Dingaanstat – ’n historiese oorsig
Desember 2, 2015
Die Gatskuurmeul
Desember 2, 2015

(Soos verskyn in Junior Historia, September 1957)

 Dis die oggend van 9 April 1820. Oor die groenblou horison van die see verskyn die seile van die Chapman, ’n seilskip met ’n paar honderd mense aan boord. In Algoabaai word anker uitgegooi en met platboomskuite word mans, vrouens en kinders na die strand gebring. Waar die skuite nie nader aan die strand kan kom nie, word vrouens en kinders deur soldate deur die vlak water tot op Suid-Afrikaanse bodem gedra. Dit is die eerste groepie immigrante wat Engeland verlaat het om in Suid-Afrika ’n nuwe vaderland te vind. Hulle het die beskaafde wêreld vaarwel gesê omdat daar vir hul kinders geen toekoms meer was nie en omdat die Britse regering en die goewerneur aan die Kaap mense wou hê om die Suurveld te verdedig teen die aanvalle van die Xhosas.

Na die Chapman het nog 20 ander seilskepe in Algoabaai aangekom met immigrante uit Engeland, Skotland en Ierland. By die Baai is ’n groot tentekamp opgeslaan om die setlaars voorlopig te huisves. Die goewerneur het 200 ossewaens van Boere uit die distrikte Uitenhage en Graaff-Reinet gehuur om die setlaars na hul nuwe tuiste in die Suurveld te vervoer. Die Suurveld was die streek wes van Visrivier, die oostelike helfte van die distrik Uitenhage, tussen Sondags- en Visrivier, ongeveer 70 myl lank en 50 myl breed.

Sommige gesinne moes 12 dae op die waens bly om hul bestemming te bereik. Die naaste plasies was ongeveer 80 myl van die Baai en ander tot 130 myl. Eers by hul aankoms in die Suurveld het die mense die ware oogmerk van die regering besef. Die afskeidswoorde van kolonel Cuyler, die landdros van Uitenhage, het die setlaars laat besef dat hulle hier aan groot gevare en sware ontberings blootgestel was. Hy het gesê: “Menere, as julle uitgaan om te ploeg, moet julle nooit julle gewere agterlaat nie.” Hulle hulpelose en weerlose toestand het verder duidelik geword toe die goedhartige Boere wat hulle na hul bestemming gebring het, met gevoelens van bejammering en verwondering hulle vaarwel gesê het. Die Britse regering het hulle nie vooraf ingelig oor die landstreek waarheen hulle immigreer nie. Daar is net verklaar dat hulle gevestig sou word êrens aan die suidooskus van Afrika.

Daar sit die setlaars nou op die vlakte met geen bedekking, geen vervoermiddel, maar met slegs hul bagasie op die lang gras neergesit, onbekend met die land en sy aard, hul enigste vertroue op God wat hulle duisende myle op gevaarlike oseane bewaar het. Maar te midde van die hopelose en onherbergsame toestand was daar tog een groot troosgedagte: hulle hou nou hulle eie grond besit en kon werk vir die toekoms van hul kinders.

Die gedagte aan ’n nuwe lewe het tot aksie en daadkrag besiel: tente is opgeslaan, die nagvure is aangesteek en die lewe van ’n setlaar het ’n aanvang geneem. Daar moes eers ’n huisie gebou word. Terwyl die mans hout gesaag en gekap het, het die vrouens en kinders riet en dekgras gesny. Die eerste huisies was eenvoudig met 2 vertrekke. Die mure was pale wat ingeplant is met latte en riete tussenin. Daarna is dit met grond gepleister. Die dak was van gras en die vloere van grond.

Die setlaars het nie trekdiere besit nie en daarom maar met ’n groentetuin begin. Toe enkele van hulle ’n paar osse gekoop het, het hulle ook ander gehelp om koring te saai. Hulle was nie toegelaat om werkvolk te huur nie. Hulle moes ’n pas hê as hulle van hul plasies wou gaan. Die plasies was heeltemal te klein en die grond en klimaat ongeskik vir landerye. Gedurende die eerste drie jaar is geen koring geoes nie omdat roes die gesaaide verwoes het. Mense moes soms tot 30 myl ver loop om kos te gaan haal en sakke van 50 pond gewig op die rug dra.

