vir die Burgerrade en Burgerwag noodsaaklik gemaak en met die oog daarop is vroeg in die 18de eeu ’n oop erf aan Groentemarkplein verkry. Hierop is omstreeks 1716 die eerste Burgerwaghuis opgerig in die styl van ’n gewone boerewoning. Kaapstad het egter vinnig gegroei en onder die bewind van Ryk Tulbagh is dit vervang deur die huidige Burgerwaghuis. Op 18 November 1755 is die hoeksteen deur Barend Artoijs, ’n lid van die Raad van Justisie, gelê. Die kapitaal van 33 000 gulde vir die oprigting van die gehou is van die N.G. Kerk, die Kollege van Kerkmeesters, Paulus Artoijs en Hendrik Prehn geleen. Hoewel die gebou reeds die volgende jaar gedeeltelik in gebruik geneem is, is dit eers teen die einde van 1761 voltooi.

Hierdie waardige gebou het die aansien van die dorp verhoog. Dit is gebou in die verbeeldingryke maar tog ietwat oordadige barokstyl. Treffend veral is die vooraansig. ’n Oorwelfde ingang, waarheen trappies van Bataafse baksteentjies gelei het en waarop ’n ornamentele borsring met vier groot kruike gerus het, het toegang tot die gebou verleen. Die vooraansig van die boonste verdieping is deur ses pilasters, gekroon met ses vase, gebreek en daar bo-op was ook ’n oopgewerkte balustrade.

Gedurende die aanvangsjare van die 19de eeu is hierdie vooraansig enigsins gewysig. Op 3 Julie 1804 het die bekende Bataafse kommissaris-generaal JA de Mist by ’n paslike seremonie by die Burgerwaghuis aan Kaapstad sy wapen geskenk. Hy het bepaal dat dit “buiten de muren” aangebring moet word. Aan die buitekant van die gebou is die stadswapen bo die baIkondeur bevestig, op die plek waar vroeër die Geregtigheid in reliëf uitgebeeld was as vrouefiguur met ’n swaard in die regter- en ’n weegskaal in die linkerhand. Dit is nou deur die wapen in gipsreliëf vervang. Ongeveer vier jaar later is die klein kloktorinkie, wat vandag so ’n opvallende kenmerk van die gebou is, waarskynlik deur die bekende boumeester Hermann Schutte aangebring. Terselfdertyd is ook die boonste balustrade verwyder. Later is die onderste borswering deur ’n balkon met reling vervang. Laasgenoemde veranderings het waarskynlik verband gehou met die aardbewings van 1809 en 1811, want die dierkundige, plantkundige en reisiger, WJ Burchell, vertel dat daardeur baie van die siervase van die geboue gestort het.

Langer as honderd jaar was hierdie gehou die administratiewe sentrum van Kaapstad. In ’n saal op die boonste verdieping het die drie burgerrade vanaf 1761 vergader. In 1786 is die aantal tot ses vermeerder en benewens sitting in die Raad van Justisie is aan hulle verdere munisipale pligte soos o.a. die onderhoud en aanlê van strate en gesondheidsdienste toegewys. Met die eerste Britse besetting word die burgerrade ’n ware munisipale liggaam, die Burgersenaat, en die Burgerwaghuis word al hoe meer die Stadhuis. Tydens die Bataafse bewind word die pligte van die Burgersenaat in teenstelling met die administrasie van die Kolonie, deur JA de Mist duidelik omskryf. Nie alleen het die Burgersenaat hier vergader nie, maar volgens oorlewering is vanaf die balkon openbare verklarings gedoen en vergaderings op die Plein toegespreek. Ter aankondiging van sulke geleenthede is ’n klok in die toring gelui.

Die Burgersenaat is uiteindelik in 1828 afgeskaf en vir die volgende 11 jaar het die sentrale regering self die munisipale pligte waargeneem. Die Burgerwaghuis het in hierdie tyd as magistraatshof en -kantore gedien. Eers in 1839 is aan Kaapstad ’n Munisipale Raad geskenk vir wie die Burgerwaghuis of Stadhuis die aangewese plek was om hulle in te vestig. Tot 1905, toe die nuwe stadsaal langs die Parade voltooi is; het hierdie ou Burgerwaghuis die wag gehou oor die ontwikkeling van die moederstad. Nou het dit as die “ou” Stadhuis bekend geword en is dit ’n tyd lank nie gebruik nie. Gelukkig het sir Max Michaelis besluit om sy groot versameling kunswerke aan die volk van Suid-Afrika te skenk, en die stadsowerheid het besluit om die “ou” Stadhuis as tuiste daarvoor beskikbaar te stel. Die Sentrale Regering het onderneem om die binnekant so om te skep dat dit aan die vereistes van ’n kunsgalery sal voldoen. Die werk is aan JM Solomon toevertrou en onder sy toesig, “the barnlike shell, cum-bered with mean rooms and stairways, disfigured with boarded ceilings, and littered with unsightly partitions, was transformed into an architectural gem”.[1] Op 8 Mei 1917 is die nuwe Kunsmuseum geopen.

(Geproklameer 1939)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 30-32.

 

[1] The Cape Times, 1 September 1916.