Sodra die setlaars beeste aangeskaf het, het die diefstal van die Xhosas begin. In September 1821 is ’n jong seun vermoor en ’n hele klomp beeste gesteel.

Die setlaars moes groot ellende en ontberings verduur. In 1824 was daar 1,800 van die boere in die Suurveld wat in die allerellendigste toestand verkeer het. Hulle klere en skoene was verweer en die meeste het net van mielies en pampoen gelewe. Maar deur volharding en harde werk het hulle uiteindelik die wildernis verower en vir hulle kinders ’n toekoms verseker.

Gedurende die Sesde Kafferoorlog van 1835 het die setlaars swaar verliese gely: 456 plase is verwoes, 5 700 perde, 12 000 beeste en 162 000 skape is geroof. Hierdie ramp was die oorsaak dat duisende Afrikaanssprekende boere die Kaapkolonie verlaat het. Dit is die Groot Trek. Die Engelse koloniste het egter gebly waar hulle soveel terugslae en teleurstellings verduur het. Hulle sou later ook nog die ellende van die sewende, agste en negende Kafferoorloë moes deurmaak. Die was vir hierdie mense ’n groot teleurstelling toe hulle mede-koloniste, die Afrikaners, die Kolonie verlaat het. Piet Retief was ’n vriend van die setlaars in die omgewing van Grahamstad. Hy was vir hulle die mondstuk en pleitbesorger by die Kaapse regering. Toe die Engelse vriende verneem dat Retief van plan was om by die Trek aan te sluit, het die setlaars ’n aantal manne na hom gestuur om hom te vra om van sy voorneme af te sien.

Toe die ou patriarg, Jacobus Uys, met sy seun Pieter Uys en ongeveer ’n honderd Trekkers buite Grahamstad uitgespan het op hul uittog na die noorde, het die setlaars uit agting vir hierdie ou vader en as ’n blyk van meegevoel en onder die besef van die tragiese verloop van sake, besluit om aan hom ’n aandenking te oorhandig. By wyse van ’n kollekte is ’n groot Bybel gekoop, in leer gebind en aan die ou volksvader oorhandig. Buite op die omslag was gegraveer: “Aanbieding deur die inwoners van Grahamstad en omgewing aan mnr. Jacobus Uys en sy trekkende mede-landgenote.”

Aan die binnekant van die omslag was geskryf: “Hierdie heilige Boek word aan mnr. Jacobus Uys en sy mede-trekkers aangebied deur die inwoners van Grahamstad en omgewing as ’n afskeidsgeskenk ter wille van die agting en die diepgevoelde spyt oor hul vertrek. Hulle innige begeerte en ernstige poging om ’n eie predikant te bekom en hulle strenge nakoming van die ordinansies van die gewyde Boek is voldoende waarborg dat hulle in hul swerftogte op soek na ’n ander vaderland, altyd gelei sal word deur die voorskrifte in hierdie heilige Boek en dat hulle standvastig by daardie ordinansies sal lewe, sal vashou aan die bevele van die Skepper van die Heelal, die God van alle nasies en volke.”

’n Groot aantal setlaars het die oorhandiging bygewoon. Thomas Phillips wat die Bybel oorhandig het, het in sy toespraak melding gemaak van die agting van die setlaars vir hulle mede-burgers en sy spyt uitgespreek oor hul vertrek: “… and we must always acknowledge the general and unbounded hospitality with which we have been welcomed in every portion of the Colony.” Piet Uys het namens sy ou vader gesê dat hy innig jammer was dat hulle van so baie getroue vriende moes afskeid neem. Hy het die blyk van agting en vriendskap baie hoog op prys gestel.

Die nageslag van hierdie manne en vroue wat ’n beskaafde land verlaat het om die Christelike beskawing in ons land te help vestig, woon vandag nog tussen ons. Baie van hulle het ’n groot aandeel geneem in die opbouing van ons land en hulle merk gemaak in ons volk se geskiedenis. Die name van Richard (Dick) King, Alexander Biggar, Thomas Halstead, William Robinson, Henry Hartley, Thomas Bowker en ander is nou verbonde aan ons nasiewording. Later vertel ons van hierdie manne.